
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Johann Cook se huldigingswoord hier onder.
Gerrit van Wyk Kruger is op 11 Junie 1937 in Noord-Namakwaland gebore. In 1955 matrikuleer hy in die eerste klas aan die Martin Oosthuizen Hoërskool op Kakamas en in 1958 behaal hy die graad BA (Admissie), terwyl hy in 1959 inskryf as student in teologie aan die Teologiese Seminarium van Stellenbosch. Terselfdertyd studeer hy Klassieke Grieks en verwerf sy honneursgraad in 1961 cum laude, waarna hy die meestersgraad behaal.
In 1962 doen hy suksesvol, op aandrang van die Universiteit Stellenbosch (US), aansoek vir die Sir Henry Strakosch Memorial Scholarship vir nagraadse studie aan Cambridge-universiteit in Engeland. Hy vertrek na Engeland, waar hy inskryf as student aan King’s College met CFD Moule van Clare College as sy toesighouer. Gerrit se proefskrif op Cambridge getiteld “Conditionals in the New Testament: a study in their rationale”, word steeds hoog aangeslaan.
Op Stellenbosch word intussen ’n lektoraat in NT-Grieks geskep en vir Gerrit aangebied. In 1969 word hy tot senior lektor bevorder en in 1976 ad hominem tot professor. Van 1972 tot 1977 was hy hoofeksaminator in Grieks vir die Onderwysdepartement en die Gemeenskaplike Matrikulasieraad; van 1985 tot 1995 moderator vir Grieks aan die UWK; en van 1977 tot 1985 ’n geassosieerde lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 1985 was hy moderator vir die eerste doktorsgraad in NT-Grieks wat op Stellenbosch toegeken is.
Hy het ’n indrukwekkende publikasielys. In 1975 het hy die eerste, en tot dusver enigste, handboek oor ’n inleiding tot NT-Grieks geskryf. Daarna het ander, soos Rondom die Antieke Griekse boek, gevolg, wat die verhaal van die antieke Griekse boekwese naspeur. Verskeie akademiese artikels is deur Gerrit gepubliseer, veral in die halfjaarlikse Akroterion van die Departemente Grieks en Latyn op Stellenbosch. Hy het in 1994 vroeg afgetree aan die US. Sedertdien doen hy voltyds en ononderbroke navorsing in sy vakgebied.
Tussen 1987 en 1993 het Gerrit ’n reeks van 125 artikels oor die geskiedenis van Stellenbosch in die plaaslike Eikestadnuus geskryf. In die Afrikana-afdeling van die JS Gericke-biblioteek van die US word sy versameling van ongeveer 4 000 boekdele van die Afrikaanse letterkunde van die 20ste eeu gehuisves nadat die US dit onder beskerming van ’n voormalige rektor, Andreas van Wyk, bekom het.
Sedert 2016 publiseer hy op LitNet. Tot op hede het 36 artikels van hom al daar verskyn. Gerrit huisves vandag waarskynlik die mees omvangryke Klassieke biblioteek in privaat besit in Suid-Afrika – ongeveer 6 000 volumes. Dit sluit ’n faksimilee in van die Latynse Vulgaat wat in 1454/55 in Mainz, Duitsland, deur Johannes Gutenberg gedruk is – die eerste gedrukte boek in die wêreld. Nog ’n eerste is Die verhaal van die Griekse Taal oor 35 eeue heen. Dit is die verhaal van een van die oudste Indo-Germaanse tale en die jongste een met ’n eie letterkunde. Met skrywers soos Gerrit Van Wyk Kruger, wie sou dit waag om te konstateer dat die voortbestaan van Afrikaans as (akademiese) taal geen toekoms het nie!
Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u om die NP Van Wyk Louwprys aan Gerrit van Wyk Kruger te oorhandig.
Stellenbosch
1 September 2023
Lees ook:
’n Oud-Griekse roman: Daphnis en Chloê van Longus van Lesbos

