Any dream will do – my pad met Webber
Met: André Schwartz
Regie: Matthew Counihan
Musiekregie: Bryan Schimmel
Klavier: Dawid Boverhoff
Kitaar: Mauritz Lotz
André Schwartz in Any dream will do – my pad met Webber is ’n tweetalige produksie en gebruik sy lang pad wat hy al saam met Andrew Lloyd Webber stap, as agtergrond.
Hy begin die vertoning met die woorde: “Ek is 13 en só opgewonde ek kan in my broek piepie. Ek en my pa en ma is op pad teater toe.”
Hulle het Joseph and the amazing technicolor dreamcoat gaan kyk en net daar het André besluit hy wil eendag Joseph sing. “En ek het, twee maal al – al was ek die oudste Joseph ooit!”
Hy vertel dat sy ma, wat ’n wesenlike invloed op sy lewe en loopbaan gehad het, hom as jong kind geleer het: “Weef jou jas en skep ’n tapisserie van kleure, laat dit so helder skyn as wat jy wil hê dit moet. Droom wat jy wil, al word drome en werklikheid ononderskeibaar. Jy besluit jou eie waarheid, maar onthou altyd jou pad huis toe.”
Sy is in 2022 oorlede en dis deel van sy groot hartseer wat hy met die gehoor deel. André sing vir meer as ’n uur van die bekendste Webber-liedjies en voer die gehoor terug na elke musiekblyspel wat hulle al van hierdie genie gesien en gehoor het. So tussen “Any dream will do”, “Love changes everything”, “You must love me”, “No matter what” en “Memory” vertel hy van die aand wat sy pa oorlede is; hoe die lykbesorgers se trollie se wieletjies op hul blokkiesvloer raas; hoe sy ma vir hom sê dis nou net hulle twee oor in die wêreld.
Ook toe hy met motorneuronsiekte gediagnoseer is en hy nie meer wou leef nie. Hoe die kleur uit sy jas begin verdof het.
Maar tussenin is daar vreugdes, kuiers saam met Webber, groot rolle, wêreldreise.
........
Die trane wat ek in die donker Theatre on the Bay stort, het ’n langer aanloop as net die mooi sang of musiek van André en Webber.
........
Die trane wat ek in die donker Theatre on the Bay stort, het ’n langer aanloop as net die mooi sang of musiek van André en Webber.
Middagete dié dag kuier ons by Meerlust. Dié plaas waarvan sy rooiversnit, Rubicon, so deel van ons Suid-Afrikaanse DNS is as Mrs Balls Chutney of Ouma-beskuit. Ons het die voorreg om verskeie oesjare te proe voor ons in die historiese herehuis waarvan die gewel 1776 verkondig, hoewel die oudste deel van die huis 70 jaar tevore gebou is, se kombuis om ’n reusetafel vergader. Die Myburghs het die landgoed in 1756 gekoop. Hannes, die agste geslag Myburgh op die plaas, het koolbredie gekook. My oorlede ma se gunsteling.
Daar is skielik ’n knop in my keel toe ons boonop gaan aansit vir “voorgereg”: biltongbroodjies deur die plaasvroue gemaak met sagte plaasbrood en -botter, fyn biltong en, wag daarvoor, eiermayonnaise-vulsel! My trane sit sommer baie vlak.
Kom ek begin by die begin: My ma het moeilik aangepas op Upington, nadat sy die eerste 40 jaar van haar lewe ’n Bolandse nooi was. Biltongbroodjies was manna vir haar siel en het ons twee se kode geword. Vir baie ander Afrikaanssprekendes op die platteland was biltongbroodjies soos gevulde eiers net vir begrafnistee beskore; in ons huis het ek geweet as my ma biltongbroodjies maak, was haar kop en hart vêr.
Sy luister dan ook vir André Schwartz, wat haar aan haar oorlede broer, ook ’n destydse sanger, laat dink.
Sy is 12 jaar gelede oorlede – op die einste koolbredie-Rubicon-proedag.
Die storie het nog ’n draai: My geliefde skoonpa wat 11 jaar gelede oorlede is, het op 5 Mei verjaar. As ek aan Rubicon dink, dink ek aan hom. Met hom en my skoonma se 40ste of 45ste huweliksherdenking, hou my geliefde hom spogseun en ons neem hulle uit vir ’n fênsie aandete met ’n verouderde bottel Meerlust Rubicon in ons wynsak.
By die restaurant gekom, is daar ’n aangename trek op my skoonpa se gesig toe hy sien wat ons gaan drink. My man is bly; hy het goed gekies. My skoonpa ruik en proe die eerste klein slukkie. Smak sy lippe behaaglik en sê: “Nou kort ons net ’n ysie hierby!”
Die sommelier was baie diplomaties (en natuurlik reg) toe hy sê elkeen drink sy wyn soos hy daarvan hou ...
Om dus in die herehuis te sit in die maand van my ma se sterfte en my oorlede skoonpa se verjaardag, met twee goed wat my aan hulle laat dink, een te veel vir hierdie klein hartjie.
Maar nog het einde niet. Ons gaan luister toe daardie selfde aand na André se Any dream will do – my pad met Webber. Daar is net vyf vertonings en dit het soos soetkoek uitverkoop.
........
Ek onthou hoe ek destyds toe André die rol van die phantom gekry het, ’n onderhoud met hom gaan doen het. My ma en pa het saamgery uit die Strand, in ’n koffiewinkel vir my gewag.
........
Ek onthou hoe ek destyds toe André die rol van die phantom gekry het, ’n onderhoud met hom gaan doen het. My ma en pa het saamgery uit die Strand, in ’n koffiewinkel vir my gewag. My ma wou alles oor André weet.
Twee maande later het ek vir hulle kaartjies gekoop, in die middelste ry in die middel van die Kunstekaap Operahuis, sodat daardie kandelaar wat uit die dak swaai, bo-oor hul koppe kon gly en my ma ’n klein gilletjie van skok én plesier kon gee.
Nodeloos om te sê, toe die openingsklanke van “The music of the night” verlede week kom, ruk my skouers. Gelukkig is ons in die heel agterste ry in Theatre on the Bay, op die punt, so ek steur niemand nie.
Ek sien ná die vertoning dat ek nie die enigste een is met rooi oë nie. En die stilte in ons voertuig op pad huis toe, ook bewys dat ek nie die enigste een is wat diep geraak is deur die dag se verloop nie.
Ek glo hierdie vertoning sal binnekort in ’n teater op jou dorp te sien wees. En dat jy vir jou eie redes lekker sal kan saamlag en -huil. André se reis is op ’n manier elkeen van ons se reis die afgelope paar dekades, vandat die wêreld van oorsese teater ook vir ons oopgegaan het.
Lees ook:
As jy net een teaterstuk gaan kyk, laat dit The king of broken things wees
Erfdeel: Koos du Plessis – versamelde werke: ’n onderhoud met Irma du Plessis