Wat Werner doen met sy drie miljoen deur Tertius Janse van Rensburg, ’n resensie

  • 0

Titel: Wat Werner doen met sy drie miljoen
Skrywer: Tertius Janse van Rensburg
ISBN:  978 0 6396 0218 9
Uitgewer: LAPA

Jeugromankompetisie 2019: Beste debuut

Wat sal jy doen as jy die Lotto wen?

Dit is die vraag wat Werner, TC en Einstein hulle een pouse afvra. Soos die meeste graad 9-seuns droom hulle oor sportmotors en privaat vliegtuie. Vir die grap besluit die drie seuns om regtig elkeen ’n Lotto-kaartjie te koop. Hulle vat vir oupa Ig (Werner se oupa wat Alzheimers het) om “roomys” te koop, en sonder dat hy besef wat aangaan, speel hulle die Lotto.

Dan gebeur die onverwagte: Hulle wen wraggies meer as R3 miljoen! Werner voel baie skuldig oor hoe hulle sy siek oupa misbruik het, en hulle besluit om nie die geld te eis nie ... maar dan verloor Werner se ma haar werk. Oupa Ig se gesondheid begin agteruitgaan, en Werner is baie bang sy ma trou met die nare oom Daan. Nou begin die groot uitdaging: Sy ma glo dobbel is doodsonde, so hoe op aarde gaan hulle die geld by haar uitkry?

Inleiding

As leser en resensent van Wat Werner doen met sy drie miljoen as debuutroman in 2019 wil ek meld dat hierdie lees- en evalueringsproses vir my ’n groot voorreg en uitdaging was, buiten die feit dat dit pure leesgenot is. ’n Voorreg omdat dit uitstekend is en ek baie min kritiek het en ook omdat hierdie jeugroman gemaklik aan die ekstrinsieke kriteria vir jeugliteratuur voldoen. Ek is seker dat die leser deur die lees van hierdie novelle ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en dat die skrywer ’n (aktiewe) aandeel daaraan het. Dit was ook ’n uitdaging omdat die boek definitiewe literêre waarde het en selfs voorgeskryf sou kon word; en uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer. Omdat die novelle my baie slim geskryf is, skoon en sonder skandes of skades, wil ek die skrywer salueer deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.

Die skrywer

Tertius Janse van Rensburg is ’n siviele ingenieur wie se linker- en regterbrein al sy hele lewe in oorlog verkeer. Vir dekades het sy linkerbrein die oorhand terwyl hy eers vir Transnet geboue bou en later ’n wiskunde-onderwyser en -dosent is. Na sy aftrede begin sy regterbrein ’n paar veldslae wen, en hy begin skryf. Hy publiseer ’n paar novelles en kortverhale in tydskrifte, maar sy groot deurbraak kom toe hy as die beste debuutskrywer in die LAPA Jeugromankompetisie 2019 bekroon word.

Jeugliteratuur

Die werk is ’n tipiese novelle, spesifiek jeugliteratuur, wat ook bekend is as oorgangsliteratuur. My eie analitiese denke is by die lees daarvan geoefen omdat so ’n ongewone teks my gestimuleer het om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – lewe, siekte en dood, die optrede van verskillende karakters (Werner, sy vriende en ander tieners, asook die volwassenes in sy lewe).

Die verhaal is toepaslik vir ouderdomsgroep 15, veral seuns. Dat meisies van hierdie ouderdom hierin sou belangstel, is wel moontlik – ek dink hulle sal kan identifiseer met die interessante intrige en ontwikkelende romantiese verhoudings.

Lesers se verbeelding kan aangewakker word deur die proses waarin hulle hulself kon inleef in die lewens van ander, asook die erkenning van motiewe en temas, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Verder kan die leser opnuut bewus raak van die kreatiewe krag van taal, veral die karakters se talle vergelykings wat vars is en nie clichés nie. Voorbeelde hiervan is dat Werner so deurmekaar soos ’n albaster in ’n tuimeldroër voel (176) en oupa Ig wat só verswak het dat sy gesig soos gekreukelde koerantpapier lyk (181).

Tekstuele aanbieding

Ek wil die skrywer gelukwens met die visuele wyse waarop die vertelling aangebied is. Op die buiteblad speel die illustreerder van die jeugroman (Zinelda McDonald) met kleure van ligblou, liggroen en effens donker groen. Die titel is in skerp kontras, met rooi, meestal hoofletters. Verder laat dit die leser vermoed dat hier sprake gaan wees van nommers, skaakstukke, ’n reistas, ’n kompas (dalk horlosie), gedraaide en stokkieroomys, ’n bloedrooi Ferrari, ’n rooi tekkie, ’n stuk pizza en geldnote. Die stukkie pizza moes dalk eerder die pasteitjies gewees het wat Einstein eet ... Hierdie prentjies word om die beurt herhaal binne-in die verhaal by onderskeie hoofstukke. Waaroor ek gewonder het, was waarom daar op die buiteblad ses nommers is (soos in die Lotto) en in die binneblad net vyf ... Ek was nie seker of dit ’n “fout” is en of daaragter dalk simboliese betekenis skuil wat ek nie raaksien nie.

Nog prentjies is wit wolkies (wat dalk verwys na drome), ’n drieverdiepinghuis, ook ’n spoetnik en ’n seilskip. Laasgenoemde twee prentjies het my laat wonder of die storie te make het met die uitdrukking “as my skip kom ...” wat gewoonlik verwys na geld, en die spoetnik wys dat iemand in die verhaal na die sterre reik. Hierdie paratekste maak die leser klaar gereed vir ’n leesavontuur, omdat die prente en woorde elk in die eie medium dieselfde verhaal vertel.

In Wat Werner doen met sy drie miljoen is daar ’n duidelike ouditiewe intertekstuele verwysing as metateks – ’n teks-binne-’n-fiksieteks: Hier is dit ’n werklikheidsteks binne ’n fiktiewe teks. Dit is naamlik waar TC in die klas die liedjie van Lukas Maree (“Ek sou kon doen met ’n miljoen”) neurie, tot Werner se ontsteltenis. Deur die liedjieteks vestig die verteller-skrywer-karakter ook aandag op die aanbiedingswyse as sodanig; so ook verlewendig die karakter en ʼn fiktiewe wêreld word gesuggereer wat omvattender as die betrokke teks is. Die karakters bestaan as’t ware ook buite die teks. Iets waaroor ek onseker is (selfs twyfel), is of hierdie liedjie dieselfde assosiasie by tieners sal opwek as wat by my en die skrywer se generasie gebeur. Ek het die liedjie duidelik “gehoor” toe ek die titel van die verhaal sien.

Karakterbeelding

Die hoofkarakter, Werner Auret, en sy vriende TC, Einstein (Albert) – die driemanskap – is in graad 9. Annika en Abigail is in dieselfde graad en hulle is almal in Hoërskool Algoa. Verder woon almal in Port Elizabeth. Werner en oupa Ig (Ignatius) – en later ook TC – gaan visvang by Koningstrand. Die seuns huur ’n posbus by Newtonpark. TC se pa is direkteur by ’n farmaseutiese maatskappy (DJP), en is volgens TC ’n werkholis en meestal ’n fisies en emosioneel afwesige pa.

Die leser word voorgestel aan heelwat volwassenes in Werner se lewe – sy ma (Dalene), Stina wat by hulle werk, oom Daan (’n antagonis), dr Nell (skoolhoof), mnr Pretorius (tegnologie-onderwyser), die wetenskap- en wiskunde-onderwysers, die taaalonderwysers, die tweeling (Albert en Annika) se ma (Erna), oupa Ignatius en sy oorlede vrou, Susan, wat doof was en met wie hulle gebaretaal gepraat het (wat Werner steeds kan praat), en ook TC se ouers in ’n mindere mate.

Die feit dat oupa Ig aan Alzheimers ly en dalk besig is om te sterf, is iets wat die leser se ervaringshorison kan uitbrei – meer inligting hieroor en deernis daarvoor word in die verhaal gebied, veral omdat Werner saam met sy oupa die verskeie fases van sy siekte intens beleef. In ’n ander trant is daar interessante inligting wat verweef is in die prosesse wat die seuns moet volg om aan die Lotto deel te neem. Sommer net so terloops – dit is oulik hoe die getalle 81 (Oupa se ouderdom) en 18 (die ouderdom wat ’n mens moet wees om aan die Lotto te kan deelneem – omgeruil word.

Die karakters se belangstellings word meestal genoem – visvang (oupa Ig, Werner en later ook TC); skilder met waterverf (Werner se ma Dalene); Annika se musieklesse; skaak (Werner, TC en Annika); judo en gholf (TC leer dit by sy pa); en rugby (Einstein). En in omtrent alle situasies is dit duidelik dat TC “slim verby” is (bl 88).

Konflik en spanning

Die hooftema is die oplossing van hulle finansiële probleme, daarmee saam ook Werner se verhouding met homself (om aan homself te glo en of hy daartoe in staat sal wees om die skaakkompetisie te wen). Werner se verhouding met sy vriende, Annika, ma, oupa en oom Daan is ’n belangrike tema. Daarbenewens speel TC se verhouding met sy ouers – en hulle afwesigheid of gebrek aan belangstelling, met dié dat hy ’n laatlammetjie is – ook ’n rol.

Elemente van emosionele spanning vind plaas wanneer gebeure veroorsaak dat Werner nie seker is of hy TC se oordeel kan vertrou nie – dikwels wil Werner tou opgooi, omdat die uitdagings verbonde aan beleggings koop en verkoop op die aandelemark te veel is vir hom. Hy sê dikwels dat hy nie verder kan aangaan met die plan nie. Wanneer Werner hoor Annika gaan saam met Roelof sokkie toe, brand sy oë “van die son en die vernedering” (118).

In die seuns se verhoudings leer ons die basiese konflik van die verhaal ken, wat geïntensiveer word deur die feit dat beide te make het met tipiese onderonsies tussen seuns (agter die busstoor) en rugby- en skaakwedstryde op hoërskoolvlak. Hierdie gebeure veroorsaak dat Werner leer om sy eie oordeel te vertrou. Verder volg hy toenemend sy intuïsie (om sy ma en ander mense te wil help) en streef sy eie waarheid na wat lei tot die ontdekking van sy eie identiteit wanneer TC hom help om sy drie miljoen te wen en te gebruik.

Gebeure en intrige

Die verhaal begin met die begin en loop na die einde, terwyl daar wel enkele kort terugflitse in karakters se gedagtes is. Die dialoog (sowel as die interne gedagtegang van Werner) word benut om die konflik te beklemtoon. Daar is verskeie intriges soos wat dit deur verhoudings tussen karakters gemanifesteer word. Die leser se kennismaking gebeur soos wat die leser vir Werner, sy ma en oupa en sy vriende leer ken. Hier maak ons veral kennis met die protagoniste (Werner, en saam met hom ook TC – die twee planmakers), wie se antagoniste Bradley die boelie, en later Roelof Louw die hoofprefek en skaakspeler vir Oostelike Provinsie is.

Dit gaan hoofsaaklik in die verhaal oor die oplossing van finansiële probleme. Wat daarmee saamhang, is Werner se twyfel aan homself, sy nagmerries en vrese dat hulle ontmasker gaan word, en ook dat hy sy oupa misbruik en sy ma belieg. Ook vind daar versoening tussen TC en sy pa plaas, waardeur TC se innerlike konflik opgelos word. Werner en sy vriende keer dat oom Daan die stiefpa van Werner word; Werner help dat daar ’n verhouding tussen mnr Pretorius en ma Dalene ontstaan en ontwikkel.

Die klimaks vind plaas tydens Werner se deelname aan die skaakkompetisie, wanneer hy weer aan homself twyfel wanneer TC hom nie voldoende kan voorberei op die laaste fase met Roelof nie – ’n voorval wat nogal baie spanning veroorsaak. Die skaakkompetisie neem die meeste van die verteltyd in die novelle in beslag. Hierdie verhaalmoment is terselfdertyd ook die krisis, wanneer die leser wonder of dit ’n keerpunt en die begin van oplossings sal wees: Gaan die problematiese finansiële situasie oor Werner se skoolfonds wat sy ma nie kan betaal nie, regkom? Wat van Werner se ma se werk en Stina se toekoms? Wat van die DRE-aandele wat erg daal? Hoe gaan hulle vir Oupa help wat toenemend verswak? Gedurig is dit ’n uitnodiging vir die leser se verbeelding om in te vul wat sou kon gebeur. Daarom is Werner en TC se vernuwende planne telkens so verrassend.

Ruimtebeelding

Daar is goeie wêreldbou in die boek. Melding word gemaak van winkels in Port Elizabeth (Wimpy, McDonald’s, Spar, Spur, The Coffee Shoppe), die Algoa Busdiens en die hoërskool. Bradley (een van die antagoniste en die boelie by die skool) dra Bronx-skoene. Verder is daar talle verwysings na werklike plekke in Port Elizabeth en internasionale gebeure, persone, films en ander items (Lotto, Ithuba, Idols, Superstars, Smarties, Monopoly, Bill Gates, Egoli, Chuck Norris, Liewe Heksie, Leon Schuster) wat met die karakters en gebeure te make het. Dit kom ook voor in verband met visvang saam met oupa Ig (Penn-katrolle, tjokka vir aas, die winkel Hook, Line & Sinker, ’n Snell-knoop). In die skaakkompetisie het die karakters te make met die Reversed Sicilian Defense en ’n Engelse opening, ’n en passant-skuif, Stonewall Attack en Queen’s Indian. Verder is daar verskeie elektroniese en internetverbindings (TC se iPhone lyk soos die Starship Enterprise se instrumentpaneel; die vriende stuur vir mekaar WhatsApps; hulle skep ’n gmail-adres vir oupa Ig).

Die verhaal bevat intieme ruimtes, soos huise (Werner, die tweeling en TC s’n). Die skool en ander genoemde plekke in PE dien as konkrete ruimte, terwyl sosiale ruimte die spanning tussen individue en die skoolgemeenskap belig.

In die verhaal is daar oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Oop ruimtes is die paviljoen waar die karakters dikwels tydens pouses sit. “Inkluistering” (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap – soos wat dit in die tronksel in Werner se droom verbeeld word; so ook oupa Ig wat aan sy hospitaalbed gekluister is tot sy dood. Belangrik in verband met Werner se belangstelling om met mense te werk is die Ons Tuiste Tehuis vir Alzheimer-pasiënte wat afbrand. Dit alles beperk fisieke, psigiese of sosiale beweegruimte en skep spanning.

Vertelperspektief

Die eerstepersoonsverteller se fokus is nie staties is nie, omdat dit (deur Werner se fokus) beweeg tussen gepolariseerde groepe (Werner, sy ma en oupa en vriende teenoor oom Daan en party van die onderwysers) en dinamies verskuif van buite (gebeure) na binne (sy innerlike monoloog). Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word. Ruimtelike fokalisering versterk dikwels die fokalisering van die gemoedstoestand of situasie van Werner, terwyl die ruimte dien as beklemtoning van sy verwarring en konflik oor watter waardes hy in homself kan integreer om sodoende sy identiteit te bevestig.

Die perspektief van die verteller (Werner) is betroubaar en sy innerlike monoloog en dialoog verstaanbaar. Werner se posisie en wedervaringe help die leser om te identifiseer deurdat hy die gebreke en onvolkomenheid in sy ma, oupa en vriende aanvaar en die beste bied wat hy as karakter kan bied. Laasgenoemde behels emosionele ondersteuning wanneer Bradley vir TC agter die busstoor bykom omdat TC vir hom Dalene Matthee se verhaal gestuur het en hy deur die onderwyseres verneder is. Werner is die een wat die oplossing uitdink om met Oupa gebaretaal te praat wanneer hulle namens hom die Lotto-kaartjies koop en vir hom ’n posadres en bankrekening oopmaak, en ook wanneer hy aktief deelneem aan die skaaktoernooi en TC se planne volg.

Kultuuroordrag

Deur die lees van die novelle maak die leser kennis met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme, veral in terme van diversiteit van geslagte, beroepe, kulture, ryk en arm. Deur Werner se lewe word die leser bygestaan in die proses van aanpassing en leer die leser watter rolle hy in die samelewing kan speel – spesifiek kan in die boek verwys word na moontlike bedrog, oom Daan wat dalk Werner se stiefpa word, en ontluikende tienerseksualiteit in die vorm van verliefdheid (tussen Werner en Annika, TC en Abigail). Só vind kultuuroordrag plaas en leer ken hy sy vryheid, regte en verpligtings.

Kultuuroordrag word ook gevind in humor en kreatiewe taaluitings – veral Albert veroorsaak telkens humor wanneer hy dinge nie goed verstaan of hoor nie – hy verwar ’n “anonieme skenker” met ’n “intieme skenker” (100), en hy hou nie daarvan as Werner “bedoelloos” is nie (62). Selfs dat sy bynaam Einstein is, is in ironiese kontras hiermee. Ook die seuns se byname vir onderwysers is humoristies: Spyker vir mnr Pretorius, Proefbuis vir die wetenskaponderwyser en Pythagoras vir die wiskunde-onderwyser. Selfs die verwarring rondom die gebruik van gebaretaal veroorsaak humor. Daar is ook selfspot as Einstein sê TC praat sulke “grand Afrikaans” en TC vra of dit “soos ’n whitey” is. As Einstein sê TC praat Afrikaans soos ’n professor, spot TC: “Cool my broe. Thanks virrie komplemint” en Werner dink hy probeer klink soos Nathan Trantraal skryf (57). Ook lees ons Werner se gedagtes oor sy ontmoeting met TC: “Die ander bruin seuns het almal saam agter in die klas gesit, so dit was vir my snaaks dat hy nie by hulle gaan sit het nie” (15).

Na my oordeel is hier in die novelle ’n gebalanseerde uitbeelding van interkulturele verhoudings sonder dat enige kultuur eensydig gestereotipeer word.

Universele temas

Daar word in Wat Werner doen met sy drie miljoen universele temas uitgebeeld, naamlik samewerking, oplossing van probleme, die karakters se soeke na eie identiteit (Werner wat nie eintlik baie van homself dink nie en tog uiteindelik aan die skaakkompetisie deelneem en planne maak om sy ma uit haar finansiële verknorsing te red) en hulle groei na volwassenheid (veral TC wat kontak met sy pa maak en help dat hulle verhouding ontwikkel).

Die godsdienstige tema in die verhaal is iets waarmee menige Afrikaanssprekende jongmens kan identifiseer – Werner se ma gaan Bybelstudie toe en kerk toe, en dikwels word gemeld dat Werner bid. Sy ma noem dat geld van die Here af kom. Ook Stina wat by hulle werk en later afgedank moet word wanneer Dalene haar werk verloor, is godsdienstig – sy bid dat daar uitkoms sal kom.

Dit is duidelik dat veral die momente van spanning en konflik in die verhaal intens emosioneel en ideologies gelaai is (aangaande die Lotto en aandelemarkbeleggings). Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie as sedelesse of preke na vore nie.

Slotopmerkings

Vir my as leser was die kreatiewe vergelykings en metafore, ook die outentieke taalgebruik, die gebruik van Werner se innerlike monoloog en dialoog, ook die digverweefdheid van karakters en gebeure, uitsonderlik en verfrissend. Dit is vir my asof Werner se twyfel, onsekerheid en bekommernisse oor finansies deur die kreatiewe en humoristiese (soms ironiese of spottende) taalgebruik gebalanseer word.

Hartlike gelukwense aan die skrywer en voorspoed vir sy toekoms as fiksieskrywer. Die lees van hierdie novelle was voorwaar verfrissend en uitdagend.

Lees ook:

Bethel se berg deur Maretha Maartens, ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Baster deur Jan Vermeulen

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top