
Afvlerkmens
Grant Jefthas
Minimal Press
..........
Die titel AfvlerkMens verklap hierdie bundel is een oor val en opstaan, oor misluk en weer probeer, oor teleurstelling en vreugde. Maar ook oor hoe dit is daartussen, terwyl jy nog lê ná die val, rou is oor die mislukking, huil agter geslote deure.
...............
Die titel AfvlerkMens verklap hierdie bundel is een oor val en opstaan, oor misluk en weer probeer, oor teleurstelling en vreugde. Maar ook oor hoe dit is daartussen, terwyl jy nog lê ná die val, rou is oor die mislukking, huil agter geslote deure. Die indeling is dienooreenkomstig gedoen: deel een is getiteld “Val”, deel twee “Lê” en deel drie “Opstaan”, en saamgevlegte temas sluit in: verlies, lewenstryd, verslawing en oorlewing.
In deel een is die digter Icarus, beide vallend en soekend: “Ek het vi jare soe geskryf / lat mense kon agterkom / ek is geleerd… / Ek’s confused want ek wietie lekke waar ek inpas nie / tussen whiteys praat ek skoon / Afrikaans / By my ma se RDP huis praat ek / Soes ek opgegroei het…” (11). Hy bely: “Onder die gemors het baie stukkend gelê / My ego / My drome / My menswees / My manwees…” “Dit was my 9/11 / My ground zero…” (22), en sê prontuit: “As jy goed op skool presteer / verder gaan swot / is jy van ’n goeie werk / verseker / Dis die pot kak / waarmee ons groot gemaak was / steeds aan kinders verkoop…” (24). ’n Definitiewe hoogtepunt in hierdie deel is die vier gedigte wat as “Moordtoneel” ’n eenheid vorm – die metaforiese vertelling van ’n figuurlike afsterwe as ’n letterlike moord en die gevolge daarvan: “…jy is besig om te lewe / en toe / besig om te sterwe…” (12), en: “…hoe skryf ek neer / dat ek jou verstrengel / het omdat jy opgehou / het om my lief te hê” (14).
Deel twee open op ’n emosionele laagtepunt: “Ek het hard op die vloer / neer gebliksem / gesig in die stof / My hele lyf was in pyn / al wat ek kon doen / Was lê” (27). Die pyn van verlies terwyl jy reeds lê, word treffend verwoord in “Nar & Kie”: “Ons was nog nie dertig nie / Toe hulle my bel / Ek moes die kliniek verlaat / Om sy huldeblyk te doen” (31), en dit word herhaal in “Malhuis”: “Die tweede keer was makliker / Die roetine bekend / Ek moes egter vlug / My skoolvriend se lyk was in die straat…” (51). Die titels van die gedigte in hierdie deel is veelseggend: “Alleen” (30), “Moerig” (33), “Rou” (34), “Functional addict” (35) en “Under construction” (39). In hierdie deel is ’n hoogtepunt “Naggeheime”: “Die suster sê ek praat in my slaap / ek vra wat sy gehoor het / sy sê / dit was moeilik om uit te maak / Iets binne my sê sy lieg / sy weet ook nou waar / die bene begrawe lê” (45).
Deel drie se openingstrofe spreek van stille hoop, van lig wat begin deurbreek: “Ek het op albei / Hande en knieë gestaan / Opgekyk en geweet dat / Dit sal ook tot ’n einde kom” (61). Dit word voortgesit in “As dit stil word”: “…As ek wakker moet word en ek is alleen sal ek net dit oor hê / VERBEELDING / My vermoë om my eie wêreld te skep / HOOP / Dat dinge vir my beter gaan raak / LIEFDE / Want daar sonder kan niks bestaan nie” (65).
Die digter waag om die bundel in kombinasies van Standaardafrikaans, Engels en Kaaps aan te bied en wend die variasies doeltreffend aan om die onderskeid in lewenstadiums te illustreer. Die gedigte wissel eweneens tussen tradisionele rymvorme en vrye verse en dis veral by laasgenoemde waar die digter se talent rou en onbeskroomd geopenbaar word. Sy relatiewe jeugdigheid (hy is in 1986 gebore) ten spyt, is daar iets van ’n jong Ronelda Kamfer in sy werk te bespeur.
Die inhoud van die bundel as geheel word treffend as volg vasgevat: “Digkuns gaan oor emosie / Dis nie net rym en versies nie / Dis nie net metafore en alliterasies nie / Dis die diepste denke / Die blyste bly / Die seerste seer / Digkuns gaan oor emosie / As jy nie voel nie / Is dit nie vir jou bedoel nie” (72).
Maar as jy wel wil waag om te voel, is hierdie debuutbundel vir jou. Dit word uitgegee deur Minimal Press en is in beide gedrukte (ISBN 978-1-7764016-5-9) en elektroniese (ISBN 978-1-7-7764016-6-6) formaat beskikbaar.
Lees ook:


Kommentaar
Dankie Anschen, ek hou ook van Jefthas se verse.
Baie dankie vir die plasing LitNet! Ek waardeer dit!
Dankie, Barend. Ek waardeer dit dat jy die verse geniet.