Hier verskyn die derde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "67-woord-gedig vir Mandela-dag 2018" ontvang is.
- Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
- Klik hier vir die eerste inskrywings.
- Klik hier vir die tweede lys inskrywings.

Inhoud
- Ankia Nel
- Jaco Pretorius
- Hélène van Wyk
- Riska du Plessis
- Engelsman
- Jeanne Henning Els
- Caren Kearley
- Melissa Grobler
- Olga Leonard
- Elmien Jansen
- Elza Smal
- Yvonne Botha
- Christine Nel
- Johanna van Eeden
- Ilze Lammers
Ankia Nel
Nkosi Sikelel’ iAfrika
Vertoonvenster van volk en vaderland
verkondig hartseer verhale van
mislukte versoeningsdade.
Ons sing: Nkosi Sikelel’ iAfrika
Aksies geanker, geregverdig deur die verlede
nou ’n permanente besoeker uit gister
’n Onwelkome gas vir die hede.
Ons kinders sing: Nkosi Sikelel’ iAfrika
Mag ons optree as geleiers van hoop
diensknegte van vertroue
vrede bemiddelaars
Beleggers in die toekoms
Ons pleit en leef dit uit: Nkosi Sikelel’ iAfrika
Jaco Pretorius
Middernag
Soos ’n kanonslag slaan die horlosie twaalfuur.
Oë oop, wawyd wakker.
Lakens deurdrenk met die verlede se verwyt.
Weg is my kinderjare.
Wie sal na my omsien,
vanwaar kom my hulp?
Dalk in die liefde van ’n medemens?
Sluimer, slaap nog ’n wyle,
los jou probleme oor aan more.
Klou vas aan die brand van die oggendson.
Soos dagbreek deur die gordyn vernuwe my hoop.
Hélène van Wyk
Hartewoordeboek
Die woordeboek van my hart
Is te dun
Om te sê
Hoe ek voel
Gedagtes kan nie met woorde
Alfabeties rangskik
Beskryf word nie
My onvermoë maak my
Stil
Luister …
Die stilte is stil
Binne die ruimte van niks
Kan ek aan gedagtes vat
Prentjies in jou kop
Aanraak
Woorde is so leeg
Ek wil stories losmaak
Skeppend droom
Van ’n woordeboek van harte
Vir jou
Riska du Plessis
Toeknyp Klaag
Verander my situasie
My bankstatus bedrag
wat onder in die donker lê
’n honger, bodemlose skag
Verander my beroepsklere
dit is net nie nommerpas
my nek het al ’n spasma
soos ek teen die plafon bereik moet veg
Moet verandering
regtig by my begin?
Ek het gehoop om te verpas ...
Knyp my oë gomstyf toe
vir die wees refleksie van behoeftiges
wat in my elke dag wag
Engelsman
Ongetiteld
Hy is ongenadiglik en wreed,
’n Dik swart diepte
Vir die wat agterbly
Hy het jou
Uit my lewe kom haal
Wanneer ek die minste voorberei was
Hy het nie toestemming gevra nie
Net geneem
Sonder enige laaste groet
Of drukkies, liefde, glimlag
Hy los my agter
Met net herinneringe
Van gister
Wat nou geweef staan
Met wat-kon-gewees-dinge
Van more
Die dood – ’n dief
En my vyand
Jeanne Henning Els
Kyk
ek vryf die krom van jou skouers
die krake binne jou heupe
die matrone sê
kyk
die oumense groet
in die koue net
voor die son opkom
ek trek jou kombers oor jou
hande wat deurskyn
voel die bietjies been
kyk
die oranje van dag
het nou aangekom
maar jy sug grys
en rol jou toe met
die warm van jou oë
wat nie meer sien nie
Caren Kearley
KUFUNEKA SITHANDANE
my wit hart wag ook agter tralies
my hande nog vol ou bloed
my voorkop nat gesweet
hoeveel jare nog
hoeveel trane nog
hoeveel mense nog,
godweet hierdie pad was lank
dié vryheidsontvlugting van Afrika
vat tog my hand, my vriend
laat ons saam sonstrale strooi
duskant die kaplyn van mense se grense
kom ons maak mekaar vry
vir vrede in Tata Madiba
se huis van hoop
Melissa Grobler
Geïsoleerde gedagte
Dames en Here;
Verdaag jou gedagtes uit die realiteit,
of woon die boekklub by,
as die klok Sondagoggend lui
Tussen vreemdelinge:
Is ons stukke vlees, waarin ons ongemaklik verkeer,
of seker;
bloot ’n transkripsie is, van wat die wêreld
van tyd tot tyd
begeer.
Hierdie vrees vir verregaande verwyt.
begrawe eerder u spyt en gebede saam die onkruid.
dis te maklik om tussen die hordes te verdwyn.
Olga Leonard
begrafnis
jy en die winterreën is op
dieselfde dag ter aarde bestel
druppels en trane plof modder gly
saam met jou kis in die gat af ter helle
neergedaal en op die derde dag opgedroog
in skurwe wange en rekmerke gebarste klei om jou graf
jou weerkaatsing nog sigbaar
in die poele wat luier in die
poele van jou blou oë
my herinnering vervaag
saam met die winterreën
Elmien Jansen
Dink
Dis die waarheid wat jou naar maak,
Dis die naarheid wat jou mal maak,
Die mal laat jou net weer ’n bietjie
Dink …
Dink aan lank vergane dae
Van toeka tot nou
En ons pragtige land:
’n welbehae.
Die vygie staan as kryger
In die dorre droë aard,
Maar hy staan hoog
Soos elke mens kan
Dit is my land,
Jou land,
Ons land, Suid-Afrika
Vir altyd
Elza Smal
H2O
In ha’ twee oë
draai kosmos,
sterre en planete
tot lewe.
In ha' twee oë
polsslag storm-wind,
sand en stof
tot berge.
In ha' twee oë
knal donder seisoene
en spinnerak
tot riviere en strome
Oor ha' twee oë
word brûe gebou,
waar hande mekaar vashou
en vergifnis smeek uit
H20
Uit ha twee oë
vloei onthou deur harte
die ewige eeue in
tot terug in
H20
Yvonne Botha
Boetedoening
Koud, verweerd, die knoesterige hande
Toegedraaide kospakkie liggies teen die
dun bros vel van haar bors
Sy lig haar kop
Plooie diep geëts om die versonke oë en mond.
gesig stralend
Pink tong sigbaar in die donker holte van haar tandlose
laggende mond.
Met haar versorgde hande
diep in haar duur jas se sakke stap sy vinnig weg.
Honger slaap onthou sy. Vergeet sal sy nooit.
Christine Nel
Ons twee
My hart se punt is joune:
My dye jou voetstoof in die nag
My mond jou oggend-asem soen se holte.
Want ek en jy my lief
Wryf al baie jare saam.
Deur al die dorings en die dale
En teen al die bulte uit;
Deur al die trots en trane,
Die gejammer en gejubel,
Is selfs nou en dan se afjak
Tog maar ’n declaration of love.
Johanna van Eeden
snelweg
die kwikwurm vreet sy silwer pad
deur die teerlaan van die stadsmaag
dit trommel spitstyd blikkerige hongerpyne
soms onderbreek deur flitsende ligte
rooi
en
blou
en selfs meer vraatsig as die tonnelende lintwurm
is die eentonige gebiep van tolhekke
nuttelose hadidaneste wat oor bane span
en snags pers skyn ter herinnering
van die varke wat selfs ’n groter aptyt het
as die kwikwurm wat sonder ophou voortstu
Ilze Lammers
Madiba – Quotes for Life
“May your choices reflect hope, not fear.”
“A winner is a dreamer who never gives up.”
“Deny people human rights; deny their very humanity.”
“It's what we make out of what we have given, not what we are given.”
“Being optimistic is keeping one’s head pointed toward the sun, one’s feet moving forward.”
“Action without vision is only passing time, but vision with action changes the world.”

