Wie versorg die versorger?

  • 7

Foto: Sabine van Erp | Pixabay

...
Sit die suurstof masker éérs op jou eie gesig, voordat jy ander probeer help. Om na jouself te kyk, is nie ’n luukse nie, dis ’n noodsaaklikheid.
...

My ma het vaskulêre demensie. My skoonpa het Alzheimers.

My ma is 80 en in ’n ouetehuis op die platteland. Sy woon in haar eie woonstelletjie in die demensie-gang en word versorg deur die ouetehuispersoneel. My broer, wat in dieselfde dorp as die ouetehuis woon, gaan kuier gereeld met ’n sak vol beskuit, koekies, jogurt en vrugte – die demensie het nog nie my ma se onblusbare soettand afgetakel nie. Ek en my ander sibbe woon te ver om gereeld te gaan kuier.

My skoonma versorg my 75-jarige skoonpa in hulle huis in die stad. Daar is niemand wat vrugte- en/of biltongmandjies aandra nie. Sy bak self die beskuit en melktert, terwyl skoonpa hom in en om die huis besig hou. Soms beland hy hom in die moeilikheid as skoonma haar rug vir daai net-te-lang oomblik draai. Die afgelope maand of so kom daar kort-kort ’n boodskap soos hierdie een van haar op die familiegroepie deur: Pa het die kombuiskraan oopgelos en die hele kombuis het oorstroom. Of: Pa het die badkamerkraan oopgelos en ek moes 10-uur in die aand die badkamer opmop.

Ek is bekommerd oor my skoonma.

Uitbranding

Die kommersaadjie is ’n paar jaar gelede geplant tydens ’n gesprek in my skoolhoof se kantoor, kort nadat my ma gediagnoseer is. Hy het gesê dat sy grootste verwyt rakende sy eie pa se demensie was dat sy ma hom te lank aanhou versorg het. Dit het haar glo na liggaam en gees afgetakel, en sy het volgens hom fisies weggekwyn. Die konstante versorging het haar basies uitgebrand. As onderwyser by ’n staatskool ken ek uitbranding maar alte goed. Verlede week hoor ek op ’n potgooi iemand praat van caregiver burnout, en ek dink, ja, dis presies dit wat my van my skoonma bekommer. Uitbranding vanweë langdurige versorging.

Ons almal onthou seker hoe die term deernis uitputting (compassion fatigue) tydens Covid in die alledaagse omgang sy verskyning begin maak het. Deernis uitputting gebeur wanneer een persoon vir te lank blootgestel word aan ander se trauma. Dis ’n term wat voor Covid hoofsaaklik gekoppel is aan gesondheidswerkers, maar tydens Covid het Jan Alleman ook daardie tipe uitputting begin ervaar. Volgens die webwerf psychologytoday.com is die term deur Carla Joinson (’n geskiedkundige) in 1992 uitgedink, maar dit is verder nagevors en gedefinieer deur die sielkundige Charles Figley. Nou, as mense kan uitbrand van te veel omgee – baie simplisties gesproke – hoeveel te meer is dit nie dan moontlik vir ’n onopgeleide versorger nie?

Oordrewe sin vir verantwoordelikheid

My skoonma was vir die grootste deel van haar lewe ’n trotse tuisteskepper. Sy is ’n omgee-mens, veral vir ouer mense. Haar eie ma het sy tot na aan die einde versorg toe my eggenoot se ouma ook vaskulêre demensie gekry het. So, skoonma het al ’n keer hierdie paadjie gestap, maar dit was byna 20 jaar gelede. Sy is self nie meer jonk nie.

...
Ek het geen idee hoe skei ’n mens die rolle van eggenoot en versorger van mekaar nie.
...

Die meer moderne huweliksformulier vra die egpaar om hulleself “aan mekaar op allerlei maniere, met erns en met humor, in gelukkige oomblikke en in moeilike omstandighede” te gee (kerkargief.co.za). As ’n gelowige vrou staan my skoonma definitief steeds by haar belofte jare gelede voor die kansel. Psychologytoday.com sê dat tussen 60% en 75% van versorgers vroulik is. Die ander ding van die Afrikaner Calvinisme is dat sy haar heel waarskynlik laaste plaas. Die artikel “Caregiver burnout” op my.clevelandclinic.org sê dit gebeur gereeld dat die versorger skuldig voel om tyd aan hulself af te staan. Het die meeste (gelukkige) egpare nie maar altyd ’n verhewe sin vir verantwoordelikheid as dit by jou lewensmaat kom nie? En saam met hierdie sin van verantwoordelikheid kom onomwonde onredelike verwagtinge van die self. Dis maklik vir my om van hier agter my rekenaar te oordeel, maar ek sou tien teen een dieselfde gedoen het as dit met my sou gebeur.

Ek het geen idee hoe skei ’n mens die rolle van eggenoot en versorger van mekaar nie. My skoonma het ’n mediese agtergrond, so ek glo nie sy het enige illusies oor die situasie wat nooit sal verbeter nie. Ek het al in die gewoonte verval as iemand oor my ma uitvra om te antwoord dat dit nooit beter sal gaan nie, maar dat sy oraait is, sy het goeie versorging.

Skoonma hanteer nog al die jare hulle huishouding se finansies. So ek glo nie dit sal ’n ekstra stressor vir haar word nie. Ek kan my egter indink dat mense buite beheer kan voel as hierdie tipe verantwoordelikhede in hulle skote beland, veral tesame met die onvoorspelbaarheid van die verloop van so ’n siekte en die konstante verandering in die vlak van versorging. Tans is skoonma gelukkig nog in beheer.

Al die literatuur wat ek al onder oë gehad het, het dit eens: Die versorger let nie op na hul eie behoeftes nie.

Tekens van uitbranding

Soos vroeër genoem, ken ek as onderwyser die tekens van uitbranding. Ek sien dit in my kollegas en voel dit aan my eie bas. Ek weet gewoonlik uitbranding blaas in my nek as ek myself sosiaal begin onttrek. As ekstrovertiese introvert benodig ek soms ’n kuier om my batterye te herlaai. Soms wil ek net rustig alleen by die huis wees. Maar wanneer aktiwiteite wat ek gewoonlik geniet, my nie meer plesier verskaf nie, begin ek uitkyk na ander rooi vlae. Gewoonlik is dit gevoelens van swaarmoedigheid, krapperigheid, hopeloosheid en hulpeloosheid. Amper soos met depressie verander ’n mens se eetlus en slaappatroon. Dit takel ’n mens se gestel af en jy word maklik siek. Soos met enige ander stresvolle situasie, ondervind ’n mens ’n intense gevoel van fisiese en geestelike tamheid.

...
Familielede wat siekes tuis versorg, doen dit soms vir jare en jare, en daar is geen vakansies nie. As skoonma wil weggaan, móét skoonpa saamgaan.
...

Oukei, ek het pas die boonste paragraaf weer gelees. ’n Mens kan vra, is dit dan nie die gewone simptome van enige gespanne 9-tot-5-salaristrekker nie? Die ding met uitbranding is dat dit veroorsaak word deur die stresvolle situasie wat net aanhou en aanhou. Ek dink onderwysers se redding is dikwels die skoolvakansies. Familielede wat siekes tuis versorg, doen dit soms vir jare en jare, en daar is geen vakansies nie. As skoonma wil weggaan, móét skoonpa saamgaan. Natuurlik wil sy gráág saam met hom weggaan. Die laaste tyd word dit egter al hoe moeiliker. ’n Wegbreek bosveld of see toe disoriënteer skoonpa elke keer ’n bietjie meer. Die stressore word dus vir die versorger al hoe meer soos die siekte vererger.

Is daar enige salf aan te smeer?

Ek het vroeg in my lewe die waarde van terapie leer ken, lank voordat ek self sielkunde gaan studeer het. Terapie is die mees voor die hand liggende opsie. Maar daai ding van onselfsugtigheid kan die versorger hier maklik in die voet skiet. Ek hoor al skoonma se stem in my kop: “Ag, nee wat, ek gaan drink sommer net tee by ’n vriendin as dinge te veel raak.” ’n Koppie tee maak mos als reg. Reg? Wat ook gewoonlik vir my help, is ’n kuiertjie saam met familie. Dit help my afskakel. Ek is wel ’n uitpakker. Ek praat my hart uit. My broer, die een naby my ma, aan die ander kant, is ’n tipiese Afrikaanse man. Maak dit af. Krop dit op. Swyg dit weg.

Terselfdertyd is ek ook ’n rescuer. Op skool al het ek die afvlerk voëltjies versamel – dikwels tot my eie nadeel. ’n Terapeut het op ’n dag vir my gesê dat ek moet onthou wat lugwaardinne voor ’n vlug verduidelik. Een van die belangrikste instruksies wat hulle gee, is om die suurstofmasker éérs op jou eie gesig te sit, voordat jy ander probeer help. Om na jouself te kyk, is nie ’n luukse nie, dis ’n noodsaaklikheid. As ek begin swaartrek, begin ek verkeerd eet, my slaappatroon is als behalwe patroonmatig en ek hou ook nie van oefening op die beste van tye nie.

Hoe lank is te lank?

Nadat ek daai keer met my skoolhoof gepraat het, het ek begin wonder: Wanneer is te laat dan te laat? Dis soos daai Engelse gesegde oor die lengte van ’n stukkie tou. Ek glo (wel, hoop) skoonma ken haarself goed genoeg om te weet wat haar eie tekortkominge is. Ek hoop sy het ’n lysie van verpersoonlikte hanteringsvaardighede in haar agterkop wat in die verlede vir haar gewerk het.

’n Kollega van my wie se ma ’n jaar gelede oorlede is nadat sy lank siek was met Alzheimers, het vir my gesê dat humor dikwels haar redding was. Soms wil jy jou leeg huil oor wat met jou ma, eggenoot, familielid gebeur. Ander kere kan jy maar net lag. En ons Suid-Afrikaners is alom bekend daarvoor om grappe oor ons probleme te maak.

Dieselfde kollega het my ook vertel dat sommige versorgingsentrums die pasiënt inneem sodat die versorger ’n blaaskans kan kry. Ek het vroeër gepraat van vakansies. Dis presies wat hierdie voorstel is. Die Engelse noem dit respite care, wanneer iemand vir ’n ruk vir jou kom instaan as versorger.

Saam met die Afrikaner Calvinisme kom ook daai onwrikbare trots wat ons met ons moedersmelk ingekry het. Ekself sukkel steeds om aan te klop vir hulp, al weet ek dat elke liewe keer dat ek dit wel gedoen het, het wie ook al ingespring om te help en te ondersteun. Daar is eintlik nog baie regtig goeie mense daarbuite. Vra familielede om uit te help. Die meeste versorgers is wel vroue, maar druk gerus ook op die mans se knoppies. Mans is immers regmakers. Mos. Immers. Vra ’n man vir hulp; hy verras jou heel moontlik.

Die naderende einde

Ironies genoeg het my ma altyd gesê dat as sy die dag met Alzheimers gediagnoseer word, moet ons – haar kinders – haar in ’n versorgingsentrum toesluit en die sleutel weggooi. Tot my ouboet, ’n dokter en baie pragmatiese mens, een dag vir haar vra of sy dieselfde met hom sal doen as hy daardie dag daar wegry, sy motor afskryf en verstandelik gestremd uit die hospitaal ontslaan word. “Hoe sal ek dit oor my hart kan kry?” het sy geantwoord. “Nou maar presies,” het hy die gesprek beëindig.

Ek is bly my ma is in ’n plek met liefdevolle versorging. Dis nog nie tyd vir haar om na die 24-uur-versorging te skuif nie. Daaroor is ek ook dankbaar. Maar die tyd stap aan.

Skoonma sal seker aanhou om vir skoonpa op te pas, totdat hy fisiese versorging begin benodig. Tot dan lees ons maar die soms tragiese, soms snaakse boodskappies op die familiegroepie. En dan antwoord ons met ’n skaterende lagbekkie of ’n wenende lagbekkie. Ek het nie die vrymoedigheid om die tyd-vir-opsy-staan-gesprek met haar te voer nie. Ek voel dis nie my plek nie.

Ons doen wat ons doen omdat ons ander liefhet. En hoe sê ons vir die hart om op te hou omgee?

Lees ook:

Suurlemoenpoeding en die geneuk met nostalgie

Demensie en alzheimersiekte: Ervaringsindruk van twee boeke

Blomkool-en-tiemie-sop: newwermaaind die klankie

O, koek!

Murgbene: ’n laaste maal

  • 7

Kommentaar

  • Joey van Heerden

    Adam, dit is so goed geskryf, ek het met 'n knop in my keel en 'n traan in my oog gelees. Dit is vir my 'n voorreg om vir 40 jaar vriende met jou skoonouers te wees en bewonder jou skoonma vir haar vasbyt en ek lees ook soms met 'n lag en soms met 'n traan die boodskappe wat ek kry. Groete Joey.

  • Ek is ook 'n versorger vir wie die verantwoordelikheid soms net te veel word. Soos nou - ek is fisies en geestelik moeg tot in my siel toe. Die afgelope ses jaar het ons van een mediese krisis na die volgende beweeg. Dalk, wie weet, is ek die volgende geval. My reserwes is bitter laag.

  • Albertje Fouche

    Ek versorg of, sal ek liewer sê, ek staan my man by in die aftakeling van Parkinson.
    Hy was nou vir 3 maande bedgebonde agv griep. Toe dit net begin beter, gaan kry hy blaasinfeksie, nou galstene.
    Hy bad, skeer en trek met moeite self aan, soms help ek as dit moeilik gaan. Dit breek my hart om my geliefde eggenoot van 54 jaar voor my oë te sien wegkwyn.
    Ek bemerk baie van bogenoemde eienskappe by myself. Ek het self 3 maade gelede 'n groot operasie ondergaan. Ek is 78 en hy 80.
    My geloof hou my staande. Ons dogter met haar 2 students seuns bly saam met ons op dieselfde erf. Sonder hul bystand sal ek dit nie maak nie

  • Wie versorg die versorger, word gevra. Ek is die versorger, maar het nie behoefte aan versorging nie. Wat ek graag sou wou hê is vryheid van kom en gaan en verlossing van skuldgevoelens as ek rebelleer teen pligsgevoelens. Ek raak opstandig in die wete dat ek 'n beter lewe kan leef sonder hierdie moeilike pasiënt. Al wat my menslikheid die oorhand laat kry is die wete dat dit ek kon gewees het wat versorging nodig gehad het.

  • That is the care that you need. To be able to take off, while someone else take over. To fill yourself up, so whoever you care for, can take from you, in ways needed. That's the care you need.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top