Waarom is moord sexy?

  • 1

Foto van Devilsdorp, onder: Showmax

.........

Ek verstaan die aantrekking van wetteloosheid, maar ek trek die streep by moord.

...........

Bruce Springsteen weeklaag in “Nebraska”:

I saw her standin’ on her front lawn just twirlin’ her baton
Me and her went for a ride, Sir, and ten innocent people died
From the town of Lincoln Nebraska with a sawed-off .410 on my lap
Through to the badlands of Wyoming I killed everything in my path
I can’t say that I’m sorry for the things that we done
At least for a little while, Sir, me and her we had us some fun

Bruce en Nick Cave kan eksistensiële angs, lewensmoegheid en lukrake geweld sexy laat klink. Ek verstaan die aantrekking van wetteloosheid, maar ek trek die streep by moord. ’n Karakter in ’n roman van Alice Thomas Ellis het by geleentheid gesê: Ek sal nie kan moor nie; dis te morsig en intiem, soos seks en geboorte gee.

Waarom raak vroue so dikwels verlief op geweldenaars agter tralies, soos die joernalis wie se hart aan een van die Krugersdorp-moordenaars behoort het? Daardie spesifieke afspraakmoorde is vir my ekstra grillerig omdat ’n gesin saam gemoor het. Sekere dinge, soos seks en moord, is darem net te intiem en persoonlik om ’n gesinsport te wees. Sies, man.

.........

Is ’n gevangene juis so begeerlik omdat hy veilig agter slot en grendel sit? Orrels in die maan? Is dit soos om ’n briesende, gespierde tier in ’n hok aan te hou? Hy word afhanklik van jou, jy kan hom gaan sien wanneer jy wil en ignoreer wanneer jy wil.

...........

Is ’n gevangene juis so begeerlik omdat hy veilig agter slot en grendel sit? Orrels in die maan? Is dit soos om ’n briesende, gespierde tier in ’n hok aan te hou? Hy word afhanklik van jou, jy kan hom gaan sien wanneer jy wil en ignoreer wanneer jy wil. Soos ’n Ken-pop waaraan jy enige eienskap kan toedig; jy kan speel hy’s jou sprokiesprins, jou ridder op ’n wit ros. Jy kan sy hare kam. As jy moeg word, gooi jy hom terug in die speelgoedkis.

Miskien is dit suiwer biologie: die ovum hunker na die sterk sperma van die alfaman, die boelie, die heerser. Skoonlief en die Ondier, Lady and the tramp, Eva Braun en Hitler, die jong bruide en Boris Johnson.

Maar nee, dit is meer as dit. Dit weet ek uit persoonlike ervaring: my skrikwekkende episode met Scottie die tronkvoël. Mans wat moor verromantiseer hulleself, glo dat hulle te besonders en slim en sterk vir hierdie wêreld en sy mensgemaakte reëls is, dat hulle hartstog dringender as ander mense s’n is, hul bloed warmer, dat hul harte eensame jagters is, dat niemand die ongebonde, wilde vryheid van hul siel verstaan nie. Hulle verhef hul persoonlikheidsafwykings tot kultus. Dit kan ’n vrou ook wees, soos die blesserige psigopaat van Devilsdorp.

Hulle is narsiste en glo die wêreld draai om hulle. As jy met soveel oortuiging glo jy is spesiaal, sentraal en aardverskuiwend, sal jy altyd dissipels op die hals haal. Hulle is supermanipuleerders. Vroue met ’n versugting na die romantiese gekombineer met die daadkragtige is klei in hul hande. Hierdie prisoniers is ook (soos ’n sekere lemloper) bitter jammer vir hulself en sekere vroue vind soveel weerlose selfbejammering aandoenlik eerder as afstootlik. Die lewe was van die begin af teen hom en jy is die enigste een wat hom verstaan. Kyk, die kontras: so ’n groot, sterk man wat bitterlik huil. Snot en trane.

Toe ek jonk was, het ’n vriendin van my verloof geraak aan ’n eksgevangene. Sy was geleerd en verfynd, maar haar hart was heeltemal te sag en sy het haarself as buitestander gesien en geïdentifiseer met verskoppelinge. Don was ’n rowwe diamant of dalk net ’n growwe stuk steenkool: groter as lewensgrootte; kleurvol, luid en vol melodrama en swak poësie. ’n Testosteroonbom met kwessies. Kleinserig en opvlieënd. Nie eens besonder handsome nie. Ons het gegru oor sy tronkstories; hoe tough en intimiderend hy deurgaans moes wees om niemand se wyfie te word nie. Die nommers, tsotsitaal, Franse, generaals, ’n skerpgemaakte tandeborsel tussen die ribbes.

Die begogeling het dun geraak vir my vriendin en laat een nag kom klop sy my op. Don is kort op haar hakke, soos ’n dreigende skadu. Sy wil die verlowing verbreek en hy is rasend soos ’n dier. Dit was in my sendelingdae. Ek stel voor ons gaan na ’n ander vriendin vir berading en gebed (ek het gevoel ek het ondersteuning nodig). Ons besluit dat ek saam met hom in sy motor daarheen sal ry, agter haar aan, om hom te probeer kalmeer. Domastrant en doodsveragtend het ek nie destyds besef hoe fragiel die lewe is nie, en dikwels met my lyf gedobbel. Ek wou help.

Dit was ’n rit so reg uit ’n nagmerrie. Ek in die passasiersitplek en hierdie reus sonder impulsbeheer – onder die prop, briesend, gekwes, snotterend aan die ween en brul – agter die stuur. In sy linkerhand klem hy die verloofring vas en probeer dit soos ’n Coke-blikkie in sy groot vuis verwring. In ’n stadium draai hy die ruit af en slinger die ring dramaties die bosse in. Hy jaag soos ’n maniak om draaie en verklaar skielik luid dat hy lus is om net hier ’n einde aan alles te maak. Wat het my besiel?

........

Wel, ek het al hierdie dramatiese insidente oorleef en my beskermengel is in terapie. Vandag sal ek not a damn by so iemand in die kar klim nie. ’n Mens leer hierdie lewe liefkry.

..........

Wel, ek het al hierdie dramatiese insidente oorleef en my beskermengel is in terapie. Vandag sal ek not a damn by so iemand in die kar klim nie. ’n Mens leer hierdie lewe liefkry.

Een ding sal ek steeds nie doen nie – vir ’n vriendin sê: Vergeet van hom, hy is ’n slegte idee, hy’s kommin en brutaal, sy aura is vol gate soos Emmental. Want elke vrou wat die behoefte daaraan het, moet haar eie kop stamp en haar eie Ondier probeer tem. Sokkies brei en soetkoekies bak vir besoektyd.

Toe die joernalis onlangs vir haar ekskêrel in die tronk ’n e-pos stuur, antwoord sy nuwe meisie haar. Ja, vroue staan tou. Daar is altyd nog een wat glo sy verstaan hom, net sy sien die lieflike kant van sy misverstaande psige en, ja, selfs sy onskuld.

Charles Manson het ook ’n girlfriend gehad, selfs toe hy al oud was en ’n medegevangene thinners oor hom uitgegooi en hom aan die brand gesteek het sodat hy soos waansinnige, verbrande ontbytspek gelyk het, met ’n swastika-tatoe tussen die oë. Begogeling is blind en moord imponeer immer.

Lees ook:

Devilsdorp: Mystery and suspense cleverly maintained

In gesprek met Jana Marx oor rekordslaner Devilsdorp

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top