Hier verskyn die tweede lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "67-woord-gedig vir Mandela-dag 2018" ontvang is.
Inhoud
- Cornelius Jansenius
- Marius Boonzaier
- Susanne Pike
- Elize Wessels
- Barend van der Merwe
- Adri Coetzee
- Maricel Botha
- Luisa van der Linde
- Hein Viljoen
- Patricia Viljoen
- Marcelle Botes
Cornelius Jansenius
Dawid en Batseba
Mejuffrou Judea van tien jaar gelede
se lewe is glansloos en saai.
Haar man is gedurig weg van die huis,
vir wie moet sy haar dan verfraai?
Sy wag elke dag tot die koning verskyn
op sy eie private balkon
van waar, weet sy goed, hy deeglik kan sien
hoe sy kaalbas bak in die son.
Wat gaan van dié petalje word?
Lees alles Sondag in Rapport!
Marius Boonzaier
Foto
’n skadu gestreepte
gesig
teen die gevangenis se staal tralies
koud
en met ’n voorkop in ’n frons geplooi
staar hy na die horison
terwyl Casspirs op die vasteland
ontplooi word
en die son
soos die toekoms
in sy oë skyn
goudgeel
en warm
maar dit flits verby
en al wat oorbly
is ’n foto
buite fokus en verblyk en verniel
geraam teen ’n verkrummelde wit muur
Susanne Pike
die Vrou
die Vrou stryk onvervuld
oor haar gekneusde kurwes –
volrond uitgestulp
na langsame kraam
aan liefkudde kinders:
om na haatjare se pyn en ly
hul na vergifnis te lei
en onveroordelend te bely
dat:
verdraagsaamheid
gemeensaamheid
lydsaamheid
#eenheid
die enigste ware weg is
om jou paspoort oop te koop
na innerlike vryheid –
(die Vrou weet, sy hoef net
nog eenmaal swaar te baar
aan vrede bo alle verstand)
Elize Wessels
Die son van hoop
Ons draai ons rande en sente om
en wonder waar ons gaan bly as ons oudag kom.
Ons loer almal mekaar wantrouig aan,
kyk op na die berge
en wonder waar kom ons hulp vandaan
en moreoggend …
kom dieselfde son weer op.
Dieselfde son wat van die begin van tyd
skyn oor ons almal se kop
en die son bring hoop,
vir ons wat kop onderstebo loop.
Barend van der Merwe
Mandela herroep
Mandela die versoener
bly die wêreld ons vertel
het jare geoffer
op Robbeneiland in ’n sel
Maar
die jeug is ongeduldig
en die indoenas sonder raad
Suid-Afrika ’n prutpot
van broederskap én haat
Maar ken ons ons verlede
as ons kies wat ons onthou?
Ons oordeel tog so maklik
Met die kennis van terugskou
En sou ons dan beter vaar
as ons in sy skoene
kon staan?
Adri Coetzee
Glimlag die verdriet weg
Strome mense, verward verslae
vra hulp, waar kan ek vra?
Verdriet, seer, klaar met die lewe
waar is hulp waar kan ek swewe?
’n Glimlag kom onverwags ... van ’n engel ... langs die pad
’n Wolk van hartseer breek oop hoop loer uit en verstrengel met verwagting, met uitkoms, met lewe ...
Einde ontmoet ’n begin, nuwe lewe, ’n sirkel van hoop vir die uitdagings en emosies soos belewe
Maricel Botha
Donderdagoggend dromdiens
Met ’n wankelende wiel kletter jou waentjie
van drom na drom
in Brooklyn se strate
Die oorgroot sak styf geprop met hulle
waardelose kartondose
soos ’n miskruierbol
Die res van die
bende lendelam versamelwaens
dra glas en plastiek op wiele ewe klein en skeef
Is dit Madiba magic, Mbeki logic of Zuma tragic?
Koop maar ’n Lotto-kaartjie,
want die ANC-oorwinning bring vir jou niks anders as
herwinning
Foto verskaf
Luisa van der Linde
Die bed langs die pad
Dis hier waar ons land se
probleme lê
’n publieke aanklag
soos ’n rotnes
van menswaardigheid gestroop
breek af die monumente
kyk hier
waar jy verbyry in jou 4x4
sluk jou mineraalwater
en moenie wegkyk nie
sien
sien my raak
ek vlek my oop in jou geheue
my vuil komberse bondel
verby massa retoriek
die gate in my sy
vra of jy
ons land se politiek verstaan?
Hein Viljoen
Afrivoël
ek is troupant wat helder blou teen katdoring se groen
geelvink bou ek voortdurend aan ’n nes vir jou
nooit tevrede nie loer ek met rooi-oog-bosduif
van die dak af ek vlieg met vier muisvoëls
in formasie deur jou boord kruip diep in die bos weg
soos tinktinkie met uil steun ek laat in die nag
en hadida protesteer ek luidkeels teen die nuwe dag
Patricia Viljoen
Vredemaker?
Hoe maklik vergeet ’n mens?
Is vergifnis dan relevant?
terwyl kettings breek
en swaar ysterdeure oopswaai
slaan ’n bliksemstraal iewers
en engele huil
’n Ma staan hulpeloos
langs ’n oop graf
haar kindersoldaat het sy lewe
vir volk en vaderland gegee
Nou verhef hulle jou as vredemaker
terwyl daardie ma
vir ’n bietjie meer as ’n uur
om haar lewe smeek
en jou aanhangers vrees bly kweek
Marcelle Botes
Hoop
Hier sit ek vasgevang in my verdriet
My pyn en hartseer, vir ander verniet
Niemand kan iets aan my seer siel doen
Ek moet my aan my eie lot versoen
Laat my nie slaap of laat my nie sluimer
Die toekoms wag, ek sal nie luier
Gee my krag en wys genade Heer
Ek sal elke dag net weer probeer
U hou my hand en ek kan net hoop
Eendag sal ek weer kop omhoog loop