67-woord-gedig vir Mandela-dag 2018: Inskrywings

  • 0

Hier verskyn die eerste inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "67-woord-gedig vir Mandela-dag 2018" ontvang is.

Inhoud

  • Paul Maritz
  • Jean Lombard
  • Philip Nel
  • Clive Ontong
  • Chantel Milborrow
  • Eleanor Bernard
  • Alida Walker
  • martin labuschagne
  • AM Oosthuizen
  • Jos Cloete
  • Lonelda Taljaard
  • Leroy Abrahams
  • Bevan Boggenpoel
  • Maryke Nolte
  • Leonie Fourie
  • Sunelle Geyer
  • Johan van der Merwe


Paul Maritz

Versoening is ’n gelyke tafel

Ware versoening sal om ’n tafel plaasvind.

Hierdie tafel sal nie skuins na die een kant hang nie,
niemand sal ’n ander se woorde verbeter of vervang nie.

Al die stoele sal ewe hoog wees.
Daar sal waarheid op elke tong
en in elk’ deelnemende oog wees.

Harte sal uitgepraat word sonder om te dreig.
Ons sal luister as hulle praat.

En sal self geen waarheid verswyg.



Jean Lombard

My land is aan die brand

reëndruppels traan teen die vensters af
tog brand my land
terwyl die swaarkry
nog swaarder word
die las op elkeen
verder verdubbel
die greep na mag
na grond
na geld

wanneer ontnugtering toeslaan
is alles reeds verslind

my land, my land
jy is aan die brand
vergrype het jou ingesluk
verrotting van die staat
al wat nou regeer
is die brandende bande
vlieënde rubberkoeëls
vernietigende splitsings alom



Philip Nel

Versoening

Al was ek nie die regering nie
ken ek daardie deel
toe kinders vroeg gestuur is
om eenkant te gaan speel.

Hoe kan ons nog stilbly
as die rooi granaat
van waarheid
oral om ons oopkraak?

Ke kgopêla tshwarelo
Ngiyaxolisa
I am deeply sorry
Ndicela uxolo

… moeilik om te vergewe
vir ’n hele lewe …

Kom ons laat alles agter
plant vir môre
hier saam
’n groen granaatboom.



Clive Ontong

Ou Grote

Desember 2015, die land ...
die hele wêreld is in rep en roer en
spanning oral in die lug,
almal hou asem op,
wanneer breek die nuus?

Toe ...
so skielik ...
so onverwags
dié grootste nuus,
’n dag waarvoor almal gevrees het,
die onvermydelike het gebeur,
die grootste kampvegter het geval.

’n Volk ... nee, die wêreld treur ...
óns geliefde Nelson is nie meer ...



Chantel Milborrow

46664

Ashamed
Saddened, angry
Your legacy tarnished
Your vision entirely wrecked
Youth, marriage and family life
Neglected for the fight for freedom
Your sacrifices and battles all in vain
Corruption, racism, nepotism, poverty still manifested and reign
The pain, suffering and exploitation of apartheid forgotten, buried
Let us restore his legacy, pursue the dream and vision
And continue building a free, fair and democratic country for all
Ubuntu



Eleanor Bernard

In my onthou

in my gedink is jy:
die heen-en-weer
weer en weer

in my gedink is
die streep-streep rofies van die gekrap op jou kneukels
die yler veryl van jou armhare
       deur die geskuur-skuur teen die tafel
       as jy tik-tik
       en dit my oë laat knip.

in my gedink
golf-en-golf die brandertjie-krul op
jou voorkop
en draai-en-draai dit
om my vinger.

so heen-en-weer jy
weer en weer
in my.



Alida Walker

Hunkering

In die Vrystaat lê die lande soos skinkborde versprei
dan hunker ek na ’n lewe met vlaktes ryk en vry
net soms ’n heuwel laag en plat

Die Drakensberg se pieke sal ook my hoogtes wees
met digbegroeide klowe soos rykdom uit ’n myn
en soos ’n myn se gange is ook my lewe soms

Daarom sal ek bly hunker na vlaktes wyd en ryk
my skinkbordvreugde



martin labuschagne

die rewolusie het uitgereën

die rewolusie
het laasmiddag
uitgereën:

haas-oor
plakkate
was gekke en dwase
teen mure en wynglase

in die pers
koerant-ink
van ’n manifes,
jare reeds uit druk,
het die vivas! verstik,
en terwyl comrades
in die sondvloed
van oorvloed
wegsink

het el presidente…
wel, wie sou nou ooit kon droom
of
selfs net dink?

die rewolusie
is afgelas    
weens
reën,
miskien was dit
hierdie jaar
’n bedekte seën



AM Oosthuizen

Wisdom

Do good to each other
not only to your sister or brother.
Remember that everyone is fighting a battle,
some to stay alive others to protect cattle.
Life is not a stroll.
Be friendly to all, especially to the underprivileged
and the servants in the mall.
Have respect for the elderly and take care of the youth
because lies last a lifetime but forever the truth.



Jos Cloete

Sê is ’n lekker sê
Vrypostig, ongevraagd
Woorde van jare gelede slaan in die hede
die wonde wat dit kap, lê oop en besmet

’n Siel is verskeur, my moordenaars,
lewenslange martelaars, skelwoorde sny soos lemme deur die swakste van die swakkes, swak te verklaar, in die openbaar,
die duiwel hou boek
herinner my om elke hoek aan elke skeet
hoe kan man dan vergeet?



Lonelda Taljaard

World Cup ’95

I still recall that moment … that day,
an extended hand across the great divide.
Though rugby was never your passion,
you knew all about power dressing
as you rocked the green and gold
with a jumping springbok on your heart.
As you jigged on the podium,
in that resonating moment of reconciliation,
black and white danced together
and this country changed forever.
May God Bless South Africa.


Leroy Abrahams

Mandela-dag

Sewe en sestig minute
Is net effens meer as 'n uur
Hoe gaan jy jou Mandela-dag vier?
Maak jou hart en oë oop
Daar is êrens 'n nood
Dalk kan jy help
Met 'n stukkie brood
Miskien een persoon
Of as jy kan 'n gesin
God sal jou volop seën
Deur dik en dun
Help tog dan iemand
Om te glimlag
Op hierdie spesiale, herdenkende
Wonderlike Mandela-dag



Bevan Boggenpoel

Die eiland van smart

Die skrif was teen die muur
Toe hulle my hiernatoe stuur
Só het hulle gedink
Toe daar ’n sel vir my wink
Hier sal die wêreld my vergeet
Terwyl ek spartel in leed
Dié deurdenkte plan
Het my met nuwe moed beman
Meer vasberade as ooit
Opgee sou ek nooit
Dié eiland van smart
Het my daagliks uitgetart
Maar soos dié gebou
Was ek sterk en getrou



Maryke Nolte

Pa na die grens

Lyn wat skei. Hartland en bakleiland.
Waar mag jy wees, waar nie.
Grens het jou oorgeneem. Jou hart, dan grens, dan kop. Hart en verstand geskei.
Jy wou ons liefhê, ek glo.
Maar die grens het dit gesteel. Jy mag nie lief-wees.
Want grens het jou laat veg. Laat weggooi. Liefhê laat weggooi. Makliker.
Ek wéét jy wou. Liefhê.
Maar jy’s grens toe. Jou liefhê gesneuwel.



Leonie Fourie

Die Nag se blom

In die boom hang haar blom
van waar die Nag ween.
Haar trane blink teen haar donker wang
en sy huil deur die takke soos ’n wolf oor haar blom.
Die blare sus, sus,
maar tevergeefs.
Sy smag na die Dag en sy Son en sy Lig.
Maar al wat sy het is haar blom.
En dit skyn vir haar troos
soos dit skyn vir haar smart.



Sunelle Geyer

Vyeboom

Die jaar word ryp in ’n
gevalle vy
in die Groenkloof-gym-parkeerterrein

die boom staan kaal
skaam-skaam daar
al ken ons mekaar soveel jare al

van my oupa se boord in Kimberley
jou takke laag en
maklik om te klim

nou loop ons mekaar gereeld hier raak
geniet ek die voëls in jou hare
jou gladde lyf

en hoe jy in die somertyd
ná ’n warm workout ruik


Johan van der Merwe

Vebranne hoop

Eenhonderd redes te vlug 
elke paal wat strak berig
die veelkleur vuurvoël 
se laaste sug
stof tot niksverrysende as
klippe en tyres
moderne dorp-spas
wat lê daar in Langa?
sewe-en-twintig drome verweer?
die kind gebore 
met vyftien groen truie
in die klipwerk gaffel van Rivonia
berookte kleinhuisie reddingsboei
bloed wat uit elke konka vloei
is niks in dié ville meer Sharp nie
"sou kraais maai bilaewidt kantrie"


Lees ook

67-woord-gedig vir Mandela-dag 2018: Inskrywings II

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top