Hier verskyn die vierde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "67-woord-gedig vir Mandela-dag 2018" ontvang is. Die kompetisie het 31 Julie 2018 gesluit.
- Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
- Klik hier vir die eerste inskrywings.
- Klik hier vir die tweede lys inskrywings.
- Klik hier vir die derde lys inskrywings.

Inhoud
- Linda du Plessis
- Marnus Kok
- Suzanne Wiese
- Delene van Wyk
- Amos van der Westhuizen
- Bianca van der Walt
- Johan Ferreira
- Corli Bekker
- Vivian Brink
- Jean-Marie Potgieter
- Carla de Villiers
- Riaan le Roux
- Annemarie van Dyk
- Nicolette Lottering
- Petri de Klerk
- Marna van den Berg
- Maxie Heppell
- Shameen Snob
- Santi Kruger
- Annalene van Tonder
- Ilse Goschus
- Sanél Marais
- Henlie Barnard
- Ronel van Schalkwyk
- Jo-Mari Bosman
- Berenice Scheepers
- Jeannette Strydom
- Gerhard Scheepers
- Mauricia Britz
- Jolynne Douz
- Chanel Pretorius
Linda du Plessis
46664
Mandela man van vergifnis
u het versoeningsbrûe gebou
die reënboognasie een gemaak.
u nalatenskap moet ons self koester
vergifnis, geen rassisme, vrede
stel jóú visier nie net
op
67
minute nie
maar lewenslange
nasiebou
om misdaad, geweld en onmin
brandende bande
haat
plaasmoorde
geboue tot as
vry te maak deur
verdraagsaamheid
liefde
opbou
al genade is nóú van God
om ons land te red
van sy dood.
Marnus Kok
Tuin
Sy sê ek moet Sondag kom werk
Want ’n tuin vergaan tog so maklik
Maar ek moenie gras sny
Want: Dit raas op die rusdag
Ek kan blare hark
beddings omspit
paadjies vee
die braaiplek skoonmaak
Maar los tog die beddings by die kamervenster
Oubaas wil rus ná kerk, dit was ’n besige week
O, en geen gefluitery nie
“Jy sal seker Sondagaand kerk toe gaan, Philemon?”
Suzanne Wiese
67 jaar
na alles
al die jare
al die nagte
al die dae
al die stof
al die sweet
al die trane
al die wagte
al die vriende
al die vyande
al die geraas
al die stilte
al die alleen
op die eiland
in die sel
deur alles
na dit alles
sê hy
van alles
het hy
die helder stemme van kinders
die meeste gemis
van alles
na alles
Delene van Wyk
08000 55 555
Toe ek vyf was het ek nog geglo
dat ek kaalpienk vinkies kan red
met pluisies watte en ProNutro
en fluister-praat en bid
vir volronde magies wat bult
teen my kindervet vingers;
my hande ’n kamma-nes
vir die wreedheid
van wees
maar teen sewe het ek gewéét
die kepe tussen my vingers
laat tog Die Donker deur:
ek, tjoepstil vinkie,
kaalpienk onryp ontneem
van kindwees
van wéés.
Amos van der Westhuizen
Die goeie(?) ou dae
John Vorster Connie Mulder inligtingskandaal PW Botha
Citizen Daily Mail Vrye Weekblad
André P Brink HS van Blerk noodtoestand
betogertoer rebelletoer isolasie
Kim Hughes Lawrence Rowe Mike Gatting
Pik Botha Suidwes Martti Ahtisaari Resolusie vier drie vyf UNTAG
Kerkstraatbom Koos du Plessis
sanksies disinvestering
diensplig vasbyt Angola Chester Crocker Jonas Savimbi
Samora Machel
Kodesa referendum
Berlyn se muur
Boipatong Bisho
Chris Hani
FW de Klerk Nelson Mandela
Bianca van der Walt
Hoe is dit moontlik?
Hoe is dit moontlik
dat jy net skielik verdwyn het
soos die son na ’n warm dag
soos die maan, na elke donker nag
hoe is dit moontlik
dat jy net skoonveld weg is
soos ’n vermiste selfoon
soos ’n verdwaalde blou skoenlapper
hoe is dit moontlik
dat jy geluidloos die aarde kon verlaat
terwyl die vlammige vuur jou verslind het
soos net nóg ’n houtstompie?
Johan Ferreira
Die wens
Tel die ure af na ’n beter lewe waar jy vasgevang word in jou koue kokon.
Spartel en spook om te vorm in die nuwe jy waarvan jy solank droom.
Die heen en weer gewieg van die lewe maak die gewag die moeite werd.
En dan bietjie vir bietjie ontwikkel jy in die jy wat eindelik moes wees.
Dan bars dit als oop met die nuwe dagbreek.
Corli Bekker
Ek sluit ons af, vir nou
vir jou, alles vir jou
ek sou my siel verkoop vir jou
maar uiteindelik kies ek myself, vir nou
aan jou, slegs aan jou
my kop en hart en siel dink aan jou
maar ek sit hulle eers af, vir nou
tog
dis jy, nog altyd net jy
wat die kuns bemeester om my hart te kry
ek soek steeds na die slot, wat ons hoofstuk afsluit.
Vivian Brink
Is?
Is jy?
Wie is?
Hy lyk,
so ook sy,
maar
daar is geen persoon in die heelal
wat is.
Deur land, oor berg en sand
deur soek.
Grens oor grens,
korrel vir korrel
na perfek.
Een vraag bly staan …
Is?
Wie is?
Is hy?
Is sy?
Is jy?
Nee. Soekend ja, maar nee.
Antwoord wat die wêreld vra.
Niemand, nêrens is perfek.
Uniek. Ja,
Dit is ek …
Jean-Marie Potgieter
my angstigheid is al ’n geruime tyd hier
my angstigheid is al ’n geruime tyd hier
sonder behoorlike rede
net sommer
in my kaal voete as ek tande borsel
want ek maak myself klein
my woorde beitel ek krom, skeef
ek bekyk die wêreld deur swart oë:
snippermandjies halwe werklikhede
ek keer na binne
en skeur my drome (o)op
ek is so jammer
dat ek nie meer weet
hoe om myself neer te skryf nie
Carla de Villiers
Tussenkoms
Bloukraanvoëls sweefhang in die blou van onse hemel
terwyl terroriste grondlangs wemel
onder rookwolke betogings onthaal
reënboognasie wat dopsak faal
oor ver verlate springbokvlaktes
bebloede mensemassas met grafstil klagtes
moederland wat in gedempte winterreën
benede outeniekwageelhoutbome ween
tog, brand hoopvure deur die land
as naasteliefde kaggels stook met uitgestrekte hand
vind ons die taal van hoop en versoen
in vergifnis, tussen koningsprotea en galjoen
Nkosi Sikelel’ iAfrika
Riaan le Roux
Roeping
die kind smeek
vir brood vir vis
dis in ons hande
onse groot Vader
meer as genoeg
beskik middele
kennis
kans gegewe
vra keuse
voete van roeping
tree vir tree
in genade en waarheid
met dissipline
liefde-dienend
ontvou louter vreugde
geloofsatleet ervaar kameraadskap
gees van omgee
kweek langpad-liggaam
hemel
aarde
hartroerend
verlam aan balk
lyk kroon on-
moontlik
wonderwerkend
beweeg water
van ontwaking
MOOI LOOP
VOORWAARTS
GOEIE VRUG
Annemarie van Dyk
Ver lam verlang
Jy is die kriekelkind van my bestaan
die een wat kreukels in my hart
van kamer tot kamer verf in pers
en groen en wolke rondom saggies vou
totdat dit storm sterk roep
ma skaap vir skapie roep
kom terug my lam, my ooilam
Herder, kyk my lam, my ver lam
Herder, my hart is swaar, swanger
dragtend aan ver verlangens
na die kriekelkind van my bestaan
Nicolette Lottering
hoe onomwonde ken ek tog
die warm neste van jou lyf
waar ons sprongel en flonk
in ons kantelkerk
al kletter die los tonge om ons
knetter ons vlamme hoog en hoër
hoe bult my hart in hartstog
as jy my voornaam tongel
in ons hoepelkamer
waar branders klongel en kolk
en sugte suil
bemin ek my klong my jong
verby die balke in my twee oge
Petri de Klerk
Gesig deur ’n skreef
om die geskrewe toe te lig
val my oë op ’n kollecollage
met pupille te na aan jou persfoto gedruk
war dié heelal pigmente
’n pointillistiese dans
van gebroke spore ink
soos morsekodes in my op
hierdie kwantumdialek van jou bestaan
laat my punktuasie verloor, uit fokus raak
die klein stofdeeltjies op jou gelaat
blaas ek af, spin ’n sterrestelsel
verby die loergat van ’n skerfie son
Marna van den Berg
Mandela
Ek wonder as Ingrid Jonker
67 reëls oor jou reënboogland sou dig
of sy met “Die kind” sou begin
geboorte van ’n nuweling
die gebalde vuis van verlossing
Madiba magic wat deur jou are vloei
medemenslikheid en nederigheid
’n saad wat terugkeer na sy geboortegrond
of sou sy daarmee eindig om opnuut
geboorte te skenk aan hoop
vir ’n embrio verstrengel
in die naelstring van verdeeldheid.
Maxie Heppell
67 woorde is te min
Hoe beskryf mens in
67 woorde
wat liefde is?
Ma se briefies op ons bed.
(Flambojante handskrif vir so ’n wegkruipvrou?)
Pa se ‘reverse parking’ met spieëltjies.
Engel-man van my se kyk.
Maar liefde is soveel meer as dit.
Dit is die son wat opkom elke oggend as die nag nie einde kry nie.
Weer.
Weer.
Elke. Dag.
Nog ’n keer.
67 woorde is net te min.
Shameen Snob
Tata
Trane
glip uit klip oë
rol grond toe.
droë aarde suig
gulsig,
genadeloos straf die son
hardgebakte, uitgestrekte
arms
wat Pretoria, die wêreld
onder skadu van die goue gebou
omhels
groot manne met geweldige drome,
klein manne met bitter min insig,
staan saam in die skadu
onderaan
tussen kleurvolle gepronkery
hunker desperate oë
van armes
gretig na
dom
blinde
vals gode
arms uitgestrek
vol hopelose hoop
Santi Kruger
(M)an met die 'magic' hart woorde en dade wat harte laat praat
(a)anhalings word lewens lesse, pragtige woord pêrels ’n erfenis nagelaat
(d)onker spelonk kon jou nie breek dapper kryger met leeuemoed
vrygelaat uit die tronk kom jy ons van vergifnis leer
(i)n jou hart dra jy; net vergifnis, liefde, respek en nederigheid
(b)aie dankie ta'ta Madiba vir jou grootmoedigheid
(a)an almal jou 'magic' kom wys
Annalene van Tonder
Profeet met die pik
sewe en sestig jaar
lewenslank
alleenstryd
ontbering, handearbeid
lang stiltes, retoriek in jou kop
gepynigde liggaam
hande vasgeklem om piksteel
stof maak oë dof
gedagtes reis
vry soos
meeue
oor die blou see
eens gevaarlike
terroris in
verwarde koppe
maar
wyse gryse triomfeer
jou vergifnis groter as
sewentig maal sewe
profeet van hoop
lig jou pik hoog
skuifeldans
jou vredeswals
glimlaggend
klief deur haat, kleur
en verdeling
Ilse Goschus
Sprankelvuurtjies
Hongerskimme skuil waaksaam
in begeertegevulde Kaapse-Vlakte-kinderoë;
stille fluisteringe binne die kru greep
van ’n yl winterwind
Tydens speelgrond se pouse-verkope
verskyn groteske demone hygend, dansend,
smagtend, verwoestend
as hul met R1-pakkies niknaks en popcorn
hongerpyne tergend probeer stil
’n Pakkie sopmengsel per honger kind
’n Mandela-dag-uitreik-daad
steek sprankelvuurtjies aan
in dankb’re dowwe kinderoë
(Jong kindersiele
met deurgetrapte oumensspore
in wyse smartharte
vasgevang in die armoede en dwelmverdoemenis.)
Sanél Marais
’n Hond soos Pluto
Jy was ’n impulsiewe besluit
jou verlating ’n onverwagse hartverskeurende gebeurtenis
jy was so lief vir ons oggendbeskuit
jou gebedel etenstyd, die lekkerste steurnis
Die son was so helder, die wind so stil
maar tog het die dood sy eie wil
jy was jonk, maar jou hart moeg
en so moes jy ons groet, so vroeg
Die trane sit steeds vlak
totsiens Pluto, my gunsteling-brak
Henlie Barnard
Pad
Jou pad het ek gevolg, geleer
deur die oë van ander jou bewonder.
Jou glimlag was skugter, helder.
Jou dans ’n hit.
Deur die oë van ander jou bewonder.
Die wêreld altyd jou voetbank.
Jou dans ’n hit.
Vergifnis jou keuse, jou leuse.
Die wêreld altyd jou voetbank.
Jou glimlag was skugter, helder.
Vergifnis jou keuse, jou leuse.
Jou pad het ek gevolg, geleer.
Onthou vir altyd.
Ronel van Schalkwyk
Gryswater
wil jy jou gryswater oor my droë blombedding kom gooi?
die afvalstowwe van jou tragedie wat jy so maklik kan laat gaan
oor my klipperige grond laat kom vloei?
dalk sal daar ’n mandevilla opkom
’n rare geel ene
wat die vaal verstoot
een wat bo die diefwering van my sel kom rank
en hom teen my wankelrige struktuur kom vasketting
dan is jou mooi ook myne
Jo-Mari Bosman
Wolf
Wolf is skaapwagter en swerf oor stede en vlaktes
Wolf verkrag, verskeur en verslind onskuld sonder klagtes
Wolf is wit en dra rooi
Wolf spog en verkoop leuens teen ’n wins aan sy eie seuns
Wolf is swart en dra rooi
Wolf blaas en blaas al die huise om op die plaas
As die kinders sou vra “Hoe laat is dit?”
Gryns Wolf se Rolex, dis etenstyd.
Berenice Scheepers
Ek is (of nie)
My vuur
hardloop vanaand
in afwesigheid
van hout
in teenwoordigheid
van skimme
naamlose versugting
verste verbeelding
My Afrika
weerkaats vanaand
melkweg se vlam
in sandspoor
voetspoor
woordelose gebed
hoog hoër
allerhoogste
My verlange
hang vanaand skeef
aan die warrelwind
versamel
savanna springbok
gemsbok woestyn
in roekelose soektog
na enige tuiskoms
If you understand
the beginning well
the end will not trouble you
vyf-en-sestig ses-en-sestig
sewe-en-sestig
blok myself
Jeannette Strydom
Die Stil Stem van Suid-Afrika
Onse hemel is nog blou
ons see nog ewe diep
maar kranse skuil nou stom in die ewige gebergtes
ons vlaktes is steeds ver en verlate
maar ons hoor nie meer maklik die Stem nie
want ons land is nou ’n verwese geliefde
ons land is ’n strydveld wat smeul en eis
al is die hemel nog blou en die see diep,
is die kranse sonder antwoorde
Gerhard Scheepers
Dié koningskleed
Sewe en sestig voetspore hard gestamp
Vanaf die jaar sy geloof in God verpand
vir Leninsgeloof se ysterhand
Vanaf sy Christenvrou uitgespan
om Winnie se hand
Sondagskoolonderwys verfoei
vir vernietiging beplan
Beginne met massa-aksie
eindig met die land
Bloedspore oral hierom verlaat
uit Sjina en Rusland
Spin spin spin ons ons geweldpleger
tot predikant
Maal menigtes om dissipelsandale
Skoon gewas met mond en hand
Mauricia Britz
GeregTUGheid ... GeregTIGheid
GeregTUGheid bring seer
Vorentoe,
Probeer baie beur
Soveel,
verloor
Siele,
deurboor
Elkeen het sy eie las
Kinders,
Sonder ’n tas
’n Bord sonder kos
Daar is niks,
om te los
Laat geregTIGheid geskied,
Bring,
Wat JY kan bied
Kom! Verlig die trane
Uit al die lewensbane
Ons,
Voer die monde
Met al ons ponde
Sommiges,
Verf die huise
Verlig die kruise
Tyd,
Geen spyt
Help,
Almal oorstelp
Jolynne Douz
Centurion
A century ago a child was born,
Incarcerated 27 years, stuck in a dorm,
Little did we know he would bring reform,
A country, nation, globally taking it by storm.
67 years impacting humanity,
Setting a culture of peace and democracy,
Portraying forgiveness, embedded unity, through his legacy,
Who would've fathomed this possibility?
Fast forward 100 years – Calling a future historian ...
So, are you that child? Centurion?
Chanel Pretorius
Vrouwees
Ma wees,
Sag wees,
Vrou wees,
Mooi wees …
Altyd lag,
Altyd sag,
Altyd lief,
Altyd met oop arms …
Vriendin wees,
Werknemer wees,
Dogter wees,
Sussie wees …
Altyd lag,
Altyd sag,
Altyd lief,
Altyd met oop arms …
Wanneer mag ek, ék wees?
Goed nagedink – dié is seker ek … my eienskappe?
My eienskappe, wie ék is, is vrou wees,
Om myself te wees, ék wees, is vrouLIK wees.

