Huppelkind deur WO Kühne: ’n resensie

  • 6

Huppelkind (geïllustreer deur Dorothy Hill Kühne)
WO Kühne
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624085485

Om Huppelkind na jare weer te lees en lees en lees, soos W.O. Kühne sou sê, was soos om aan een van Stokou Storieman se kosbare onthouklontjies te suig en suig en suig. Kühne was ’n woord- en storietowenaar en Huppelkind het klassieke status in Afrikaanse kinderliteratuur.

Huppel se stories het 60 jaar gelede as ses kinderverhale verskyn, later saam in ’n omnibus-uitgawe en is hierdie jaar weer deur Tafelberg in ’n bundel as Huppelkind uitgereik.

My generasie sal ook voorlesings van hierdie verhale op langspeelplate onthou, so baie van Kühne se refreine en uitdrukkings is oor generasies oorgedra en sal sónder magiese klontjies onthou word.

Kühne skep ’n geloofwaardige fantasiewêreld met die Huppel-stories. Volgens Lydia Pienaar in Die kind en sy literatuur (HAUM, 1968, p95) kan die skrywer slegs daarin slaag om sy gehoor of leser in sy fantasiewêreld te laat glo wanneer hy sélf aan die wesens, simbole en die wêreld wat hy skep, glo. Huppel se oupa skep vir hom Lekkerland, sy fantasiewêreld waar hy vriende vind in die natuur en ’n paar fantasiekarakters, soos onder andere Fiefman, Vlak-Floors en Steek. Huppelkind is egter nie suiwer fantasie nie, maar eerder, soos Alba Bouwer se Abdoltjie en Katrientjie van Keerweder, ’n verbeeldingsverhaal. Dis aanmekaargesit deur sensitiewe en verbeeldingryke taalgebruik met baie sterk fantasie-elemente, terwyl dit sterk aan die realistiese werklikheid geanker bly. Willie Burger beskryf Huppelkind as ’n belegging in die verbeelding van ’n kind.

Die Huppel-stories is deur Kühne se vrou, Dorothy Hill Kühne geïllustreer. Behalwe vir die voorblaaie van die oorspronklike ses boeke, is al die illustrasies in swart en wit uitgegee. Hoewel al die karakters in Huppelkind deur W.O. Kühne geskep is, het hy die uitbeelding heeltemal aan Dorothy oorgelaat. Huppel is deur hulle vyfjarige seun, Klaus, geïnspireer. Wielie en Walie, wat Vlak-Floors se waterwa sleep, het sy byvoorbeeld as twee waterdruppels geteken, omdat Kühne hulle as “so eenders soos twee druppels water” beskryf het. Hulle is wel klein genoeg om in Vlak-Floors se baadjiesak te pas wanneer dit slaaptyd raak. Was hulle dalk die inspirasie tot die Wielie Walie-temaliedjie van die kinderprogram in die tagtigerjare? ’n Vorige Huppel-omnibusweergawe, Huppel en sy maats, is deur Alida Bothma geïllustreer. In die nuwe Huppelkind-bundel is die oorspronklike teks en illustrasies egter behou.

Huppel is sy oupa se Huppelkind van Aan-die-Beek van Krom-en-Skeef. Hy volg sy oupa en ’n aantal ander karakters se instruksies en aanwysings en “trippel-trippel deur die grassies” en “huppel-huppel oor die plassies,” kyk links en regs, draai rondomtalie, en kyk tussen sy bene deur in sy avonture en soeke na maats en Lekkerland. Kühne se taalgebruik is wondermooi en skep van die eerste sin van die eerste titel, “Huppelkind” tot die laaste sin van die sesde titel, “Huppel verjaar,” ’n magiese atmosfeer wat aan ’n Afrikaanse Dr Seuss-storie herinner — klankryk, ritmies en rymend. Deur middel van herhaling, assonansie en verbeeldingryke vergelykings neem hy die leser na ’n wonderplek wat tegelyk realisties herkenbaar en magies is.

Anders as die geval met moderne tekste waar nooit oorverduidelik word nie, skryf Kühne, “sy pet is nat en sy baard is nat. Sy trui is nat en sy broek is nat.” Huppel en ander karakters se aksies word ook meestal drie keer herhaal. So snork en snork en snork die Slaapkousies en klop en klop en klop Huppel aan Fiefman se venster. Herhaling dra hier baie by tot ritme wat leesbaarheid vergemaklik.

Soms is verduidelikings heerlik onverwags. Huppel klop byvoorbeeld gehoorsaam volgens sy oupa se aanwysings aan Fiefman se venster, omdat die deurknop los is. Die feit dat die los deurknop niks met die klop aan die venster te make het nie, word, soos Fiefman se visnet met groot gate omdat die vissies so klein is, aanvaar sonder verdere verklarings. Toegang tot Fiefman se huis is dus, logies vir voorleser en kind, deur die venster eerder as dat die deurknop reggemaak word. Hierdie instruksies en aanwysings deur Oupa, voëls en ander karakters op Huppel se pad, is deel van Huppelkind se sjarme en boei en skep verwagtinge na die volgende instruksies en aanwysings — juis omdat dit nooit direk of vanselfsprekend is nie.

Verbeeldingryke personifikasie en vergelykings in Huppelkind herinner sterk aan Abdoltjie van Alba Bouwer wat ook, soos die eerste Huppel-verhaal, in 1958 gepubliseer is. Die vyfjarige Abdoltjie, soos Huppel, laat hom ook deur die Suidoostewind lei. Die Suidoostewind in Abdoltjie “stoot Abdoltjie se beentjies vorentoe” en “gee ’n ligte blasie” oor sy wange.” Die Vleiwind jaag op sy beurt vir Huppel aan en “pluk aan sy kuif,” terwyl die Suidoostewind met albei gesels. Abdoltjie maak, soos Huppel met die voëls, maats met die diere van die veld. In beide tekste kan die natuur as magiese element geïnterpreteer word of aan die kind se verbeelding toegeskryf word. Hoewel magiese gebeure nie tot die kuil beperk is nie, word die “diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie” as die enigste plek met magiese eienskappe gesuggereer.

Kühne span “menslike” fantasiekarakters met bonatuurlike talente ook in. Fiefman maak verdwynwyn en verskynwyn, Vlak-Floors maak steweltjies om jou vinniger te laat hardloop en Steek maak koekoeke vir klokke en leer hulle dan hulle wysies met sy fluit. Behalwe vir Fiefman se wyne en Huppel wat telkens moet rondomtalie draai voor dinge gebeur en die onthouklontjie, is daar egter geen, soos in moderne fantasieverhale, sprake van towerstaffies of magiese konkoksies nie. Die lummels in Huppelkind word eerder vindingryk as met behulp van bonatuurlike metodes uitgeskakel.

Die taalgebruik in Abdoltjie is ook ryk aan verbeeldingryke vergelykings. Tysie Tarentaal se stem klink “soos die skree van die ou kraan by die vismark,” Grietjie Geitjie se stemmetjie klink “soos ’n vismes wat jy op ’n rots slyp” en Abdoltjie se ou kofiatjie lyk “soos ’n ou hoender wat kol-kol verveer.” In Huppelkind seil Vlei-Floors “soos ’n lap oor die gras,” Vlak-Floors en Huppel “gly soos twee geitjies langs die geut af” en die Storieman se stem is “so sag soos ’n briesie in die blare.” Soos die natuur dus deurentyd vir die magiese sorg, word elemente uit die natuur ook dikwels met vergelykings ingespan — miskien tekenend van kinderliteratuur van dié era. Dit sou logies verduidelik kon word dat die natuur- en dierelewe destyds, toe kinders nog meer buite gespeel het, ’n groter deel van die kind se verwysingsraamwerk uitgemaak het.

Kühne het die Huppel-stories geskryf omdat daar ’n behoefte was aan lekkerleesverhale. Hy wou ’n liefde vir woorde, klanke en lees kweek, eerder as om lessies te leer. Huppelkind bied egter veel meer as storietjies. Uitdrukkings en idiome word letterlik uitgebeeld: slaapkouse, nuuskierige agies en boekwurms, maar ook Haak wat die baas is en Steek die Klaas en Wolman wat ’n wolhaarstorie vertel. Voor die lummels aan hulle einde kom, beplan hulle sluwe geskenke vir Huppel se verjaardagpartytjie. Vlei-Floors beplan ’n grappie op ’n stokkie, Diefman wil vir hom ’n poets bak en Haak beplan om vir Huppel ’n kat in die sak te koop. Wat plant- en dierkunde betref, word minder bekende voëls, soos die slanghals, lelietrapper roerdomp en ander, en bome en bosse feitelik korrek aan Huppel bekendgestel. Al die paddas van die vlei word byvoorbeeld deur Slanghals om die bos gelei, omdat sy nek soos ’n slang lyk en die versamelvoëls bou ’n groot nes op ’n platkroonboom.

Die Wolman se liedjie, “Die Land van Wol en Hare” uit “Vrolike Huppelkind” is sekerlik die mees bekende Huppelkind-uittreksel en ook in onder andere D.J. Opperman se Nuwe Kleuterverseboek opgeneem. Wie onthou nie

“Die wêreld is ’n ronde bol,
van binne is hy hol.
En in die middel, vol gevare,
Lê die Land van Wol en Hare,” nie?

Wolman is die lummels van Lekkerland se maat en hy woon in die donker gat waar Diefman sit en lees aan die boekwurms se boeke wat hy gesteel het. Wolman probeer Huppel en Fiefman met sy lied afskrik, maar met die hulp van Haakbos en sy dorings word hy losgetorring en is daar baie vir die motte om te vreet.  

Kühne se skryfstyl met baie verkleinwoorde dra by tot die voorleeskarakter van die boek. “Hy spring uit sy bedjie en trek sy kleertjies aan.” Verder verleen die gebruik van ’n paar minder moderne Afrikaanse uitdrukkings en woorde, soos “papsopnat,” “O, soetigheid!” en  Huppel wat as ’n “knapie” beskryf word, ook aan Huppelkind ’n ouwêreldsheid wat meer outentiek deur voorlesing as selflees oorgedra sal word.

Ek vermoed my bouer-oupa, wat ek selde meer as die koerant sien lees het, is op een of ander manier ook deur die Huppel-stories geïnspireer om vir ons stories te vertel. In sy stories was daar altyd ’n kind wat gestap en gestap en gestap het. Dan het hy vér voor in die pad ’n Daldoel gesien en verder gestap en gestap en gestap. Ons het vermoed die herhalings was sy dinktyd oor waarheen hy met sy storie wou gaan. Nodeloos om te sê daar was geen Lekkerland, Fiefman of wonderlike Land van Wol en Hare nie, maar ons het bly hoop en hoop en hoop. My hoop vandag is dat Huppelkind weer gelees sal word om voornemende skrywers te inspireer om nuwe klankryke, woordryke, assonerende, verbeeldingryke en uiteindelik klassieke stories die lig te laat sien om kinders weer te laat lees en lees en lees … en ouers en grootouers weer te laat voorlees en voorlees en voorlees.

Ek wens ek kon Huppelkind verpligtend vir jong Kerskouse maak hierdie jaar. 

  • 6

Kommentaar

  • Ek dink al lankal Huppelkind is n klassieke verhaal, wat op 'n internasionale verhoog behoort. Ook dink ek dit sal die pragtigste tekenprent maak. Ons kort dringend in Afrikaans byderwetse inheemse Afrikaanse kinderfilms. Ons kleinkinders verkies die Amerikaanse omdat die Afrikaanses so uit die oude doos is, veral wat tegnologie aanbetref. Wie sien kans vir 'n kinderfilma wat myns insiens 'n wêreldwenner kan wees? Die vertaling is 'n groot toffie. Iewers het ons 'n nuwe Leon Rousseau?

  • Ek het in 2004 'n brokkie uit Huppelkind, in Afrikaans, maar darem met 'n Engelse vertaling, ingesmokkel as 'n aanhaling aan die begin van 'n hoofstuk in 'n gevorderde wiskundeboek, geskryf saam met drie medeouteurs uit Duitsland, Switserland en die VSA.
    Die Duitser (wat die finale tegniese versorging gedoen het) het sonder kommentaar die stukkie Afrikaans aanvaar, maar toe ek die proewe terugkry, sien ek hy het my verwysing na die oorspronklike enkeluitgawe van Wip-Huppel-Wip, waarvan ek die jaar net kon raai (dit staan nie in my eksemplaar nie), in die bibliografie vervang deur een na die versameluitgawe "Huppel en sy maats" waarvan hy seker kon wees dis gepubliseer in 1982! Ek wonder nog steeds of laasgenoemde boek dan in die biblioteek van die Technische Universität München beskikbaar is.
    Terloops, my Engelse vertaling van die openingsparagraaf van Wip-Huppel-Wip was: "The Lekkerland road is a long, long road that runs in a circle. It winds through the bushes and it coils round the ridges to there where its end should be.// And there it starts again!// It wanders through the wetlands and it hunches over the hillocks and in one place it dwindles away.// But under the brambles it starts again and it saunters all round and round and round the deep pool of sweet water that never dries up.// Oh, it is a long, long road!" Die betrokke hoofstuk gaan oor sekere eienskappe van 'n sirkel, vanwaar die lomperige vertaling (aspris) van "in die rondte" deur "in a circle".
    Terug na hierdie resensie: dankie daarvoor, baie evokatief. Die boek is veral geskik om deur 'n kind se regte oupa voorgelees te word.
    Een puntjie: Kühne se seun is nie Klaas nie, maar Klaus.

  • Dis 'n pragtige vertaling Dirk! Ek dink nie ons moet dit hier laat nie. Ek is heel bereid om in die nuwe jaar te gaan smokkel met die boek: kyk of ek dalk 'n positiewe reaksie kan kry ... Is jy bereid dat ek jou vertaalde stukkie daarby aanbied? Jy kan my "message" op facebook, dan kan ons epos? Ook Klaus, as jy wil? Hallo Klaus!

  • Magdel Vorster

    Dirk en Klaus, baie dankie vir julle kommentaar. Ek vra groot om verskoning oor die Klaas in plaas van Klaus. Het die brokkie van ’n TV-onderhoud gekry, en sekerlik nie mooi gehoor nie. Moes die Duitse kloutjie ook by die oor gekry het, jammer. LitNet sal die korreksie aanbring.

  • Anna-Marie (Basson) Buitendag

    Goeienaand. Huppelkind is in 'n spesiale plekkie, regs bo, in my hart gebêre! Ook daar in my langtermyngeheue. As ons by my ouma-hulle in Hartswater gekuier het, het my pa vir ons die Huppelkind-plate uitgeneem. Dankie, dankie, dankie oom Kühne. Waar, waar, o waar kan ek die plate in die hande kry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top