
PEN Afrikaans betreur en veroordeel die sluipmoord op Bouwer van Niekerk. Dit is ’n tragiese en skokkende verlies van iemand wat bekend was as ’n onkreukbare regspraktisyn, ’n toegewyde landsburger, en ’n geliefde vriend en familielid. Dit is ook ’n laakbare aanval op ’n grondwetlike demokrasie waarin korrupsie geen plek behoort te hê nie en waarin regspraktisyns, geregsdienaars, joernaliste, skrywers en fluitjieblasers sonder vrees vir vergelding en geweld hul werk moet kan doen om dit aan die kaak te stel.
Van Niekerk is na bewering op 5 September in ’n raadsaal by sy werksplek deur sluipmoordenaars doodgeskiet wat hul as kliënte van die regsfirma SmitSew Prokureurs voorgedoen het. Bouwer, ’n insolvensiepraktisyn, het volgens berigte al jare lank doodsdreigemente ontvang wat verband hou met die hoëprofiel-sake waaraan hy gewerk het.
Bouwer van Niekerk was die seun van professor Anton van Niekerk, ’n gereelde rubriekskrywer, afgetrede professor van filosofie by die Universiteit van Stellenbosch, en ’n getroue en gewaardeerde lid van PEN Afrikaans. Die bestuur van PEN Afrikaans betuig ons innige meegevoel aan die Van Niekerks.
Die moord op Van Niekerk is voorafgegaan deur soortgelyke brutale aanvalle. Prominente voorbeelde is die sluipmoorde op insolvensiepraktisyns Cloete Murray en sy seun Thomas Murray in 2023, en die moord op Babita Deokaran, ’n fluitjieblaser wat in 2021 doodgeskiet is ná haar oopvlekking van grootskaalse korrupsie by die Gautengse gesondheidsdepartement.
Hierdie tipe aanvalle op die dapper stemme wat opklink teen korrupsie is afgryslik en onaanvaarbaar. Dit is ’n bron van groot kommer vir almal wat wil woon in ’n land waarin billikheid, geregtigheid, vrede en die handhawing van menseregte die norm is.
Diegene wat hierdie gruwelike misdade pleeg om die waarheid te probeer verdoesel, werk ’n kultuur van wetteloosheid, uitbuiting, onregverdige bevoordeling en oneerlikheid in die hand.
Dit kan nie geduld word nie en ons veroordeel dit ten sterkste.
- Foto verskaf (xia X)

