Die jaar is 1916. Afrikaans as taal is nog nie formeel erken nie. Die nederlaag van die Suid-Afrikaanse Oorlog (ook bekend as die Anglo-Boereoorlog) het pas die nuwe eeu ingelui. Die ANC is vier jaar gelede, in 1912, gestig. In 1913, drie jaar gelede, is die verreikende Wet op Naturellegrond gepromulgeer. Die Rebellie van 1914‒1915 verdeel wit Afrikaanssprekendes. Afrikaner-nasionalisme maak sy stem dik.
Dit is in hierdie era dat De Huisgenoot, as kultuurtydskrif, bydra tot die vestiging van Afrikaans as skryftaal. In daardie dae word byvoorbeeld uitsluitsel gegee oor die skryf van baie as baje, baja, baija, banje of baing. Huisgenoot het intussen ontwikkel tot ’n baie suksesvolle en gewilde tydskrif wat in baie huise gelees word.
Hierdie eerste voorblad van 1916 toon die antiimperialis Paul Kruger, die destydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) (1883‒1900).
Lees ook in die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, “Paul Kruger en die pers in die ZAR, 1890–1895” (Heinie Heydenrych, 2016), waarom die jong Eugène N Marais (in 1890 aangestel as die redakteur van die kritiese koerant Land en Volk) in 1893 deur president Kruger beskuldig is van laster, wat gelei het tot Marais se arrestasie.
Naas De Huisgenoot, wat was daar nog te lese?
- Die eerste uitgawe van die koerant APO is op 24 Mei 1909 gepubliseer. Die APO was die koerant van die African Political (later People’s) Organisation (APO). Die APO is in 1902 in Kaapstad gestig en was ’n baie invloedryke politieke organisasie vir bruin mense in die Kaapkolonie. Die leier van die APO, Abdullah Abdurahman, was vermoedelik die skrywer van die satiriese rubriek Straatpraatjes (vermoedelik onder die skuilnaam Piet Uithalder). Straatpraatjes, wat tussen 1909 and 1922 in die APO gepubliseer is, het ook in Kaapse Afrikaans verskyn. Lees nog oor Straatpraatjes hier.
- Imvo Zabantsundu (Black Opinion) was die eerste sogenaamde swart koerant, in 1884 in King William’s Town gepubliseer, met Tengo Jabavu as die redakteur.
- Mahatma Gandhi was een van die stigters van Indian Opinion in 1903 in Durban. Hierdie koerant is in Engels, Goedjarati, Hindi en Tamil gepubliseer.
Bronne:
- “Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as ‛skrif’ van sy tyd” (Lizette Rabe, 2016, LitNet Akademies (Geesteswetenskappe))
- “Paul Kruger en die pers in die ZAR, 1890–1895” (Heinie Heydenrych, 2016, LitNet Akademies (Geesteswetenskappe))
- “Suid-Afrikaanse erfenis-uitstalling in Kaapstad” (Menán van Heerden, 2018, LitNet)