Waar bloed kruip deur Kobus Breyl: ’n lesersindruk

  • 0

Boekomslag: Waar bloed kruip deur Kobus Breyl (Ns. Skrywershuis)

Titel: Waar bloed kruip
Skrywer: Kobus Breyl
Uitgewer: Ns. Skrywershuis
ISBN: 9780796197177

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Oor die skrywer

Kobus Breyl is ’n 77-jarige afgetrede landdros. In sy loopbaan het hy in verskeie hoedanighede in die regsberoep gedien, onder andere as staatsaanklaer, prokureur en waarnemende streeklanddros. Sy skryfdebuut, Paaie deur die Karoo en ander stories, verskyn in 2020 by Ns. Skrywershuis en val in ’n heel ander genre as sy eerste suksesvolle speurroman, Waar bloed kruip.

Die verhaal

Die verhaal begin tydens die Covid-19-pandemie. Vyf moorde word gepleeg op verskillende plekke: Jeffreysbaai, Plettenbergbaai, Robertson, Worcester en Mosselbaai. Die modus operandi is bykans dieselfde. Speurkaptein Jan Borman word ingespan om ’n ondersoekspan saam te stel.

Met goeie detail en woordryke beskrywings van die Tuinroete, die Overberg en sy opvallende karakters, kleur Kobus Breyl ’n milieu in wat groot verwagting skep. Hy stel die leser nie teleur nie.

Die netjies geklede man, dertig jaar oud, kou angstig kougom. Hy smag daarna om borrels te blaas om sy senuwees te kalmeer, maar met sy gesigmasker is dit onmoontlik. Dit is van kleins af ’n gewoonte wat as terapie vir hom dien wanneer hy gespanne en hartseer is. (bl 3)

Die moordenaar se eerste slagoffer, Kvaran, wat onder die indruk is dat ’n joernalis met hom ’n onderhoud wil voer, is opgewonde oor die besoek. Hy nooi die sogenaamde joernalis vol selfvertroue na binne en spog groots oor die sekuriteit waarmee hy en sy eiendom beveilig is. Aan die einde van die onderhoud versoek die joernalis dat Kvaran die inligting deurgaan en onderteken ter wille van sy redakteur.

Die dokter blaai na bladsy vier en begin lees. Hy kyk ontsteld en beangs na sy besoeker wat oorgehaal staan met die motorfietsspeek in sy hand. Die ou man sê niks, sy nekspier trek sigbaar styf – sy oë pleit skuldig. (bl 10)

Die aanhaling hierbo is die brokkies aas wat Breyl sy leser bied om geheimsinnigheid en spanning te bou en kom deurgaans voor.

Speurkaptein Jan Borman, informeel bekend as Kaptein Moerkoffie vanweë sy koffie-snobisme, word ingeroep deur bevelvoerder brigadier Ben Mkize om die moord te ondersoek.

Jan staan bekend as die speurder wie se staalgrys oë tot diep in verdagtes en getuies se koppe delf om by die volle waarheid uit te kom. (bl 33)

Ongelukkig vir kaptein Borman word speuradjudant Dirk du Preez deel van die ondersoekspan. Du Preez se befaamdheid is te wyte aan sy oordonderende knoffelasem en stink pyptwak, wat hom onvermydelik die bynaam Knoffelpyp besorg het. ’n Onvergenoegde man wat min respek toon vir vernuwende reëls en prosedures. Borman moet maar op sy tande byt en gereeld die woorde herhaal wat die afkorting WWJD op die bandjie aan sy pols verteenwoordig. Met die minimum leidrade en feitlik geen bewyse nie, raak die saak al kouer.

Die skrywer gryp sy leser dan vanuit ’n heel ander hoek. Nuwe karakters meld aan met nuwe intriges en raaisels, misterie en duistere dinge syfer deurgaans na die oppervlak.

’n Vyfde moord skud ’n dorpsgemeenskap toe dominee Gideon Steenkamp se ouma Hantie Steenkamp wreed vermoor word, terwyl hy in die Cederberge voorberei vir die Pinksterdienste wat voorlê. Hy is buite homself van ontsteltenis, woede en selfs wraakgedagtes. Sy verloofde Ina noem aan die paramedici: “Tannie Martie is my vriend se ma en dogter van tannie Hantie wat binne in die huis lê” (bl 124).

Die paramedici wat die liggaam ondersoek, vermoed onraad as gevolg van merke aan die slagoffer se nek en noem aan die twee geskokte vroue dat die polisie gekontak moet word. Tydens die forensiese ondersoek word geen vingerafdrukke gevind nie, maar langs Hantie se liggaam word hare gevind wat moontlik die moordenaar s’n kan wees.

Gideon keer terug van sy afgesonderde verblyf en word kort na sy aankoms deur die polisie ondervra en sekere waarnemings dui aan dat hy waarskynlik nie so onskuldig is nie.

........
Dit is duidelik dat Kobus Breyl met indrukwekkende outoriteit skryf en deeglik bekend is met sy onderwerp. Gegewe sy agtergrond en ondervinding in die regspraktyk, neem hy die leser op ’n reis van ’n diggeweefde moord- en speurverhaal.
........

Kaptein Borman ontvang ’n oproep wat lewe in die koue saak blaas. Hy ontvang ook ’n verslag van ene Rautenbach, ’n profielsamesteller. Haar weldeurdagte waarneming en slotsom was nog altyd in die kol.

Jan, jy besef natuurlik dat daar nie veel inligting bekend is waarop ek ’n waterdigte opinie kan vorm nie. Maar met my jare se ondervinding het ek ’n instink ontwikkel wat selde foutief is. (bl 128)

Hierdie instink van die profielsamesteller dui daarop dat sekere feite nie klop nie, dat onverklaarbare teenstrydighede die saak se raaisel net dieper laat trog.

Met keurige en kreatiewe Afrikaans, puik dialoog, fyn sinspeling, treffende karakterisering en ’n skeut humor bied die skrywer ’n uitstekende verhaal wat die leser se verbeelding aangryp. Die leser sal plesier en genot put uit ’n interessante foto van ’n 1910-model-snorkoppie, wat kaptein Borman in ’n klandestiene transaksie gedurende Covid-19 bekom. Dit was egter noodsaaklik as ’n geskenk vir vrede in die ondersoekspan. “Du Preez toets dit uit en slaag daarin om sy snor uit die koffie en beskuit se pad te hou.” Tot groot vermaak van sy kollegas.

Die moordenaar se agtergrond kom na vore in ’n uiters verrassende ontknoping. Sielkundig is hy ’n flenter-mens, ten spyte van sy briljantheid en skerp verstand.

Die teksversorging verdien ’n pluimpie en die omslag hou sy eie geheim in.

Dit is duidelik dat Kobus Breyl met indrukwekkende outoriteit skryf en deeglik bekend is met sy onderwerp. Gegewe sy agtergrond en ondervinding in die regspraktyk, neem hy die leser op ’n reis van ’n diggeweefde moord- en speurverhaal; senutergende spanning en onverwagse verwikkelinge vier hoogty.

Die plot is uitstekend en weldeurdag. Die christelike ondertoon is nie hinderlik of oordrewe nie; die einde is onvoorspelbaar en sal die leser laat snak na asem – die geheim word deurgevoer tot op die einde!

Die leser sal hierdie treffende roman, Waar bloed kruip, nie maklik neersit voor die laaste bladsy nie. Ek kon nie.

Lees ook:

Die waarheid lê in Niemandsland deur Erika Dykes: ’n lesersindruk

Die duiwel is in die detail deur Marizka Coetzer, ’n lesersindruk

Vlug van gister deur Jan Bonthuys: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top