Afvlerkmens: ’n onderhoud met Grant Jefthas

  • 4

Foto van Grant Jefthas: verskaf; foto van die bundel Afvlerkmens: https://minimalpressbooks.co.za/product/afvlerkmens/

Afvlerkmens
Grant Jefthas
Minimal Press

Grant Jefthas praat met Naomi Meyer oor sy gedigte, sy lewe en sy eerste digbundel, wat pas by Minimal Press verskyn het.

Grant, dankie dat ek sommige van jou gedigte kon lees. Wil jy vir LitNet se lesers vertel wie jy is? Waar het jy grootgeword en wat doen jy nou?

Ek is in 1986 in Franschhoek gebore. Ek het skoolgegaan by Groendal Primêr en toe Groendal Sekondêr. Ek woon en werk tans in Stellenbosch (Maties) en het in 2009 my BCom in kommunikasiebestuur by Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) verwerf. 

Jou eerste digbundel het onlangs verskyn. Skryf jy nog altyd gedigte? Wat was die eerste gedig wat jy geskryf het?

...........
Ek skryf elke dag in my joernaal en soms slaan dit oor in rym. Ek was 13 toe ek in 1999 my eerste gedig, "Die beste", geskryf het.
...........

Ek skryf steeds. Ek skryf elke dag in my joernaal en soms slaan dit oor in rym. Ek was 13 toe ek in 1999 my eerste gedig, "Die beste", geskryf het. Dit was die aand toe ek aangewys is as algehele beste akademiese presteerder by die skool se jaarlikse prysuitdeling. Ek was in die wolke en wou myself kreatief uitdruk.

Praat met my oor jou gedig "Moordtoneel" (Lees "Moordtoneel" hier). Ek hoor die dubbelsinnigheid en ambivalensie in die gedig. Jy skryf oor iemand wat ’n ander vermoor in ’n passiemoord. Die problematiek en die ekstase van so ’n moord. Die ellende en die bevrediging daarvan. Wat was die inspirasie vir die gedig?

"[D]ie ink van my pen het droog geword." Ek kry baie die vraag (lmk!). Dis my gunstelinggedig, snaaks genoeg. Ek was nog ’n student toe ek dit neergepen het, in 2007. Die inspirasie?

.............
Dis ’n antwoord wat in latere skryfwerk onthul sal word. "Moordtoneel" het tans vier dele. Al vier gedigte is in my nuwe bundel, AfvlerkMens. Dit vertel die verloop van ’n groter storie. Dis regtig soos ’n toneelstuk en daar sal ’n opvolg wees.
.................

Dis ’n antwoord wat in latere skryfwerk onthul sal word. "Moordtoneel" het tans vier dele. Al vier gedigte is in my nuwe bundel, AfvlerkMens. Dit vertel die verloop van ’n groter storie. Dis regtig soos ’n toneelstuk en daar sal ’n opvolg wees. Ek trek inspirasie uit die dae toe ek my lyf verhoogakteur gehou het in die NWU PUK Drama Groep, Divaco. Baie van my gedigte was eers monoloë in toneelstukke wat ek vir die groep geskryf het.

In "Scheme-Kind" (lees dit hier) lees ek iets van ’n eggo van die Bybel: Nou is ek klaar met die dinge van ’n kind. Maar jou gedig gaan oor hoe jy praat. Die kind in die gedig is Kind van die Scheme. Vertel my hiervan. Praat met my oor die taal wat jy praat, oor jou komvandaan en oor wat die gedig alles veroorsaak het.

............
Met "Scheme-Kind" verklaar ek trots dat ek van die ghetto is.
.............

"Scheme-Kind" is my eerste gedig wat in Kaapse Afrikaans geskryf is. Op skool en universiteit moes ek leer om Standaardafrikaans te praat en skryf. Veral as student, want ander kon nie my aksent verstaan nie. Met "Scheme-Kind" verklaar ek trots dat ek van die ghetto is. Die "ghetto" van Franschhoek, Mooiwater HOP Skema, wat die toeriste nie eens van weet nie. Ek verklaar: "Kinders uit sulke skemas, plakkerskampe en plase kan dit ook maak!"

Hoekom skryf jy gedigte? En hoekom wil jy dit publiseer?

Ek het begin skryf omdat dit terapeuties is. Deesdae skryf ek omdat ek dit geniet. My gedigte het dikwels versteekte waarhede en lewensadvies. Van die gedigte praat van die mense in my gemeenskap. Gewone werkersklasmense. Hulle stories moet gehoor word. 

...........
Van die gedigte praat van die mense in my gemeenskap. Gewone werkersklasmense. Hulle stories moet gehoor word. 
.............

Wat lees jy graag?

Ek lees als, maar my gunstelinggenres is memoires en digkuns. Ek blaas baie geld op boeke! Dit is egter vir my belangrik om local skrywers te ondersteun. Ek het onlangs Ougat van Shana Fife klaar gelees. Tans lê White trash van Terry Angelos op my bedkassie.

Waar kan mense hierdie digbundel van jou te koop kry of bestel?

Dit is beskikbaar by boekwinkels soos Bargain Books en kan ook aanlyn bestel word by https://minimalpressbooks.co.za/product/afvlerkmens

Is jy besig met nog gedigte of ander skryfwerk?

My tweede digbundel, hier bo genoem, is klaar! AfvlerkMens is baie donker. Ek volg dit op met iets ligs en snaaks. ’n Reisbundel: Van Potchefstroom tot Stellenbosch. Dit sal hopelik in 2023 verskyn. Ek bestudeer ook nou die skryfkuns van kortverhale. ’n Genre wat ek ook wil bemeester.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 4

Kommentaar

  • Wat 'n fenomenale mylpaal en onderhoud! Baie trots op jou, Grant Jefthas. Jy kruip diep in die harte van ons gemeenskap, en die land as geheel, met hierdie verfrissende nuwe digbundel. Ons sien uit na jou toekomstige uitgawe. Knap gedaan!

  • Anelene Schoonees

    Ek het na 'n onderhoud met Grant gekyk op die Woordfeeskanaal. Ek is aangenaam verras met hom. Dankie, Kabous, hiervoor. Welgedaan aan jul albei! Ek gaan beslis uitkyk vir Grant se digbundels.

  • Grant Jefthas

    Beste Anelene. Jammer dat ek nou eers antwoord. Baie dankie vir die mooi worde. Ek waardeer dit! Groete uit Stellenbosch. G

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top