US Woordfees 2015: Kan God eensydig wees?

  • 6

Is God ’n man of ’n vrou? En kan God dalk selfs gay wees? Of moet mens na God verwys as “dit”? Dit is van die vrae waarmee feesgangers dié week reguit by die US Woordfees gekonfronteer is tydens die Stellenbosch Moederkerk se gespreksreeks “Geloof op die markplein”.

God is Vader, bely gelowiges. Die Bybel het in ’n patriargale samelewing tot stand gekom. In watter mate bepaal uitgediende, godsdienstige verskanste idees oor gender en verhoudingsrolle nog hoe ons samelewing vandag gedefinieer word? Is daar ruimte vir ’n manlike en vroulike identiteit? En kan die Joods-Christelike tradisie ons help – of is dit van die wal in die sloot?

Volgens die paneel wat aan die bespreking deelgeneem het, is God hoogstens ’n metafoor. God het nie ’n penis nie. Of het God ’n penis? het een van die paneellede, Julie Claassens, al by geleentheid van haar studente vir wie sy klas gee, gehoor. Die gespreksleier was Johan van der Merwe van die Moedergemeente en die ander twee deelnemers was Louise du Toit van US se Filosofie-departement en die gay NG-proponent Laurie Gaum.

Volgens Du Toit het die situasie van vroue op talle terreine van die lewe oor die afgelope dekades verbeter. Daar is egter sommige terreine, soos seksuele geweld, waar vroue selfs groter slagoffers geword het as voorheen.

Daarom is dit belangrik hoe ons oor God dink, het Du Toit gesê. Sy sê vroulike seksualiteit word steeds as sondig gesien. Dit is iets waaroor die godsdiens diep en ernstig sal moet nadink. Mens kan nie sommer ligweg daaroor gaan nie. Terwyl die Katolieke tradisie die rol van die vrou in sommige opsigte meer krediet gee (soos vir Moeder Maria) is die Protestantse tradisie volgens haar steeds baie patriargaal.

Oor die vraag of God eensydig is, het sy gesê alle uitsprake oor God is menslike kommunikasie. Dit mis eintlik die teiken. Alle uitsprake oor God is metaforiese uitsprake. Sy het gewaarsku teen die fundamentalistiese sienings van sekere godsdiensgroepe wat God net as manlik uitbeeld.

Die geloofsgemeenskap moet sy onvermoë om oor God te praat erken, het sy gesê.

Julie Claassen, wat hier en daar van Du Toit verskil het, het egter saamgestem dat daar ander maniere ontgin moet word om oor God te dink.

In ooreenstemming met ander sprekers in die God-debat tydens vanjaar se US Woordfees het sy ook klem gelê op God as metafoor.

Toe die teoloog Julian Müller vroeër in die week tydens ’n ander godsdiensgesprek gevra is of Jesus letterlik die seun van God is, het Müller ook verkies om in metaforiese taal van God te praat. Ook wanneer hy na Jesus verwys het as God se seun. So ook die filosoof Anton van Niekerk.

Vir Laurie Gaum moet God ook in ’n metaforiese sin gay kan wees om met hom te kan identifiseer. Mens kan God nie met woorde beskryf nie, het Gaum gesê.

  • 6

Kommentaar

  • Stefaan de Jager

    Elke diertjie het sy maniertjie, en so lyk dit my dat elkeen sy/haar eie idee het oor wie of wat God (vir sommige is dit god met `n kleinlettertjie) dan nou werklik is. Die Bybel vertel vir ons wie God is, maar dit is  natuurlik net geloofwaardig vir diegene wat glo dat die Bybel God se Woord is. Indien die Bybel vir jou iets anders is as dit, is alle uitsprake oor God vir jou slegs metafories. Julie Claassen reken dat daar ander maniere gevind moet word om oor God te dink. Buite die Bybel sal nie sulke maniere gevind word nie. Laurie Gaum sê dat God nie met woorde beskryf kan word nie, wat ook maar `n getas in die duister is. Die Bybel is vol woorde wat oor God praat. 

     
    As ek al hierdie gepook en spartel lees verstaan ek opnuut waarom Kerkbode twee jaar gelede hul borgskap van die Woordfees onttrek het. As die Bybel nie die Woord van God aan mense is nie, is alle geestelike gesprekke slegs maar filosofiese godsdienstige spekulasie. Sulke gesprekke kan nie onder die vaandel van die kerk gedryf word nie.
     
    Wou ook nog sê dat God my hemelse Vader is. Dis immers wat ons elke Sondag bely met "Ek glo in God die Vader ..." Verder kan God ook nie gay wees nie, want homoseksualiteit, pedofilie en watter ander seksuele afwykings daar ook al is, is vrug van die sondeval. Of is die sondeval ook `n metafoor?!

     
     
  • Alwyn Carstens

    As ons nog steeds nie metafore kan of wil verstaan nie, gaan ons ewig in gesprekke soos hierdie vasgevang bly.  Fundamentaliste eenkant en "verligtes" aan die anderkant met die oor en weer moddergooiery!  Om aan God as manlik of vroulik (dit help bietjie) te dink - by die beeld te bly vasstaan - is so beperkend en versmorend!

  • "...Of is die sondeval ook `n metafoor?!"

    Sover ek weet is sonde 'n tipe boosheid wat in die mensdom voorkom omdat 'n kaal ribvrou die vrug van 'n magic boom geëet het nadat 'n pratende slang haar oortuig om dit te doen.

    Dit verstom my daagliks dat volwasse mans in 2015 sulke kinderlike fabelagtige snert kan glo.

  • Dit sou soveel makliker gewees het as God sommer self vir ons die antwoord kom gee het (of gepraat het). Maar nee, God kan nie praat nie. Hy moet deur dominees en omies praat met verspotte hoedjies en silly kamerjasse. Hulle praat glo namens hom.

    Dit kan ook nie anders wees nie, want die dag as God aan die mensdom verskyn en direk met ons praat is dit die einde van geloof (om in iets te glo sonder bewyse). En geen godsdiens kan immers sonder geloof (en geld) bestaan nie.  

  • Gideon Aggenbag

    Die saak is eintlik eenvoudig. Daar is geen ander God as die God van die Bybel nie. Hy het alles, sienlik en onsienlik, geskep en bestuur sy skepping na sy goeddunke. As jy nie die Bybel glo nie, glo jy ook nie in die God van die Bybel nie. As jy dan nog steeds oor die God van die Bybel wil praat, praat jy as 'n buitestaander, en jy praat dan van 'n god van jou eie maaksel - iets waarin net jy self glo.

     
    Die hele skepping getuig van God se almag. Wie nie glo dat hierdie Skepper-God bestaan nie, het geen kennis van, of insig in dít waarvan die skepping getuig nie. Hierdie God het sy skepping lief, ook dié wat van Hom 'n bespotting maak. Daarvoor het Hy Jesus Christus, sy Seun gegee, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
     
    Jesus is die Verlosser wat weer sal kom om sy kinders te kom haal. Vir dié wat hom verwerp, sal Hy as Regter optree. Voor Hom sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Hy die Here van alle here is. Hy is die waaragtige God. Vreeslik sal dit wees om in Sy hande te val.
     
    Hy roep almal tot bekering. Dié wat uitverkies is, sal na hom toe kom. Die ander sal aanhou om hom te verwerp. Jy het vandag nog die geleentheid om God se liefde, genade en krag te belewe. Waarom nie kom terwyl jy nog kan nie? Môre mag te laat wees.
  • Dis maar altyd moeilik om op hierdie gesprekke te reageer met die vrees dat iemand anders jou opinie sal afmaak as snert. Ek dink nie daar is noodwendig 'n definitiewe "reg" of "verkeerd" nie. Mens kan nie God in 'n boksie sit nie. Ek is seker baie Christene en nie-Christene het al gewonder of God nie 'n vroulike oftewel 'n sagter kant het nie: ons is tog volgens die beeld van God geskep.

    Ek glo solank jou saak met God reg is maak dit nie saak wat ander mense sê of dink nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top