Lea gaan skool toe deur Zuléka Smit: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Lea gaan skool toe
Skrywer: Zuléka Smit

Illustreerder: Johann Strauss
Uitgewer: LUCA
ISBN: 9781779880642

As julle ’n Christen-gesin ken met ’n kind wat op pad is skool toe, dan is hier ’n geskenk wat dadelik oorweeg moet word. LUCA is die Christelike uitgewer in die Penguin Random House-stal en dit is dus te verwagte dat hier ’n Bybelse konneksie sal wees. Meer nog, Zuléka Smit het tevore Ben en die groot toets, wat ook ’n Christelike boodskap van hoop bied, geskryf.

Sou jy kies om nie met Bybelboodskappe te assosieer nie, is hierdie boek dus nie vir jou of jou kind nie.

Die storie, sonder om iets te verklap

In breë trekke is Lea bang om skool toe te gaan. Pouses sukkel sy om aan te pas en maak nie maklik maats nie.

Lea se ma lees dan vir haar uit die Kinderbybel voor dat God die mens by die naam roep, daarom moet sy weet dat sy God se geliefde dogter is. (Ben, die boetie wat ons in die vorige boek ontmoet, se naam beteken "seun van".)

Met nuwe moed keer Lea dan terug skool toe en dis veral haar liefde en talent vir kuns wat maak dat ander kinders haar raaksien. Sommer gou-gou is dinge vir Lea baie lekker.

Kuns

Lea kan goed teken. Dit gee uiteindelik die deurslag by die skool. Sy word raakgesien.

Ek wil nie die storie vertel nie, maar dis belangrik om op te let dat die onderwyser Lea se naam noem wanneer haar kunswerk bo ander gekies is. Dit gebeur egter sonder dat die leser weet hoe die kunswerk lyk. Die tekening word eers op die laaste bladsy onthul.

Ek sou graag ouers en onderwysers vra om raak te sien dat Lea se ma sê Lea word deur God by die naam geroep. Dan roep Lea se onnie haar by die naam. God gebruik dus die onnie om (onwetend) sy werk op aarde te doen. Help gerus jong lesers om hierdie kloutjie en oortjie bymekaar te kry as hulle sou belangstel, of vra daaroor.

Kyk dan ook op die laaste bladsy hoe Lea die boodskap van God se liefde verstaan.

Johann Strauss se tekeninge

Menige kinderboek bestaan uit ’n storie in woorde en ’n storie in prente. Albei is belangrik. Prente in kinderboeke is nie bloot mooi tekeninge nie. ’n Goeie kinderboekillustreerder dra aktief by tot die verhaal deur tekeninge weer te gee wat meer doen as bloot die storie hervertel. Dit is presies hoekom Jaco Jacobs onlangs baie duidelik gesê het dis verkeerd dat KI gebruik word om kinderboeke te illustreer. KI kan eenvoudig nie ’n ekstra verhaallyn verskaf nie.

Let dus op hoe fantasties Johann Strauss se tekeninge tot die verhaal bydra.

Laat die jongspan ook kyk hoe Lea se postuur uitgebeeld word. Strauss is meesterlik. Aan die begin is haar lyftaal negatief. Kyk hoe dit verander soos die verhaal vorder.

Een van die bekende maniere om jongmense te leer lees is juis om eers deur die boek te blaai en die tekeninge saam met hulle te bekyk. Laat hulle self wonder en stories bedink.

Dan lees ’n mens die boek saam met hulle en daarna herinterpreteer ’n mens die tekeninge.

Strauss se bydrae kan nie onderskat word nie.

Die krag van intertekste

Lea se naam word nie sommer uit die lug gegryp nie. Enige persoon wat literatuurstudies verstaan, besef dat hier moontlik iets is om na te slaan.

Lea van die Bybel is ’n baie hartseer figuur, maar een wat deur God gekies is om groot dinge te bewerkstellig.

Lees gerus weer Genesis 29. Ek het dit nog altyd ’n baie trietsige verhaal gevind.

Jakob is smoorverlief op Ragel, die pragtige jonger suster van Lea. Lea, daarenteen, is nie baie mooi nie.

Jakob werk dan sewe jaar vir Ragel, maar word dan net verneuk en kry vir Lea en haar slavin in sy bed. Nou moet hy nog sewe jaar werk om Ragel, plus haar slavin, ook te bekom.

Lea is egter die een wat deur God gekies word om die stam van Israel te begin. Sy raak jaar na jaar swanger en is uiteindelik die uitverkorene stammoeder. Tot vandag is haar nageslag deel van die wêreldpolitiek, sou ons die Bybelverhaal as histories wou interpreteer.

Ek moet waarsku dat ’n mens versigtig moet wees om nie jong mense met te veel van die hartseer op te saal wat met Lea en haar nageslag gepaard gaan nie. Vir intelligente lesers en ouer lesers is dit egter interessant dat Lea in Zuléka Smit se boek duidelik nie die uitverkore prinsessie in die oë van haar klasmaats is nie; sy word nie deur haar maats raakgesien aan die begin nie. Soos in die Bybel het hierdie Lea egter talente wat maak dat sy ’n uitverkorene van God is.

’n Wenner?

Zuléka Smit en Johann Strauss se vorige boek, Ben en die groot toets, is deur kinderlesers met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon. Die een mag dalk ook sodanige lof kry.

Lees ook:

Ben en die groot toets deur Zuléka Smit: ’n lesersindruk

Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top