
Foto van Wilken Calitz: Lindsey Appolis
Swart swaan
Wilken Calitz
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781415210499
Die Kaapse musikant, Wilken Calitz, wat die afgelope paar jaar ook opgang as teksskrywer maak, het vanjaar nog ’n titel by sy al-langer-wordende vaardigheidslys gevoeg: dié van outeur. Sy debuutroman, Swart swaan, het pas by Penguin Random House verskyn. Maryke Roberts het met hom oor sy musiek, skryfwerk en nuwe uitdagings gesels.
Hy is landwyd bekend vir sy vernuf op die viool en meer onlangs ook as akoestiese kitaarspeler. Vanjaar se Toyota US Woordfees het hy met verskeie hoede op benader: hy was teksskrywer vir Salome én musikant saam met die veelsydige Devonecia Swartz, die Fiësta-wenner vir beste ondersteunende aktrise, in hul vertoning Devonecia + Wilken. Dit was ook die bekendstelling van hul EP-album (’n album met vyf liedjies).
Ons ontmoet op ’n wintersoggend in Stellenbosch. Ek kyk terug oor sy jaar en vra uit oor sy samewerking met die jonge, talentvolle Devonecia. “Dis ongelooflik om met haar te werk, sy het ’n geheuebank van klanke, ritmes en vreemde akkoorde en sy onthou almal se lirieke.
“Sy het ’n baie skerp geheue en dis maklik om op iemand se tone te trap as jy begin saamwerk, maar ons pas goed bymekaar aan en daar is net magic. Wat sy van musiek weet, is mindblowing!”
Wilken het in 2009 die graad MMus (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch se Konservatorium behaal. Hy speel al viool van sy sesde verjaardag af en ’n loopbaan in musiek was vanselfsprekend. Tot een middag toe hy aan’t oefen was in die Konservatorium en pyn in sy gewrigte hom byna lamgelê het.
“My hele lyf het ingegee en al my spiere het gebrand. Ek het gevoel ek kry nie asem nie en wou paniekerig raak. Ek het ná ’n uur of twee besef die strewe om altyd net beter en beter te wees, het sy tol geëis.”
Op daardie stadium het hy ’n goeie lewe uit sy musiek gemaak. Op 27 was die wêreld sy verhoog. “Nou kyk ek terug en soos baie clichés, is dié een ook op my van toepassing: dit was die beste ding wat met my kon gebeur.”
Hy het begin lees (al die boeke waarvoor daar nie voorheen tyd was nie) en die ongelooflikheid van woorde ontdek: “hoe jy met min woorde aan iemand iets só raak kan beskryf.” Hy het so af en toe nog gaan viooluitvoerings gee, maar sonder die geweldige spanning en druk wat dit voorheen by hom ontlok het.
Hy ontmoet ook ’n nuwe liefde en sy gee hom Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins om te lees. “Ek het vir haar gesê ek sien nou alles onderstebo; of ek hang onderstebo en die wêreld lyk net anders, nadat ek dié boek voltooi he
t.”
Hy beskryf die gewaarwording wat die boek meegebring het “asof ’n kanonskoot in my kop afgegaan het”. Hy vertel dit was die eerste maal wat hy ’n storie gelees het wat nie oor die storie gaan nie. “Op die oog af lyk dit soos ’n klein bootjie wat op die oop see in ’n ligte briesie dobber. Maar in der waarheid hang die bootjie bokant die diepste see-ravyn.”
Hy sê min mense het die ware omvang van die tematiek begryp, omdat die satire oor onder meer Apartheid die leserspubliek ontgaan het, maar die boek se veelvlakkigheid het hom bygebly.
Sy verhouding met sy viool lei skipbreuk in sy leesera. Wilken sê as jy vir twee maande nie viool speel nie, het jou verhouding met daardie stukkie hout verbrokkel; maar as jy twee jaar ophou, moet jy erg vlerksleep en met ’n roos tussen jou tande terugkruip. “Die letsels bly altyd daar; dis ’n minnares wat nooit heeltemal vergewe en vergeet nie.”
Hy lewer sy laaste klassieke solo-uitvoering in 2013.
Hy luister vir bykans drie jaar ook geen musiek nie. Hy pak eerder sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad onder Etienne van Heerden aan. Hy behaal dit cum laude en sy eerste verhoogteks, 2092: God van klank, word vir ses Fleur du Cap-teatertoekennings genomineer, waaronder beste nuwe Suid-Afrikaanse teks. Die stuk wen ook die Uitskieter-toekenning by die Woordfees 2014.
Drie van sy radiodramas is op RSG uitgesaai – 2092: God van klank, Lewe na die noot en Veertig dae, wat ook ’n tweede plek in die SANLAM 2014 RSG Radiodrama-skryfkompetisie behaal.
Hy is die stigterslid vir die satiriese Afrikaanse duo, Die Skynmaagde, wat in 2014 vir twee MK-toekennings genomineer is: Beste Nuwelinge en Beste Afrikaanse Album.
Akoestiese kitaar kom oor sy pad en ook staalsnaar en geleidelik stap hy terug na musiek toe. Sy liefde lê egter by skryf, want daar kan hy sy eie hart volg. Hy het besef dat die musiekmeesters van eeue gelede se perfekte klanke hom tot sulke hoogtes gedryf het, dat dit bykans sy ondergang beteken het.
Hy werk saam met Magdalene Minnaar en ’n tjellis aan die musiek vir ’n opera, Opera in 1 hour: Die vertrek en lag as hy onthou dit was seker die eerste keer in menseheugenis dat akoestiese kitaar in ’n opera gebruik is.
In sy en Devonecia se vertoning tokkel hy die viool se snare met soveel oorgawe, ek wonder of die minnares hom vergewe het?
“Die viool is nou vir my ’n funksionele ding. Dis ’n werktuig vir my eie note en nie meer ’n struikelblok om iemand anders se musiek perfek te probeer speel nie.”
Sy skryfwerk lei hom ook na die klankbane van verskeie kortfilms en verhoogproduksies. Hy skryf onder meer die musiek vir die kortfilm, Die leeftyd van ’n orgidee, wat sy tóé nog eggenoot, Marí Borstlap, geregisseer het. In 2017 word hy genomineer vir ’n Fleur du Cap-toekenning vir beste oorspronklike klankbaan vir die produksie, Kristalvlakte. In 2019 komponeer hy die klankbaan vir Honger, op VIA TV.
Dit laat mens wonder of hy verkies om eerder agter die skerms te werk? “Nee, as ek nie in konserte speel nie, raak ek ongeskik met mense. Ek het dit nodig. Om goeie werk agter die skerms te kan doen, moet jy onder druk voor gehore speel.” Hy hou van die balans van voor en agter die skerms. “Die vraag: hoe kan ek bydra tot hierdie toneel sodat die gehoor iets kan voel, sonder dat hulle besef dis musiek wat daardie gevoel bewerk, is vir my lekker,” vertel hy.
Ná vier jaar is sy hibernasie, soos hy dit noem, verby. Hy begin weer as kunstenaar optree. Sy eerste instrumentele solo-album, Chromatique, is einde 2017 bekendgestel en die volgende jaar het hy ’n vertoning daarvan by die US Woordfees gehad.
Hy en Marí bring 15 produksies op die planke; hy skryf en sy behartig die regie. Hy vind sy eie stem in drama.
Maar twee jaar gelede draai die geluk teen hom: sy huwelik misluk en hy beland in die psigiatriese saal in die hospitaal. Hy moet tot rus kom; sy eie beperkinge ontgin en aanvaar. Maar dit bring op die ou einde helderheid.
In 2019 kom lê die Silbersteins hulself as’t ware by sy voete. Hy skryf ’n toneelstuk wat op die boek geskoei is. Salome het vier vertonings by die Woordfees se 21ste fees in Maart vanjaar gehad.
Etienne se Sewe dae by die Silbersteins kry ’n herinterpretasie in die nuutgeskepte eenmanvertoning. Henry van Eeden (Geon Nel) word aan ’n reeks bisarre scenario’s blootgestel in sy soeke na sy aanstaande vrou, Salome. Dis een mens se tragie-komiese poging om homself te artikuleer in die hedendaagse Suid-Afrika.
Wilken vertel dat hy en Geon mekaar etlike jare gelede ontmoet het by Moeder Moed en haar kinders en toe beloof hulle gaan eendag saamwerk. Cornelia Faasen het hom verlede jaar gevra of hy nie iets vir Geon, dalk sommer iets rondom Etienne Leroux se skrywes, wil skryf nie.
“Ek het daardie teks tien maal herskryf. Etienne se teks in die sewentigerjare oor die geveg om grond en die soeke na ’n identiteit was ligjare vooruit – profeties oor dit wat ons nou beleef. Ek moes die stuk relevant maak vir 2020 en vorentoe.”
Hy sê dit is belangrik om jou werk in die hande van die regte mense te laat. Gideon Lombard het die kleure wat ek probeer skryf het raakgesien en in sy regie en musiek tot uiting gebring. “Dit proe lekker,” vertel hy as hy agter die gehoor staan en na die toneelstuk kyk.
Hy voeg by: “Dis heerlik om te sien hoe jou tweedimensionele bouplan wat jy inhandig, deur bekwame regisseurs en akteurs as’t ware met kundige binnenshuise ontwerp, lewe kry.”
“Ek is nie heilig op my werk nie. As jy die regte mense kies, word jou teks net beter.”
Dit bring mens by sy boek, Swart swaan, wat pas verskyn het. Die uitgewersverklaring lui: “’n Monsteragtige wese het hom in Fabian se tuin tuisgemaak – ’n ondier met ’n dodelike aptyt.”
In die skadu van die dobbelhuis waar Fabian ’n veiligheidswag is werskaf hy en Mossie, pas uit die tronk, om vir die gedierte ’n blyplek te bou en hom te versorg.
Maar net Fabian weet van die trommel wat hy vroeër in die tuin begrawe het – daar waar die dier nou lê. ’n Trommel wat hom in staat sal stel om sy vrou Merinda, wyndrinker van formaat, vir ’n wyle te help vergeet van die skade aan haar gesig en in haar hart.
Die boek word beskryf as “meer as ’n surrealistiese sprokie vir volwassenes. Dit is ’n betowerende roman oor die lewe van ’n man wie se verbeelding op ’n dag vlerke kry.”
Wilken vertel: “Toe ek met die idee vir my meestersgraad begin speel het, was ek in Brakpan vir Symphonic Rocks-vertonings by die casino. Een aand het ek vars lug gaan skep en ontmoet toe ’n sekuriteitswag wat my vertel hoe hy deur die jare gesien het hoe mense maklik al hulle pensioengeld in een aand kan verloor. Hulle gaan sit dan in hul motor in die parkeerterrein en trek die sneller; sluk pille of maak ’n tuinslang aan die uitlaatpyp vas en vergas hulself in die kar.”
“Ek het net daar gedink die casino is soos ’n karkas wat in die woestyn gegooi word, wat al die vlieë lok. Brakpan is ’n tweede geslag gesluite myndorp en die casino word gebou om nog ’n leemte te vul waar die myn gate gelos het.
“Ek het vir dae in die strate van die Brakpan rondgedwaal en vind toe dat eksotiese troeteldiere groot is daar. Die suutjiese aard van gierigheid het as tema daar in die reuse-troeteldierwinkel by my kom nesskop. Mense wil beter wees as sy buurman, daarom dié soort troeteldiere om effe beter te voel, dalk ryker te voel; groter aansien te hê in die buurt.”
En met al die storms agter hom, het hy nou geleer om minder in beheer te wil wees. Om die kreatiwiteit sy eie rigting te laat loop en homself nie so te ooreis en tot die uiterste te druk nie.
“Die beste goed kom uit as jy nie weet wat jy skryf nie; maar net skryf, sonder om dit aanhoudend te redigeer. As jy ophou om jouself te filter.”
En as hy verklap dat hy besig is met ’n Engelse roman wat binnekort moet klaar wees, is dit dalk die beste besluit.

Foto van Wilken Calitz: Lindsey Appolis
Agt vrae aan Wilken Calitz, musikant, dramaturg en nou ook outeur van Swart swaan:
Jy het soveel Fleur du Cap-nominasies en -pryse en ander toekennings. Beteken dit vir jou iets?
Die ding van nominasies is dat dit net dit bly; ek wen nooit nie! As jy nie wen nie, is dit gevaarlik om daaroor te praat. Om iets te wen, is ’n bevestiging van goeie werk. As jy nie wen nie, is dit die hartseerste ding, want dan voel dit asof niemand dink jy het goeie werk gedoen nie. Wen maak mense bewus van jou werk, maar kompetisies vir kreatiwiteit is gekompliseerd. Al wat ek wil doen, is skryf en tunes maak.
As jy jouself aan vreemdelinge voorstel, hoe sê jy? Wat is jy?
Om mense kleurryk te beskryf is my werk.
Hoe voel dit om jou debuutroman, Swart swaan, in jou hand te hou?
Dit voel onwerklik. Soveel jare se geswoeg, weeg nou ’n paar honderd gram. Dit maak nie sin nie. Dit is ’n droom wat ek al vir 10 jaar koester en nou is my eie boek op my boekrak.
Wat maak jou bang?
Dat ek op ’n stadium in my lewe gaan kom waar ek nie oomblikke in my lewe in skryfstukke of musiek omgesit het nie.
Na wie kyk jy op, kunstenaars vir inspirasie, maar ook persoonlike dinge?
My vierjarige dogtertjie, Fleur. Haar kreatiwiteit inspireer my. Sy dink nie te veel oor wat sy doen nie, maar sy hou nie op met vrae vra en leer nie. Alles het vyf vrae, wat jou soms teen die mure wil uitdryf, maar ek leer ontsettend baie by haar.
My ouers is ook geweldig ondersteunend. Albei is professors en die grasie en manier waarop hulle my loopbaan aanvaar en ondersteun is wonderlik. My pa: what a guy. Iemand wat ook net aanhou vrae vra en leer. Dis vir my die teken van ’n groot man.
Waar is huis en wat beteken die term vir jou?
Ek het twee huise: een in Wynberg en een iewers undefineable – ’n plek waar daar nie reëls opgelê word oor denke nie. Daar sien ek gereeld ander helderdenkers. Ek voel veilig by beide huise; dié plekke waar enige opinie geldig is.
Watter boek, teks, musiekstuk het die grootste indruk op jou as mens en ook as kunstenaar gemaak?
Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, wat ek as bronteks vir my nuwe toneelstuk, Salome, gebruik het.
Hoe lyk die res van die jaar – wat pak jy volgende aan?
My en Devonecia se musiekvideo, Mzanzi lullaby, word goed ontvang en ons wil nog liedjies opneem. Ons is reeds besig om nuwe materiaal te skryf, sommer so oor WhatsApp as ons nie by mekaar kan uitkom nie. Sy stuur ’n voicenote met ’n melodie en dan skryf ek die kitaargedeelte en stuur vir haar terug. Dit spaar eintlik soveel tyd en hierdie werkswyse pas ons beide.
Lees ook:
"Slimgeit lê in eenvoud" – Wilken Calitz gesels oor sy debuutroman Swart swaan

