Titel: Toevlug
Skrywer: Louise Viljoen
Uitgewer: Luca, 2024
ISBN: 9781779880185
Tydens ’n staatsgreep in die Kongo val ’n meëdoenlose geweldenaar en sy handlangers ’n sendingstasie aan. Hulle soek iemand en wanneer nie een van die plaaslike nedersettinkie se mense die antwoorde gee waarop hulle gehoop het nie, is die gevolge ’n wrede bloedbad. Die ellende is egter vir een van die oorlewendes, die sendelingsvrou, Petro Mentz, nie verby nie en sy vlug deur ’n gevaarlike reënwoud by die kuslyn af tot by ’n skip wat haar sal terugsmokkel na haar geboorteland, Suid-Afrika, waarvandaan sy juis van soveel seerkry gevlug het.
Sy voel God het haar verlaat, en ná die verskrikking en verlies in die Kongo het sy ook haar wil om te leef verloor.
Petro beland by Toevlug, ’n skuilplek vir randfigure soos sy met seer en letsels, en hoewel sy hoop dat almal haar in vrede sal laat, word sy tog onwillekeurig by die ander inwoners se lewens betrek. Dis Riaan, ’n dominee wat aan die hoof van Toevlug staan, wat hom oor haar ontferm, wat haar stadig weer mens maak, maar Petro wil niks weet van ’n God wat toegelaat het dat sy aan soveel genadelose geweld en hartverskeurende verlies blootgestel is nie.
’n Jaar later ontdek twee noodlenigingswerkers iets verrassends by ’n ou, versteekte mynskag in die reënwoud. Hulle self het hul deel van verlies ervaar en vind daar in die reënwoud die betekenis van omgee vir ander; van onbaatsugtige werk onder baie haglike omstandighede.
Ida en Gary vind ook geluk en begin dan reëlings tref om hulle kosbare ontdekking terug te neem na Suid-Afrika, waar hulle werk hul ook na Toevlug neem. Die uiteinde is ’n aandoenlike een wat trane na jou oë bring.
Die boek gaan hoofsaaklik oor die twee vroue se – baie uiteenlopende - lewenspaaie. Die een verloor haar geloof en die ander moet leer om weer te glo ... maar is dit te veel gevra om te hoop dat alles tog ten goede sal uitwerk?
Albei vroue het vroeg in hul lewens geleer dat slegte goed ook met goeie mense gebeur en dat gebede nie altyd verhoor word op die manier waarop die biddende gehoop het nie.
Daar is baie wat in hierdie boek se guns tel: goeie taalgebruik, lekker vars idees en lekkerlees-sinne. Politieke onrus, spanning, karakters met wie mens kan identifiseer, politieke bestelle wat despote in moordende masjiene verander, volgelinge wat sonder teëstribbeling gehoorsaam, onskuldige mense wat ly. Die skrywer is nie verniet ’n joernalis en resensent nie. Sy kan met woorde toor.
Die boek was in Desember op die Nielsen-topverkoperlys vir Afrikaanse fiksie en sou sekerlik verskeie Kerskouse hierdie feesseisoen laat boepens hang.
Die storie oor die Mentz-sendelingpaar, Petro en Evert, is goed ontwikkel. Dis aangrypend. Ek was mal oor die agtergrond van Petro se kinderlewe, wat só goed tussen die ander hoofstukke ingevleg is dat jy regtig ’n baie goeie idee van haar as mens kry. Jy verstaan haar geweldige teleurstelling omdat sy alles volgens die boek gedoen het, maar dit steeds nie genoeg was om haar die verskriklikste verlies te spaar nie.
Jy het empatie met haar eie verhaal van mishandeling en verlies; hoe sendingwerk haar waarlik ’n doel in die lewe gegee het.
Die vertwyfeling waarmee sy onderweg na die smokkelboot stoei, oor hoekom hulle juis die Kongo gekies het en nie iets nader aan die huis, dalk ’n veiliger bestemming, nie, resoneer met my. Toe ek ’n kind was, het vele sendelingpare by ons gemeente op Upington kom getuig. Die lewe wat hulle gelei het, was allesbehalwe maanskyn en rose, maar tog het die vraag elke keer uit die gehoor opgeduik: “Hoekom ’n tropiese bestemming wat idillies lyk; hoekom die Amasone; hoekom Rusland? Is daar nie genoeg mense wat plaaslik gered moet word nie?” Asof sendingwerk in ’n modderhut met die swaard van vervolging oor jou kop ’n keuse was. Of maklik is.
Dit bring ons by die tweede deel van die boek waarin die ander twee hoofkarakters, Ida en Gary, na vore kom. Ida is ’n dokter en Gary ’n filantroop wat die wêreld se probleme een vir een oplos met baie geld en hulpmiddels.
Hier was ek minder meegevoer en voel daar was te min ontwikkeling van die karakters, en hul gedeelte lees amper soos ’n vinnige feëverhaal. Die twee dele van die boek strook nie. Dis asof die skrywer stoom verloor het en net wou klaarkry – “Fluit, fluit, my storie is uit.”
Dié paartjie het glad nie dieselfde diepte as die Mentze nie, hoewel hul bedoelings en toewyding net so eg is soos die Mentze s’n. Hulle bevind hulle ook in moeilike en haglike omstandighede en doen onbaatsugtige werk.
En hoewel die boek onder Christelike fiksie val, is daar hopeloos te veel gebede; te veel dweep. Soms halwe bladsye vol. Weer asof die skrywer uit storie-ontwikkeling wou wegkom en daarvoor vergoed met langdradige gebede.
Ek voel dat boeke eerstens lekker leesstof moet bied. Om ’n leser se toewyding en aandag vir etlike ure gevange te hou, moet daar ’n goeie storielyn en goeie karakters wees. Spanning, intrige, liefde en drama is alles lekker elemente om jou te laat wíl omblaai.
Geen genre is hierby uitgesluit nie. Dis tog immers waarom jy lees.
Wanneer dit ’n Christelike boek is, is hierdie steeds die fondament, maar die geestelike boodskap word vervleg. Selfs ongelowiges of minder gelowiges moet ook die boek kan geniet, ongeag hul geloofsoortuigings.
Hierdie boek se Christelike boodskap word bykans in jou keel afgedruk. Dis net te prekerig en dweperig.
Dis soos daardie dweperige vriend(in) wat almal later wil vermy, want hulle kom nie tot die punt nie; dis heeltyd preektyd en dit word gou as vingerwysing en kritiek ervaar.
En dis daardie vroomheid en dweperigheid wat amper as skynheilig oorkom wat kerke laat leegloop.
En dan, vinnig-vinnig, is die toeval baie groot dat almal by Toevlug beland en “happily ever after” leef. Alle seer vergete en vergewe; die sprokie word waar, selfs met die prins op die wit perd en liefde en vergifnis oral.
Dié boek was nie deel van my Kersfees-inkopielys nie, maar ek glo dit sal ’n wegholtreffer vir vele wees.
Lees ook:
Onsigbares en gelukkige eindes: ’n gesprek tussen PJO Jonker en Hennie Aucamp