Wat sê Bettina? Hoe werk groepsbetalings in restaurante nou eintlik?

  • 3

Foto: Canva

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Somer kom weer aan, en binnekort begin die ritueel van onder sonbeskutte priële sit en teug aan heerlike drankies terwyl ons vriendskappe hernu na die lang winter. En nie te lank daarna nie kom die vraag hoe ons die restaurantrekening gaan deel.

Dis hier waar dinge telkens onregverdig verloop, want een van ’n paar dinge gebeur. Is jy met ’n klomp rykes, gooi almal kredietkaarte neer en deur “luck of the draw” word een kaart getrek wat dan die hele rekening dek. (Dit gebeur nooit in my vriendekring nie – ek hang nie met sulke rykes uit nie.) Of iemand stel voor dat almal ewe veel betaal. Dis hier waar ek teen die prikkels skop – alleen, blykbaar, want dit lyk nie of enigiemand anders aan die tafel fout vind daarmee nie.

......
Hoekom moet persone wat spaarsamig eet, of dan ten minste asketies eet, die hedonisme van hul tafelmaat subsidieer? Hoekom is daar so ’n teenstand teen die idee dat elkeen betaal vir dit wat hulle verbruik het?
......

Maar hoe maak dit sin dat een persoon ’n slaai eet en vonkelwater drink terwyl die persoon langsaan drie whiskeys wegslaan, fillet mignon eet, ’n bottel wyn saam met ete bestel, en nagereg geniet, en hulle moet dan gelykop betaal? In watter wêreld maak dit sin? Hoekom moet persone wat spaarsamig eet, of dan ten minste asketies eet, die hedonisme van hul tafelmaat subsidieer? Hoekom is daar so ’n teenstand teen die idee dat elkeen betaal vir dit wat hulle verbruik het?

Is dit omdat ons bang is ons gaan as armlastig aangekyk word as ons aandui ons betaal net ’n gedeelte van die rekening? Restaurante moedig dit natuurlik aan, want nege uit die tien keer betaal almal te veel, wat ten beste darem beteken die kelner kry ’n behoorlike fooitjie, of die eetplek steek ’n paar rand ekstra in die sak.

Ek het nie ’n probleem met die beginsel dat die rekening gedeel word wanneer almal min of meer dieselfde in geldwaarde eet nie. In my ervaring is daar egter altyd een wat rojaal eet en dan gewoonlik die eerste een is wat voorstel dat die rekening gelykop verdeel word. Dis mos dan tot hulle voordeel. Die ander om die tafel bly maar stil, want niemand wil as suinig uitgemaak word nie.

........
Alle data dui daarop dat die middelklas nou met minder moet klaarkom as byvoorbeeld in 2010.
........

Maar in omstandighede waar die koste van alles styg, en inkomste nie noodwendig daarmee saam styg nie, kan ons nog bekostig om die skyn voor te hou dat die rojale leefstyl ons nog pas? Alle data dui daarop dat die middelklas nou met minder moet klaarkom as byvoorbeeld in 2010. Mense kies goedkoper handelsname, hulle eet minder uit, en wanneer hulle uiteet, skaal hulle af met die keuse van eetplek. Hoekom dan nie maar die logiese sirkel voltooi en elkeen laat betaal vir wat hulle kan bekostig om te eet eerder as dat een die ander se eetstyl moet subsidieer nie? Die fillet-eters kan nog steeds hul fillet geniet, maar net vir hul eie rekening. Dit is altyd interessant om te sien hoe sulkes se keuse verander wanneer hulle besef hulle is verantwoordelik vir die rekening.

Dan is daar, veral by sommige franchise-koffiewinkels, die tendens om wanneer jy jou koffie by die toonbank gaan haal, jou vir ’n fooitjie te vra. Aan wie gaan die fooitjie, en hoekom? Jy gaan haal dan self jou koffie. Jy sou nooit toegelaat word om die koffie te maak nie, so dis nie asof iemand nou spesiaal verontrief word om jou koffiebestelling te neem nie. Die kassier sou nog heeltyd jou betaling prosesseer. Die enigste persoon wat uitgeskakel word, is die persoon wat die koffie van die toonbank na jou tafel toe sou neem. Nou doen jy dit self. En jy word steeds gevra vir ’n fooitjie?

Daar is ook die al groter wordende besigheid van aanlynwinkelbestellings. Dis nou die 60-minute-kruidenierswarebestellings. As jy baie fyn navors, kom jy gou agter dat dieselfde item aanlyn heelpartykeer ietwat duurder is as in die winkel. Die verskeidenheid aanlyn is ook heelwat meer beperk as op die winkelrakke. Boonop betaal jy meesal ’n afleweringsfooi. En reg aan die einde, nes jy gereedmaak om jou bestelling te voltooi, is daar die keuse om vir die persoon wat die aflewering doen, ’n fooitjie te gee. Waarvoor is die aflewringsfooi dan? Daar kan net sóveel wear and tear en petrol per dag bygereken word, daarna is dit reguit in die winkelbase se sakke. Hoekom nie deel van daai wins gebruik om die afleweringspersoneel ordentlik te betaal nie?

Laat ons nie vergeet van KFC se R2 vir hoop nie. Hoekom moet ons geld gee om Kentucky se CSI-doelwitte te bereik? Aan die einde van die boekjaar spog hulle met hoeveel geld hulle betaal het vir X, Y of Z, maar eintlik het hulle nie hulle wins daarvoor gebruik nie, maar ons hardverdiende geld wat ons so goedgelowig oorhandig.

Ons sal almal ons gordels ’n bietjie moet intrek. Dalk kan dit begin deur ons uitgawes op ’n logies verantwoordbare manier te bestee.   

Lees ook:

Wat sê Bettina? Kos of krag: die Eskom-dilemma

Wat sê Bettina? Oor nasionale dialoog

Wat sê Bettina? President Ramaphosa in die Wit Huis

Wat sê Bettina? Die dag toe die begroting in die hek geduik het

  • 3

Kommentaar

  • Lafras Verwey

    Daar is slegs twee voordele aan restaurante se kos. Die eerste is jy hoef dit nie self voor te berei nie. As jy moeg is, kan dit 'n groot voordeel wees. Die tweede is jy hoef nie die skottelgoed te was nie.

    Maar die nadele is groot. Vreemdelinge hoes, nies en poep oor jou kos. Ou olie word gebruik. Ander swak bestanddele wat dalk nie goed met jou akkordeer nie word ook ingespan. Kostes word gesny om winsgewend te wees. Kortpaaie word geneem. Jy verloor beheer oor wat presies in jou lyf ingaan.

    En dan is daar, soos jy dit pertinent stel, daardie een wat die drie whiskeys wegslaan en nie wil betaal nie...

    So draairoomysie of 'n koffie by die drive thru per geleentheid, doen nie skade nie, hoewel dit ook maar 'n risiko bly, want jy weet nie hoe gereeld daai roomysmasjien skoongemaak word nie, en vertrou maar op die bestuurder se bekwaamheid, en dit in 'n derdewêreldse land.

  • Vra die kelner om vir elke persoon sy eie rekening te maak. Maklik. Werk al jare so. En jou mening oor KFC is kolskoot. By kettingwinkels vra hulle of jy Loslit sticker of so iets wil koop vir liefdadigheid. Dis dieselfde winkel met 'n winsmarge op iets van tussen 30% en 300%. So, die direksies en CEOs moet hulle absolute inhaligheid staak en self bydra, korporaief.

  • Ons eet nie meet uit nie. Bederf onsself eerder deur goeie vleis of vis te koop en self gaar te maak. Gaan eet af en toe ontbyt terwyl die motor gewas en gepolitoer word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top