Wat sê Bettina? Is korrupsie-ontbloting doodsake?

  • 1

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
Om regspleging in Suid-Afrika te probeer beoefen, is nie vir sissies nie. Probeer jy korrupsie oopvlek, is dit feitlik so goed soos dat jy jou eie doodsvonnis onderteken.
........

In 1994, die jaar waarin ek hofverskynings begin doen het, het ek voor ’n landdros verskyn wat elke dag voor hy die hof ingegaan het, sy hofordonnans ingeroep het. Dan het hulle saam gebid voor die landdros sy pistool nagegaan het en die hofsaaltrappe bestyg het. Die hofordonnans was in die meeste gevalle ’n Moslem, maar moes maar teen wil en dank saambid.

Ek het toe gedink die man is net eksentriek. Later is ’n ander landdros in dieselfde hof deur ’n beskuldigde met ’n mes aangeval.

Een van my klasmaats, ’n landdros in Khayelitsha, het vir jare lyfwagte gehad vir persoonlike beskerming. Nog ’n ander aanklaer, nie ’n klasmaat nie, maar iemand wat ’n jaar of twee voor my op universiteit was, het omgewingsake in Hermanus-hof gedoen. Die treitering wat sy van beskuldigdes, veral dié in georganiseerde misdaad, deurgemaak het, het tot haar selfdood gelei. Die lys gaan aan en aan. Om regspleging in Suid-Afrika te probeer beoefen, is nie vir sissies nie. Probeer jy korrupsie oopvlek, is dit feitlik so goed soos dat jy jou eie doodsvonnis onderteken.

Babita Deokaran is waarskynlik die bekendste fluitjieblaser wat die afgelope aantal jare in Suid-Afrika vermoor is. Geregtigheid het nog steeds nie geskied nie. Ses mans is aangekeer, aangekla en gevonnis, maar die meesterbreine wat dit alles beplan het, loop nog op vrye voet rond. Die ondersoek in die korrupsie wat sy probeer ontbloot het, is ook nog steeds nie voltooi nie, vier jaar na haar dood.

Gaan geregtigheid ooit in haar geval geskied? Ek hou nie asem op nie.

Dan is daar die politieke sluipmoorde in KwaZulu-Natal. Met feitlik elke verkiesing en tussenverkiesing, groot of klein, word politieke teenstanders, of sommer net ander wat hoër op die verkiesingslys is, summier vermoor. Dis nie eens meer nuus nie.

Charl Kinnear is vermoor terwyl hy na bewering korrupsie in die polisie ondersoek het. In 2025 word die bewerings nog steeds gemaak – daar is selfs al ’n kommissie aangestel, maar steeds is daar nie een enkele hoëprofielarrestasie nie.

Malema se houding dat hy nie bang is vir enigiets wat ’n hof kan besluit nie, is nogmaals bewys dat daar geen respek vir reg en geregtigheid in Suid-Afrika is nie. En Malema maak natuurlik notas uit sy eertydse mentor Jacob Zuma se optrede.

.......
Op Vrydag 5 September, is die likwidasieprokureur Bouwer van Niekerk helder oordag in sy kantoor doodgeskiet. Daily Maverick en Moneyweb berig dat Van Niekerk ten tye van sy dood in die proses was om die likwidasie van NTC Global Trade te hanteer.
.......

En nou onlangs, op Vrydag 5 September, is die likwidasieprokureur Bouwer van Niekerk helder oordag in sy kantoor doodgeskiet. Daily Maverick en Moneyweb berig dat Van Niekerk ten tye van sy dood in die proses was om die likwidasie van NTC Global Trade te hanteer. Wie agter hierdie besigheid sit, is nog nie bekend nie, maar die besigheid is as ’n tipe Ponzi-skema gekarakteriseer. Na bewering het Van Niekerk doodsdreigemente ontvang indien hy sou voortgaan om die likwidasie te hanteer. Hy het hom nie laat afskrik nie. Later Vrydag het Kurt Knoop, wat saam met Van Niekerk aan hierdie likwidasie gewerk het, as sakereddingsvennoot bedank nadat hy ook doodsdreigemente ontvang het.

Daar is heelwat spekulasie en nog nie genoeg feite nie, maar die duidelike tendens in hierdie tipe sluipmoordaanvalle is dat die moordenaars na ’n ruk aangekeer word, maar die meesterbreine selde, indien ooit, aan die pen ry. Ook hieroor kan gespekuleer word. Word hulle polities beskerm? Het hulle die polisie op hulle betaalstaat? Of dreig hulle gewoon die polisie soos wat hulle die praktisyns dreig?

Is ons land op ’n kantelpunt waar eerlike werkers gewoon uitgemoor en vervang word met ander vir wie die lyne in grys getrek word? Waar laat dit ons as ’n samelewing? Hoe lank kan ons nog bekostig om gyselaar gehou te word deur kriminele elemente wat net maak en breek voordat ons samelewing onherstelbaar knak?

Die groter vraag is hoekom daar so voete gesleep word met ordentlike fluitjieblaserwetgewing waarin die fluitjieblasers beskerm word? Ten spyte van heelwat beloftes tydens die staatsrede vroeër vanjaar het daar van wetgewing dadels gekom.

Wat weet ons politici wat ons nie weet nie?

Lees ook:

Persverklaring: PEN Afrikaans veroordeel die sluipmoord op Bouwer van Niekerk ten sterkste

Kriminele kartelle maak van Suid-Afrika ’n tweede Meksiko

Wat sê Bettina? Malema kom sy haatspraak-moses teë

Wat sê Bettina? Myburgh, Malaka en die Dior-sak met R60 000 kontant

Wat sê Bettina? Om te skiet of nie te skiet nie?

Wat sê Bettina? Oor nasionale dialoog

Wat sê Bettina? Misdaad kyk nie na kleur nie

  • 1

Kommentaar

  • Bettina, bloot om dit met my 1.2i EECO op die oop pad te waag, is doodsake.

    Om politici en regslui af te maai omdat jy deel is van georganiseerde misdaad is een ding, maar selfs op voetsoolvlak het algemene verdraagsaamheid die wyk geneem.

    Onthou jy nog ‘n tyd toe mense dankbaar was as jy links van die geel streep gaan ry wanneer dit veilig is om te doen? Daar is geflikker en gewaai, en wie weet, dalk selfs wedersydse waardering gewees.

    Deesdae beter jy fokken vinnig voor my padgee, of ek ry jou vrek. Waarheen moet ek net verdwyn? Sê my. Nee, ek weet nie wat word van die ou wêreld nie.

    Ek dink ek gaan vir my gun kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top