Is jou ouma ook ’n donkie?

  • 1

Dit is die 19de eeu, die era van Britse bewind aan die Kaap. Verengelsingsprosesse in veral skole en die kerk is vroeg in die nuwe eeu implementeer.

Jou oumagrootjie, wat skoolgaan in Graaff-Reinet, staan in die klaskamer se verre hoek met ’n bordjie wat om haar nek hang. Dit lui: "I am a donkey, I spoke Dutch." Sy is betrap dat sy Afrikaans op die skoolterrein gepraat het.

Tydens die 19de eeu het Britse koloniste onderrig in Afrikaans verbied. Lord Milner het beklemtoon: "Dutch should only be used to teach English, and English to teach everything else."

Staatskole in die ou Transvaal en Oranjerivierkolonie moes ook ’n beleid van verengelsing volg. Maar die sg Boereleiers het privaatskole gestig wat die Christelik-Nasionale Onderwysbeleid gevolg het. In die Kaapkolonie was daar ook privaatskole wat Nederlands as onderwystaal gebruik het.

Op Suid-Afrika se oudste sendingstasie, Genadendal, is die eerste onderwyskollege gestig, in 1838. Die Opleidingskool Genadendal het groot finansiële steun van die owerheid geweier tydens die 1860’s, omdat een van die voorwaardes was om Engels as onderrigmedium te gebruik.

Genadendal sendingstasie (1849) deur George French Angas (1822-1886)

Die godsdienstige skole van die Kaapse Moslem-gemeenskap het Afrikaans (in Arabiese skrif getranskribeer) as onderrigmedium in die 19de eeu gebruik.

Teen 1830 was daar 12 Moslemskole waar Afrikaans as onderwystaal in gebruik was.

Teen die 1840’s was Arabiese Afrikaans goed gevestig as onderrigtaal in hierdie skole. Dit is in hierdie medrasses (Moslemskole) dat Afrikaans, in Arabiese skrif getranskribeer, ontstaan het.

Lees meer oor die gebruik van Nederlands en/of Engels as onderrigmedium in skole aan die Kaap tydens die negentiende eeu1 in die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Archie Dick (2012): "Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850":

In 1823 het lord Charles Somerset die verspreiding van die Islam verder beperk, omdat hy die slawe wou voorberei om ná vrystelling ’n vry werkersklas te word. Hy het slawe-eienaars verplig om hulle slawekinders tussen drie en tien jaar oud vir minstens drie dae per week na die naaste openbare skool te stuur. Gevolglik het 1 551 slawekinders teen 1825 in Kaapstad ’n Christelike opvoeding ontvang. Baie meer slawe het die Nederlandstalige afdelings as die Engelstalige afdelings van hierdie skole bygewoon (Van der Westhuizen 1953:179–81).

[...] Kaapstad se regerende elite wou hê dat opvoeding van die werkersklasse Christelik moes wees en verkieslik Engels in plaas van Nederlands, veral na die aanstelling van Somerset as goewerneur in 1814 (Scholtz 1964:8). Maar die gebruik van Engels was grootliks onsuksesvol, aangesien Kaaps-Nederlands so gewild was, en die kompromis was om albei tale te onderrig.

[...] Die eerste godsdienstige Moslemskool (Madrasah) het in 1793 geopen en ’n "alternatiewe opvoeding" voorgestaan (Davids 1994:47–56). Imam Tuan Guru het die lees van die Koran in Arabies aan sowel slaweseuns en -meisies as wit Islam-bekeerlinge onderrig. Hierdie openheid vir alle lede (ummat – broederskap van Islam) ongeag kleur of klas, het gehelp om die Islam te versprei. Leerders het onderrig in Engels en Nederlands ontvang en is geleer lees en skryf (Davids 2011; Mayson 1963:23).

[...] Imams het lesse gegee in Kaaps-Nederlands (later Afrikaans), wat die oorheersende taal was onder Moslem-kinders wat sowel regerings- as sendingskole bygewoon het.

Die onderstaande figuur toon ’n bladsy uit ’n Arabies-Afrikaanse oefeningboek/koplesboek (met Arabiese skrif in inkpen geskryf). Dit was oorspronklik handgeskrewe, met die Afrikaanse vertaling onderaan. (Watermerk op papier, 1860.)

’n Koplesboek is ’n oefenboek waarin kinders die skrifgedeeltes en tekste uit die Koran oorgeskryf het. Die skryfoefeninge is in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet:

Die boeke was bekend as "koplesboeke", omdat die leerlinge die lesse uit hulle koppe geleer het ... [D]ie hoofdoel was om met behulp van Arabiese karakters te leer skryf ... Die Arabiese karakters is aangepas om die Afrikaanse klanke noukeurig weer te gee, wat ondersoekers ’n goeie idee gee van hoe daardie variëteit van Afrikaans geklink het. (Christo van Rensburg, LitNet)

Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.

Kyk hier na die 2011-boekbekendstelling van The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 deur Achmat Davids (redakteurs: Hein Willemse en Suleman E Dangor, Protea Boekhuis, 2011):

Eindnota:

1 Hierdie skole sluit in: die slawelosie-skool in Kaapstad, medrasses (Moslemskole), Christelike skole, Christelike slaweskole, openbare (vry) skole en plattelandse sendingskole (van die Rhynse, Morawiese, Londense, Glasgowse en Suid-Afrikaanse sendinggenootskappe)

Lees meer oor die antiimperialis wat op Die Huisgenoot se eerste voorblad van 1916 verskyn het:

Wie was op De Huisgenoot se eerste voorblad in 1916?

Lees meer oor Arabiese Afrikaans:

Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin?

Fotoblad: Die boekbekendstelling van The Afrikaans of the Cape Muslims

Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling

Bronnelys:
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    'n Geval van die geskiedenis wat homself herhaal met een verskil; die keer is dit nie die Somerset's en Engelse heersers in die algemeen wat "donkey"-plakkate om ons nekke wil hang nie. Dis die Wim de Villiers'e en verloopte Afrikaanses soos hy. Hoe pateties kan mens raak.

    Dankie aan Megan van Heerden vir die historiese perspektief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top