
Erfdeel – die versamelde werke van Koos du Plessis, saamgestel deur Irma du Plessis (Beskikbaar: UJ Press)
Titel: Erfdeel: Koos du Plessis – versamelde werke
Samesteller: Irma du Plessis
Uitgewer: UJ Press
Publikasiedatum: Januarie 2024
ISBN: 9781776482849
e-Boek: 9781776482856
Twintig jaar na die eerste publikasie in 2004, en 40 jaar na Koos du Plessis se dood, beland Erfdeel – die versamelde werke van Koos du Plessis, volledig deur UJ Press herdruk, op my lessenaar. Die lywige boek het ook al die kitaarakkoorde vir die lirieke ingesluit. Die samesteller is niemand anders as sy oudste dogter, Irma, nie.
Met die oopmaakslag val die uitgewersnota op my skoot en ek lees: “Hierdie mooi geproduseerde en besondere versamelbundel sluit al Koos se lirieke – wat ook as verse gelees kan word – in, asook toonsettings van Koos se verse deur ander kunstenaars. Daar is ook pragtige foto’s van Koos. Hy was bekend daarvoor dat hy geweldig mediasku was. Die gedigte uit Koos se twee digbundels, Om jou verlaas te groet (Human & Rousseau, 1985) en Skink nog ’n uur in jou glas (Queillerie, 1995) is heropgeneem saam met ’n vyftiental destyds ongepubliseerde gedigte. Boonop gee Erfdeel vir lesers ’n kykie agter die skerms, met inligting oor hoe en waar liedjies ontstaan het en sleutelmomente uit Koos se besondere loopbaan en nalatenskap.”
Koos is op 10 Mei 1945 gebore en sou vanjaar 79 jaar oud gewees het. Hy het op 15 Januarie 1984 verongeluk. ’n Foto in die boek wys Irma en haar sibbe, Karlien en Karla, saam met hul pa. Irma is in 1973 gebore en was 11 toe haar pa oorlede is.
........
Die lywige boek het ook al die kitaarakkoorde vir die lirieke ingesluit. Die samesteller is niemand anders as sy oudste dogter, Irma, nie.
........
Irma du Plessis is tans verbonde aan die Universiteit van Fort Hare as direkteur in die kantoor van die rektor. Voorheen was sy senior lektor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria en navorser by die Wits Institute for Social and Economic Research (Wiser).
Sy skryf in haar voorwoord dat die boek die produk is van ’n begeerte om “Koos se kreatiewe werk, gedagtes oor sy nalatenskap en ’n kort lewensskets [sic] byeen te bring. Koos se twee versbundels asook ’n bundel lirieke was reeds vir ’n geruime tyd uit druk uit. Daar het ook maar met verloop van tyd foute in opnames en vertolkings van Koos se lirieke – veral wat betref liedjies wat eers na sy dood bekend geword en wat deur ander kunstenaars opgeneem is – ingesluip en ons wou seker maak dat die korrekte weergawe in alle gevalle beskikbaar is. Versoeke vir biografiese inligting oor Koos word gereeld aangestuur en ons het geen teks gehad om belangstellendes heen te verwys nie. Dan is daar ook heelwat van Koos se lirieke wat nie algemeen bekend is nie, asook 'n paar treffende en sensitiewe toonsettings van enkele van sy verse wat meer blootstelling verdien. Bowenal wou Mornay, Karien, Karla en ek verseker dat 'n volgende generasie Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekers toegang tot Koos se werk het.”
Ons is dankbaar daarvoor.
Want soos ek begin lees oor sy lewe, sy verse en lirieke, so spoel die herinneringe oor my. Ek lees die woorde van sy verse aandagtig, neurie die woorde van sy lirieke, en my gedagtes loop ver terug na toe ek ’n kind was en daardie liedjies deur ons huis gedreun het. Hoe my ma as gebore Bolander swaar aangepas het op Upington in die Noord-Kaap en hoe “As almal ver is” amper die temaliedjie vir haar eerste paar jaar daar in die nuwe omgewing geword het.
Toe ons in die laat sewentigs saans voor die kassie vasgenael gesit het vir Phoenix en Kie, waarin Laurika Rauch Koos se “Kinders van die wind” as temaliedjie sing, was sỳ woorde óns almal se woorde. En so het die meeste van sy liedjies ’n persoonlike band met my, soos met soveel ander Suid-Afrikaners – binne én buite die landsgrense.
Op bladsy 194 is die woorde en akkoorde vir “Irma”, die liedjie wat Koos vir sy oudste kind geskryf het: “... want die vreugde is jy, // Irma, dis jy.”
Dis 40 jaar – heel toevallig op die dag – sedert sy haar pa gegroet het, dat die boek in my hande kom lê. Wat ’n vreugde om haar die vrae te vra, wat ek as dogter aan ’n ander (baie bekender pa) se dogter sou wou vra, maar nooit kon droom sal kan gebeur nie.

Irma du Plessis (foto: verskaf)
Irma, jy skryf in die voorwoord by die heruitgawe, 2024: “In die laaste twintig jaar het Koos se stem inderdaad steeds nie stil geword nie.” Dan lys jy omtrent elke bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar wat jou pa se lirieke opgeneem het, van Theuns Jordaan tot Francois van Coke en Wynand Strydom en Jannie du Toit tot Mathys Roets in. Verbaas dit jou dat jou pa se stem steeds voortleef vier dekades later?
Ek bly verwonderd en terselfdertyd diep dankbaar. Koos se liedjies spreek tot elkeen wat sy Weltschmerz deel en terselfdertyd deur die lirieke en wysies oorrompel word. Ek sou nie elkeen wat al ooit Koos se musiek vertolk of opgeneem het, gestand kon doen nie.
Wat is jou vroegste herinnering aan jou pa?
Om deur hom uit die motor gedra te word as ons laataand êrens heen was – ’n mens is mos so half wakker en so half aan die slaap, maar voel heeltemal geborge. Hy het ook ’n geliefde rottangrystoel gehad wat so in ’n hoek in die sitkamer gestaan het. Ek kan hom nou nog daarin sien sit, die een been oor die ander gekruis.
Wanneer het jy besef jou pa is bekend en geliefd, en hoe het dit gevoel?
Dit was maar ’n geleidelike besef, maar die ongelooflike reaksie na sy dood – die verskriklik baie blomme wat na ons huis toe gestuur is, die huldebetuigings ... dit was duidelik dat hy vir baie mense geweldig baie beteken het. Dit was op ’n manier gerusstellend.
Het jy as kind ooit gevoel dat jou pa as volksbesit nie net jou pa is nie? Was dit ’n vlietende fase of het die gedagte nooit by jou opgekom nie?
Ons was eenmaal by ’n groot musiekfees. Daar was regtig baie, baie mense. Dit was laatmiddag en die skare het bietjie rondgemaal; kinders het gespeel. En ek het besef, al hierdie mense wil graag my pa sien optree, en terselfdertyd het ek geweet dat dit vir hom onmoontlik sou wees om in sulke omstandighede op te tree. Hy was ’n persoon vir intieme byeenkomste; net ’n handvol mense. Ek kon met die mense in die gehoor sowel as my pa se gevoelens identifiseer en het ’n klein bietjie treurig gevoel. Hy het kort na hy begin sing het, weggestap. Hy wás volksbesit, en terselfdertyd tog ’n bietjie onbereikbaar.
Jy en jou susters het elk jul eie liedjie. Wat beteken dit vandag vir jou en wanneer het daardie besef tot jou deurgedring?
Ons ken daardie liedjies vandat ons klein is. Hy het dit ingesluit op sy plaat As almal ver is, wat nogal ’n onkommersiële besluit was. Hoewel sy musiek natuurlik in geheel soos deur homself vertolk onkommersieel was! My pa was familievas en ’n groot aantal van sy liedjies gaan oor sy kinders, sy vrou, Mornay, sy grootworddorp, Springs op die Oos-Rand, en die familieplase Boshoek en Nooitgedacht.
........
My pa was familievas en ’n groot aantal van sy liedjies gaan oor sy kinders, sy vrou, Mornay, sy grootworddorp, Springs op die Oos-Rand, en die familieplase Boshoek en Nooitgedacht.
........
Wat is jou gunstelingvers/-reël van jou pa se werk?
“Maar die dag bly weg / die maan word lood / en een-een gaan / die sterre dood” uit sy liedjie “Nagwag” wat op sy album Herbergier opgeneem is. Hy het baie rondgespeel met die tema van die nagwag wat rondom ’n konkavuur waak. Dit kom wydlopend in sy werk voor.
As jy jou pa in vyf woorde moes opsom, wat sou dit wees?
Spitsvondig; vlymskerp; melankolies; en in sy eie woorde, dalk: soeker en droomswendelaar.
Wat is jou gunstelingliedjie uit jou pa se pen?
Ek is baie lief vir “Nokturne”, wat ek letterlik van die eerste note af in ’n volwaardige liedjie hoor ontwikkel het. As ek en my susters daar in ons donker kamer lê, dan kon ons hoor hoe my pa op sy piepklein nuwe wit Casio-synthesisertjie die melodielyn uittokkel en aan die lirieke skaaf-skaaf. Oor die algemeen is my pa se album Herbergier my gunsteling. Daarop is onder meer ’n minder bekende liedjie, “Soektog”, wat vir my so eenvoudig en tog so treffend is.
Hoe onthou jy sy skryfproses: in afsondering agter toe deure, vir lang tye op sy eie of hoe?
My pa het dikwels in die laatnag en nanag gewerk, en klein papiertjies en uitlegblaaie met notas en gediggies in sy handskrif het die hele huis vol gelê – ook stukkies agter op ’n sigaretdosie geskryf. Hy het ’n baie indrukwekkende handskrif gehad. Hy het daarvan gehou om sy werk later uit te tik, en die klank van ’n tikmasjien is nou nog vir my gerusstellend.
........
My pa het dikwels in die laatnag en nanag gewerk, en klein papiertjies en uitlegblaaie met notas en gediggies in sy handskrif het die hele huis vol gelê – ook stukkies agter op ’n sigaretdosie geskryf.
........
Julle het sekerlik groot geword met heelwat musiek in die huis. Vertel my asseblief daarvan?
Ons het my pa dikwels hoor sing, by die huis asook by klein optredes. Ons het ook ’n pragtige outydse huisorreltjie gehad wat hy van sy ma se familie geërf het, en benewens die kitaar onthou ek dat hy soms ook saam met die orreltjie gesing het.
Het jy iets by jou pa geleer wat jy daagliks/weekliks/gereeld toepas?
Miskien bloot die besef dat ’n mens se verhouding met ander mense broos is; dat tyd ons almal inhaal; en dus die noodsaak om dit wat ’n mens het, en die mense rondom jou te koester.
Wat dink jy sou jou pa – “inkennig” is die woord wat jy gebruik – vandag sê as hy sien hoe groot die indruk is wat hy waarlik op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak het?
Dit sou hom waarskynlik verwonder het; maar hy het tog besef dat dit waarmee hy homself besig gehou het, van waarde was. Dit was sy erns.
Jy het soos duisende ander Afrikaanssprekende kinders met die FAK-Sangbundel grootgeword. Hoe voel dit om jare later te sien dat FAK-Sangbundel, Volume II agt van jou pa se liedjies opgeneem het?
Liedjies in die FAK-Sangbundel was altyd liedjies wat so algemeen gesing is dat ’n mens nie meer geweet het deur wie of waar hulle geskryf is nie. So is dit ook met my pa se musiek – die liedjies het dig verweef geraak met die wêreld waarin dit gesing word en is nou allemansbesit. Natuurlik sou ek steeds ’n breër en ruimer FAK-Sangbundel wou sien wat plek maak vir Afrikaanse liedjies uit die breër Afrikaanse gemeenskap en wat in alle skole, en in alle huise, en om alle kampvure waar Afrikaans gepraat word, gesing kan word. Ook in só ’n hersiene, herstellende uitgawe glo ek sal daar plek bly vir my pa se liedjies.
........
Liedjies in die FAK-Sangbundel was altyd liedjies wat so algemeen gesing is dat ’n mens nie meer geweet het deur wie of waar hulle geskryf is nie. So is dit ook met my pa se musiek – die liedjies het dig verweef geraak met die wêreld waarin dit gesing word en is nou allemansbesit.
........
Wat is jou gunstelingmusiekherinnering aan jou pa waarvan niemand anders weet nie?
Miskien nie iets waarvan niémand anders weet nie, maar tog ’n interessante staaltjie. Daar het ’n diep geraamde stelletjie miniatuursnaarinstrumente uit hout gekerf in my pa se musiekkamer teen die muur gehang. Ek onthou dat hy die storie só vertel het: Hy het die stelletjie êrens by ’n kollega, moontlik aan huis, opgemerk, en hy wou dit dadelik hê. Een of ander komplekse stel onderhandelings het gevolg – ek kan nie onthou wat die openingsaanbod was nie, maar ek onthou dat my pa elke keer as sy aanbod verwerp is, die volgende aanbod laer sou maak. Ek onthou die kollega het die stelletjie maar opgegee toe my pa uiteindelik ’n pakkie sigarette aanbied! Koos móés die stelletjie eenvoudig hê.
Watter kunstenaar se vertolking van een van jou pa se liedjies is jou gunsteling of roer jou die meeste?
Daar is te veel om op te noem. Sonder kunstenaars wat my pa se werk vertolk en op nuwe maniere interpreteer en hulle eie maak, sou sy musiek nie 40 jaar later nog gesing word nie. Ek dink aan Laurika, Coenie, Jannie, Mathys, Johannes Kerkorrel, Wynand Strydom, Theuns, Battery 9, Van Coke Kartel. Ook Wessel van Rensburg en McCoy Mrubata se weergawe van “Kinders van die wind”. Ek is ook lief vir die toonsettings van my pa se gedigte. Laurinda Hofmeyr se “Afskeid” is ongelooflik. Ook Karla, my suster, het ’n besonderse toonsetting gedoen van ons pa se gedig “Dwaalspoor” – wat sy opgeneem het as “Jou vreemde naam”. Die Brixton Moorde & Roof Orkes het “Dagboek van ’n swerwer I” opgeneem, wat ook deur Karla getoonset is. Andries Bezuidenhout het twee gedigte van my pa wat Anna Davel bymekaargesit het – “Middernagreisiger” en “Belydenis” – getoonset. Die woorde en melodie van die refrein is pragtig saam: “Elke jaar ná somer / as die wind die bome tart / en skud en plunder / en die dae lank en leeg en lou word / huil ’n swaeltjie in my hart.”
As jy nou ’n dag saam met jou pa kon deurbring, wat sou jy vir hom wou vertel en wys?
Ek bly nou in die Oos-Kaap; dis ook oorspronklik waar my pa se ma, Hester Buitendag, grootgeword het. Dit val my altyd op hoe die Oos-Kaapse landskap en plantegroei in sekere dele tog aan Rustenburg herinner – ’n landskap waarvoor my pa lief was. Hier waar ek bly, groei die pragtigste kiepersolle en nabome. My pa was ook lief vir geskiedenis, en die gelaagdheid van die Oos-Kaapse geskiedenis sou hom ook meegesleur het. Ek sou hom graag hier wou rondwys.
........
Hier waar ek bly, groei die pragtigste kiepersolle en nabome. My pa was ook lief vir geskiedenis, en die gelaagdheid van die Oos-Kaapse geskiedenis sou hom ook meegesleur het. Ek sou hom graag hier wou rondwys.
........
Watter karaktereienskappe het jy by jou pa geërf?
Ek is, soos hy, uitgesproke en deel met hom ’n diep liefde vir letterkunde en die breër geesteswetenskappe.
Wat maak jou trots om Koos du Plessis se oudste dogter te wees?
As ’n bekende persoon se kind sê ek altyd dat – anders as so ’n persoon se ouers of eggenoot – ’n mens waaragtig geen aandeel gehad het in die persoon se talent of sukses nie. Ek is diep dankbaar dat my pa die soort nalatenskap agtergelaat het wat hy graag wou. En soos die afgelope 40 jaar bewys het, is dit Koos Doep wat die laaste woord inkry:
As dit gedaan is en verby,
Die aarde weer sy erfdeel kry,
Sal hierdie kluisenaar in my
Nog iewers in ’n boekrak bly.
Lees ook:


Kommentaar
Ek het die heel eerste uitgawe van daai boek. In 2004, was ek 18 jaar oud. Pas uit matriek. Jy kon nie iets op die internet bestel en laat aflewer in my dorp nie (ek het eers in 2005 my eerste e-posadres gekry! Op universiteit). Ek onthou ek het die uitgewers op Stellenbosch gekontak. Die geld is inbetaal binne in die bank se fisiese tak. Die strokie is natuurlik gefaks. En die boek is klompie weke later deur die SA Poskantoor afgelewer op Christiana. Ondenkbaar vandag, waar alles liefs met koerier gestuur word. En glo my, ek het ure en ure en eindelose ure met daai boek spandeer en die liedere gespeel en gesing op my kitaar. En ek het vandag nog die boek, al het ek klomp ander boeke verloor oor die jare met elke trek. Die boek het ook dikwels saamgereis in die kitaarsak, na vakansies, kuiers by vriende, en girlfriends.