As ’n gonsgroepie skeefloop: Trump se eerste krisis? (27 Maart 2025)

  • 0

Dit is tradisie dat enige nuwe staatshoof en regeringsleier ná 100 dae in die amp geëvalueer word. Met die Trump-administrasie is dit duidelik dat eerder na 50 dae gekyk moet word, want beleidsbesluite word teen so ’n tempo geneem dat vriend en vyand stom van verbasing staan!

Met ’n hoë tempo van besluite is die waarskynlikheid van onbeholpe foute natuurlik ook groter. Dit is presies wat onlangs gebeur het toe die nuwe minister van verdediging, die reeds omstrede Pete Hegseth, ’n gespreksgroepie op die gespreksplatform Signal geskep het. Dit was veronderstel om net die 18 hoogste besluitnemers in die militêre en veiligheidsomgewing in te sluit, maar toe word die redakteur van The Atlantic, Jeffrey Goldberg, onverklaarbaar deel van die eksklusiewe veiligheidsgonsgroep gemaak.

Binne ure nadat dit bekend geword het dat die aanval op die Houthi’s op 15 Maart 2025 op die groep bespreek word, en Jeffrey Goldberg die feit publiseer dat hy intyds die verloop van die militêre aanval kon volg, was die hel los in Washington. Daar is onmiddellik vrae begin vra oor waarom so ’n gesprek op ’n oop platform sonder streng veiligheidsenkripsie kon plaasvind. Het Donald Trump geweet? Is die vooroordeel teenoor Europese vennote, soos deur visepresident JD Vance, ’n voorbeeld van die Amerikaanse standpunt teenoor Europa? Wat gaan die Kongres doen oor die verbreking van veiligheidsnorme en -voorskrifte? Gaan Pete Hegseth oor dieselfde kam geskeer word as Hillary Clinton toe sy amptelike e-posse op Gmail geskryf het?

Binne 48 uur was dit duidelik dat die Withuis alles sal doen om die gebeure met ’n soort aanvallende verdediging te benader. Skielik is Jeffrey Goldberg ’n nikswerdredakteur en The Atlantic ’n minderwaardige publikasie. Selfs voor die Senaatskomitee wat toesig hou oor militêre en veiligheidsaspekte, sit die leierskorps van die CIA, FBI en Nasionale Intelligensie daar soos stout kinders wat van niks weet nie, terwyl al 18 van hulle op die gonsgroepie teenwoordig was.

Pete Hegseth het sy onderhoud om aangestel te word as minister van verdediging met ’n baie klein meerderheid geslaag, en is nie die deur gewys soos met sy medekandidaat en ewe omstrede Matt Gaetz gebeur het nie.

Wat leer ons hieruit?

  1. In die Trump-administrasie is lojaliteit die belangrikste faktor, maar dan lojaliteit aan Donald Trump – en Hegseth slaag die toets.
  2. Die mediaveldtog sal, ten spyte van die meriete daarvan, ondergrawe word en aggressief teengestaan word, en individue sal in die proses verneder word.
  3. Die reg of verkeerd van die gonsgroepie se gebruik van ’n oop platform, Signal, sal op semantiese gronde afgemaak word met debatte oor wat nou eintlik ’n gevegsplan is en wat ’n onskuldige opmerking is.
  4. Ten spyte van ’n aggressiewe terugvegpoging deur die Withuis, is Pete Hegseth op dun ys en mag hy dalk net die eerste persoon word wat binne 100 dae deur Trump in die pad gesteek word, iets wat Trump maklik doen as jou teenwoordigheid in die kabinet meer skade as goed doen. (Ons het hierdie movie al gesien …)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top