
Altesaam 75 uiteenlopende inskrywings is ontvang en die volgende 10 gedigte verskyn op die kortlys.
Baie geluk aan die digters! (Die digters se name verskyn in alfabetiese volgorde.)
- Barend van der Merwe
- Delene van Wyk
- Jeanne Henning Els
- Lonelda Taljaard
- Maricel Botha
- Marius Boonzaier
- Marna van den Berg
- Paul Maritz
- Ronel van Schalkwyk
- Sunelle Geyer
Barend van der Merwe
Mandela herroep
Mandela die versoener
bly die wêreld ons vertel
het jare geoffer
op Robbeneiland in ’n sel
Maar
die jeug is ongeduldig
en die indoenas sonder raad
Suid-Afrika ’n prutpot
van broederskap én haat
Maar ken ons ons verlede
as ons kies wat ons onthou?
Ons oordeel tog so maklik
Met die kennis van terugskou
En sou ons dan beter vaar
as ons in sy skoene
kon staan?
Delene van Wyk
08000 55 555
Toe ek vyf was het ek nog geglo
dat ek kaalpienk vinkies kan red
met pluisies watte en ProNutro
en fluister-praat en bid
vir volronde magies wat bult
teen my kindervet vingers;
my hande ’n kamma-nes
vir die wreedheid
van wees
maar teen sewe het ek gewéét
die kepe tussen my vingers
laat tog Die Donker deur:
ek, tjoepstil vinkie,
kaalpienk onryp ontneem
van kindwees
van wéés.
Jeanne Henning Els
Kyk
ek vryf die krom van jou skouers
die krake binne jou heupe
die matrone sê
kyk
die oumense groet
in die koue net
voor die son opkom
ek trek jou kombers oor jou
hande wat deurskyn
voel die bietjies been
kyk
die oranje van dag
het nou aangekom
maar jy sug grys
en rol jou toe met
die warm van jou oë
wat nie meer sien nie
Lonelda Taljaard
World Cup ’95
I still recall that moment … that day,
an extended hand across the great divide.
Though rugby was never your passion,
you knew all about power dressing
as you rocked the green and gold
with a jumping springbok on your heart.
As you jigged on the podium,
in that resonating moment of reconciliation,
black and white danced together
and this country changed forever.
May God Bless South Africa.
Maricel Botha
Donderdagoggend dromdiens
Met ’n wankelende wiel kletter jou waentjie
van drom na drom
in Brooklyn se strate
Die oorgroot sak styf geprop met hulle
waardelose kartondose
soos ’n miskruierbol
Die res van die
bende lendelam versamelwaens
dra glas en plastiek op wiele ewe klein en skeef
Is dit Madiba magic, Mbeki logic of Zuma tragic?
Koop maar ’n Lotto-kaartjie,
want die ANC-oorwinning bring vir jou niks anders as
herwinning
Marius Boonzaier
Foto
’n skadu-gestreepte
gesig
teen die gevangenis se staaltralies
koud
en met ’n voorkop in ’n frons geplooi
staar hy na die horison
terwyl Casspirs op die vasteland
ontplooi word
en die son
soos die toekoms
in sy oë skyn
goudgeel
en warm
maar dit flits verby
en al wat oorbly
is ’n foto
buite fokus en verblyk en verniel
geraam teen ’n verkrummelde wit muur
Marna van den Berg
Mandela
Ek wonder as Ingrid Jonker
67 reëls oor jou reënboogland sou dig
of sy met “Die kind” sou begin
geboorte van ’n nuweling
die gebalde vuis van verlossing
Madiba magic wat deur jou are vloei
medemenslikheid en nederigheid
’n saad wat terugkeer na sy geboortegrond
of sou sy daarmee eindig om opnuut
geboorte te skenk aan hoop
vir ’n embrio verstrengel
in die naelstring van verdeeldheid.
Paul Maritz
Versoening is ’n gelyke tafel
Ware versoening sal om ’n tafel plaasvind.
Hierdie tafel sal nie skuins na die een kant hang nie,
niemand sal ’n ander se woorde verbeter of vervang nie.
Al die stoele sal ewe hoog wees.
Daar sal waarheid op elke tong
en in elk’ deelnemende oog wees.
Harte sal uitgepraat word sonder om te dreig.
Ons sal luister as hulle praat.
En sal self geen waarheid verswyg.
Ronel van Schalkwyk
Gryswater
wil jy jou gryswater oor my droë blombedding kom gooi?
die afvalstowwe van jou tragedie wat jy so maklik kan laat gaan
oor my klipperige grond laat kom vloei?
dalk sal daar ’n mandevilla opkom
’n rare geel ene
wat die vaal verstoot
een wat bo die diefwering van my sel kom rank
en hom teen my wankelrige struktuur kom vasketting
dan is jou mooi ook myne
Sunelle Geyer
Vyeboom
Die jaar word ryp in ’n
gevalle vy
in die Groenkloof-gym-parkeerterrein
die boom staan kaal
skaam-skaam daar
al ken ons mekaar soveel jare al
van my oupa se boord in Kimberley
jou takke laag en
maklik om te klim
nou loop ons mekaar gereeld hier raak
geniet ek die voëls in jou hare
jou gladde lyf
en hoe jy in die somertyd
ná ’n warm workout ruik

