"Slimgeit lê in eenvoud" – Wilken Calitz gesels oor sy debuutroman Swart swaan

  • 0

Foto van Wilken Calitz: Lindsey Appolis


Swart Swaan
Wilken Calitz
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781415210499
 

’n Monsteragtige wese het hom in Fabian se tuin tuisgemaak – ’n ondier met ’n dodelike aptyt. In die skadu van die dobbelhuis waar Fabian ’n veiligheidswag is, werskaf hy en Mossie, pas uit die tronk, om vir die gedierte ’n blyplek te bou en hom te versorg. Maar net Fabian weet van die trommel wat hy vroeër in die tuin begrawe het – daar waar die dier nou lê. ’n Trommel wat hom in staat sal stel om sy vrou Merinda, wyndrinker van formaat, vir ’n wyle te help vergeet van die skade aan haar gesig en in haar hart. Dit is ’n betowerende roman oor die lewe van ’n man wie se verbeelding op ’n dag vlerke kry.


Remona Voges het met Wilken Calitz oor sy roman wat as ’n surrealistiese sprokie vir volwassenes beskryf word, gesels.

Hallo Wilken! Vertel asseblief meer oor die titel van jou roman, Swart Swaan.

My broer het met jare gelede ’n boek in die hand gestop genaamd The Back Swan deur Nassim Nicholas Taleb. Die skrywer, wat voorheen ’n stockbroker was, is bekend vir sy werk aangaande lukrake gebeurtenisse wat ’n groot impak het op die mensdom. Die sg Black Swan event is ’n gebeurtenis met drie eienskappe: Dit het ’n groot impak, niemand kon dit voorspel nie en die redes daarvoor kan eers ter nabetragting bepaal word. Die ekonomiese ineenstroting in 2008 is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Hoe die term Black Swan event tot stand gekom het, is iets wat my ook al jare lank fassineer. Tot en met 1694 is daar nog nooit ’n swart swaan in Europa gesien nie. Dit was ’n geval van: “Ons het nog nooit ’n swart swaan gesien nie en daarom bestaan daar nie so iets nie.” In hierdie einste jaar van 1694 het die VOC een van sy laaste skepe uitgestuur na Nieuw Holland (nou Australië) om te gaan soek na oorlewendes van ’n skip wat veertig jaar van te vore in daardie omgewing verongeluk het. Hulle vaar toe in ’n rivier op en sien ’n swerm swart swane en neem dit terug na Nederland.   

Die hoofkarakter, Fabian, word een oggend wakker van ’n helse geraas in sy tuin en sien hoe ’n monster/swart swaan deur die aarde breek. Dit is net daar, sonder aankondiging en sonder rede – en hierdie gebeurtenis verander sy lewe.

Wat was die sneller vir dié roman? Hoe is die idee vir die storie gebore?

Ek het 2011 ’n konsert gespeel by ’n casino aan die Oosrand. Na afloop van die show het ek ’n bietjie gaan rondloop om te kyk hoe hierdie dobbelding nou eintlik werk. Mense sit met rooi oë, halfgesuip en oormoeg om die poker- en roulette-tafels. Hulle wag vir daai een oomblik wat hul lewens gaan verander (Black Swan event). Die geluk draai egter net vir ’n klein persentasie van hoopvolles. Diegene wat aan die verloor kant is, is waar my storie gebore is. Dit was seker so net na eenuur die oggend wat ek ’n los geselsie begin aanknoop het met ’n sekuriteitswag buite die hoofingang. Hy vertel dat ’n onoffisiële deel van sy werk is om individue wat al hulle pensioen spaargeld weggedobbel het, te keer om nie selfmoord te pleeg op die parkeerarea nie. Teen vieruur die oggend in my hotelkamer, het ek die eerste paar sinne van my roman neergepen.

’n Swart swaan (Fotobron: Unsplash)

Vertel asseblief meer oor die hoofkarakter, Fabian. Wat doen jy om in die vel van so ’n komplekse karakter te klim?

Dit was die manier waarop hierdie sekuriteitswag (Fabian) vertel het van hoe hy te werk gaan om mense te probeer oorreed om “maar eerder daai geweer weg te bêre,” of om “eerder daai pilletjies nie te drink nie,” wat my verstar het. So rustig en sonder oordeel. Hy doen maar net sy job en wil graag hê mense moet veilig by die huis kom. Dit is juis die kontraste van sy werksomgewing en sy trotse medemenslikheid wat die spilpunt is waar om die verhaal draai. Goed vs kwaad, lig vs donker ens. Mettertyd suig die dobbelwêreld hom ook in, maar sy innerlike menswees bly steeds goed. Ek het ook ’n paar keer daarna teruggegaan na die dorp en casino toe om verder met hom te gesels. Die kompleksiteit van die omgewing, sy goedhartigheid en die verval van ’n samelewing was goud werd om sy karakter uit te bou.

Die magiese speel ’n belangrike rol in jou roman (dit word beskryf as ’n “surrealistiese sprokie”). Hoekom het jy besluit om hierdie gegewe in die verhaal te inkorporeer? Uit watter ander boeke wat in dié genre val, het jy inspirasie geput?

Dit was nooit my bedoeling om ’n surrealistiese sprokie te skryf nie. Die boek het maar net sy eie gang gegaan. Wat ek wil geweet het is dat ek iets absurds wou doen. Nie om doelbewus anders of oulik te wees nie, bloot omdat die boeke wat ek geniet altyd ’n goeie skoot mal en bizarre gebeure/karakters bevat. Ek sukkel om net ’n storie te skryf wat net bloot ’n plot en karakters het. Daar moet iets wees wat broei, iets tussen die lyne, ’n donker onderstroming wat die bootjie laat kantel. Animal Farm is die beste voorbeeld hiervan. Diere word “mens” en die intriges van die plaaslewe word ’n allegorie vir kommunisme. Ek is versot op Kurt Vonnegut en ander Amerikaanse skrywers uit die 1960’s. Cat’s Cradle is so wack en sonder inhibisie. Daai Beat-skrywers was ’n klomp mal donners.    

Wat was vir jou die grootste uitdagings met die skryf van hierdie roman? Hoe lank het dit jou geneem om te skryf?

Swart Swaan het vir nege jaar by my gespook. Ek werk baie stadig en dit kry my soms onder. My grootste wens is om eendag te te kan sê: “Ag, hierdie enetjie het my so drie maande gevat om te skryf.” Dinge het eers stoom opgetel toe ek aanvaar is by UCT se MA in Kreatiewe Skryfwerk. Etienne van Heerden het heeltyd gesê: “Sny die pap vet uit.” My sinne was altyd te lank met ’n groot klomp inligting wat ek probeer het om uit te basuin. Nou is my sinne kort. Baie kort.  

Die grootste uitdaging was om tot die punt te kom. Mens word so maklik verstrengel in jou eie navorsing. Jy wil hê lesers moet beïndruk wees met jou slimgeit. Sllimgeit lê in eenvoud. As jou karakters se verhaallyn te kompleks is en jou karakters is die spreukbuis vir jou manjifieke idees oor die mensdom, het jy die stryd verloor. Lesers stel nie belang in skrywers nie. Hulle is op soek na karakters wat onverwagse goed aanvang.

Jy is ’n gesoute musikant en kunstenaar. Jy het al in ’n vorige onderhoud gesê: "Musiek het twee funksies. Die een is plesier en die ander een is alles behalwe plesier." Geld dieselfde vir die letterkunde?

Ha! Ek onthou daai sinsnede. Musiek is nie net altyd ’n plesier nie. Aan die oefenkant is toonlere nie noodwendig iets wat mens wil doen voor ontbyt nie. Dit is egter ’n integrale deel van die proses om uiteindelik iets moois of aangrypends te skep. Musiek moet ook kan skok. Stravinsky se Rite of Spring is ’n bomontploffing en maak jou naar van opwinding en woede. Iets soos dit. Niemand weet eintlik wat om met daai musiek te maak nie. Dvořák se 8ste Simfonie is weer die teenpool. Selfde intrumente, ander effek. Dit is die toonvoorbeeld van skoonheid, reine stof tot nadenke en bloot net mooier as mooi.  

Literatuur het nie soveel vryheid nie. Musiek kan jy luister terwyl jy bestuur. ’n Boek verg al jou aandag vir ’n dag of drie. As jy wil skok soos Stravinsky, vra jy besonders baie van ’n leser. Iets soos Disgrace of Heart of Darkness is seker ’n ekwivalent van Rite of Spring. Nie-fiksie kom makliker weg met die “lelike”. Ek het onlangs The Gulag Archipelago van Alexandr Solzhenitsyn gelees. Dit is die hel in 700 bladsye maar ’n geweldige aangename leeservaring.

Wat sou jy sê is die grootste verskille/ooreenkomste wanneer dit kom by die skryf van musiek en die skryf van ’n roman? Stem jou kreatiewe prosesse met mekaar ooreen of verskil dit hemelsbreed?

Komposisie is ’n strawwe proses. Ek is altyd geneig om dit te meet aan al die ou meesters. Dit is ’n baie positiewe probleem om ’n goeie geheuebank van klanke te hê. Om note op papier te kry of om ’n kitaar riff te ontwikkel tot ’n song, is ’n ewige stryd tussen: “Is hierdie goed of sleg?” Van my komposisies het letterlik tien jaar geneem om af te rond. Dit is hoekom ek hou van live performances. Jy moet speel tot die show verby is. G’n oordink of getob is welkom op die verhoog nie. Dis vinnig, dis intens en dis verby.

Skryf is makliker, en ek bedoel glad nie daarmee dat dit goed is nie. Dis net sonder die gewig van al die musiekstudies. Ek het nie ’n taalagtergrond nie en weet dus glad nie wat ek doen nie. Soos ek deur die lewe gaan, maak ek my rugsak vol idees, karakters en scenes. As die skryfproses begin, pak ek daai sak uit en slaan kamp op. Dinge vloei net en ek is glad nie heilig oor skryf nie. As iets nie werk nie, gooi ek dit weg. Met musiek gesel ek myself daagliks as ek ’n vals noot speel.

En luister jy musiek terwyl jy skryf? Indien wel, verskaf asseblief voorbeelde van ’n klankbaan vir Swart Swaan.

Musiek en skryf bly in dieselfde huis, maar nie in dieselfde kamer nie. Klanke is oraait, maar wanneer daai klanke gegiet is in ’n vorm met akkoorde en ’n melodie, is my aandag verdeeld. Daar was wel al een uitsondering tydens die skryfproses waar musiek my wel gehelp het. ’n Gedeelte in Swart Swaan wou net nie in plek val nie. Dae en dae het verbygevlieg sonder enige sukses. Later was daar kerse langs my tafel en ek het yoga probeer en liters koffie gedrink. Arvo Pärt se De Pacem kom toe tot my redding.

Dit is op die oog af eenvoudig, maar onder daar koor- en orkesklank swerm daar ongekende emosies. ’n Paar ure later pronk daar ’n bladsy vol pure goud. Sorted. As ek ’n bad ass karakter moet skryf, luister ek na Metallica of Rage Against the Machine. Maar altyd vooraf. Daai kitare en dromme sal my vingers laat hop op die verkeerde letters. Miskien is dit dalk nie ’n slegte ding nie. Moet dit dalk probeer. 

Die roman is tematies redelik donker en mens kry reeds dié gevoel as mens na die voorblad kyk. Wie is jou ideale leser? En het jy ’n “eerste leser”?

Kyk, behalwe vir die monster en ’n paar ander fiktiewe verhaallyne, is die gegewens geskoei op my navorsing. Die karakters se manier van praat en hulle leefwêrelde is presies soos dit is. Ek weet nie of my vierjarige dogtertjie dit sal geniet nie. My ma het dit geniet (ek weet sy moet dit sê …) en ook ’n ou wat ek ken wat tien daggazolle per dag rook. Het net gesê: “Duuuuuude, dis crazy cool.” Die lesers is tans redelik uiteenlopend en ek hoop dit word nog wyer gelees.

Ek het ’n paar eerste lesers. Henry Cloete is egter die een vir wie ek die meeste werk gee. Hy raas altyd met my oor spelling en basiese editing voor hy inspring en idees gooi oor hoe om dit net nog beter te maak. As ons laataand sit en brainstorm oor my storie, word dit ’n sirkus. Ons improviseer dialoog, goeie absurde scenes in ’n hoed, drink ‘n bier en besef gereeld dat geen van die aand se idees bruikbaar is nie. Ek lees ook baie van sy goed en hoef nooit met hom te raas oor spelling of editing nie.

Wat is jou gunstelingboek van 2020 tot op hede?

Slash, die autobiografie van Guns ’n Roses se kitaarspeler, is ’n trein sonder brieke. Hoe hy en die res van sy band nog lewe, is ’n vraag wat net die gode kan beantwoord. Dwelms, drank en onheil smeer oor daai bladsye. Suiwer literatuur is nie iets wat ek tans voor kans sien nie. Eintlik is dit soortvan ’n goeie plaasvervanger vir die feit dat ek ook nie nou baie musiek luister nie. In die eerste twee maande van lockdown het ek elke dag kitaar geoefen om die tyd te verdryf. Te veel klanke in die kop is ’n teelaarde vir waansin. Ek skryf tans baie en as die woorde min raak en stilte begin raas, sal my naels weer hul pad vind na die staalsnare. Dis ’n balans tussen skryf en klank. Dit hou my wakker en daarom sal ek nooit enigiets anders wil doen nie.

Lees ook:

Lesersindruk: Swart swaan deur Wilken Calitz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top