
Trump het amptelik ’n handelsoorlog begin met, onder andere, China, Meksiko en die VSA se naaste bondgenoot – Kanada. Befondsing aan Suid-Afrika en talle ander arm lande is gestaak, DOGE maak meer droog as reg, en die prys van eiers (wat die onderwerp van een van oom Donny se verkiesingsbeloftes was) het die hoogte ingeskiet. Vele mense het geskryf ons moet hom kans gee, maar ek dink hy’t kans genoeg gehad. Dis tyd vir drastiese aksie, veral omdat hy nie die verskil tussen “transgenic” en “transgender” ken nie.
Die selfbestempelde “stable genius” het veroorsaak dat al die VSA se bondgenote basies teen hulle gedraai het ná die hele Zelenski-debakel. Hierdie man (wat die lanseerkodes vir kernwapens het) en sy tweede in bevel, JD Vance, is nie besonder goeie diplomate nie. Ons kan dit eintlik sê van almal in die oranje een se sfeer. President Musk het ook ál die takt van ’n haelgeweer, so ons kan ook nie op hom reken nie.
Histories as die pôpô die fên slat, dan is die VSA die ene wat steun gebied het of hulp verleen het, soos met die Koreaanse oorlog, die Viëtnam-oorlog en ’n hele paar ander. Amerika het sy plek as ’n wêreldmoondheid na die Tweede Wêreldoorlog verseker. Nou is daar iemand in die Withuis wat Amerikaanse demokrasie van binne af gaan uitwis. Wie sal dan poliesman speel waar Amerika dit histories gedoen het?
Die antwoord is Kanada.
Meksiko het met die laaste Mexikaans-Amerikaanse oorlog besonder baie grondgebied afgestaan. Ons moet Meksiko nie buite rekening hou nie. Hulle gaan belangrike bondgenote wees indien Trump die handelsoorlog verander in ’n oorlog-oorlog.
Kanada het tydens die oorlog van 1812 die Withuis verbrand, maar ek glo nie die Amerikaners het daarna weer gesukkel nie. Wel, nie tot nou toe nie.
Trudeau, wat nou die stokkie oorhandig het, het gesê ’n handelsoorlog is nie ’n slim ding om te doen nie. Ek stem heeltemal saam. Ek is egter bekommerd dat dit nie die laaste gaan wees nie, maar bloot die begin van ’n lang, uitgerekte konflik.
My steun, sou daar oorlog tussen Kanada en Amerika verklaar word, is beslis aan Kanada. Moenie vir my al daai nonsens oor die “land of the free and home of the brave” gee nie. As jy nie ’n wit man in Amerika is nie, is jy nie vry nie. Selfs dan is daar bepalings en voorwaardes. Nee, Kanada moet gereed staan om oorlog te maak met die VSA.
Dit gaan nie besonder moeilik wees om sekere deelstate te verower nie. Kanada sal beskou word as helde in plekke soos Minnesota, Washington, Oregon en Kalifornië. Die probleem gaan wees om by Washington, DC uit te kom as hulle deur Minnesota of Wisconsin probeer gaan, want rooi state staan in die pad. Terselfdertyd moet Meksiko uit die suide inval deur plekke soos Texas en Nieu-Meksiko. As ander movers and shakers betrokke raak, dan kan byvoorbeeld Japan uit die weste aanval en ’n Europese alliansie uit die ooste. China sal ook betrokke raak, want niks sal president Xi Jinping groter plesier gee as die einde van Amerika nie.
Die invloed van Rusland in so ’n konflik sal baie interessant wees, want hulle is reeds in ’n drie jaar lange oorlog betrokke met Oekraïne, wat Poetin voorspel het in drie weke verby sou wees. Ek glo nie dat Rusland op twee fronte twee verskillende oorloë sal kan voer nie, veral nie wanneer soveel Russe gevlug het of hulself beseer het toe Poetin destyds diensplig ingestel het nie. Noord-Korea het steun gestuur, maar het dit werklik ’n beduidende invloed op gebeure gehad? Ek dink nie so nie.
Die gebruik van kernwapens is ’n interessante ding om oor te bespiegel. Arjen Lubach het op ’n stadium gesê dat kernwapens ’n “zero sum game” is. As Trump ’n kernwapen lanseer, sal daar waarskynlik ander teen die VSA gelanseer word, wat beteken niemand wen nie. Kanada se Navo-bondgenote (en ek neem aan die VSA sou dan al Navo verlaat het weens die “stable genius”) sal waarskynlik antwoord op enige sulke aksies. Frankryk en Engeland is beide lidlande van Navo en besit kernwapens. ’n Aanval op een lidstaat is ’n aanval op almal. Trump is onstabiel genoeg – sál hy so ’n wapen lanseer? Dit is die enigste faktor wat totaal onvoorspelbaar is in hierdie scenario, want hy’s so ’n “stable genius”.
As alles na raming verloop, behoort dit redelik maklik te wees vir Kanada, Meksiko en die ander bondgenote om die Yanks te laat les opsê, hetsy in ’n handelsoorlog of ’n oorlog-oorlog. As ek die nuusberigte so bekyk, is dit ’n klein deel van die bevolking wat oranje sal steun tot die einde toe. Die vraag is wat gebeur dan met die Amerikaanse grondgebied? Kry Meksiko die histories Meksikaanse deelstate terug? Of gaan Kanada, soos The Arrogant Worms in hul lied “When Canada rules the world” beweer, inderdaad die wêreld regeer?
Dis interessant om aan te dink, maar ek wil nie hê dit moet gebeur nie. Die probleem is:
- Texas wil transgender mense aankla vir bedrog, bloot weens ons bestaan. Die volgende stap is kampe in die styl van Auschwitz.
- Moet ook nie dink dit gaan daar stop nie. Mense het my paranoïes genoem toe ek sê jy’s in jou kanon in as jy nie ’n wit, cishet, Christen-man van middelklas of beter is in Trump se Amerika nie. Nou word wettige toeriste en immigrante aangehou, aangeval of gedeporteer; alles wat queer is word aangeval, en hulle probeer wegdoen met die departement van onderwys, “all to own the libs”.
- Laat ons ook nie vergeet dat Medicaid en Medicare in die visier is nie.
- Black History Month is nou ’n ding van die verlede en ek kan jou belowe dit gaan baie erger raak voor dit beter gaan word.
Is America great again? Nee. Dit gaan ook nie gebeur met die oranje een aan die stuur van sake nie. Die man het in ’n paar dae gedoen wat Rusland tydens die Koue Oorlog nie kon regkry nie: chaos in die “Verenigde” State geskep.
Lees ook:
As ’n gonsgroepie skeefloop: Trump se eerste krisis? (27 Maart 2025)
Die volhoubaarheid van vrede in ’n drukgang? (20 Maart 2025)

