
Shireen Crotz (VVA), Gerrie Lemmer (ATKV – Uitvoerende Hoof: Kultuur), Chareldine van der Merwe (VVA), Frazer Barry, Sarah Theron, René Arendse, Whaden Johannes (foto: Jean Oosthuizen)
...........
Hy was met reg kwaad gewees vir Afrikaans toe hy nog in die ANC se jeugliga was, omdat hierdie taal ’n voertuig was vir sy mense se onderdrukking. Dit het egter tot hom deurgedring dat hy kwaad is vir sy eie tong as hy kwaad is vir Afrikaans.
.............
Hy was met reg kwaad gewees vir Afrikaans toe hy nog in die ANC se jeugliga was, omdat hierdie taal ’n voertuig was vir sy mense se onderdrukking. Dit het egter tot hom deurgedring dat hy kwaad is vir sy eie tong as hy kwaad is vir Afrikaans.
So het Frazer Barry, bekende musikant, televisie- en radioaanbieder en woordkunstenaar, sy gevoel oor Afrikaans opgesom tydens ’n paneelgesprek oor Afrikaanse musiek wat deur die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, gereël is.
Die gesprek was deel van die VVA se gereelde Ommietafelgesprekke. Vanjaar se gesprek by die Middelvlei-wynlandgoed buite Stellenbosch het in samewerking met Afrikaans 100 plaasgevind in die aanloop tot volgende jaar se 100-jarige viering van Afrikaans se status as amptelike taal.
Shireen Crotz van die VVA, wat die paneel aan die woord gestel het, sê die rede waarom die VVA projekte het soos die Ommietafelgesprekke, is dat hulle gesprekke wil uitlok met gewone mense en meningsvormers. “Ons wil gesprekvoering en redevoering oor Afrikaans stimuleer sodat ons die samelewing positief kan beïnvloed.”
Die ander deelnemers aan die gesprek was die sangeres en aktrise Sarah Theron en die sanger en akteur Whaden Johannes. Die nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaans 100, René Arendse, het as gespreksleier opgetree.
Al die gespreksgenote was dit eens dat Afrikaanse musiek ’n blink toekoms het en dat die taal in al sy vorme gevier en omarm moet word as ’n inklusiewe taal.
Barry sê in die konteks van volgende jaar se 100-jarige viering van Afrikaans moes hy hom afvra hoe hy daaroor voel. Baie van sy vriende is ook om die regte redes kwaad, omdat Afrikaans nie net 100 jaar oud is nie en hulle glo dat die ontstaansgeskiedenis van die taal misken word.
“Ek moes myself afvra of ek net ’n toeskouer gaan word en of ek ’n bydraende faktor gaan wees om die taal te vier en hoe sien ek hierdie taal in al sy volheid?
“En toe besef ek, nai man, taal is soes ’n goose en ’n man wat bymekaar gekom het van verskillende wêrelde af en by mekaar gelê het en aan mekaar gelek het. Toe is daar later ’n sperm en ’n eiersel wat bymekaar gekom het en eers later word die baba gebore. Dieselfde met Afrikaans. Daar het 173 jaar se baklei verloop voordat die taal as amptelik opgeteken is, maar dit was alreeds ’n taal toe al die potjiekos se bestanddele bymekaargekom het. Die klei van die potjie, die sout van die Atlantiese Oseaan en die speserye van die Ooste en wonderlike vuur van Afrika en Nederland en al die tale se bestanddele.”
Uiteindelik het Barry besluit die 100-jarige viering van Afrikaans is soos ’n baba se geboorte, soos hier bo gestel. Die geboorte self word voorafgegaan deur ’n hofmakery tussen twee mense wat uit verskillende wêrelde bymekaargekom het. “Iemand moes maar net 100 jaar gelede ’n stempel daarop sit en sê van nou af is dit ’n amptelike taal, of ons van die persone hou wat die stempel daarop gesit het of nie.
“Ons weet die taal was daar lank voordat dit ’n amptelike taal geword het. Dit het deur ’n proses van loutering gegaan waar bruin, wit en swart bydraes gelewer het voordat die baba se naelstring geknip kon word,” sê Barry.
“My vraag is dit. My kind is 14 jaar oud. Gaan ek deel wees van die 173 jaar se baklei toe die taal nog in die baarmoeder was voordat dit ’n amptelike taal geword het of gaan ek deel wees van die volgende 100 jaar?
“My kind is deel van die volgende 100 jaar. Ek gaan nie terugsit sodat ons steeds in ons aparte silo’s aangaan soos in die verlede nie. Ek wil saamwerk vir ons almal se liefde vir die taal en al ons mense en al hulle stories,” het Barry sy gevoel opgesom.
Barry sê dit is belangrik om ook oor die ou goed te praat, en dit moenie vergeet word nie. Dit is egter net so belangrik om die taal se beeld vandag reg te kry sodat gewone mense dit verstaan, en dat almal wat die taal praat om ’n tafel sit en saam oor die toekoms van Afrikaans praat.

René Arendse, Diana Ferrus, Ria Olivier, Whaden Johannes (foto: Jean Oosthuizen)
Sarah Theron stem saam en sê dit help nie om die kind met die badwater uit te gooi nie. “Ons het ’n taal wat ’n volwaardige akademiese taal is; nou moet ons hom net vet voer.”
Whaden Johannes sê vir hom lê die sukses van Afrikaans daarin om almal na die tafel te nooi sodat almal se menings gehoor kan word. “Die kind wat probleme het by die skool, die koster tot die skoonmaker se opinies is almal net so belangrik soos die CEO s’n. Dan eers gaan ons nie meer nodig hê om solo te gaan nie. Almal van ons praat dan een Afrikaans en ons noem dit nie Kaapse Afrikaans of Bolandse Afrikaans nie. Dis net Afrikaans.”
......
Arendse het dit in haar afsluiting ook beklemtoon dat Afrikaans in werklikheid veel ouer as 100 jaar is en van ver af kom. Sy het daarna verwys dat Arabiese geskrewe Afrikaans die eerste geskrewe Afrikaans is wat bestaan. Sy sê daar is baie persepsies, positief sowel as negatief, oor die viering van Afrikaans. Die grootste vraag by baie is: Maar hoe kan julle dan sê die taal is net 100 jaar oud?
..........
Arendse het dit in haar afsluiting ook beklemtoon dat Afrikaans in werklikheid veel ouer as 100 jaar is en van ver af kom. Sy het daarna verwys dat Arabiese geskrewe Afrikaans die eerste geskrewe Afrikaans is wat bestaan. Sy sê daar is baie persepsies, positief sowel as negatief, oor die viering van Afrikaans. Die grootste vraag by baie is: Maar hoe kan julle dan sê die taal is net 100 jaar oud?
Arendse sê hoewel Afrikaans 100 jaar gelede ’n amptelike taal geword het, is die projek om die taal te vier se hele doel om te sê Afrikaans kom van ver af. “Ons praat van die 1500’s, ons praat van die sinergie van die Hollandse taal, die Griekwataal, die Khoitaal.
“Ons sit met ’n wond wat nooit genees nie. Dit is meer as die fisiese. Dit is waardigheid, dit is identiteit, dit is allerhande dinge. Die vraag is hoe kan ’n projek, al is dit kortstondig soos hierdie een, help om Afrikaans in al sy vorme te vier, maar ook spesifiek binne die kunste en musiek.”
Barry sê die sleutelwoord bly “inklusiwiteit” en dat alle Afrikaans belangrik is. "Nuutskeppinge, streekstaal, streeksdialekte, alle ou Afrikaans is belangrik."
Lees ook:
Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap
Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Frazer Barry
Persverklaring: ATKV-Woordveertjies 2024, hier is die finaliste


Kommentaar
Baie dankiehiervoor. Te veel musiekfeeste se kunstenaars is nog net wit. Ons moet dit aanspreek en verbied. Laat alles en almal saamwerk.