Ikoniese kinderverhaal Huppelkind by Toyota US Woordfees 2020 te sien

  • 0

“In die middel van die wêreld in die middel van die vlei, het ’n vrolike klein knapie by sy oupa gebly. Sy naam was Huppel …”

Vra ’n Suid-Afrikaner waar dié woorde vandaan kom en hul sal jou sê sonder om ’n oomblik te huiwer: die geliefde kinderverhaal Huppelkind.

Dié seuntjie het ’n spesiale plek in talle mense, oud en jonk, se hart en maak menige mens gou nostalgies en vol verlange na hul kinderdae. Dit is dus vanselfsprekend goeie nuus dat Huppelkind binnekort op die planke te sien is by vanjaar se Toyota US Woordfees.

Pragtige poppe en uitstaande stemwerk gee nuwe lewe aan WO Kühne se klassieke Huppelkind. Met veteraanregisseur Marthinus Basson aan die stuur van sake, en met akteurs soos Joanie Combrink, Stian Bam, Andrico Goosen en René Cloete beloof dié produksie om skitterend te wees.

Marthinus Basson vertel meer.

Vertel ons asseblief meer oor Huppelkind – waarom dit op die planke bring?

Huppelkind is soos ’n familievriend vir baie Suid-Afrikaners. Dit het my verbaas, as iemand wat in die 1950’s grootgeword het, hoeveel jongmense dit nog ken. Wat beteken dat ouers dit steeds vir hulle kinders voorlees en dat kinders nog steeds, in ’n tyd van tegnologie, waarde en magie vind in die wêreld van Huppel en sy ontdekkingstog deur die wêreld as alleenkind in die natuur.

Huppelkind is ’n legendaries kinderstorie – wat is jou visie met die produksie?

Ek is genader deur Elana Snyman, dosent in ontwerp by die Dramadepartement van Stellenbosch-universiteit, en Maryke van Jaarsveld, verhoogbestuurder en vervaardiger (beide oudstudente van my), om betrokke te raak by die produksie as regisseur. Maar vir jare al praat ek en Stian Bam oor poppeteater wat in enige ruimte kan plaasvind, vinnig opgepak en vervoer kan word. Miskien is hierdie produksie die begin van so ’n projek. Vir hierdie been fokus ons net op die eerste storie, en vir my was dit belangrik om nie ’n woord van die teks te verander nie en so getrou as moontlik aan die gees van die verhaal te bly. Vryheid vind mens in die skep van die wêreld en hoe om die karakters lewe te gee. Ons werk met net vier akteurs wat alles moet doen en Huppel is ’n pop geskoei op die Banraku-tradisie van Japannese poppeteater wat drie manipuleerders verg. Dus is dit ’n sirkus om oplossings te vind vir alles wat moet gebeur.

Vertel asseblief meer oor die rolverdeling – hoe is daar op die betrokke akteurs besluit?

Die rolverdeling bestaan uit Joanie Combrinck, wat nie net ’n heerlike aktrise is om mee te werk nie, maar ook ’n ma is, en nie net só ’n ma nie – een wat baie kinders sal ken van al die jare van oorklanking waar sy die stem was vir menige kinderreeks, waaronder Moomin. Sy is die verteller. Stian Bam is die oupa en verskeie voëls; Andrico Goosen, wat baie bedrewe is met poppe, fokus merendeels op die drie kêreltjies. En nuweling René Cloete gee wonderlike lewe aan die stem van Huppel.

Vertel oor die poppe in die produksie?

Die wegspringpunt is die poppe en objekmanipulasie. Enigiets wat help om die storie te vertel. Ek glo nie aan die “Hallo Maatjies”-styl van kinderteater nie en dus hoop ek om die kleintjiegehoor se aandag te behou met ritme, klank en kleur. Braam du Toit het ’n klankwêreld geskep met slaginstrumente en fluit. As liefhebber van natuurgeluide bring hy ’n hele wonderwêreld van klank na die projek toe.

Hoe verskil kinderteater van hoe ’n mens teater vir volwassenes sou aanpak? Kinders lyk dalk onskuldig, maar hulle is beslis nie ’n maklike gehoor nie. Watter uitdagings is daar verbonde aan ’n kinderproduksie op die planke bring en hoe beïnvloed dit hoe jy Huppelkind aanpak?

Vir my is daar geen verskil in uitgangspunt tussen werk skep vir kinders en volwassenes nie. Diepgang en tematiek verskil, maar andersins benader ek dit presies dieselfde. Jy moet nooit ’n kind onderskat nie. Hulle is keiharde kritici en vergeef jou niks nie. Dus probeer jy om hulle aandag te behou deur elke moment opwindend te maak, elke beweging betekenis te gee en die deurlyn met logika en integriteit te benader. Hopelik kry ons die regte mengsel van speelse kreatiwiteit reg in diens van Kühne se klassieke werk.

Ek werk op ’n stel van semideursigtige kaste wat saam ’n tafel vorm. Onder is stoorplek en bo-op word Huppel se wêreld geskep. Omdat alle poppe en objekte “dood” is totdat die akteur met stem en manipulasie lewe daarin blaas, is die kerngedagte van teater deursigtig in sy meganika en hopelik oortuigend in sy versoek aan die gehoor om ’n realiteit van hout, papier, lap en klei deur verbeelding te omvorm tot intense meelewing.

Dink jy dis belangrik dat gesoute regisseurs van tyd tot tyd kinderteater doen?

Natuurlik. Mens leer met elke produksie iets nuuts. Ek was vir jare op die pad deur die groter Kaapprovinsie destyds, met kinderwerk, biblioteekprogramme en opvoedkundige werk. Dit was my leerskool waar ek gehore intiem leer ken en verstaan het. Daar het ek die ondervinding opgedoen het wat die grondslag kon word vir regie, wat ek eers in my vroeë 30’s begin doen het.

Huppelkind is 7, 8, 9 en 12 Maart by die Toyota US Woordfees te sien. Kaartjies is teen R80–R120 beskikbaar by Computicket en kos R140 by die deur.

  • Foto’s: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top