Wenners van die 2015 kykNET-Rapport Boekpryse

  • 0
wenners650

Geluk aan die wenners van die kykNET-Rapport Boekpryse 2015.
Foto: Bernard Voges

Die wenners van vanjaar se kykNET-Rapport Boekpryse sowel as die Jan Rabie-Rapportpys  is aangekondig tydens ’n middagete by die Atlantic Imbizo Studio in Kaapstad op Donderdag 19 November 2015. 

Vir die kykNET-Rapportpryse  is kontantpryse met ’n gesamentlike waarde van R500 000 toegeken aan die volgende skrywers:

  • Buys, Willem Anker (Kwela)
  • Nagmusiek, Stephanus Muller (Fourth Wall Books)
  • Ester, Kerneels Breytenbach, (Human & Rousseau)

kykNET-Rapport Boekprys vir Fiksie

Buys – Willem Anker (Kwela)

kykNET-Rapport Boekprys vir Niefiksie - sowel as die Jan Rabie-Rapportprys

Nagmusiek, Stephanus Muller (Fourth Wall Books)

kykNET-Rapport Boekprys vir Film

Ester, Kerneels Breytenbach (Human & Rousseau)

Die beoordelaars wat voor moeilike keuses gestel is in die besonder sterk kortlyste, was Thys Human van NWU, Louise Viljoen van US, Steward van Wyk van UWK en regisseur Gerrit Schoonhoven in die fiksiekategorie. In die niefiksiekategorie het Herman Wasserman van UCT, Irna van Zyl van New Media, Darryl David van UKZN en Herman Binge van Lion’s Head Productions behoorlik kopgekrap oor die uiteenlopende aanbod.  Besluite oor voorleggings in die filmkategorie is geneem deur Herman Binge en Gerrit Schoonhoven.

In ‘n tyd waarin Afrikaans onder beleg is, verryk hierdie skrywers ons taal met onvergeetlike romans wat bestaande grense (literêr en andersins) oorskry.

Een skrywer veral, het vanjaar gesorg vir ‘n ligte fladdering met die insluiting van sy debuutwerk op nie minder nie as drie kortlyse: Die Jan Rabie-Rapportprys, sowel as die kykNET-Rapportpryse by fiksie sowel as niefiksie. 

En met sukses! Die Jan Rabie-Rapportprys ter waarde van R35 000 word jaarliks toegeken en is een van die oudste pryse in Afrikaans vir debuutskrywers. Dit is vanjaar toegeken aan ’n dosent in musikologie aan die Universiteit Stellenbosch, Stephanus Muller, vir sy hoogs geslaagde tegniese waagstuk, Nagmusiek.  

Die beoordelaars vir die prys was die bestuurder van PEN Afrikaans, Danie Marais, die boekjoernalis Elna van der Merwe en Thys Human van Noordwes-Universiteit.

In beide kategorieë waar Nagmusiek die louere weggedra het, beskryf die beoordelaars dit as ’n enorme werk wat alle pogings tot genreklassifikasie ontwyk. “Deur hierdie teks met die Jan Rabie-Rapportprys vir debuutfiksie te bekroon, word ’n besonder ambisieuse poging tot die verken van nuwe terreine in die Afrikaanse prosa op gepaste wyse beloon.”

  • Hettie Scholtz, sameroeper, kykNET-Rapport Boekpryse
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top