Lesersindruk: Swart swaan deur Wilken Calitz

  • 0

Swart swaan
Wilken Calitz
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781415210499

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“(Hy) dink aan oseane waar jy nie land kan sien nie. Hy dink aan ’n eiland iewers, Australië. Saam met Merinda. Hulle gaan oorsee met ’n boot. ’n Regte egte cruise liner waar hy oopknoophemde dra en ’n hoedjie soos die kaptein s’n. Die MSC Symphony gaan sy huis wees vir ’n paar weke” (14). Fabian, die hoofkarakter in Wilken Calitz se debuutroman, Swart swaan, gryp telkens terug na sy droom om die see, die sand en die oseaan te ervaar wanneer hy gekonfronteer word met die harde werklikheid van sy bestaan. 

En hard is sy bestaan wel. As sekuriteitsbeampte by ’n casino aan die Oos-Rand staan hy midde-in wat agter die skerms aangaan – ’n duister wêreld waar dobbelaars wat hul geld kwyt is, gereeld hul eie lewens neem. Fabian geniet oënskynlik agting as werknemer van die casino, want hy word ingeroep om (klaarblyklik met min sukses) met voornemende selfmoordenaars te onderhandel, en as sy onderhandeling misluk of as hy te laat op die toneel aankom, is dit sy taak om weersinwekkende tonele so gou as moontlik op te ruim sodat casinobesoekers nie afgeskrik raak nie. 

Fabian het oënskynlik ’n blasé houding teenoor die wyses waarop mense hulself uithaal: hang, polse sny, spring, snuif en skiet (76). Dit is opmerklik dat die hedendaagse sagter term “selfdood” nie gebruik word nie – die karakters wat hul eie lewe neem doen dit impulsief en desperaat.

Fabian erken die snellerreaksie wat hom emosioneel oor een sterfgeval laat reageer, waar hy andersins ’n hardekoejawel houding inneem, is die feit dat hy homself toegelaat het om aan kinders te dink. Dit het sy diepliggende begeerte na ’n kind van sy eie, veral ’n “laaitie”, na vore gedwing.

Fabian se huislike omstandighede is eweneens vooruitsigloos. 

Ander ruimtes waarin Fabian homself bevind, in die hede as volwassene of tydens terugflitse na sy kinderjare, is insgelyks meedoënloos – die openingstoneel van die roman beskryf hoe die dertienjarige Fabian en sy ma in ’n myntonnel afstap om sy onwettige myner-pa, dood tydens ’n rotsstorting, te gaan groet.  Die gru-omstandighede waarmee die jong Fabian gekonfronteer word “het vir altyd in sy ingewande vasgedraai” (7). Sy waarneming van ’n swaan op die mynskag en ’n swart veer wat grond toe dwarrel, is profeties. 

Die troostelose landskap buite word gekenmerk deur mynskagte, mynhope, lugbesoedeling en ’n teerpad met ’n diep skeur waaruit mynwater syfer.

Die harde omgewing van die agter-die-skerms casino en nagklub resoneer met die ruimte van Exotica, die nagklub in Franz Marx se Spieëlbeeld, waar dwelms, konkelaars en paaldansers die roman ruimskoots bevolk, waar lewe goedkoop is en eensklaps geweldadig beëindig kan word. Spieëlbeeld se hoofkarakter-lyfwag Joe, met sy verering vir die paaldanseres Anél, herinner aan Fabian en sy geduldige verknogtheid aan Merinda. Beide die karakters is basies goeie mense wat sukkel om staande te bly binne ’n ongenaakbare omgewing en nie kan ontsnap aan die invloed van traumatiese gebeure uit die verlede nie.

Gelyklopend met Fabian se verhaal is ook die verhale van die gesiggeskende, kinderlose Merinda – onverskillig teenoor haar man se toenadering en apaties teenoor die lewe. Mossie, skigtig en vol wrewel, is pas uit die tronk waar hy oënskynlik onskuldig vir kinderaanranding aangehou is. Dié drie karakters wend halfhartige pogings aan om na mekaar uit te reik, maar uiteindelik laat hulle mekaar in die steek en bly elkeen afgesonder in eie ellende en skuldgevoelens.

Die vertelling geskied uit ’n subjektiewe derdepersoon-perspektief. Met Fabian as die fokaliseringskarakter skemer sinisme in die verteller se woorde deur: “Die casino is maar die nuwe kerk” (10) en “(h)oe ryker en hoe meer geld die aand by die slots of die roulette-tafel verloor is, hoe morsiger die dood” (9). “(D)ie girl-bedryf is maar soos die kar-fuse-bedryf. Jy moet maar net ’n nuwe een gaan koop” (75). Nie een van die karakters is hooggeleerd of gesofistikeerd nie en daarom is dit geregverdig dat die vertelling gekenmerk word deur min saamgestelde sinne en die idioom waarin Fabian praat – deurspek met Engelse woorde en frases, ’n slengstyl en kragwoorde. Daar is ’n indirekte verontskuldiging oor die taalgebruik in die roman as die verteller in Fabian se idiolek meld: “Hy kon nog nooit mense lekker uitfigure wat universiteit toe gegaan het nie … Dis maar net die manier waarop sy woorde gebruik: etos, ruilhandel. Niemand praat so op hierdie dorp nie” (38). Die subjektiewe derdepersoon-verteller stel die leser in staat om Fabian se diepste wese te begryp, dit lei tot empatie met die hoofkarakter, al wis die leser dat Fabian oor ’n immorele skadukant beskik.

’n Voortreflike spanningslyn word gebou. Daar word vrae en raaisels in die teks geplant, wat die leser eers namate die verhaal vorder, vir sigself kan beantwoord. Wat is uitgebeeld op die foto wat Fabian aan die wanhopiges op die punt van selfmoord gee? Die kontrak wat die casinobestuurder Aviva vir Fabian laat teken, behels duidelik iets bedenkliks, maar wat presies is die implikasies van die kontrak wat Fabian laat voel iets donkers het in sy maag kom sit? Wie en waarom skakel Fabian uit ’n telefoonhokkie op soek na ’n bankrekeningnommer?

Fabian poleer nougeset al die gespes en gordels wat hy van sy pa geërf het – bykans een vir elke geleentheid en gevoel (10). Vele van sy gespes, ’n herhalende motief in die roman, is in die vorm van voëls en diere wat dui op sy identifisering met geharde diere. “Vanaand dra hy die grootste, blinkste buckle wat hy besit. Geskrop en gepoets laat die valk se vlerke lyk of hulle beweeg as die lig daarop skyn. Saam met ’n belt van krokodilleer. ’n Vasvat-outfit” (43). 

Die diere waarna verwys word, meestal taai en aggressief, is nog ’n herhalende motief. Daar is Fabian se bokke (wat hy op ’n voorstedelike erf aanhou), mynskagte word vergelyk met bruin kamele (104) en Mossie se versugting na ’n likkewaan as troeteldier en metgesel. Voëls figureer sterk in die roman – Mossie se naam dui daarop dat hy ’n onopvallende, verstote figuurtjie is, Arend se naam dra die assosiasie van krag en adellikheid, maar dui ook sardonies op sy laaste oomblikke wanneer hy teen die goud van die sonsopkoms op die rand van die balkon staan, sy arms uitgestrek (24). Afgesien van die swaan sy opwagting maak in Fabian se agterplaas, het hy ook jeugervaringe waar swane prominent is sy gemoed ingeprent is.

Daar word herhaaldelik melding gemaak van ligte. Reeds op die eerste bladsy van die roman hop die ligkol van Fabian se ma se flits teen die rotswand omdat haar hande bewe (later vergelyk hy die swaan se oogballe hiermee), Daar is flitsende ligte van die casino en Masonic-kroeg, flitsende ligte van perskameras en Fabian wat gebeure in sy agterplaas oproep asof dit afgespeel het in ’n “strobe light”. Die gemene deler van die vele ligte wat in die roman vermeld word, is dat hul nie lig werp of verhelder nie, maar eerder verwarrende dwaalligte is wat letterlike en figuurlike duisternis aksentueer, eerder as verjaag.

Pogings tot ontsnapping uit die wrede hede vorm deel van die tematiek van die roman. Mossie se verhaal is een van ontheemding en futiele versugting na aanvaarding en hy poog om hieruit te ontsnap deur te droom oor ’n likkewaan wat sy geesgenoot en afhanklike gaan wees. Merinda verloor haarself in ’n spiraal van witwyn, slaap en die aanpas van tweedehandse trourokke en Mpilo, ’n randkarakter, lees voortdurend. Drome oor ’n idilliese vakansie is Fabian se ontsnappingsmeganisme, so ook sy gewaande band met die swart swaan.

Die titel van die roman dra meer as een betekenis. Die roman het verskyn tydens die COVID-19-grendeltydperk, en toevallig is dit ook tydens dié tydperk dat die algemene publiek bekend geraak het met die begrip “swart swaan” – ’n verwysing na onverwagte gebeure wat op groot skaal plaasvind en enorme gevolge meebring (dié term word veral deur finansiële kenners gebruik ten opsigte van die ekonomiese gevolge van die inperkingstyd). Dis ironies – die swart swaan in Fabian se agterplaas is ook ’n spreekwoordelike swart swaan.

Die bandteks tipeer die roman as ’n surrealistiese sprokie vir volwassenes. Daar is inderdaad tonele wat, al val dit steeds binne die grense van wat realisties en wat moontlik sou kon wees, só carnivalesque aandoen dat ’n atmosfeer van absurditeit geskep word, bv die ontkleeklub waar die vrouens soos diere aangetrek is en die onthulling van die bronsstandbeeld van ’n swaan voor die stadsaal.

Die uitstaande kenmerk van Swart swaan wat verseker dat die roman nie bloot net nog ’n plaaslike middelmatige skop-skiet-en-donder verhaal is nie, is die toetrede van die element van fantasie. Reeds aan die begin van die roman word die fantasie-element wat aan die bod gaan kom in die vooruitsig gestel: “Amper veertig jaar later sou Fabian weer daaraan dink toe die veel groter gedierte so skielik, sonder enige aankondiging, in sy tuin deur die aardkors breek’’ (8). Met die afgryse van die jong seun se geweldadige selfmoord nog vars in Fabian se gemoed laat ’n geraas in sy agterplaas hom afkom op ’n toneel van vernietiging: oorblyfsels van sy bokke en die bokhok verwoes. Die oorsaak hiervan is ’n swart swaan wat deur die grond van die bokhok gebars het. Die algemene opvatting dat swane serene grasie en skoonheid versimboliseer, word onmiddellik op sy kop gekeer. Fabian se agterplaas-swaan trek eerder op ’n draak of monster – ’n reusagtige kreatuur met twee rye tande in sy snawel, en, so blyk dit kort voor lank, ’n karnivoor met ’n geweldige vleislus.

Fabian word deur die swaan aangespoor tot beide goed en kwaad. Enersyds word hy na die koms van die swaan aangevuur om welwillend op te tree, so dink hy, as hy Arend se weduwee finansieel bystaan, maar andersins maak hy hom skuldig aan makabere optrede om die swaan se eetlus te stil.

Die vraag ontstaan onwillekeurig – is die fantasmagoriese swaan slegs daar vir dramatiese effek, Oos-Randse King Kong-verstrooiing, of dien die swaan ’n dieper onderliggende doel?

Fabian het ’n diepe begeerte (soos sy pa voor hom), om iémand te wees, iets te doen of te hê wat betekenis aan sy lewe verleen. ’n “Laaitie” is hom nie beskore nie en sy trots om besigheidsklas te vlieg na ’n leierskapsontwikkelingswerkswinkel is van korte duur. Hy word op ’n nipper na ontbloot as ’n swendelaar as hy ’n aanbieding maak oor ’n gewaande eilandtoer. As gerugte oor die swaan die rondte begin doen dink hy: “Is dit hoe dit voel om iémand te wees? Dalk, net dalk is hy besig om famous te word” (97). Die swaan versimboliseer kwaliteite waarmee Fabian hom vereenselwig – onverskrokke, skrikwekkend, magtig, ’n iéts.

Die fantasmagoriese verleen ’n postmodernistiese allure aan die roman, gemeet aan die kenmerke van postmodernisme, soos uiteengesit deur Brian Attebery (1992:37): sofistikasie word verhul onder ’n teks wat op die oog af eenvoudig lyk; is populisties eerder as elitisties – die karakters is “rowwe ouens” en die indruk mag gewek word dat die roman gemik is op ’n breë leserskorps wat aksie-avontuurverhale verkies, eerder as op die gesofistikeerde leser. Verder neig die postmodernisme tot die buitensporige, die swaanvertonings is uitspattig, kleurvol en val nie binne die grense van wat moontlik is nie.

Fabian se nuutgevonde roem is van korte duur. ’n Reeks opeenvolgende gebeurtenisse waarin Fabian groot verlies ervaar, laat hom verslae en ontnugter. Sy Disneyland-omtowerde agterplaas grief hom en skuldgevoelens knaag aan hom. Tog glo hy dat daar ’n band tussen hom en die swaan bestaan. Hy gee die swaan ’n naam, Adriaan, en noem hom “seuna”.

Fabian glo in tekens – die swart veer wat hy as kind rukkerig uit die lug sien val het was die eerste: “Die sign dat hy wat Fabian is nog gaan wen in die lewe” (78). Ander gedeeltes waar ’n swart swaan ’n rol in die roman speel word opgeroep – Fabian se jeugervaring van ’n swaangeveg (soortgelyk aan honde- en haangevegte), die foto wat voornemende selfmoordenaars deur Fabian in die hand gestop word en die onthulling van die swaan-bronsbeeld wat geïnterpreteer kan word as vooruitwysing na Fabian se ondergang. 

Die uitkoms van gebeure rondom die swaan laat Fabian volkome ontnugter. Die leser sien Fabian oplaas as outsiderfiguur – alleen, gestroop van sy droom, sy ambisie en alles wat vir hom saak gemaak het. Swart swaan is ’n verhaal van vervreemding en Fabian word ’n tragiese figuur, ’n uitgeworpene en verstoteling.

Die slot (wat nie hier verklap word nie) en die titel van die roman het my onwillekeurig laat wonder of daar raakpunte tussen Calitz se roman en die rolprent Black Swan gevind kan word. Soos met Black Swan twyfel die leser van Swart swaan of al die gebeure werklik plaasgevind het, en of dit in die hoofkarakter se verbeeldingswêreld afgespeel het.

Voornemende lesers moet bedag wees daarop dat hul, binne die konteks van die verhaal, gekruide taal, selfmoordbeskrywings en sekstonele gaan teëkom. Die outeur slaag daarin dat die leser empatie ontwikkel met die Jan Alleman-karakters van die Oos-Rand, al is hul doen en late nie bo verdenking nie.

Swart swaan is ’n prysenswaardige toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde. Dit wil aandoen as ’n aksie-avontuurverhaal, maar is onderliggend ’n aangrypende verhaal oor ’n man wat probeer om getrou te bly aan homself en sy ideale, maar wat een vir een sy drome moet prysgee. Die toetrede van die fantasie-element, die swart swaan, verleen ’n ekstra dimensie aan die roman. Hopelik word hierdie debuutroman opgevolg met nog werke uit die vaardige hand van Wilken Calitz.

Bibliografie

Attebery, B. 1992. Strategies of Fantasy. Bloomington: Indiana University Press.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top