All by myself in Wellington: ’n onderhoud met Charl du Plessis

  • 0

Foto: https://www.charlduplessis.com/event-details/all-by-myself

Charl du Plessis praat met Naomi Meyer oor sy All by myself-konsert wat hy op 8 Maart 2026 in Wellington uitvoer.

Charl, so lekker om met jou te kan praat! Begin asseblief heel voor. Wanneer het jy die heel eerste keer klavier gespeel? Of waar het jou liefde vir klaviere begin? Watter een was eerste?

Daar was ’n klavier in ons huis en ek het so getokkel vandat ek klein was. My rede was om iets te doen wat mense sou vermaak. Ek het nou en dan ook ’n danspassie uitgevoer. Ek het koor gesing. En selfs soos ’n dominee uit die Bybel voorgelees ... op ’n trapleer geklim, met ’n handdoek om my wat soos ’n toga moes lyk, en dan vir mense teatraal uit die Bybel voorgedra.

En later toe die res vervaag, het klavier die middel geword van hoe ek mense kon vermaak. Ek het op negejarige ouderdom met klavierlesse begin.

Ek het eers wat klavier betref alles klassiek gedoen – en toe in die hoërskool begin met jazz en improvisasies.

........
My liefde vir klavier was ten eerste ’n fassinasie met die instrument. Hoe groot dit was, sy klankmoontlikhede, wat mens alles daarmee kon doen.
........

My liefde vir klavier was ten eerste ’n fassinasie met die instrument. Hoe groot dit was, sy klankmoontlikhede, wat mens alles daarmee kon doen. Daar was ook plate in ons huis waarna ek graag geluister het.

Wat is vir jou besonders van ’n klavier en wat is nog meer besonders aan ’n Steinway, spesifiek? 

My kennismaking met die klavier was my pa wat ’n klavier in die huis gekoop het. En toe ek in die Bloemfonteinse Kinderkoor gesing het, het ek die vleuelklavier gehoor en besef watter diep bastone is moontlik. Wow. Ek het besef die klavier by ons huis is nice, maar hoor wat is die ander moontlikhede! Ek wou so graag so ’n klavier besit.

Die droom van om telkens op ’n Steinway te speel, het te doen met die konsekwentheid van wat mens ervaar as jy van konsertsaal na konsertsaal reis. Miskien is dit vir lesers wat hier lees, ’n goeie vergelyking om te praat van ’n motor wat jy by ’n lughawe huur. Jy huur dalk ’n motor by ’n lughawe en jy verkies dalk om elke keer as jy ’n motor huur, dieselfde soort motor te huur. Jy weet hoe hy werk, jy weet hoe hy voel en jy weet wat jy gaan kry. Dis dieselfde soort ding vir my met ’n Steinway-klavier.

As mens ’n rondreisende konsertpianis is, is dit maar ’n uitdaging om elke aand op ’n ander instrument te speel. So, as jy op ’n Steinway kan speel, weet jy wat jy gaan kry.

Ek hoor dis jou droom om op al die groot klaviere in die land te speel. Wat was een van die beste klavierspeel-ervarings wat jy al ooit in die wêreld beleef het? En was dit aan die klavier te danke? (Of die klavier nou ’n wonder is of te nie, soms ís mens mos maar senuweeagtig en dan help dit nie as die klaviernote die sagste of die mees perfekte druk- en springaksie onder jou vingers het nie, of hoe?)

Sonder om verwaand te wees, speel ek op so baie klaviere per jaar dat ek nie altyd almal kan onthou nie. Sommige van hulle vervaag in die herinneringe. Maar soms is daar ’n klavier wat meer is as wat mens verwag. Daar is klaviere wat terugpraat. Hulle gee ’n respons wat meer is as wat mens verwag. As mens die dag op sulke klaviere speel, dan onthou mens dit.

........
Maar soms is daar ’n klavier wat meer is as wat mens verwag. Daar is klaviere wat terugpraat. Hulle gee ’n respons wat meer is as wat mens verwag. As mens die dag op sulke klaviere speel, dan onthou mens dit.
........

Ek dink een van die instrumente wat ek kan uitsonder, is die Stadsaal in Kaapstad se Steinway. Wat ’n relatief nuwe instrument is en wat fenomenaal mooi voorberei word vir elke konsert. Ek hou ook baie van die Steinway by die Musaion in Pretoria, waar ek ’n vorige konsert van my kon gaan opneem – My favourite things. Dis lekker as mens ’n persoonlike band met ’n instrument kan opbou.

Jou vraag oor die gevoel van die klavier onder jou vingers ... dit maak nogal ’n verskil. As die klavier nie goed saamwerk nie en mens voel of mens wegsink in dryfsand, of nie teen ’n berg kan opklim nie. Dan moet mens jouself maar inpraat dat jy fiks is en jouself uit hierdie moeilikheid sal kry!

Foto: Canva

Om klavier te speel is so moeilik, maar jy laat dit so maklik lyk. Jy speel binnekort konsert in Wellington op ’n Steinway-klavier wat beskadig en nou herstel is. Vertel asseblief van jou All by myself-konsert. Wat is op die program?

Ek wou al vir jare in daardie saal speel. Op ’n stadium het ek ’n toer gedoen met tien Steinway-klaviere wat ek oor die land besoek het. Op daardie stadium was die klavier in die Goodnow-saal beskadig na ’n brand.

Dit was net nadat die klavier vir die eerste keer beskadig is.

Toe ek later weer daar wou speel, was dit sowaar weer beskadig na nog ’n brand.

Dit was die eerste keer in Ian Burgess-Simpson, wat die klavier herstel het, se loopbaan dat hy ’n klavier twee maal na ’n brand moes oorbou. Ek sien baie uit na die klavier!

Die ouer Steinway-klaviere het ’n gematigde temperament. Dis meer besadig. Dit het ’n diepte waarvan ek hou.

Ouer klaviere het nie meer die energieke bokspring van ’n tiener nie.

Dit gaan my eerste keer in Wellington, my eerste keer in die Goodnow-saal en my eerste keer op daardie klavier wees. Ek sien geweldig daarna uit.

Daar is klassieke musiek op die program: Chopin, Rachmaninoff en ander bekende klassieke komponiste se werk.

Ek gaan egter ook baie lekker jazz en improvisasies speel.

Ek gee die gehoor geleentheid om spontaan voorstelle te maak en dan improviseer ek daarop. Ek improviseer na hartelus! Mense kan ’n verskeidenheid van musiek verwag met iets wat in almal se smaak gaan val.

Praktiese vraag sodat mense nou al kan kaartjies koop: Wanneer is die konsert, waar koop hulle kaartjies en waar is dit? 

Hier is ’n skakel na die kaartjieverkope. Dis op Sondag die 8ste Maart 2026.

Lees ook:

Revisiting Orpheus McAdoo: Paula Fourie interviews David Kramer

In die kerk met Karen Zoid

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top