Adam Small-fees 2020: ’n onderhoud met Darryl David

  • 0

Darryl David (foto: Suki Lock)

Darryl David vertel vir Naomi Meyer van die Adam Small-fees wat op Vrydag 21 Februarie afskop.

Hallo Darryl, die Adam Small-fees is weer om die draai. Wat is die agtergrond van hierdie fees en die hoeveelste jaar is dit vanjaar wat dit plaasvind?

Hallo Naomi. Ek wou nog altyd iets vir Adam Small gedoen het, want ek kon my net verbeel hoe hartseer dit vir ‘n skrywer soos Adam moes gewees het om tydens apartheid ‘n bruin Afrikaanse skrywer te wees. Vir jare kon ek dit egter nie regkry nie. 

Na Adam se dood het ek besef ek was te laat. En tog nie. Dis toe – terwyl ek so siek was vir ‘n maand en dae lank op my rug op my bed moes deurbring – dat ek die idee van Pniël en ‘n Adam Small-fees gekry het. En as ek dit self moet sê: Dit was ‘n stroke of genius. Plek is alles vir my met feeste. Schreiner en Cradock, Paton en Pietermaritzburg. Daar is geen direkte verbintenis tussen Pniel en Adam Small nie. Maar dit was die simboliek van die plek, met sy slawegeskiedenis en alles waarteen Small sy hele lewe gestry het. It was a match made in heaven. Ek dink dis ons vierde jaar vanjaar. En die groei van die fees is vir my fenomenaal. Elke jaar kry ons die heavyweights. Breyten. Albie Sachs. Helen Zille. Etienne van Heerden. Diana Ferrus. Daniel Hugo. Thuli Madonsela. Om net ‘n paar te noem

Jy is bekend daarvoor dat jy feeste in die Karoo reël, in afgeleë dorpe en in omgewings waar mense gewoonlik net deurry. Vertel vir ons lesers iets van Pniël, waar die Adam Small-fees plaasvind.

Ek dink ek het dit dalk klaar beantwoord. Maar laat ek oor die mooiheid van Pniël praat. Die bekoring lê in sy berge. En sy mense. Jy weet ek is die ewige buitestander. Ek het feeste op die vreemdste plekke begin. Maar daar is nie ‘n plek in Suid-Afrika wat my met soveel warmte en liefde elke jaar verwelkom nie. En hul koskuns! Selfs voor my “Hermanus UNESCO City of Gastronomy”-projek het ek vir my mede-organiseerder Matthew Cyster gesê die kos hier is spesiaal. Die dorp se kos moet ‘n hoogtepunt van die fees word. Daarom is ek so bly hulle het na my geluister, en vanjaar gaan ons ‘n Pniël-resepteboek by die fees bekendstel. My droom is om eendag ‘n huisie in Pniël te koop. 

Adam Small-fees 2019: ’n fotoblad

Watter skrywers is vanjaar op die program van die fees? Dalk kan jy verwys na die baie bekende name, maar ook veral die minder bekende skrywers uitlig?

Ons het ‘n paar groot name by die fees vanjaar. Trevor Manuel. Vernon Head. Jonathan Jansen. Helen Moffett. John de Gruchy. Etienne van Heerden. Dominique Botha. En dan is daar ook Diana Ferrus, ons grootste ondersteuner, saam met Gaireyah Fredericks. En ek weet nie of mense al die naam Desiree-Anne Martin gehoor het nie. Nadat julle haar storie gehoor het, sal julle nie die naam vergeet nie. 

Wat is die Adam Small-gedenklesing en waaroor handel dit?

Die Adam Small-gedenklesing is begin om die nalatenskap van Adam Small te vier. Nie net op literêre vlak nie, maar ook op sosiale en politieke en religieuse vlak. Verlede Jaar het ons Thuli Madonsela gehad. Vanjaar gaan ons terug na Adam se literêre nalatenskap. Steward van Wyk en Willem Fransman gaan daaroor praat

Vertel vir ons lesers 'n paar praktiese dinge: Presies wanneer is die fees; die kostes; kaartjies; hoe maak mense wat die fees wil bywoon?

Die fees vind plaas by die Pniël Congregational Church. Soos met die meeste van my feeste is alle lesings gratis. Mense uit die omgewing het nie geld om te spaar nie en ons wil hê hierdie fees moet deel wees van ‘n kulturele opkoms in Pniël. Vir die “Kô laat ôs sing”-geleentheid vra ons wel vir mense wat kaartjies kan bekostig om hierdie geleentheid te ondersteun. Soos Matthew Cyster die ander dag gesê het: Lank nadat ons dood is, gaan Adam Small in Pniël en die Afrikaanse letterkunde bly lewe. 

Adam Small-fees 2020: program

Blitsonderhoud met Alettie van den Heever oor die Adam Small-fees 2020

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top