Wat sê Bettina? deur Bettina Wyngaard: ’n proe-proe lesersindruk

  • 1

Titel: Wat sê Bettina?
Outeur: Bettina Wyngaard
ISBN: 9781485315575
Uitgewer: Protea Boekhuis

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Wat sê Bettina? beland op my lessenaar en ek besef toe ek na die inhoudsopgawe kyk dat hierdie ’n boek is wat vra om proe-proe gelees te word. Ten spyte van die feit dat sy al vir 10 jaar ’n weeklikse meningstuk vir LitNet skryf, het ek voor nou nog nie een van hulle gelees nie. Persoonlik voel ek dat daar nou êrens ietsie kortkom omdat ek (nog) nie alles gelees het nie.

Wat is my ervaring van Wat sê Bettina?

Om vir 10 jaar ’n weeklikse meningstuk te skryf beteken dat daar 200+ artikels was en net 50 is gekies vir hierdie bundel. Hoe maak ’n mens so ’n keuse? Die eerste ding wat my opval, is waar die skrywer self sê: “Sommige stukke sou ek, as ek dit vandag moes doen, anders benader het” (bl 10). Met haar eie woorde in my gedagtes, besluit ek om dit daar te hou terwyl ek lees. Ek gaan ’n paar van haar rubrieke uitlig wat vir my uitstaan.

Ek haat ook labels, Bettina. Daai dinge wat mense aan jou wil bind om jou te definieer. Te lank, te kort, te maer, te rond, te loud, te swart, te wit, te bruin! Lank, lank gelede toe ek by Nasionale Tydskrifte Rekenmeesters gewerk het, het ek graag hoed gedra. Altyd interessante laphoede en in die winter sulke tipiese manshoede. Daai tyd, as daar ’n nuweling by die tydskrifte begin werk het, is hulle opgestuur 21ste vloer toe na “die meisie met die hoed”. Met dié label kon ek darem nog saamleef. Ten minste was ek nie die luidrugtige of ronde een nie!

“Wit bevoorregting” skryf sy in Januarie 2016, amper 23 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing. Tipies hardekwas ek, wou ek dié een ’n skiep gee, want ai, kry ons nie genoeg daarvan gelees en selfs in ons gesigte gegooi nie? Maar nee, ek kan mos nou nie ’n opinie uitspreek daaroor as ek dit nie lees nie. Ja, Bettina, ek stem saam met jou. Ek verstaan alles wat jy daar sê, want ten spyte van die feit dat dit tóé al amper 23 jaar na 1994 was en dat sommige mense te wit was (en steeds is) vir sekere poste, gee wit bevoorregting tog nog steeds ’n hupstoot in sekere omstandighede! Die feit dat ek in ’n huis grootgeword het waar my ouers nie saam met die regering van die dag gestem het nie, en ons so grootgemaak is, het my nie gevrywaar van die sogenaamde wit bevoorregting wat in my skoot geval het nie – maar dis nog steeds teen my gehou omdat dit vir my beskikbaar was. Dit suck!

........
“Orania, koeksisters en ek” het my heerlik laat lag en ek het die toneel in my geestesoog gesien waar Henry die motordeur vir Bettina oopmaak met ’n diep buiging en haar as die ambassadeur van een of ander plek voorstel aan die eiendomsagent.
........

“Orania, koeksisters en ek” het my heerlik laat lag en ek het die toneel in my geestesoog gesien waar Henry die motordeur vir Bettina oopmaak met ’n diep buiging en haar as die ambassadeur van een of ander plek voorstel aan die eiendomsagent. Nodeloos om te sê: Hulle kon nie eiendom in Orania koop nie, maar hulle kon wel louwarm, vars koeksisters koop wat spesiaal vir Bettina by die bakster gaan haal is.

“Genoeg is genoeg” staan ook uit, want ja – dis waar dat wanneer misdaad aangemeld word, hulle eers wil kyk of dit nie jou eie skuld is dat jy ’n slagoffer van misdaad was nie! Flok tog! Ek moet egter dié met julle deel. So ’n paar jaar gelede, dalk 2018 of so, kry ek ’n oproep van ’n polisieman wat met my wil praat oor ’n inbraak in my motor gedurende 1997. Hulle het nou die man per ongeluk gekry (storie vir ’n ander keer, maar hy is darem onskuldig dié keer) en hy vra of ek nog ’n saak wil maak? 21 jaar later, nee!

“Hoort daar ’n sunset clause op apartheidskuld te wees?” Ja, ek wil ook weet. Dit voel vir my of daar altyd ’n wit, bruin of swart kwessie is. My Lena wat al vir jare een maal ’n week by my kom skoonmaak, het eendag vir my oor bruin mense gesê: “Eers was ons nie wit genoeg nie, nou is ons nie swart genoeg nie.” Dan stem ek saam met Bettina wat op bladsy 143 skryf: “Dit vra dat ons moet erken ons sit nie met ’n swart probleem of ’n wit probleem nie. Ons sit met ’n nasionale probleem, een wat net opgelos kan word as ons almal skouer aan die wiel sit.”

.......
“Hoort daar ’n sunset clause op apartheidskuld te wees?” Ja, ek wil ook weet.
.......

“Die onsigbaarheid van armoede” is ’n stuk wat my opval en diep raak, want baie wat daar gesê word, is waar. Maar soms kan ek nie ’n werk aanbied nie, maar wel ’n toebroodjie gee. Wat ek wel eendag gegee het en dit toe voor my huis op die sypaadjie gegooi is, want hy het geld gesoek vir dop – nie kos nie. Dis sulke dinge wat maak dat ek nie wil gee vir die een wat aan my deur klop nie. Ja, ek weet dit wat Bettina skryf, strek baie wyer as net ’n klop aan jou voordeur. Dan lees ek ook op bladsy 200: “Maar die keuse van hierdie regering en elke vorige regering is om die minderheid te verryk ten koste van die meerderheid.” In die apartheidsregering se tyd weet ons almal presies wié die minderheid was wat verryk is, maar wie is die minderheid nou terwyl die huidige regering sedert 1994 geen beloftes aan die mense wat hulle die heeltyd instem, nakom nie?

Bettina Wyngaard is ’n vrou van wie ek min weet, maar sy lyk vir my na iemand wat elke geleentheid aangegryp het wat oor haar pad gekom het. Ek glo ook sy het dalk waar daar nie ’n geleentheid was nie, een gaan soek. Waarom dan is daar steeds mense wat nou in 2024 nog niks bereik het nie en dit voor apartheid se deur wil lê? Dan kry jy die nuwe minderheid wat ten spyte van apartheid hulleself ver bo die ander laat uitstyg.

Ek sien Bettina die eerste keer toe ek tydens die jaarlikse Suidoosterfees (2023) in Kaapstad ’n boekgesprek bywoon wat Jonathan Amid met haar gehad het, net ná die publikasie van Lokval. Ek vind dadelik aanklank tot hierdie vrou wat so sterk oorkom. Terwyl sy en Jonathan gesels, soek ek dadelik haar naam op Libby en begin daardie middag reeds met die lees van Vuilspel (2013), haar eerste Nicci de Wee-boek, waar Nicci en haar kollegas van die Khayelitsha-polisiestasie die een moord na die ander moet oplos. Daarna volg Slaafs (2016), Jagter (2019) en Lokval (2023).

Haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes (2010), word in 2010 met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon. Troos vir die gebrokenes gee ’n sonderlinge binnekyk op ’n plattelandse bruin gemeenskap en die onvergeetlike karakters wat ten spyte van alles die lewe vol in die oë kyk. Haar Nicci de Wee-reeks volg hierna, met Onverskrokke vroue (2021) wat vóór Lokval verskyn, wat ’n omvattende, deeglik nagevorste en indringende blik bied op aktuele vrae waarmee ons daagliks worstel. Hierdie is die enigste boek van Bettina wat ek nog nie gelees het nie.

........
Ek sou net graag êrens iets wou sien oor die feit dat sy wat Bettina is, met ’n geleerdheid en wat die skrywer van sewe boeke en ’n aanlyn rubriek is, die aandag daarop vestig dat sy haarself nie deur apartheid laat agterbly het nie.
........

Grietjie se loutering verskyn ook in 2023 en vertel ’n aangrypende verhaal van ’n weduwee wat haar inkomste as tydelike huiswerker verdien. Sy sukkel om kop bo water te hou en ten spyte van voorspoed en teenspoed, bly Grietjie se geloof haar dra. Dan word haar geloof getoets toe ’n tragedie haar gesin tref. “Maak nie saak wat ek verloor nie, ek het Hom altyd. Wat meer wil ek hê?”

Bettina staan vir my uit in twee genres, speurverhale en verhoudingsverhale. Sy het duidelik goeie navorsing gedoen om haar speurreeks te skryf, en sonder insig en binnekennis sou haar verhoudingsverhale nie so uitstaande gewees het nie. Ek sien uit na die volgende boek uit Bettina se pen.

Al sewe Bettina se boeke is aanlyn te koop by Graffiti Boeke (sommige teen ’n lekker afslag) of vra jou naaste boekwinkel om dit vir jou te bestel.

Wat sê Bettina? Alhoewel die skrywer reg aan die begin van haar boek sê dat as sy sommige stukke vandag sou skryf, sy dit dalk anders sou benader, dink ek dis nogtans nodig dat ons almal – wit en swart Suid-Afrikaners – dit lees soos wat dit is. Ek sou net graag êrens iets wou sien oor die feit dat sy wat Bettina is, met ’n geleerdheid en wat die skrywer van sewe boeke en ’n aanlyn rubriek is, die aandag daarop vestig dat sy haarself nie deur apartheid laat agterbly het nie. (Dalk is daar so iets op LitNet, ek sal gaan soek.)

Dink ek jy behoort die boek te koop? Ja.

Dink ek jy behoort die boek te lees? ’n Besliste ja!

Lees ook:

Wat sê Bettina? deur Bettina Wyngaard: ’n resensie

Wat sê Bettina?: ’n Gesprek tussen Bettina Wyngaard en Trisa Hugo

Bettina Wyngaard (1971–)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top