Toyota US Woordfees 2020: Huppelkind-indrukke

  • 0

Foto: Facebook

Huppelkind – Openingsvertoning
7 Maart 2020
12:30
Bloemhof Meisieskool

 

WO Kühne se geliefde verhaal Huppelkind – oor die kind “wat woon in die middel van die wêreld, in die middel van die vlei” – het nuwe lewe gekry in hierdie Woordfees-produksie.

Wilhelm Otto Kühne is in 1924 naby Graaff-Reinet gebore en is in 1988 oorlede. Sy eggenote, Dorothy Hill Kühne, het die illustrasies vir al ses Huppelkind-boeke behartig. Kühne het na enkele jare in die onderwys by Die Burger begin werk en vanaf 1960 het hy vir ’n geruime tyd Die Jongspan redigeer. Hy ontvang die eerste CP Hoogenhout-medalje in 1960 vir Huppel verjaar (1960), wat deur die Suid-Afrikaanse Biblioteek Assosiasie toegeken word vir uitstaande boeke vir kinders tussen 7 en 12 jaar.  

Dorothy Hill Kühne het ook besoek afgelê by van die laaste repetisies van die Huppelkind-produksie. Foto’s kan via die produksie se Instagram-rekening besigtig word: https://www.instagram.com/huppelkind_woordfees2020/?hl=en.

Die oorspronklike reeks van ses boeke is tussen 1958 en 1982uitgegee. In 1995 is daar ’n tweede hersiene uitgawe uitgegee en in 2018 het Tafelberg ’n versamelbundel uitgegee (Magdel 2018).

Alhoewel die periode van 1950 tot ongeveer 1960 beskou word as ’n periode van opbloei van Afrikaanse kinderliteratuur, is dit interessant dat hierdie reeks juis uitgegee is in ’n tydgleuf waar ’n groot aantal tekste uit Europese tale (Duits, Engels en Nederlands) vertaal is, asook grootliks didaktiese kinderboeke gepubliseer is.

Die gewildheid van Huppelkind kan moontlik toegeskryf word aan die vernuftige taalgebruik van Kühne en die herhalende, rymende frases. Alles in groepe van drie, soos dit gebruiklik is in musiek om melodiese fraserings twee maal te herhaal vir beklemtoning. Jonger kinders vind maklik aanklank by liedjies, rympies en herhaling in taal, iets wat in Huppelkind tot ’n fyn kuns vervolmaak is. Kühne se unieke tegniek om pare en patrone te skep is moontlik een van sy kenmerkendste eienskappe. Dit tree duidelik na vore en word ook deurgevoer in die produksie.

Die karakters en verbeeldingswêreld wat Kühne skep in die bestek van ses boekies is ’n wêreld ryk aan taal, tekstuur en eiesoortige karakters. Vlak-Floors, Vlei-Floors, Fiefman, Diefman en Steek is unieke karakters wat elk hul eie bekoring het en dit word baie suksesvol in die produksie se poppe vergestalt – Vlak-Floors het helderkleurige All Star-tekkies aan en Steek se bene kan lekker lank rek om die koekoeks in die lang horlosie by te kom.

Die Huppelkind-produksie mag dalk ’n poppekasvertoning wees, maar dit is asemrowend, indrukwekkend en in baie goeie smaak gedoen. Wanneer daar met tekste, en veral kinderliteratuurtekste, gewerk word, moet die oorspronklike voorkoms en nuanses in gedagte gehou word, sodat daar nie afbreuk gedoen word aan die oorspronklike teks nie. Daarom is die formaat van handpoppe uiters gepas, en dit bring terselfdertyd ’n gevoel van nostalgie en herwaardering vir die kunsvorm waaruit Huppelkind dateer.

Die ander uitdaging is om dit relevant en interessant te hou vir ’n gehoor wat knaend na iets nuut op hul elektroniese toestelle op soek is. Hierdie vertoning het baie goed daarin geslaag om ’n gehoor van gemengde ouderdomsgroepe vasgenael te hou aan die verhaal. Huppel soek maatjies en sy oupa vertel vir hom presies waar hy maatjies in die middel van die wêreld, in die middel van die vlei kan gaan opsoek.

Dit was besonders om te hoor dat Huppelkind bry, iets wat lesers en voorlesers dalk nie van hom geweet het nie. En dit bring ’n nuwe aspek van die verhaal na vore.

Die produksie herinner sterk aan die SAUK-produksies van Liewe Heksie en die verbeeldingswêreld wat Verna Vels met haar unieke karakter geskep het. Alhoewel daar verskeie tegniese verskille is, soos dat Huppelkind se poppe handpoppe is en sommige karakters nogal groot is, soos die Maraboe, terwyl Liewe Heksie se karakters almal staafpoppe was en baie klein in vergelyking, is daar tog dieselfde gevoel van fantasie en die verbeeldingsvlug wat elke jong kind moet beleef.

Daar was beslis ook ’n gevoel van nostalgie onder sommige van die oumas, oupas en ouers wat saam met hulle kleinkinders en kinders die vertoning kom geniet het. Wat net so interessant was, was die aantal Engelstalige kinders wat die vertoning saam met hulle ouers kom kyk het. Die ouers het stilletjies vir hulle vertaal, soos Joanie Combrink die vertelling behartig het.

Combrink se vertelling het die gebeure goed ondersteun en die algehele teks het die verhaal teen ’n gemaklike dog vinnige pas gedra wat net reg was vir al die kinderogies en -ore. Marthinus Basson se regie is, soos gewoonlik, uitstaande. Stian Bam, Andrico Goosen en René Cloete as die stemakteurs was briljant!

Wat hierdie stuk kinderteater vermag, is om die betowering van die Huppelkind-karakter en die wonder van ’n poppekasvertoning na ’n nuwe generasie te bring. Gebruik gerus die geleentheid om vir Huppel te ontmoet.

Die laaste vertonings is op 12 Maart om 09:00 en 10:30. 40 min, HMS Bloemhof Skoolsaal. R80–R120, R140 by die deur.

 

Bronne

Magdel, V. 2018. Huppelkind deur WO Kühne: ’n resensie. LitNet. https://www.litnet.co.za/huppelkind-deur-wo-kuhne-n-resensie.

Wybenga, G en M Snyman. 2005. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Pretoria: LAPA.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top