WA Hofmeyr-prys 2018: Wenner- en kortlysmotiverings

  • 0

Keurders: Francois Smith, Sonja Loots, Kerneels Breytenbach

Wenner

Eben Venter
Groen soos die hemel daarbo
(Tafelberg)

Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo begin met ’n seun se vroegste gewaarwordinge van seks en eindig met dié seun wat as volwassene verklaar dat seks niks meer as ’n fisieke interaksie is nie: “Dit is iets wat tussen twee liggame gebeur, uit en uit fisiek.” Maar tussen hierdie twee momente, die begin op ’n plaas in die Noordoos-Kaap en die einde op vakansie aan die Wildekus, lê hierdie boek. En die ironie van die hoofkarakter se triomfantelike slotsom word die leser behoorlik onder die neus gevryf deur die aard van Venter se prosa: altyd sowel trefseker as soekend; sy sinne immer smagtend, byna nerveus tastend. Wat die leser ten slotte bybly, is nie soseer die voltrekking van die hoofkarakter se soeke na seksuele identiteit nie, maar wat die prosa vermag.

Die titel van die roman kom van die Xhosa-frase vir die kleur blou: “Dis iets wat jy nie kan sê hoe dit is nie. Miskien dink jy jy kan daaraan vat, maar jy kan nie.” Insgelyks kan jy Venter se boek sien as ’n reisboek; of as ’n veelvlakkige verkenning van seks tussen mans. Maar albei hierdie reise word onderlê deur die reisvaardigheid van Venter se taal. Die eintlike reiswerk word deur sy sinne gedoen; die ware soeke is dié van sy woorde – die soeke na kleur, na vorm, na smaak en tekstuur. Na die grein van menswees. By Venter het die innigheid en egtheid van hierdie soeke dikwels te make met sy karakters se vroegste verbintenisse: aan pa, ma en geboortegrond. Dit is hiervandaan dat Venter se prosa vlugte onderneem wat die letterkunde bly verryk.


Kortlys

Nicole Jaekel Strauss
As in die mond
(Queillerie)

Nicole Jaekel Strauss se tweede bundel kortverhale is ’n sterk en geskakeerde toevoeging tot die eenheidsbundel-genre in Afrikaans.

’n Gabriel García Márquez-motto oor hoe mense in die loop van hul lewe telkens spiritueel hergebore word, dien as vroeë aanduiding dat dit hier gaan om die kompleksiteit van karakters wat nuut moet begin. Heelparty probeer orent beur ná ’n traumatiese ervaring. Ander verdiep hulle in koersverleggings rondom identiteit en/of seksualiteit. Karakters is sekuur geteken, maar het nietemin ’n kwiksilweragtige kwaliteit aangesien hulle as eggo’s van mekaar bly verskyn en verdwyn. Die wyse waarop ook vinjette, motiewe en temas oor die grense tussen verhale beweeg, sorg vir ’n verrassende leeservaring.

Volgehoue spanning en progressie vanaf die eerste tot die laaste verhaal word fyn gebalanseer met die poëtiese kwaliteit van Jaekel Strauss se prosa. Die skrywer beïndruk ook met die subtiliteit waarmee sy geïmpliseerde betekenisse in die verhale laat uitwaaier. Om verbande te trek tussen verhale, die verloop van sekere traumatiese gebeure na te spoor, die verhoudings tussen opeenvolgende generasies en verskillende moeders en dogters uit te pluis, en om die betekenislae van die titel in die verskillende verhale na te spoor, raak die plesierige en intrigerende taak van die leser.

Soos in haar debuutbundel, Maal (2010), gaan dit in As in die mond dikwels om kos, kook en eet. Ook die verskrikking van vuur word op kaleidskopiese wyse verreken. Deurgaans getuig As in die mond van ’n volwasse skrywerstem wat haar stof met verhale met virtuose selfvertroue saamweef.

----------------------------------------

Etienne van Heerden
Die wêreld van Charlie Oeng
(Tafelberg)

Hierdie werk kan beskryf word as ’n kragtoer van die verbeelding. Die wêreld van Charlie Oeng is groots in opset, dig in tekstuur, en geskryf met ’n intrigerende vervlegting van verskeie verhaallyne waardeur die verteller, Tian Kilian, die lewe van die Chinees Charlie Oeng navors ten einde sy eie lewe te karteer.

Dit is ’n roman waarin talle wêrelddele besoek word, maar wat in sy diepste essensie ook die streke van die moderne gees probeer uitpluis.

Ingebed in die roman is ’n ironiese spel: Die verteller is ’n uitgewer wat al skrywend vind dat skryf ’n terapeutiese uitwerking het, maar uiteindelik ook moet insien dat sy vertelling al wyer uitkring sonder dat hy die waarheid volledig onder woord kan bring, en dat dit uiteindelik grotendeels ongeskryf moet bly.

Die kernsaak wat Etienne van Heerden via Tian Kilian en Charlie Oeng aanroer, is die ontmoeting van Westerse en Oosterse kultuur. Die gebruik van antieke Chinese gevegskuns as stramien gee Van Heerden toegang tot die wêreld van die Oosterling, maar dit is Charlie self wat die volledige begrip ontwykend maak. Tian Kilian sê hy maak geraas in die ooste en val aan uit die weste. Tussenin lê die betowering van hierdie roman, die raaksien van die self.


Lees ook:

As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss: ’n onderhoud

Die wêreld van Charlie Oeng: ’n resensie

Kunstenaar van die lem: Etienne van Heerden se Die wêreld van Charlie Oeng

Die wêreld van Charlie Oeng: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n resensie

Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Video: Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter word bekendgestel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top