Wat as God ’n vrou was?

  • 29

Skets: Koos Kombuis

...
Waarom is al ons godsdienste in sulke streng kompetisie met mekaar? Waarom baklei die verskillende God-die-Vaders so onderling? Waarom moet daar so ’n skeiding wees tussen Allah, Jehova, Boeddha en wie ook al?
...

Dit is iets wat my al jare lank hinder elke keer wanneer ek my begewe in die milieu van mense wat godsdiens beoefen.

Ek is nie ’n ateïs nie en ek is dus ook nie gekant teen die idee van godsdiens nie. Wanneer ek alleen in ’n hotelkamer is, maak ek gewoonlik ’n punt daarvan om ’n bietjie deur die Gideon-Bybel te blaai as daar een is. Die Bybel bly steeds vir my ’n boeiende boek, al vind ek dele daarvan duister.

Ek woon nie graag kerkdienste by nie, moet ek erken. Toe ek ’n paar jaar gelede die begrafnisdiens wou bywoon van iemand wat ek geken het, kon ek nie verder as die voorportaal van die gebou vorder nie. Ek het deur die hele diens daar bly staan en na die preek geluister. Die preek was bemoedigend, ja, maar nie so bemoedigend dat ek my vrees kon oorkom nie.

Ja, daar is maar altyd iets aan die binnekant van ’n kerkgebou – veral ’n NG Kerk – wat my vervul met angs. Daar is te veel herinneringe van my vreesbevange kinderjare.

In my kinderjare het mense ’n sekere prentjie van God geskilder wat ek tot vandag nie heeltemal uit my kop kon kry nie. Hulle het God vir my voorgestel as ’n wrede, onvriendelike persoon. ’n Skrikwekkende Drie-eenheid wat maklik “toornig” word en strawwe uitdeel.

Ek dink hieraan elke keer as ek in kontak kom met enige vorm of uiting van religie: Waarom is mense so lief daarvoor om kinders bang te maak met sulke God-stories? Dink hulle dit sal lei tot beter dissipline?

Daar is nog iets waaraan ek dikwels dink: Waarom is God altyd manlik?

Tydens sy lewe op aarde, en dit is vir my opvallend wanneer ek die Nuwe Testament lees, het Jesus baie selde die benaming “God” gebruik wanneer hy van die Opperwese praat. Hy het verkies om die meer intieme, vriendeliker titel van “Vader” te gebruik.

Die idee van ’n “Hemelse Vader” is een van die mees aantreklike aspekte van die Christelike geloof. Dit maak tot ’n groot mate op vir al die duiwelse vrese, paranoia en skuldgevoelens waarmee die kerk ons probeer opsaal het van kleins af.

Foto: Eveline de Bruin, Pixabay

Maar as daar iets soos ’n “Hemelse Vader” is, wil ek altyd weet, wat van ’n “Hemelse Moeder”?

Ons vier vanjaar die sogenaamde honderdjarige bestaan van Afrikaans. Dit is iets wat die moeite werd is om te vier. Ons noem Afrikaans graag die “moedertaal”. Dis vir my ’n baie mooi benaming.

As Afrikaans ons moedertaal is, waarom kan ’n mens nie jouself verbeel daar is iets soos ’n Hemelse Moeder nie?

Want: As die mens na die beeld van God geskape is – dit weet ons nie vir seker nie, want baie mense glo eerder in evolusie – maar sê nou maar, argumentshalwe, die mens is wel geskape na die beeld van God, dan moet daar tog iets soos ’n Moeder wees?

Dit maak tog sin dat God groot genoeg is om beide vaderlike en moederlike eienskappe te hê. Vir ons behoort dit ’n vrye keuse te wees om self te besluit met watter aspek van God se persoonlikheid ons onsself graag wil affilieer.

...
Hoe sou die wêreld daar uitgesien het as al die kerke, al die gelowe, geglo het in ’n liefdevolle en verdraagsame Hemelse Moeder in stede van ’n woedende, toornagtige, kwaai pa-figuur?
...

Hoe sou die wêreld daar uitgesien het as al die kerke, al die gelowe, geglo het in ’n liefdevolle en verdraagsame Hemelse Moeder in stede van ’n woedende, toornagtige, kwaai pa-figuur?

Sou daar nie minder toksiese manlikheid in ons geloofslewe gewees het nie? Sou daar nie minder oorloë en politiekery op aarde gewees het nie?

Hiermee wil ek nie nou die denkfout maak wat soms deur radikale feministe gepleeg word deur te veralgemeen en te sê dat die manlike geslag meer sondig is as die vroulike geslag nie. Daar is vele fasette van manlikheid wat spreek van goeie eienskappe. Manlikheid, verkeerd of reg, gaan hand aan hand met kreatiwiteit en innoverende denke.

Vroulikheid, daarenteen, word meer geassosieer met liefde en empatie; iets waaraan mans soms tekort skiet.

Deur God te alle tye in te kleur as ’n manlike figuur, verbeur ons nie iets van die sagtheid en die erbarming van ’n moeder nie?

Waarom is al ons godsdienste in sulke streng kompetisie met mekaar? Waarom baklei die verskillende God-die-Vaders so onderling? Waarom moet daar so ’n skeiding wees tussen Allah, Jehova, Boeddha en wie ook al?

Wat as al hierdie kompetisie eensklaps kon verdwyn? Wat as alle mense gelyk kon vreugde en troos vind in die sonskyn van ’n Alomteenwoordige Moeder?

Is so-iets nie dalk die oplossing vir ons verskeurde wêreld nie?

Ag, ek weet nie. Dalk praat ek nou onsin.

Tog, elke keer wanneer ek die simbool van ’n kruis voor ’n kerkgebou sien, kan ek nie help om te wonder nie: Wat van ’n sirkel pleks van ’n kruis? Daar is mos iets holisties aan ’n sirkel? Sou so-iets nie die ewige Opperwese beter beskryf nie?

Daar is waarskynlik grondige teologiese redes waarom hierdie rubriek volkome onsin is. As ek enigiemand te na gekom het, vra ek by voorbaat al om verskoning.

Maar ek kan nog steeds nie help om te fantaseer oor ’n wêreld waar God as ’n vrou aanbid word nie.

Lees ook:

Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek

Wie het God geskep?

Ôs vroulike geloofleiers is nie ’n new age dingie

Sien ook: https://www.blogs.litnet.co.za/post/seks-patriargie-en-die-vroulike-god

Sien ook: https://oulitnet.co.za/god/mansvroue.asp

US Woordfees 2015: Kan God eensydig wees?

US Woordfees: God is 'n metafoor

God se Woord verander nie. Of hoe?

  • 29

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Dit is nie 'n nuwe gedagte nie. Die kerke het al lekker gestry oor Amanda Strydom se 'Pelgrimsgebed', waarin God as 'n moeder aanbid word. Die Katolieke bid via moeder Maria na Jesus toe. Dis ook 'n oplossing dink ek. Die lekker ding van godsdiens is, jy kan god presies maak soos jy wil hê die god moet wees. Godsdienskenners het ook patrone begin sien in hoe samelewings se godsbeelde hand aan hand loop met hulle bepaalde politieke en sosio-ekonomiese posisies. Byvoobeeld: nomadiese gemeenskappe het gewoonlik magtige, sterk en wraaksugtige gode. Die mense wat die Ou Testament geskryf het, was semi-nomadies. Teen die tyd wat die Nuwe Testament geskryf was, was die situasie anders en toe verander die Israeliete se god ook.

    So terloops, die definisie van ateïs is gewoon 'n ongelowige persoon. Die idee dat alle ateïste vyandig is teenoor godsdienste, is 'n onwaarheid wat die kerk self ontwikkel en liberaal gesmous het. Die kerk het ateïsme gedemoniseer. Natuurlik is daar anti-godsdienstige ateïste. Ateïste is op 'n spektrum. Sommige ateïste is heeltemal gek oor godsdienste en besoek graag kerke of tempels, hoewel hulle nie enige van die doktrines self eintlik aanhang nie. Ander ateïste is krities oor godsdiens, maar nie in beginsel teen godsdiens nie. Ek dink aan myself as die laasgenoemde soort ateïs. Die ateïstiese gemeenskap is diep verdeeld. Probeer gerus eendag 'n ateïsbraai bywoon. Hulle sal aan't baklei raak oor 'n onskuldige ou woordjie soos 'spiritualiteit' en of dit mag of nie mag gebruik word nie. Die ateïste kan net so lekker onder mekaar stry soos die NG-ooms op 'n sinode. Persoonlik vermy ek die kerk sowel as die ateïs-society.

    Hulle se mos HELL IS OTHER PEOPLE en dis die waarheid. Elkeen moet sy eie ruimte hê, glo ek.

  • Sandra Pretorius

    God is nie 'n man nie en ook nie 'n vrou nie. Want God is nie 'n mens nie.
    God is 'n ondefinieerbare spirit.
    Baie mense gebruik God ook net om ander mense emosioneel te manipuleer en op hul gevoelens te speel en finansieel uit te buit. Dink maar aan Louis Liebenberg en Donald Trump.

  • Hy het tog die vrou ook geskape, kort na Adam. 'Na Ons beeld" dui op die (Hul) sondelose toestand en nie die liggaamlike nie.
    Om van vader na moeder te verkuif is net so erg en om boonop nog die simbool vir vroulik voor die kerk te staan en plant?
    Is alle moeders benydenswaardig?
    Is alle vaders onbenydenswaardig?
    Mooi loop

  • Barend vd Merwe

    Die heelal is 13.8 miljard jaar oud.

    Die aarde is 4.5 miljard jaar oud.

    Die mensdom is so 300 000 jaar oud.

    Die eerste mense had geen gode nie. Later het animisme hoogty gevier. Die idee dat elke boom, bos, struik, rivier, berg, oseaan, elke ding 'n eie "gees" het.

    Gode het eers na die landbouomwenteling hulle verskyning gemaak. Nie juis lank gelede nie. Godsdienstige feeste is vandag nog nou verweef met die landbou en die verandering van seisoene.

    Wie God is, word eintlik maar oor eeue onderhandel op sinodes, in teologiehandboeke, potgooie, TikTok-laaifs, braaivleisvuurdebatte ens, ens, ens. Dis alles die keuses van mense. Of God 'n man of 'n vrou of 'n hermafrodiet is. Dit bly jou keuse.

    Jesus het soms indirekte taal gebruik en soms nie. Dis hoe alle mense maak. Jesus was 'n mens. Hy het dalk "Onse Vader" letterlik bedoel, of hy het "Vader" as indirekte taal gebruik, om iets van God se aard wee te gee.

    Maak dit uiteindelik enigsins saak? Ons almal sterf en ons breine skakel af. Ons verloor bewussyn en weet niks meer nie. Baie dink ons lewe voort. 'n Onsterflike deel van ons. Ons sogenaamde siele of geeste. Maar dis alles wensdenkkery. Daar is geen bewyse vir die aansprake nie. Inteendeel is die bewyse sterker dat bewussyn slegs maar 'n byproduk is van ons biologie.

  • Hans Richardt

    Vaderland en Moederstad?
    Die Joodse Shekinah, die moeder deel van God, word in christendom as afgodediens afgeskryf.
    In Genesis 1 vers 26 staan tog, laat ONS die mens skape, na God se beeld was daar toe man en vrou geskape.
    Soms dink ek dat die kerk die Joodse Kabbalah net misken, as die manier hoe die ou testament se gebruike interpreteer moet word, as die praktiese toepassing van tekste.

  • Stel voor BvdM (en ander) skaf die boek: Bewys van die Hemel – Eben Alexander – Penguin books SA - 2012, aan. Hy is 'n neurowetenskaplike (Google hom gerus). Sal jou als vertel van "breine wat afskakel by sterfte". Hyself het nege van die beste verklarings deur van sy eweknieë oor NDE's verwerp.
    Wat betref die onderwerp - wonder ek wat word dan nou van al die nonne (Brides of Christ) - dink net die verrassing om uit te vind jy is met 'n vrou getroud.
    Darem maar snaaks om te sien hoedat agnostici en ateïste een en dieselfde ou rympie opsê, al vir ±500 jr al. Soos die Prediker sê "niks is nuut nie".
    Dis nie net sommige skepsels wat hùl rug op die Skepper draai nie, Hy draai hom ook van hulle weg: Jes 59 : 2 (NLV) en Sy oë is te rein [om na hulle (sonde) te kyk] Habakuk 1:13 - '83 vertaling.

  • Barend vd Merwe

    Raed-na-Gael:

    Ek hou nogal van boeke lees. Maar nie daardie soort boeke nie. Daar is hordes en hordes van daardie soort boeke, en sommige gelowiges probeer gedurig die soort boeke aan mens afsmeer. Ek wil eendag nog, soos wat ek aftrede nader, my finansiële posisie evalueer, en as dit moet, dalk ook so boek vol bogstories skryf, want dit lyk my die boeke verkoop soos soetkoek, en word opgeraap deur goedgelowige lesers wat sukkel met kritiese denke.

    Hier is hoe die kletsbot ChatGPT my waarsku:

    "Eben Alexander is waarskynlik opreg in sy eie belewenis, maar sy interpretasie daarvan – dat dit bewyse is van ’n hiernamaals – word sterk betwis deur die wetenskaplike gemeenskap. Hy is geloofwaardig as iemand wat iets ervaar het en ernstig daaroor dink, maar nie as iemand wat finaal bewys het dat die hemel of lewe ná die dood bestaan nie."

    En so is dit maar met al die mense Raed-na-Gael. Sint Paulus het ook gesigte gesien en gedink dat Jesus aan hom verskyn het. Ander weer het drome gedroom en ander het hallusinasies gehad of per abuis aaptwak of ander middels ingekry. Die geheuebank is een van die swakste bronne vir bewyslas.

  • So BvdM,
    Volgens jou chatgptding ('n masjien) is dit 'n 50/50 ding - en jy nader nie net jou aftrede nie.
    Daar is twee bulte, een die gemorshoop wat die wêreld is en Golgota. Eerskomende naweek gedenk ons laasgenoemde en Hom wat daaruit verrys het om vir almal nog 'n kans te gee - om weer te kies.

  • Luan Staphorst

    Barend, ek het geen maar geen begrip vir jou smalende houding jeens gelowiges nie. Jy is nie 'n gelowige nie. En dis jou reg. Maar vanwaar die selfopgelegte taak om mense wat wel gelowig is gedurigdeur in kommentaar op kommentaar as dom, agterlik en inherent liggelowig uit te kryt. Miskien laat dit vir jou goed voel, maar wragtiewaar dit raak afgesaag. Hou eerder verby, dis ook jou reg. Dan weer, jy mag ander mense etiketteer indien dit jou stimuleer. Maar goeie aarde, weet ook dat mense wat dit aanskou ook hulle eie opinies vorm (en ek sal eerder nie daardie etikette hier wil deel nie). My raad aan jou, wat jy natuurlik glad nie hoef te volg nie: Laat Gods water oor Gods akker loop (of jy nou in 'n God glo of nie). Of, hou ten minste op met die sarkastiese skryfstyl wat jou argument baie minder ondersteun as wat jy dalk mag dink. En nogmaals of, indien jy wel sarkasties wil wees, stel ek ook voor jy is meer demokraties met watter godsdienstige figure jy spottenderwys omgaan. Dis maklik om Christelike figure te kritiseer, maar ek daag jou uit om dieselfde met, byvoorbeeld, Islam te doen. Nie om Islam onder die boeg van die woord "wêreldgelowe" of "godsdienstige tradisies" of "Abrahamitiese gelowe" te kritiseer nie, maar om Islamitiese figure te koggel - met byvoorbeeld verwysing na Musa eerder as Moses, Isa eerder as Jesus, of om na Moegammad (Alayhi as-salām) eerder as Paulus te verwys as iemand wat "gesigte gesien" het. Ek twyfel sterk of jy met dieselfde sekerheid en hoonlaggende houding daaroor sal skryf.

  • Waldemar Gouws

    Baie dankie, Luan Staphorst, dat jy deur die man gelees en gesien het. Ek dog hy moet maar sy blindemolle hier baar.

  • Barend vd Merwe

    Gelowige mense is natuurlik glad nie dom nie en ek het ook nooit so iets gesê nie. Die mensdom, en dan veral die Afrikaner, het 'n lang tradisie om enige iets wat vir hulle vertel word deur 'n man in 'n toga, vir soetkoek op te eet. Daar is 'n ou uitdrukking wat dit goed as volg saamvat: In elke dorp is daar iemand wat vooruit loop en die ligte aanskakel, en dan is daar iemand wat agterna loop en al die ligte weer afskakel. Die eersgenoemde noem mens die onderwyser, en die laasgenoemde, is die predikant of pastoor. Dit is eenvoudig maar so dat daar ewe veel bewyse is vir God as wat daar is vir die tandmuis en kersvader. En dieselfde geld vir lewe na die dood. Die idee van lewe na die dood is 'n fabel wat van een geslag na die volgende oorgedra word, en natuurlik gaan gelowiges wat in die kerke en die godsdienste geïnvesteer is, daardie fabel verdedig en versprei, soos wat hier gedoen word. Ek dink nogal dit is belangrik om oor godsdiens te praat en nie om Gods water oor Gods akker te laat loop nie, soos u dit stel, en daar is redes hoekom ek so dink en jy is welkom om my tot ander insigte te lei. Die lys van leuens wat deur instellings soos kerke versprei word, is amper so lank soos wat die Bybel of die Koran self is. Dit sluit onder meer in dat vroumense, swartmense en gaymense minderwaardig is, en daardie leuens leef vandag nog voort, dit het nie verdwyn nie. Die hele Suid-Afrika is gekolonialiseer in die naam van Jesus Christus.

    Gelowiges kan eenvoudige vrae oor God nie uit een mond antwoord nie, vrae soos, is God 'n man of 'n vrou? Hoekom laat God wreedhede toe? Watter Bybelvertaling is die korrekte een? Ens. En tog huiwer hulle nie om die een geslag na die volgende met totale onwaarhede te indoktrineer nie.

    Daar is uitgebreide kritiek teen Islam. Ek kom nie uit 'n Islam agtergrond nie. Ek kom uit 'n Calvinistiese agtergrond. Ek woon ook in 'n land wat gedurig daarop roem dat dit oorwegend Christelik is. Hoewel ek nie meer die Calvinisme as Christelik beskou nie. Calvyn het ook maar sy eie weergawe van god, effektief sy eie god, uitgedink. Hierdie is die redes hoekom ek min oor Islam praat. Ek laat dit oor aan mense wat meer van Islam weet en wat in daardie kontekste vassit. Hierdie artikel van Koos is boonop ook nie vanuit die Islamitiese perspektief geskryf nie, maar vanuit 'n Christelike perspektief. Nodeloos om te sê, is Islam ook net nog 'n godsdiens wat die produk is van menslike kultuur. Ek het wel al die moeite gedoen om die Koran deur te lees, waaruit ek nie veel wys geword het nie. Waarskynlik omdat ek veel beter deur die Bybel geïndoktrineer was.

    Is dit nodig dat ek noem dat godsdienste 'n valse en onwaar geskiedenis verkondig? Volgens die kerk is Jesus 'n God wat 'n nuwe godsdiens gestig het en nou deur elke mens aanbid moet word, anders sal hulle aan 'n ewige straf onderwerp word. Dit is totaal en al nie wat gebeur het nie en historici weet dit vandag en kan dit bewys. Nog Jesus, nog sy volgelinge, was Christene. Ons leer nie vir kinders dat Paul Kruger 'n Griek was of Shaka Zoeloe 'n koloniale Afrikaner Boer nie. Hoekom word mense vertel dat Jesus 'n Christen was wat sy eie gemeenskap se godsdiens verwerp het? Is dit nie vals, misleidend en oneerlik nie?

    Dan sien mens ook hoe gelowiges gedurig oortuig is dat hulle in die eindtye leef, en dat hulle vervolg word. Dit is 'n vervolgingswaan, soortgelyk aan die wit volksmoord mites wat in omloop is. Vir heelwat Christene veroorsaak dit sielkundige probleme, want hulle worstel met 'n God wat nooit terugkeer nie, ten spyte van veronderstelde beloftes in die Bybel.

    Ek steur my nie aan etikette nie. Maar as ons oor etikette wil praat, dan moet ons miskien ook noem hoe duisende mense deur kerkgemeenskappe verwerp was so oor die jare en steeds verwerp word. Dikwels het dit gebeur dat 'n jongmens swanger sou raak buite die eg. Dan weier die kerk om die baba te doop. Elke dorpie in ons land het gewoonlik 'n aantal sulke gevalle. Al die keuses wat mense maak, is die keuses van mense. Geen god was nog ooit daarby betrokke nie.

    Mens kon die afgelope drie Sondae weer in die koerante sien, die uitsprake van Christen gelowiges teenoor 'n sekere man teen wie die kerkmense te velde getrek het. Die mees afskuwelikste dinge was kwytgeraak oor die persoon, van sy voorkoms tot sy karakter.

    Dan het ons nog nie eens uitgekom by die dinge wat in die Bybel en die Koran geskryf staan oor andersdenkendes nie. Die etikette wat deur die kerkvaders self aan mense gehang word nie. Die ironie is, natuurlik, dat nie 'n enkele woord wat in die Bybel staan deur 'n trinitariese Christen geskryf was nie.

    Uit jou skrywe blyk dit jy voel ek teiken Christene en probeer spesifiek die Christendom se oortuiginge bevraagteken. Dit mag miskien vir jou so voorkom, maar dit is gewis nie die geval nie. Ek kan boonop presies dieselfde argument maak oor die Christendom. Ry gerus so bietjie deur Suid-Afrika en kyk maar, op elke dorp staan daar 'n kruis of 2, sommige van hulle reusagtig, of daar is Bybelverse opgerig langs die paaie, dis nou benewens al die advertensies wat in jou hand in gedruk word by die robot, om een of ander kerkgroepering se dienste te begin bywoon. Dan kan ek dus ewe veel die argument uitmaak dat dit die kerk is wat 'n selfopgelegde taak openbaar om hulle idees op andere af te forseer. Asof die indoktrinasie wat in die skole plaasvind, nie reeds genoeg is nie...

  • Luan Staphorst

    Barend, ek waardeer jou meer gematigde skrywe in hierdie laaste kommentaar. Dit is beslis meer verteerbaar as van jou voriges. Maar dan vind ek dit steeds ironies dat jy juis in 'n gematigde stem Islam sal kritiseer, maar nie die Christelike geloof deurgaans op dieselfde wyse benader nie. Myns insiens is jy wel krities op alle gelowe, soos wat jy ook voorhou, maar jy bring nie daardie kritiek op dieselfde wyse tot uiting nie. As bewys van my kritiek - jy het steeds nie op my uitdaging gereageer nie: maak 'n bespotting van Islam (of enige ander geloofstradisie) se figure op dieselfde wyse as wat jy dusver met Christelike figure gemaak het. En moenie omdraai en seg dat jy beter vertroud is met die een teenoor die ander nie - voed jouself op, en span daardie sarkasme op 'n demokratiese wyse in.
    Die goeie ding van LitNet is dat daar 'n spoor bestaan wat jou kommentaar aangaan. Dis treffend hoe jy 'n klompie jare gelede - in jou kommentaar op 'n skrywe oor Islam waar Moeder Teresa genoem is - net direk vir die Christelike figuur gegaan het, en dit gebruik het om indirek vir Islam te kritiseer. Waarom nie Moegammad (Alayhi as-salām) se vrouens ook noem nie? Waarom nie die skrywer - 'n vrou - direk aanvat nie? Is dit dalk omrede sy Moeslim is? Jy berus jou kritiek slegs by die Christelike ikoon. Dit terwyl jy beweer dat jy die Koran gelees het. Met ander woorde, dan is jy mos vertroud met Islam, of hoe, en kan jy eweneens krities-ingelig daarmee omgaan. Tog verkies jy om slegs die Christelike geloof en daardie geloof se godsdienstige figure met venyn te etiketteer. En ja, jy doen. Moet, byvoorbeeld, asseblief nie maak asof jy nie geloofservarings as blote "hallusinasies" of die gevolg van "aaptwak" etiketteer nie - dis hier vir enige leser om na te gaan.
    Ek betreur ook, soos jy, die negatiewe opmerkings teenoor andersgelowiges vanuit Christelike geledere in Suid-Afrika en elders. Maar wat egter is die verskil tussen die skyn-Christen wat ander afkraak as "verlore" of "onredbaar" en jy wat mense se opreg oorgelewerde lewenservarings as "bogstories" beskryf (of jy nou met die interpretasie van daardie ervarings saamstem of nie) - en nog daarby insinueer dat daardie individue bloot 'n geldelike doel nastreef wanneer jy verklaar dat jy ook sulke "bogstories" sal skryf en verkwansel indien jy jou aftrede nader. Jy kraak af, jy bespot, en jy verneder. Weer: jy doen dit nie met figure en individue uit ander gelowe nie. En ek dink nie eers dis noodwendig omdat jy die Christendom teiken nie.
    'n Moontlike rede is dat jy - miskien vanuit 'n ras- of etniese lens - Islam en ander gelowe as "nie-wit" beskou. Indien mens so 'n foutiewe konseptuele skuif gemaak het is dit maklik om die veronderstelde "wit" geloof te bespot terwyl jy nie die veronderstelde "swart" gelowe (met swart wat in 'n generiese sin gebruik word) onder dieselfde sarkastiese kam skeer nie. Indien dit nie vanuit so 'n wit:swart tweedeling kom nie, wonder ek of dit nie bloot vanuit 'n besef van die moontlike gevolge van 'n gespot met Islam is wat jou weerhou om daardie geloof op dieselfde wyse te kritiseer nie. Indien laasgenoemde is jou kommentaar 'n weerspieëling van lafhartigheid - siende dat jy die sagte teiken van die Christendom, as vergestalting van geloof as sodanig, deurgaans verneder maar nie genoeg moed het om dieselfde met daardie geloofstradisie(s) te maak waar daar telkens oor die wêreld heen ernstige gevolge vir die een wat spot is nie. Indien laasgenoemde is jy geen Salman Rushdie nie - 'n ongelowige wie ek respekteer vanweë sy volgehoue en onverskrokke kritiek op gelowe van welke kleur en geur ook al (al stem ek nie altyd met die inhoud van sy kritiek saam nie).

  • Hans Richardt

    Volgens al my oppervlakkige navorsing oor die Shekina was dit beskou as God se essensie/"heilige gees".
    Selfs die kerke erken die Heilige gees in geloofsbelydenisse.
    Hierdie is Kabbalistiese kennis wat met dogma vervang was, bv by Nicea.
    Jesus Barnabas, "seun van die vader", word deur Pilatus vrygelaat, op aandrang van Sanhedrin. Die Jesus Christus word nie deur Josephus beskryf nie, maar wel Jesus Barnabas, wat 'n leier van bende struikrowers en rebelle was, wat voortdurend opstande veroorsaak het in Judea.

  • Hans Richardt

    Ek wonder al my lewe lank oor wat gebeur wanneer 'n persoon sterf.
    Baie bespiegel, maar hoeveel het al bv dit beleef wanneer 'n persoon 'n massiewe hartaanval kry, omval en sterf?
    Nou ja, ons almal hoop op lang lewe, maar dood kom baie skielik op tyd wat niemand dit verwag nie.

    Kan dit sê, daar is geen snaakse femonome wat gebeur nie. Die "doodsengel"/"grim reaper" is nie naby met sy sens nie.
    Die grootste geraas is die nuuskierige omstanders en familielede wat huil...
    Die stryd van die sterwende is dalk net so groot, om daardie laaste woord uit te kry, as wat paramedici probeer red.

    Net soos met spookstories, is daar geen engele of geeste wat gesien word nie, as die lig in oë afskakel nie.

  • Barend vd Merwe

    Luan ek dink nie ek verstaan lekker wat jy van my wil hê nie en ek gee ook nie om of ek vir jou aanvaarbaar is of nie. Ek het nog nooit gedink ek is Salman Rushdie of enige iemand anders nie. Ek weet niks van hom, behalwe dat hy boeke skryf, wat ek ongelukkig nog nooit gelees het nie. Jy is meer as welkom om nie van my te hou nie.

    Hans, het jy self al Josefus gelees? Daar is volgens my wete twee verwysinge na Jesus in Josephus se geskrifte maar daar is waarskynlik gepeuter met die een, die inhoud is aangepas. Dit is in Josephus se "Antiquities 18.3.3". In die tweede verwysing "Antiquities 20.9.1" word daar eintlik verwys na Jacobus, die apostel, en net skrams na Jesus. Die twee stukkies weerspreek mekaar. Wat die vermoede versterk dat een van die twee 'n vervalsing is. Maar daardie gedeeltes verwys beslis na Jesus van Nasaret en nie na enige Jesus Barnabas nie.

    Jy bedoel waarskynlik ook 'Barabbas' en nie 'Barnabas' nie. Laasgenoemde is te vind in die boek Handelinge en is self ook eintlik 'n apostel.

  • Om so jou gebrekkige navorsing te staan en openbaar, 'n mens sou verwag dat jou navorsing darem die Bybel sal betrek.
    Hulle sê mos "fake news is rife".
    Skekina en die Kabbalisme is Joodse begrippe en gehul die mistiek.
    Jesus Barnabas en Jesus Christus is nie een en dieselfe persoon nie. In Matt 27:16-17 staan hulle teenoor mekaar.
    Buite Bybelse bronne stel dit dat Josephus 'n Romeinse senator was wat laat blyk het dat hy weet van die Jesus, 'n tydgenoot, wat wonderwerke voor die mense verrig het. Hyself was nie 'gelowig' nie.

  • Barend vd Merwe

    Josephus (in Afrikaans Josefus) was 'n manteldraaier. Gebore Joods en toe Rome wen, toe word hy 'n Romein. Toe skryf hy 4 boeke. Kosbare historiese bronne. Maar toe gaan trinitariese Christene en verander die inhoud om by hulle teologie te pas.

  • Hans Richardt

    Barend vd Merwe, ek het 'n slegte Rooms Katolieke Engelse vertaling besit en probeer lees. Later dit net by die Hospice boekwinkel afgelaai, saam met hopie ander boeke, bv boeke oor boekrolle en die bybelse kode.... Uit die hele rak vol van al die boeke, net Engelse weergawe deur ene Papus "The Qabbalah" behou. Ek glo nie dis algemeen beskikbaar by christelike boekwinkels in SA nie. Sommige boeke uit Israel gebring in 2003, wat ek gekoop het by boekwinkel in Jerusalem in Ben Yehuda deurloop, na 'n selfmoordbomaanval op Vrydag voor Sabbat. Ek het 1 maand vertoef in Israel en baie gestap op afnaweke
    My nie veel wysheid gegee nie.

  • Barend vd Merwe

    Ek wonder hoeveel boeke is gepubliseer oor die sogenaamde "Bybelse kodes", en hoeveel pastore en seepkispredikers oor die jare stinkryk geword het uit sulke boeke en DVD's...alles net berge en berge fabels wat vir goedgelowige mense gesmous was.

    Nietemin, sou graag wou sien wat alles in daai hoop was wat jy geskenk het. Ek sou daai boek oor Josefus gehou het, was ek jy. Het duur betaal vir myne, R 250. En dit was al meer as 10 jaar gelede

    Oor Israel het ek my vermoedens kyk, as iemand my stick sal ek saamgaan. As dit all expenses paid is. Sal seker hier en daar interessant wees. Maar as jy my vra of dit my lewensdroom is om daai wêrelde te besoek, sal ek ongelukkig moet erken nee. Ek verkies ons eie woestyne hier, die Kalahari, Karoo en Namib.

    (Die mistiek is net 'n fancy, intellektuele weergawe van godsdienste. Gewoonlik geleerdes, professore en ander soorte ryk mense wat dit beoefen. Of mense wat nie hulle tradisie heeltemal wil laat vaar nie, maar die angel uit die hele storie wil haal, en redes soek om sekere teksverse te ignoreer en andere te oorbeklemtoon).

  • Luan Staphorst

    Barend: "Ek wonder hoeveel boeke is gepubliseer oor die sogenaamde "Bybelse kodes", en hoeveel pastore en seepkispredikers oor die jare stinkryk geword het uit sulke boeke en DVD's...alles net berge en berge fabels wat vir goedgelowige mense gesmous was."

    1. Hou op wonder, en doen 'n bestekopname. Dan kan jy iets nuttigs met jou tyd doen eerder as om bloot te spekuleer en niksseggend met jou eie verkleinerende vooroodele te smous. Jy spog op jou profiel met "vyf akademiese artikels" waarvan jy 'n mede-outeur is. Dit op sigself is nie juis 'n bewys van enige iets nie, siende dat baie mede-outeurs eintlik niks meer as assistente is nie. Die bewys vir akademiese vermoë is in die enkelouteursartikel opgesluit. Maar goed, kom ons aanvaar jy het 'n beduidende aandeel tot daardie artikels gelewer: dan het jy mos die vaardighede om oorspronklike, gefundeerde navorsing te onderneem. Komaan, stel 'n hipotese daar en toets dit. Nou hang onsekerheid nog soos idees om ons lywe, maar wetenskap beskaam nie (anders as geloof, seg jy seker). En lê dit vir LitNet Akademies voor, dan verdien boonop R12 000 - mits dit aanvaar word vir publikasie, natuurlik.

    2. "Fabels" is 'n sterk woord. Maar dit weerspieël 'n swak gees. Nie omrede jy ongelowig is nie, maar vanwee jou voortdurende behoefte om ander se gelowe en gelowiges af te kraak en te verneder.

  • Hans Richardt

    Barend, die bybelkodes en Qumranrolle was duur boeke. Het die gewildheidstroom gevolg destyds.

    Dit was amper so gewild soos Malema se geykte maagwerke van podiums af. Hy noem nooit dat in die tydperk van die Voortrekkers aan die doodsnikke van die "difaqane" of "mfecane" was in binneland van destydse Suidelike Afrika en dat daar grond landstreke was ontvolk was, waarop hul gevestig het.

    Die Ottomanse herboude Jerusalem is toeriste-aantreklikheid en deur beide Sirië en Israel herbou was na oorloë. Die ou Jerusalem was stad van klei, klip en wat in omgewing beskikbaar was. Die ou Jerusalemtempel was uit hout en klip, maar Herodes se Sadduseer tempel was uit groot klipblokke, die hele stad was deur die Romeine gesloop en Capitolina Alea langsaan gebou. So, dit het niks te make met Salomo se tempel of enige tempel daarna, wat na bannelingskap gebou was nie. Enigste gemene deler is die terrein waarop dit staan.
    "Jerusalem-sindroom" is erkende Israeliese psigiatriese siekte, waaraan sommige "pelgrims" ly, na hul verblyf daar. Dan kom hul in lang wit jurk en plakkies daar uit en praat dan net hul tipe godsdiens.
    Net soos Malema sy eie verdigsels as politieke retoriek teen alles wit gorrel. Beide Dingaan en Silkaats was volksmoordenaars, wat miljoene van die swart bevolking uitgewis het in binneland.
    Wat baie sg gelowiges nie verkondig nie, was dat Jesus Christus besnyde Jood was.

    Die Pauline-,doktrine van Paulus se Roomse kerk, was wat nuwe geloof gevestig het, dikwels met dekrete, swaard of brandstapels, nadat die Romeine gestop het om christene vir die leeus te voer. Wat was so anders van dit as die volksmoord vanaf Tsjaka, Dingaan en Silkaats se groot skaalse volksmoord en kruisvaarders se kruistogte na Jerusalem?
    Die bybel soos ons dit ken, was tog by Nicea vasgelê in die bekende formaat. Net so het Malema, eks ANC jeugleier, sy politiek retoriek van sy "meesters" in ANC geleer.

  • Hans Richardt

    Die Negev het nie sandduine nie. Dis meer soos oorbeweide karoolandskap, klipperige duine met bossies. Ek het vir 1 maand in Beerseba gebly.
    Die Israelies bestaan meerderheid uit Russe en daar is selfs Afrikaanssprekende Israelies en kibboetse.
    Rioolwater word hergebruik en daarom moet jy gebottelde water koop, ten duurste. Het ook vir hele maand maagwerk gehad...
    Ek wil nie in daardie oorbevolkte staat bly nie, met grys hoë geboue nie en verstopte strate agv verkeer. Die Druze is Israeliese Arabiere, so is daar in Jaffa dus moskees. Dit was goedkoper om by Arabiere te koop, as by Israeliese besighede, selfs kos. Taxis in Israel is goedkoop en die bestuurders net so roekeloos soos in SA. Iets opvallend was, dat dit net soos in lokasie waar daar Xhosa, Sotho en Zoeloe seksies was, daar ook Russiese, Duitse, Franse ens woonbuurte is. Maw etnisiteit is ook wesenlik in Israel.
    Daar was glo navorsing gedoen oor die verlore stamme en daar word voortdurend na die genetiese materiaal van die verlore stamme gesoek.
    Nie alle Israelies is wit en blond soos in Sandton en Bryanston in 1980's nie.
    Joodsheid word deur die matriagale lyn bepaal, maak nie saak wat afkoms van pa was nie.
    In SA is daar genetiese materiaal van verlore stam onder Vembas gekry.
    Laat my dikwels wonder of die Europese voorkoms van Jesus in Michelangelo skilderye nie bedrog is nie. Wie sê Jesus was Europeër of Afrikaan? Hy kon dalk soos Arabier gelyk het, veral na verskeie ballingskappe in Persië, hedendaagse Iran en Irak.
    My grootste vraag, wat onbeantwoord bly deur predikante/professore, is die vervalsing van Jesus se stamboom, want in Mattheus staan op swart en wit, dat Josef nie sy biologiese pa was nie.
    Dit sou meer oortuigend vir my gewees het, as Maria se stamboom gegee was, synde 'n kind se Joodsheid deur die matriagale bloedlyn bepaal word, ongeag wie die pa was.
    Ek glo dat die volledige Josephus, in 3 volumes, Jesus Christus genoem was, maar ook Jesus genoem Barnabas (seun van die vader) wat die leier van struikrowers was.
    Ten spyte van my vraagstukke, bly ek glo dat God wel bestaan, dalk nie die moderne "woke" weergawe soos in gewilde kerke deesdae nie.

  • Hans Richardt

    Henning, al baie gewonder oor die duiwel as vrou...LOL. Met my geluk met vroue my lewe lank, het ek al so idee in agterkop gekry. Selfs die kabbalah verwys na Lillith as so 'n figuur....

  • Barend vd Merwe

    Ek dink weer mens moet 'n trading bot smous, Luan, dan vertel mens vir die Boere die bot gebruik Bybelse beginsels. Dink dit sal soos soetkoek verkoop. Dalk nog beter as diamandpakkies. So kombineer mens die mens se gierigheid met hulle godsdienstige obsessies. Ek sien nie waar ek gelowiges verneder nie. Ek is geleer Jesus oordeel die sonde, nie die sondaar nie. En ek volg maar net vir Jesus se voorbeeld.

  • Luan Staphorst

    Barend: "Ek dink weer mens moet 'n trading bot smous, Luan, dan vertel mens vir die Boere die bot gebruik Bybelse beginsels. Dink dit sal soos soetkoek verkoop."

    Ook Barend: "Ek sien nie waar ek gelowiges verneder nie."

    Dis in dieselfde paragraaf geskryf. Ly die man aan akute geheueverlies of is hy bloot van sy sinne beroof?

    Om 'n ander stelling deur Barend in hierdie kommentaarstring aan te haal: "Sint Paulus het ook gesigte gesien en gedink dat Jesus aan hom verskyn het. Ander weer het drome gedroom en ander het hallusinasies gehad of per abuis aaptwak of ander middels ingekry".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top