
Karen Zoid het verlede jaar ’n reis met die NG Kerk, en spesifiek die kerkorrel, begin. Haar vertoning Zoid Psalm is verlede jaar in die NG Kerk Blouberg vir die eerste keer opgevoer, met elke vertoning wat uitverkoop het.
Ek het ál drie die vertonings gekyk, met die doel om te sien hoe die verskillende kerke en orrels die produksie sou beïnvloed. In Blouberg was daar ’n baie gemaklike gevoel, met wegneemetes en wyn buite beskikbaar om tot ’n tipe markatmosfeer by te dra. In Stellenbosch was die vertoning deel van die Woordfees, in die ruim Moedergemeente, met feesklanke wat elke nou en dan ingedryf het. In Franschhoek was die kerkopset ’n bietjie van ’n uitdaging, met die uitsig wat soms belemmer was, maar die ligging was magies, met die laaste bietjie son wat die berg uitklim net voor die vertoning begin het.
Ek volg vir Zoid al vir jare en vind haar groeiproses interessant. Van die vrou wat mense regoor die land geskok het op feesverhoë tot die een wat reuse produksies bymekaargesit en met ander kunstenaars saamgewerk het, tot nou – die geoefende verhoogkunstenaar wat die gehoor deurgaans in die palm van haar hand hou met haar stories en liedjies.
In Zoid Psalm word die gehoor op ’n reis geneem – van die staaltjies oor die geskiedenis van die orrel in die kerk, tot die vermenging van die orrelmusiek met rocktreffers en die stemme van die kerkkoor.
En dit is hier waar ek voel dat Zoid iets magies vermag – in die gehoor is daar Christene, niegelowiges, Engelssprekendes, Afrikaners, queer mense, straight mense, jonk, oud, en als tussenin. Almal saam in hierdie ruimte wat vir soveel mense, insluitend myself, redelik moeilik kan wees. Zoid self vertel eerlik oor haar eie wroeging met die kerk na die dood van haar ma op ’n baie jong ouderdom. Sy kry dit reg om die welbekende liedjies, soos “Soos ’n wildsbok” en “How great thou art” op so ’n manier in te las dat dit gerusstellend voel, eerder as om die eie wroeging weer op te roep. En natuurlik verweef sy dit met haar bekende treffers, soos “Engel”, “Vir jou” en “Toe vind ek jou”.
Met hierdie produksie wys Karen Zoid dat sy op die ouderdom van amper 50 nog ver van klaar is met haar musiekloopbaan. Inteendeel, sy bou moontlik nou die fondasie om eens en vir altyd die kroon as die doyenne van Suid-Afrikaanse musiek te neem. Sy het ’n kalmte, ’n wysheid en ’n deernis vir ander wat die gehoor omvou.
Een van die laaste liedjies van die vertoning sing sy saam met die dominee van die NG Kerk Blouberg: hul weergawe van Coldplay se “Fix you”. En in Franschhoek gee die dominee die boodskap dat haar hoop vir almal wat swaarkry, eenvoudig vrede met die self is. En dit is waarmee ek uit elke vertoning weggestap het – ’n gevoel van intense kalmte en vrede.
Karen Zoid voer tans Zoid Psalm by verskeie liggings op. Inligting kan op die skakel op haar Instagram-blad verkry word.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud oor Zoid Psalms

