kykNET-Rapport Boekpryse 2015 (Jan Rabie-Rapport): Commendatio vir Nagmusiek deur Stephanus Muller

  • 0

Nagmusiek is bekroon met die 2015 Jan Rabie-Rapport Boekprys. Thys Human het die commendatio geskryf en Elna van der Merwe het dit by die geleentheid gelewer:

Stephanus Muller

Nagmusiek – ’n uitdagende, grensoorskrydende teks van 916 bladsye in drie afdelings en die produk van 13 jaar se onverdrote navorsingsarbeid – is in elke sin van die woord ’n gróót werk.

Aan die een kant kan dit bestempel word as ’n baken van intellektuele liefdesarbeid; as ’n lieflike obsessie; as die toonbeeld van die kreatiewe moontlikhede wat akademiese skryfwerk kan bied. Aan die ander kant is dit ook die produk van minder edele (en daarom dalk ook eerliker) beweegredes soos ’n verbete drang tot selfgelding, sardoniese selfkastyding en artistieke konkurrensie. Dit is tegelyk ’n outobiografie (van die fiktiewe outeur Werner Ansbach), ’n biografie (van die gekwelde, maar uiters talentvolle komponis, Arnold “Nolsie” van Wyk), ’n metafiksionele ondermyning van die hele projek van biografieskrywing en egodokumentasie, maar óók ’n volledig (uitgestelde) roman waarin die skrywer hom van ’n hele arsenaal van literêre middele bedien.

Nagmusiek verteenwoordig ’n heel ander benadering tot die filosofie van lewensgeskied-skrywing as dié van iemand soos byvoorbeeld die “Groot Biograaf” wat die katakombes van die JS Gericke-biblioteek bewandel. Daar word op selfrefleksiewe wyse geworstel met vrae rakende die beperkings van volledigheid; die moontlikhede van alternatiewe stories; die aard van en juiste vorm waarin biografiese gegewens aangebied behoort te word; die aandadigheid van die biograaf aan die totstandgebringde lewe; asook die gesaghebbendheid en waarheidsaansprake van sogenaamde biografiese “feite”. En terselfdertyd ontwikkel twee besonder aangrypende lewensrelase uit dié flardes van bespiegelinge en bepeinsings.

Ten spyte van die soms ontstellende temas wat in die werk aangesny word, is Nagmusiek nooit swaartillend of serebraal nie. Inteendeel: dit is eerder aangrypend en meevoerend. Om nie eens te praat van die uiters vrugbare oedipale afleidings wat ’n geesdriftige psigo-analis na aanleiding van die moederkompleks en reeks “vadermoorde” in die teks sou kon maak nie.

Stephanus Muller se Nagmusiek is in meer as een opsig ’n geheuemonument en ’n waardige wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir debuutfiksie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top