
Ek is dol oor wetenskapfiksie, en wat ek die meeste daarvan geniet, is die manier waarop die tans onmoontlike gevisualiseer en genormaliseer word. Dit gee wetenskaplikes idees om te realiseer.
Star Trek het byvoorbeeld rekenaars wat mens in jou hand kon vashou verbeeld op ’n stadium toe die meeste rekenaars nog vloere van geboue beslaan het en nie vir privaatgebruik beskikbaar was nie. Die idee dat rekenaars in die meeste huise beskikbaar sou wees, was ondenkbaar. Deesdae is selfone, tablette en skootrekenaars algemeen en noemenswaardig net as ‘n manier om te bewys wie die nuutste speelding besit.
Die idee van robotte wat simbioties saamleef met mense, begeester eweneens lank reeds die verbeelding van wetenskapfiksieskrywers. Asimov se Three laws of robotics was alreeds in 1942 gevestig, alhoewel verwysings daarna in vroeëre stories voorkom. Wat die drie reëls is, is nie regtig hier ter sake nie, bloot dat dit al geruime tyd bestaan. In die meeste stories word robotte uitgebeeld as tot voordeel van die mensdom, alhoewel daar gewaarsku word teen kunsmatige intelligensie wat selfbewussyn verkry. Die Terminator-flieks neem dit selfs verder, en beeld robotte uit wat selfpreservasie uitoefen, en daarmee Asimov se drie reëls nie net verontagsaam nie, maar blatant oortree. In I, Robot, die Will Smith-fliek van 2004 gebaseer op Asimov se 1950’s-korverhaalbundel, rebelleer ’n groep robotte en besluit om die mensdom te red deur groot dele van die bevolking te vernietig. Dis as gevolg van ’n verwronge interpretasie van Asimov se drie reëls. Onderliggend aan hul optrede is die vraag of robotte in staat is om te empatiseer.
Dis ’n vraag sentraal tot Philip K Dick se 1968-verhaal Do androids dream of electric sheep? waarop die bekende Blade runner-flieks gebaseer is. Hier is die antwoord duidelik: Die vermoë om te empatiseer is wat mense van robotte onderskei. Een van Dick se karakters is ’n sosiopaat wat ook nie in staat is tot empatie nie. Hiermee wys Dick dat die toets glad nie so eenvoudig is soos wat dit uitgebeeld word nie.
........
Musk kan die uitkoms van oorloë manipuleer deur bloot sy satelliete aan of af te skakel.
........
Nou kom ons by 2024, en Elon Musk, self ook ’n groot wetenskapfiksieliefhebber. Hy het na raming 6 400 satelliete in die lug deur sy Starlink-netwerk. Musk kan die uitkoms van oorloë manipuleer deur bloot sy satelliete aan of af te skakel. Sy satelliete word gereeld gebruik om te kommunikeer in areas waar kommunikasie andersins moeilik sou wees. Hy ontwikkel voertuie wat hulself kan bestuur, alhoewel daar nog probleme is wat uitgestryk moet word. Hierdie afgelope naweek het twee groot dinge gebeur. Heel eerste het sy SpaceX ’n vuurpyl lanseer en suksesvol herwin toe dit die aarde se atmosfeer weer binnegekom het.
Tweedens het hy deur Tesla die Optimus Robot bekendgestel. Hierdie robot kan gesprekke voer, drankies aanmaak en selfs dans. (Alhoewel die naam herinner aan Optimus Prime van die Transfomer-reeks, sê Musk Optimus is gebaseer op die robotte in I, Robot. Dis nie heeltemal seker of hy verwys na Sonny, die goeie robot, of VIKI, die booswig nie.)
Uit ’n tegniese en meganiese oogpunt is hierdie ontwikkeling ’n triomf. Optimus leer deur sy interaksies met mense. Het hy bewussyn? Dis ’n vraag wat nog beantwoord moet word. Maar hier is my probleem met Optimus: Musk reken dat Optimus ’n vriend vir eensame mense kan wees, bo en behalwe sy ander deugde.
Optimus is nie in staat tot empatie nie – selfs Musk gaan nie so ver om dit te beweer nie. Hoe gesond kan ’n vriendskap wees wat nie op empatie gebaseer is nie? In ’n land waar soveel mense alreeds sukkel om met hul naaste te empatiseer, hoeveel skade gaan hierdie “vriendskap” aanrig? Gaan ons sien hoedat Musk met menslike interaksie dieselfde doen as wat hy met Twitter gedoen het?
Ek aanvaar dat Musk Asimov se drie reëls in sy Optimus-vriende geprogrammeer het, maar wat gebeur as hy ’n stel teenstrydige reëls deur sy Starlink laat aflaai in elke Optimus in gebruik?
........
Ek kon nog nooit besluit of Musk geniaal is, of heeltemal versteurd nie.
........
Dis wetenskapfiksie wat net te na voel aan wat tans tegnies moontlik is. Al rede hoekom dit nog nie gebeur nie, is dat daar gewoon nie genoeg Optimus-robotte in die samelewing is nie. Maar as Musk se droom waar word om dit te kan vervaardig en teen $20 000–30 000 op die mark te kry, is dit net ’n kwessie van tyd voordat ’n robotrevolusie moontlik is. Dit hoef nie eens deur robotte met selfbewussyn gedoen te word nie.
Al wat nodig is, is een megalomaniak met die toegangskodes, die kennis om die robotte te herprogrammeer en ’n gebrek aan empatie. Sulkes is volop in Silicon Valley.
Sou ek graag Optimus in lewende lywe wou sien? Natuurlik. Dink ek dat dit nuttig kan wees in situasies waar die risikos vir mense te groot is? Absoluut. Maar ek kan my ook indink dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat iemand besef Optimus in oorlogsituasies is meer koste-effektief as om mense te gebruik. Robotte word alreeds gebruik – dis net die logiese volgende stap om Optimus in te span.
Van daar na ’n situasie waar Optimus binne die landsgrense gebruik word om protesaksie te onderdruk, is ’n onrusbarend kort sprong.
Ek kon nog nooit besluit of Musk geniaal is, of heeltemal versteurd nie. Na hierdie naweek is ek selfs meer onseker, want alhoewel hierdie ontwikkelinge soos groot spronge vorentoe lyk, is die potensiaal vir misbruik te groot om net oor die hoof gesien en weggepraat te word.
Selfs al kon ek ’n Optimus bekostig, wat ek gelukkig nie kan doen nie, sou ek nooit een aanskaf nie. Wie wil nou met een oog oop slaap in jou eie huis?
Lees ook:
Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns
Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld

