Woord(TRO)fees se beste opkomende kunstenaar: "Geduld is die grootste les"

  • 0

René Cloete

René Cloete is bloedjonk, nog nie eens klaar studeer nie, en reeds word sy raakgesien.

Sy het onlangs die Woord(TRO)fees-toekenning vir beste opkomende kunstenaar by die jaarlikse Toyota US Woordfees ontvang.

René was betrokke by die kinderteaterproduksie Huppelkind onder leiding van Marthinus Basson, en met Joanie Combrink, Stian Bam en Andrico Goosen as deel van die geselskap.

Die wenners van die 2020 Toyota US Woordfees Woord(TRO)fees-toekennings is op 7 April regstreeks aanlyn bekend gemaak. Vanjaar se Woordfees het van 6 tot 15 Maart in Stellenbosch plaasgevind.

René vertel meer oor wat dié toekenning vir haar beteken, en hoe dit was om saam met Marthinus Basson te werk.

René, jy is by vanjaar se Woord(TRO)fees as die beste opkomende kunstenaar aangewys. Wat beteken hierdie toekenning vir jou?

Dit beteken meer as wat ek ooit kan beskryf. Dit is ’n herinnering aan die liefde en harde werk wat ingesit is om die produksie op die planke te bring en die kosbaarheid van die proses is definitief vermenigvuldig met die toekenning. Om met soveel ander talentvolle opkomende kunstenaars benoem te word was vir my baie spesiaal. Ek weet dis ons drome wat die harde werk inspireer en ek kan nie wag om te sien wat die toekoms nog vir ons inhou nie. 

Jy was te sien in die kinderproduksie Huppelkind, onder leiding van Marthinus Basson. Wat het jy uit die ervaring geleer?

Ongelooflik baie! Dit was die eerste keer dat ek poppe- en kinderteater gedoen het en definitief die eerste keer wat ek beheer moes vat van ’n pop om sy karakter met maniërismes en al uit te pluis. Ek was definitief die een met die minste ervaring van hierdie wêreld, maar onder die leiding van Marthinus en met die hulp van die res van die geselskap kon ek tonne leer in die kort tydjie wat ons saam spandeer het. Die maak van die poppe was ’n proses en een waaruit ons as geselskap ook kon leer.

’n Toneel uit Huppelkind

Hoe het jy dit ervaar om met die bekwame Marthinus Basson saam te werk?

Ek kyk al op na Marthinus as teatermaker en kunstige vandat ek op hoërskool was, en dit was ’n droom van my om eendag saam met hom te kan werk. Ek het altyd gedink dit gaan oor nog jare en jare waar word, maar ek is natuurlik in ekstase dat ek die ervaring so vroeg al kon beleef. Ek het altyd geweet hy weet wat hy doen, maar met dié proses het ek besef nee, hy weet nog meer. Hy het een of ander superpower om jou so gemaklik te laat voel. Ek was so gespanne op ons eerste dag van rehearsals, oor wat ek moet doen, oor wat van my verwag word, oor die res van die talentvolle mense in die kamer, en heel eerste het Marthinus my laat lag en ek het geweet alles gaan oukei wees. Hy het my definitief geleer om meer beheer te vat van my proses deur ons die spasie te gee om ons karakters en onsself te ontwikkel. Dit was meer as wat ek ooit kon droom.

’n Toneel uit Huppelkind

Watter uitdagings was daar verbonde aan die produksie en wat maak kinderteater spesifiek uitdagend in vergelyking met ander teatervorme?

Die eerste uitdaging vir my was, soos ek voorheen genoem het, dat ek feitlik niks oor die manipulasie van poppe en stemwerk vir poppe geweet het nie. Ek het video's gegoogle en probeer oplees, maar was gespanne oor die hantering van die pop om hom so realisties as moontlik oor te dra. Gelukkig het ek die bekwame Andrico Goosen aan my sy gehad wat jare al met poppe en die ontwerp van poppe werk. Vir baie van ons was die proses maar nuut, so dit was wonderlik om van mekaar en met mekaar te kon leer. Dit was belangrik vir ons om die oorspronklike storie van Huppelkind te eer terwyl ons dit geskik vir die verhoog wou maak, so ons het tyd gevat met karakterontwikkeling en poppe ontwerp om die kinderstorie te respekteer. Ek dink wat kinderteater uitsonder van ander teatervorme is om die gehoor altyd in gedagte te hou. Kinders is intelligent en glad nie skaam nie en verdien stories wat fokus op hulle ontwikkeling en genot. Een ding waarop Marthinus ons heeltyd attent gemaak het, was dat ons nooit met die gehoor moet praat asof hulle niks weet nie. Ons moes ’n gesprek met die gehoor hê en nie om hulle praat nie.

Hoekom is die kunste vir jou belangrik?

Uit my ervaring met die kunste van jongs af, gee dit mense die geleentheid om sonder enige voorafbepaalde sosiale voorwaardes hulself te ondersoek en te ontwikkel. Die kunste gee jou die kans om mure af te breek en grense te oorskry wat dalk onmoontlik lyk, maar wat met die krag van jou verbeelding heel maklik is. Ons kry die kans om ons omstandighede eerlik te bevraagteken en sonder oordeel te verbeter. Die kunste het vir my van kleins af die geleentheid geskep om die wêreld om my te ondersoek en te bevraagteken. Dis ’n spasie uitgerus met die gereedskap om konstante menswees te beoefen en dit in ander gedeeltes van jou lewe uit te oefen.

’n Toneel uit Huppelkind

Wat was van die belangrikste lesse wat jy al in die bedryf geleer het?

Ek dink geduld is die grootste les. Geduld met die proses en met jouself. Alles gebeur gewoonlik teen ’n vinnige pas om die produk betyds gereed te kry, maar dis belangrik om dit nie die kwaliteit van die produk af te skeep om op tyd te bly nie. Dis ook belangrik om altyd die proses en sy mense te respekteer. Mutual respek genereer ’n spasie waar almal gemaklik is om hulself volledig vir die proses te gee. En om alles wat jy doen te geniet. Ons kry die kans om soveel mense te ontmoet en ervarings met mekaar te deel. Elke oomblik is spesiaal en moet bewaar word. 

Wat is jou raad vir die jeug wat ook ’n loopbaan in die kunste wil volg?

Enigiets is moontlik as jy in jouself glo. Cliché, ek weet, maar ons moet besef net ons self bepaal waarna toe ons in staat is. Gee jou alles en nog ’n bietjie meer en moet nooit moed opgee nie. Hierdie beroep is nie ’n oornag gebeurtenis nie en kan verskriklik baie van jou vra, maar dit kan net so goed gaan soos wat jy toelaat. Die kunste bind ons almal aan mekaar – jy is nooit alleen nie, so moenie bang wees om hulp te vra nie. Met alles wat jy aanpak, is daar geleentheid vir leer en groei. Wees gereed en oop vir alles.

’n Toneel uit Huppelkind

Wat is in die pyplyn vir jou?

Ek is tans in my derde en laaste jaar van dramastudie by die Universiteit Stellenbosch. Ek sien uit na die geleenthede vir groei wat die res van die jaar inhou en om my graad te kry. Ons het aan verskeie produksies gewerk wat weens die inperking eers opsy gesit is, so ek hoop om daarmee aan te gaan sodra dit veilig is en om weer op die verhoog te wees. Ek mis om op te tree die meeste, en sal elke oomblik daarvan in die toekoms meer waardeer.

  • Foto's: verskaf

Lees ook

Toyota US Woordfees 2020: Huppelkind-indrukke

Ikoniese kinderverhaal Huppelkind by Toyota US Woordfees 2020 te sien

Woordtrofees-wenners 2020

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top