Tien vrae: Willem Anker oor Buys

  • 4

Skrywers oor hul nuwe boeke: Willem Anker oor Buys.

Waarom het jy Buys geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Die inspirasie vir Buys was natuurlik die historiese figuur Coenraad de Buys. Daar was ‘n klomp dinge omtrent sy verhaal wat my dadelik na hom aangetrek het – onder meer hoe hierdie eenman-oorlogmasjien alle vorme van grense geminag het. Maar daar was ook ’n klomp dinge wat my onmiddellik van die karakter afgesit het: sy rassisme, sy behandeling van die mense naaste aan hom – selfs gerugte dat hy, soos talle ander van sy tyd, aan mensehandel deelgeneem het. Ek was aangetrokke tot die onoplosbare teenstrydighede.

Op ’n meer praktiese vlak is die rede hoekom ek die roman geskryf het, dat ek die Jan Rabie / Marjorie Wallace-beurs gekry het. Ek het vroeër begin voel-voel aan die projek, maar het gou besef dat dit iets was wat baie navorsing en baie (onverdeelde) tyd sou verg. Ek het toe aan ander kleiner dinge gepeuter tot die dag dat ek gehoor het dat ek die beurs gekry het. Toe het ek vir die eerste keer kans gesien vir ou Buys. En ek was ook nie ver nie, toe het ek begin twyfel of ’n dekade lank genoeg sou wees om hierdie karakter klein te kry!

Wat was die moeilikste aspek van die proses om hierdie boek te skryf, en hoekom?

Om met ‘n historiese karakter te werk wat ook moet kan funksioneer as fiktiewe karakter, is moeilik – jy word gebind aan sekere feite en ’n basiese lewensverloop waarvan jy nie kan afwyk nie. Soms het ek die feite gehad, maar die motiverings was duister – dan moes ek motiverings uitdink vir die vent. Hoekom sal hy sus of so aanvang as hy so pas presies die teenoorgestelde gedoen of gesê het?

Om die feite in die hande te kry, was ook ‘n ander storie. Ek het geskiedenis op skool gehad, maar het nog nooit self ‘n stuk geskiedenis nagevors nie. Die navorsing dy vinnig wyer uit as die karakter se persoonlike geskiedenis. ‘n Mens kan nie iemand begryp sonder om iets te weet van die tyd-ruimte waarbinne hy geleef het nie – hoe lyk die bossies op sy geboorteplaas, hoe werk ‘n snaphaan, hoe ruik ‘n VOC-pruik, hoeveel kos ‘n vat brandewyn in 1811?

Het jy op enige plek in die manuskrip ‘n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Daar was baie dooie punte! Ek onthou byvoorbeeld dat ek vir meer as drie weke op soek was na ’n bepaalde plaas waar Buys vir ’n jaar of wat gebly het. Ek het al wat museum is, gebel en kaarte gesoek, maar niks. Ek het opgegee en verder geskryf en probeer om niks oor die ruimte te sê nie. Natuurlik kan geen toneel werk as mens dit in ‘n vakuum laat afspeel nie. Ek het gelukkig uiteindelik die spoor gevind na die plaas met die hulp van ‘n gawe skrywer wat alles weet van die Langkloof en ’n hulpvaardige vrywilliger by ‘n museum wat alles weet van kaarte wat verkeerd geliasseer is. Die plaas was presies soos ek wou hê dit moes lyk – bruin grond, bruin klippe, volstruiskampe, een bergskilpad …

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en indien wel, wat?)

Die plot was natuurlik die wegspringplek – die geskiedkundige Buys, of soms die Buys soos hy in die kampvuurstories bly voortleef het. Ek het probeer om sover moontlik te hou by die historiese feite oor sy lewe, maar aangesien daar soms – veral wat betref sy latere lewe – nie veel feite te vinde was nie, is ek dikwels gedwing tot fiksie. Die uitdaging was om rondom die gegewe plot ’n bepaalde atmosfeer en ruimte te skep waarbinne die karakter kon begin asemhaal.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek was baie bevoorreg om saam met ’n wonderlike span mense te werk. Die manuskrip is in verskillende fases deur ’n hele paar vriende en deskundiges gelees wat almal wyse raad gegee het. My redigeerder, Louise Steyn, is ’n fenomeen soos ek nog nie teëgekom het nie. Sy het ontsettend fyn en noukeurig met die manuskrip gewerk en van die eerste sin af presies verstaan wat ek probeer aanvang. Ek sou vreeslik stupid gewees het om nie baie mooi te luister na elkeen van haar voorstelle nie.

Skrywers het nie ‘n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Skryf is harde werk, maar baie lonend, veral as mens nie finansieel afhanklik is daarvan nie. Daar is gelukkig altyd nog vraestelle om na te sien, waarvoor mens wel betaal word. Solank ek nie vir enige kookpot hoef te skryf nie, kan ek skryf wat ek wil, vir wie ek wil, en hoef ek met niemand behalwe myself te kompeteer nie. Dit is seker ’n ongesonde en perverse stokperdjie, maar ek kan my nie voorstel dat ek binnekort gaan begin seëls versamel nie.

Werk jy reeds weer aan ‘n volgende manuskrip?

Sodra ek my nasienwerk klaar het, moet ek begin redigeer aan die dramateks Samsa-masjien wat vroeg volgende jaar by Protea-uitgewers verskyn.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Hierdie lys sal seker elke dag verskil, maar op hierdie Woensdagmiddag lees hy so (in no particular order): Die swart narre Etienne Leroux, Kurt Vonnegut en George Saunders vir hoe hulle wys dat as jy werklik ernstig wil wees, jy ook, en veral, vreeslik snaaks moet kan wees; die nomades/digters Breytenbach, Wopko Jensma en Johan van Wyk vir hoe hulle tussen die letters van hul name kan verdwyn en verskyn en nooit gevang word nie; JM Coetzee en Don Delillo vir hulle obsessie met taal – elke woord word gelaai en dan geweeg en dan verder gelaai; Peter Handke, Samuel Beckett, Heiner Müller en Peter Verhelst vir hoe hulle dramas voortstoom soos die trein aan die einde van die tonnel; die markies De Sade en Antonin Artaud – want só ver is dit wél soms nodig om te gaan; Michel Houellebecq vir sy gelate woede; Cormac McCarthy, William Faulkner, Nick Cave, Bonnie “Prince” Billy en Tom Waits vir die vlaktes en stof en moerasse van die siel. En so aan …

Volg jy Poolshoogte? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Daar het al baie goeie Afrikaanse boeke die lig gesien wat met enige wêreldletterkunde kan meeding. En daar is al baie nonsens gebaar wat sonder die sistemiese broeikas nooit daardie eerste, selfingenome kwê sou gekwê het nie.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Aangesien lesers deesdae skaarser is as hoendertande, ysbere of katoolse pandas, lê die toekoms van Afrikaanse of watookalse letterkunde miskien in die opvoeding van ’n volgende generasie lesers. Stories en skrywers is daar te veel van, maar ek wonder soms wie nog oor 100 jaar ‘n roman of ‘n gedig sal wil of kán lees.

Hier is 'n foto van Willem Anker se werkspasie:

  • 4

Kommentaar

  • Willem ek het die boek met moeite gelees. Nie omdat dit moeilik was nie maar omdat dit absoluut goed geskryf is. Ek lees baie en wyd. Party boeke slaan ek stukke oor, ander neem my baie lank om te lees. 'n boek soos Kamp hoer kon ek glad nie lees nie ek het verstrik geraak in die hogere Afrikaans. Mens konsentreer so op die letterkunde dat die storie verlore gaan. Aan jou boek het ek ook lank gelees maar elke oomblik daarvan was ’n plesier. Die taalkunde is goed; dit versmoor mens nie, poëties, boeiend. Ek kon my absoluut inleef en ek kon elke plaaswerf ruik, beleef en hoor. Ek gaan elke boek van jou soek en lees. Doen so voort.

  • Ek is tans aan die lees aan Buys.
    Lanklaas het ek so uitgesien na 'n boek - na 'n taamlik ernstige geskimp, het ek die boek uiteindelik as present ontvang van my dogter.
    So is ek nog nie klaar gelees nie - seker al so drie-kwart. Maar daar is 'n paar dinge wat pla. Is dit net ek?
    Ek het gedink ek sou raad kry deur ander resensies te lees - maar net hogere lof word Anker toegeswaai. Dalk kan ek effe bevooroordeeld wees aangesien ek die geskiedenis ken, aangesien dit deel van my werk is. Dit voel vir my net dat die gedeeltes wat in die argiewe en van kaarte nagespoor kon word, so ver as moontlik uitgerek word. Met nie veel tussenin nie.
    Is die boek dalk te dik vir die storie? Daar is gedeeltes wat goed geskryf is, en mens wil-wil net begin voel dat jy die mens Buys beter leer ken - maar dan val dit weer terug na ellelange gedeeltes oor Kemp - waarvan tog meer bekend is.
    Buys word so half ingeweef in beskikbare bronne - en dis geen sonde nie. Maar dit raak 'n uitgerekte affêre, asook uitputtend by tye.
    My grootste beswaar, en ek verstaan dat Anker 'n moderne skrywer is en dat dit sy doel was om Buys 'n 'nuwe baadjie' aan te trek, maar kan iemand my asseblief help - want ek verstaan nie die gedeeltes waar Buys en een van die rofste rebelle van die tyd, Bezuidenhout, in mekaar 'inram' nie - verstaan ek dit reg?
    En dan later - Buys en die jong Duitse dokter Lichtenstein in die kamer op Zondagh se plaas (bl 273)? Dat hy daarna die jong slavinnetjie probeer vaskeer, maar voel dat sy 'storm en drang reeds dobber in die Duitser se pens'.
    Word dit van die leser verwag om in te sien dat hierdie uiterse woestaard wat maklik 'n werker kan doodtrap onder sy voete, ook 'n veel 'sagter kant' gehad het?
    Weereens, ek probeer die moderne aanslag van die boek begryp - maar die toontjie kom nie vir my by die oortjie uit nie.
    Ek voel verlore ... en teleurgesteld in die boek. Glo my, ek is taamlik verlig van geaardheid en nie baie oud nie - so dit kan seker ook nie as 'n verskoning gebruik word nie.
    My hoop is dat iemand my kan raad gee in hierdie verband. Of dan net verduidelik - asseblief!

    • Het sopas Buys klaar gelees. Ek wonder OOK oor hierdie seksuele gedrag waarvan Emile praat. Ek sou dit ook graag wou verstaan. Buys is vir my soos 'n Bach-orrelwerk - dit moet seker goed wees, maar ek verstaan dit nie.

  • Buys nou gekoop. Op besoek van London vir navorsing vir my "Man van Johannesburg". So ver werk Willem se skrywe 'n drosterhond revolusie in my. Ek gaat my oorgee anie storie met 'n skandelike genietingsgenot al loop my snot by my penpunt uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top