Akademia reageer: Afrikaans en hoër onderwys – stééds ’n opsie

  • 9

 Hierdie artikel vorm deel van LitNet se universiteitseminaar.

Afrikaans as onderrigtaal was die afgelope tyd weer gereeld in die spervuur. Die eerste vonkies het gekom van die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, met sy reaksie op die Sol-Tech-sooispit. Kort op sy hakke was die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, se versekering dat daar nie toegelaat sal word dat mense deur Afrikaans uitgesluit word nie. Kort daarna kom die Gelyke Kanse-hofuitspraak, wat die laaste hoop op Afrikaans as onderrigtaal by Maties kelder.

Die afgelope week kry ek vir die eerste keer die hersiene taalbeleid van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) onder oë. Waar die vorige beleid die bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal by openbare universiteite aangemoedig het, dek die hersiene beleid die tafel vir Engels as die de facto-taal van openbare onderwys. Ons moet ons regmaak vir ’n stamperige rit op die moedertaalonderrigpad.

In dieselfde tyd waarin hierdie gebeure afspeel, besoek ’n afvaardiging van Akademia vir die tweede maal verskeie universiteite in die VSA. Hierdie besoek herbevestig die gedagte dat daar nuut gedink moet word oor wat universiteite behoort te doen – wat die aard en wese van die universiteitwese behoort te wees. Hieroor verskyn ’n onderhoud met Danie Goosen op LitNet, waar hierdie ideale van die universiteitswese treffend uiteengesit word. Net na die onderhoud verskyn, word ’n stuk geplaas van die ervaring van Naomi Meyer met haar bywoning van ’n Akademia-inligtingsessie by laasgenoemde se studiesentrum in Somerset-Wes. Die gevolgtrekkings waartoe Naomi kom, is die moeite werd om oor na te dink en te plaas binne die huidige konteks van Afrikaans as onderrigtaal.

Afrikaans as onderrigtaal

Daar is nou nie meer veel te sê oor Afrikaans as onderrigtaal by openbare universiteite nie. Die enigste universiteit waar Afrikaans nog in die klaskamer gebesig word, is op die NWU se Potchefstroomkampus. Jy hoef nie ’n regskenner of profeet te wees om te besef dat Afrikaans as onderrigtaal ook daar sal sneuwel met die inwerkingstelling van die DHOO se nuwe taalbeleid nie.

Intussen is daar ’n Afrikaanse gemeenskap van miljoene mense in Suid-Afrika, waarvan duisende graag onderrig in Afrikaans wil ontvang. Hierdie mense sluit jong- (en nie meer so jong nie) mense in wat doodeenvoudig in ’n vriendelike, verstaanbare en gehalte-omgewing wil studeer. Terloops, as dit nie so was nie, sou Akademia nie binne agt jaar, met slegs vyf grade, meer as ’n duisend ingeskrewe studente gehad het nie. Dit sou uiters gemeen teenoor hierdie jongmense wees om niks te doen nie en toe te sien hoe hul geleentheid tot moedertaal­onderrig voor hulle oë vernietig word.

Akademia in konteks

Niks begin groot nie. Afgesien van die voormalige RAU, het elke voormalige Afrikaanse universiteit klein begin – ’n klompie omgeemense om ’n tafel wat besef hoe nodig hul gemeenskap ’n universiteit het. Met Akademia was dit weer so. In 2008 was Akademia bloot ’n idee. In 2009 word een persoon getaak om die idee in ’n werkbare model te ontwikkel. In 2011 word enkele mense aangestel, en in 2012 word Akademia geregistreer en skryf 40 studente in. As klein jou afskrik, sal jy niks nuut op die been kan bring nie.

Akademia verwag om volgende jaar 1 300 studente in te skryf. Hierdie studente swot in ’n tegnologies gevorderde model wat nuwe betekenis aan afstandsonderrig bied. Studente woon verpligte, interaktiewe kontaksessies by in een van 12 onderrigleersentra in die land, of ’n dertiende in Windhoek. Hierdie sentrums is opgerig op plekke waar die Afrikaanse gemeenskap maklike toegang kan verkry. Studente studeer in ’n “omgekeerde klaskamer”-benadering en word deur middel van ’n hoogs effektiewe aanlyn leerbestuurstelsel (Akademia se eie pasgemaakte Moodle-platform) vir die volgende komende kontaksessie voorberei. Hierdie model is baie aantreklik vir mense wat nie voltyds kan of wil studeer nie en die geleentheid kry om te werk terwyl hulle studeer. So ‘n model is byvoorbeeld baie gepas vir studies in velde waar klerkskappe ’n vereiste is, soos LLB.

Alhoewel die model aanvanklik ontwikkel is met die oog op “werk terwyl jy studeer”, het die verhouding skoolverlaters jaarliks groter en groter geword – wat iets sê van die behoefte wat bestaan vir studies in Afrikaans.

Hoe nou vorentoe?

Die behoefte na ’n residensiële kampus vir hoofsaaklik skoolverlaters het die afgelope tyd toegeneem. Alhoewel dit altyd die plan was, moet die plan nou versnel word. Hierdie plan gebeur in twee fases. Met fase een word beoog om vanaf 2021 nege grade (ses is reeds geakkrediteer) op ’n tussentydse kampus in Centurion aan te bied. Hierdie grade is:

  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële rekeningkunde)
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BSc (Wiskundige wetenskappe)
  • BSc (Rekenaarwetenskappe)
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • BA (Kommunikasiekunde en Joernalistiek)
  • BEd (Grondslagfase)
  • BEd (Intermediêre Fase).

Fase twee is om ’n kampus te open waar ongeveer 5 000 studente voorgraads sal studeer. Hier sal uiteindelik tussen 30 en 40 voorgraadse programme vanuit sewe fakulteite aangebied word. Die eerste dekane hiervoor is reeds in 2019 aangestel, en hulle werk tans voluit om bogenoemde kwalifikasies vir akkreditasie te ontwikkel. Nagraadse kwalifikasies sal infaseer word. Planne vir die fasiliteite wat hiervoor opgerig gaan word, vorder baie goed. As alles mooi loop, sal die kampus oor vyf jaar in gebruik geneem word.

Vir lank het die Afrikaanse gemeenskap twee opsies gehad: Enersyds moes hard gepoog word om die Afrikaanse aanbod by openbare universiteite te behou, en andersyds moes begin werk word aan ’n selfdoen-alternatief. Eersgenoemde is nie meer ’n opsie nie en daar bly nou slegs een opsie oor. Vir mense wat ernstig oor Afrikaans is, het die tyd aangebreek om moue op te rol en medewerkers en -bouers te word. Vir die ander (en ongelukkig vir hul kinders) – dié wat glo dat hulle die luuksheid het om kieskeurig te wees of afgeskrik word deur nederige beginne – lê ’n moeiliker alternatief voor.

Marthinus Visser is die besturende direkteur van Akademia.

Lees ook:

Stories op die Rooiplein: Veeltalige Maties of gerusstellende leuens?

 

  • 9

Kommentaar

  • Baie dankie Marthinus, dank die Here vir Akademia!

    My susterkinders wat nog ou kleintjies en is en vir wie die toekoms nog voorlê, wil eendag in hul pragtige moedertaal Afrikaans studeer soos hul hard verkreë reg is , en deur Akademia gaan dit nou moontlik wees!

    Ons taal is gered, deur SELFDOEN. Almal wat wil meedoen om hierdie wonderlike avontuur is welkom!

    Akademia gaan nog Afrika se Harvard (en raai wat, in AFRIKAANS!) word!

    Hoera!!!

  • Marthinus, net een vraag: wat word dan van die BCom Finansiële Beplanning-graad - ek sien dit nie op die lys vir die grade wat van 2021 op die tussentydse kampus aangebied gaan word nie, en ek weet dit word tans nog aangebied? Ek verneem graag. Die BCom Finansiële Rekeningkunde is seker die alombekende BCom rek graad ?

  • Avatar
    Heinrich Matthee

    Baie geluk met die prestasies, en dankie vir julle werk, bousteen vir bousteen. Dit kan nie aldag maklik wees nie.

    Die sosiale netwerke en ervarings wat Akademia se studente opbou gaan egter die lewens van sy studente dieper raak as by die markgerigte burokratiese Babilons. Opvoeding in jou tweede taal is vir dosente en studente 'n tweedehandse ervaring.

    Omdat Akademia van buite die geykte modelle moet begin, gaan selfs klein verstellings en uitvindings in sy werkwyses makliker ’n groter impak hê. Met goed gekose fokuspunte en vennote kan dit verder vorentoe ander universiteite met die gehalte van gemeenskapsbydraes en toegepaste navorsingprojekte troef.

    Akademia het reeds deur sy ontstaan die ekosisteem van Afrikaanse opvoeding verander. Dit kan ’n al hoe invloedryker aantrekkingskrag in daardie ekosisteem word: plek vir gehalte-dosente en -studente, oop dialoog met kulturele oerbronne, goeie bande met geselekteerde Westerse universiteite, digby gemeenskapsbehoeftes, die verkenning van sy unieke Afrika-posisie - dis dan almal boustene.

    Dis tragies dat Afrikaanssprekendes met baie offers en sweet soveel universiteite opgebou het, en dit deels deur hul eie politieke, ekonomiese en kulturele gedrag weer verloor het. Hopelik ervaar Akademia se mense egter iets van Langenhoven se arbeidsgenot, en dit waaroor Hermann Hesse skryf: In elke begin woon ’n towerkrag, wat ons beskerm en wat ons help om te lewe.

  • In 1964 het ek my onderwyserloopbaan begin by 'n laerskool. Een van die dinge wat ek so duidelik onthou, is hoe ons muntleggings/sentleggings gereël het en hoe die ouers - wat nie van 'n gegoede buurt was nie - getrou elke keer 'n munt of twee aan die projek afgestaan het. Daardie geld was vir slegs een doel ingesamel, naamlik om die eerste Afrikaansmedium universiteit in Johannesburg te bou. Dit was genoem die Randse Afrikaanse Universiteit en dit is gebou vlak langs die reeds gevestigde University of the Witwatersrand. Maar daardie universiteit waarvoor Afrikaanse mense betaal het uit die min wat hulle verdien het, is van die Afrikaners gesteel. Vandag is omstandighede baie anders en ons sal weer ons eie universiteit bou, maar hopelik sal dit hierdie keer bestand wees teen diefstal.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Duidelik gaan 1 politieke korrekte se oordeel oor Akademia, nie dit in duie laat stort nie.
    Tewens, dit word stukkie vir stukkie uitgebou.
    Die irritasie nog altyd vir my, is dat wanneer ons "verkramptes" ons eie instellings met eie kapitaal bou, daar verwag word dat dit 'n universele instelling moet wees, deur liberale politieke korrektes? Nog nooit gehoor dat wittes kla oor Afrikaans by bv Universiteit van Venda nie...of dat hul uitgesluit word by bv Fort Hare nie...

  • Avatar
    Hans Richardt

    Breytie, Akademia sal as openbare maatskappy bedryf word. Die enigste manier sal wees as staat die eiendom onteien dat dit oorgeneem sal word. Telematiese afstandonderrig sal dit moderne instelling maak vir moontlike sateliet kampusse in toekoms. Word lid by Afriforum en Solidariteit vir bydrae. Bv kollektiewe R50 van paar duisend lede sal help om te bou daaraan. Dit is gemeenskap ontwikkeling.

  • Gaan die BCom finansiële beplanning graad van Akademia dan op 'n ander kampus aangebied word, of miskien slegs by die studiesentrums?

  • Geluk met Akademia se LL.B graad aanbieding.

    Afrikaans as onderrigmedium is groot!

    Akademia is groot!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top