Watter Suid-Afrikaanse politici ondersteun ons vir Field?

  • 6

Prent: Canva

............
Jacinda Ardern, eertydse Nieu-Seelandse eerste minister en een van my heldinne, het onlangs aangekondig dat sy betrokke is by ’n projek genaamd Field.
.............

Jacinda Ardern, eertydse Nieu-Seelandse eerste minister en een van my heldinne, het onlangs aangekondig dat sy betrokke is by ’n projek genaamd Field.

Laat haar in haar eie woorde verduidelik wat dit is, soos wat sy op Instagram gedoen het: “I wanted to share a wee project I’ve been working  on called Field. It’s a twelve-month programme that supports and connects global political leaders who embody political leadership that draws on the strength of kindness and empathy. Field is hosted by Global Progress, and will create a network of likeminded political leaders who use pragmatic idealism, speak to people with hope and optimism rather than fear and blame, and want to unite rather than divide as we look to solve the challenges ahead ... All part of my ongoing mission to rehumanise leadership, and just be useful.”

Sy begin klein – eers net Europa, en dan later uitbrei na die res van die wêreld. Dis ’n konsep wat my opgewonde maak. Leierskap wat mense eerste stel. Leierskap wat bruikbaar wil wees. Is dit nie wat ons juis nodig het nie? Ek kan dink aan ’n hele paar mense wat uitstekend deel kan wees van en bydraes kan lewer in daai netwerk wat sy beskryf! Dink maar aan Gift of the Givers se leiers. Daar is soveel organisasies wat moue oprol en met “kindness and empathy” ’n verskil maak.

Toe lees ek weer versigtig en stadig. Sy praat van “political leaders” en daar sak my vlaggie. Dis nie so maklik om ’n lys te maak van politieke leiers wat met kindness and empathy lei, wat met mense praat uit optimisme en hoop eerder as vrees en blaam, en wat mense bymekaar wil bring eerder as om wîe tussen hulle te bring.

Al die leiers aan wie ek kan dink wat daai beskrywing pas, is juis buite die politiek. Dalk, dink ek soms, is hulle effektief juis omdat hulle agenda nie polities is nie, maar eerder wentel om die kindness and empathy wat Ardern beskryf. In twee sinne het sy al die  politieke leiers en rolspelers van die bekendste politieke partye in ons land gediskwalifiseer. Ons nuut herkose president praat van eenheid en saamwerk, maar dis grootliks as gevolg van kiesers wat hulle stem dik gemaak het eerder as uit diepe oortuiging.

Vele koerantopskrifte prys die ANC-leierskap omdat hulle die uitslae van die verkiesing aanvaar het en vreedsaam beheer wil deel. Dis nie ’n prestasie nie, dis die absolute minimum wat in ’n demokrasie verwag word. Zuma wat geweld dreig, Malema wat anargie as leefstyl bedryf ... húlle is nie die maatstaf waarteen ons politieke uitnemendheid behoort te meet nie.

Ramaphosa het hoop gegee toe hy aan die begin van die pandemie al die politieke leiers bymekaar gekry het om saam besluite te neem en advies te gee. Dit was egter ook nie lank voor die wiele van daai eenheidstrein afgeval het nie.  

Wie bly oor? My natuurlike instink was om te dink dat die vroulike politieke leiers beter sal vaar as die mans, en dat ek darem uit hulle geledere ’n ordentlike lys sal  kan saamstel.

Ek was verkeerd.

Dalk verstaan ek Ardern verkeerd, en hoef hulle nie aan alles wat sy in daai twee sinne genoem het, te voldoen nie. Dalk is 30 persent in hierdie geval regtig ’n slaagsyfer.

Of dalk het Field nog nie by Suid-Afrika, of die suidelike deel van Afrika, of énige deel van Afrika, uitgekom nie juis omdat die oes so skraal is. Nie onder leiers nie, onder politieke leiers. Dalk is die vraag nie hoekom ons leiers nie bakens van etiese, humanitêre leierskap is nie. Dalk moet ons vra wat omtrent ons politieke sisteem mense met ’n morele kompas afskrik van deelname.

Eers as ons daai vraag kan beantwoord, sal ons begin om ’n verskil in ons politieke landskap te sien.

Lees ook:

Uncle Cyril se government van national unity: ’n huis met baie wonings?

 

  • 6

Kommentaar

  • Connie Kerkmuis

    Baie eenvoudig. Politieke mag is aanloklik vir mense met sielkundige versteurings soos narsiste, psigopate, kriminele en dié klas van mense. Mense wat nie een oomblik sal huiwer om vuil te speel nie.

    Dit is geen toeval dat die stempersentasies van 2019 tot 2024 met amper 10 % geval het nie. Die georganiseerde partypolitiek het geen oplossings en antwoorde nie. Inteendeel, dit is die politici wat die meeste skade aanrig, chaos veroorsaak en verdeeldheid saai. Hulle doen dit want so bekom hulle mag. Dit is so oud soos die berge. Die Latynse uitdrukking DIVIDE ET IMPERA, staan nog sterk. Ek hou nie van NGO's soos Afriforum nie, maar die ouens het darem al besef die enigste moontlikhede lê buite die georganiseerde politiek. Ek volg ook die partypolitiek. Dis vir historiese redes interessant en belangrik, maar die partypolitiek het geen oplossings vir die land se probleme nie. Inteendeel.

    Ook glad nie uniek aan ons land nie. Kyk Donald Trump in VSA en ander ongure karakters wat gelok word deur die politiek.

  • Bettina, ek was self nogal gaande oor Jacinda, net om toentertyd op die eilandjie te verneem dis eintlik maar die buitelanders se harte wat warm vir haar klop. Dit klink na ‘n oulike idee en NS het dierbare mense, maar ons aarde is ‘n intrigante, pikante en militante toneelstuk en die verhoog ongelukkig besaai met leë dose of props. Nog niemand kon die nodigheid van politici aan my verduidelik nie, want sien: ‘n werk moet bv. gedoen word en daai werker moet die beste aanstelling wees, nie geaffilieer aan ‘n party nie. As ons van papier na digitaal kan migreer, kan ons sekerlik van politici ontslae raak en ons ‘n beter stelsel verbeel waar ego nie die enigste vereiste vir ‘n aanstelling is nie. Sal dit aanmatigend wees om te sê: So spreek die jirre? Dominees doen dit en hulle is eintlik nie veel anders as politici nie. Amen, suster.

    Ns. Kyk nou net hoe het die jirre vir Kerkmuis gestuur om die pad vir my gebrabbel gelyk te maak, dan lyk dit darem nie of ek babbels hap nie. 👍😅 Dis seker al slaaptyd.

  • Connie Kerkmuis

    Jy sal eers moet kom dat ek jou in die Atlantiese oseaan kan doop, Henning. Jy kan nie wil leer een profeteer daarsonder nie. Onthou tog jou baaibroek.

  • Doop, tsk ... rituele het sekerlik sy tyd en sy plek, sien ek. Kyk hoe klou van die uitverkorenes in die Bos aan die ryk tradisie van koshuislewe. Party verander mos water in wyn en ander wyn in pis op 'n laptop.

    Oi.

    Ek wil nog so graag gaan skinny-dip voor my dood, maar daai kant is te koud.

  • Hans Richardt

    Ai Connie Prinsloo(Kerkmuis), jy wat agv ontgroening in Over-de-Voor getrek het, wil nou doop...
    Ontgroening was hard in sewentigs. Tog word eerstejaars vir 'n week ingelyf in studentwees hier by Bo-Karoo opleiding.

  • Connie Kerkmuis

    Mens noem dit humor, Richardt. Jy kan dit gerus probeer. Dankie tog vir mense soos Henning. Jy misgis jou in elk geval. Ek is nie Connie Prinsloo nie. Gaan stap jy nou maar liefs eerder so draai op monumentkoppie. Lyk of jy die vars lug nodig het. Dan kan jy sommer weer al jou helde se gesigte ook vir 'n slag sien. Ek gaan nou self bietjie 'n draai stap. Ons sit onsself dood. Sit is die nuwe rook sê hulle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top