Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met Mia Kahts die literatuurfeeskoördineerder

  • 0

Foto verskyn met toestemming: Agtergrond van die grafika: https://vrystaatkunstefees.co.za/

Jannes Erasmus het met Mia Khats ’n onderhoud gevoer. Mia is die Vrystaat Kunstefees se literatuurfeeskoördineerder.

Wat behels jou rol as literatuurfeeskoördineerder alles?

As literatuurfeeskoördineerder is ek verantwoordelik vir die beplanning en koördinering van die volledige literêre program, vanaf die eerste uitnodiging aan skrywers tot die laaste boekgesprek tydens die fees.

Ek werk saam met uitgewers en skrywers om nuwe publikasies te identifiseer, koördineer gespreksgenote en sorg dat boeke betyds beskikbaar is. Ek werk ook saam met Bargain Books, wat die boeke tydens die fees verkoop en boektekenings fasiliteer.

’n Belangrike deel van my rol is die samestelling van die program. Die boekgesprekke word nie bloot lukraak ingedeel nie. Elke gesprek word doelbewus geskeduleer sodat die tydgleuf by die tema, die inhoud en die beoogde gehoor pas. Ons waremisdaad-gesprekke is byvoorbeeld elke aand om 18:00 aangebied. Dit is ’n genre wat goed werk wanneer mense ná ’n besige dag kan kom sit en hulself in die spanning en stories inleef. Politieke gesprekke is weer in die vroeë middag aangebied wanneer die feesgronde op hul besigste is en mense tyd het om die gesprekke te volg en daarna verder daaroor te dink.

Een van die hoogtepunte van vanjaar se program was die bekendstelling van ’n toegewyde kinderprogram. Die oggendsessies het reeds om 10:00 begin met werkswinkels en aktiwiteite wat jong lesers aktief by die literêre wêreld betrek het. Die program is elke middag afgesluit met Jaco Jacobs se sessie ter viering van sy 25 jaar as skrywer. Ons doel was om kinders weer opgewonde te maak oor lees, stories en kreatiwiteit. Die reaksie op die kinderprogram was besonder positief en dit is beslis iets waarop ons in die toekoms verder wil voortbou.

Alhoewel ek die literatuurfeesprogram koördineer vra ek gereeld insette van uitgewers, ander kenners en my kollegas by die Vrystaat Kunstefees. Deur almal se terugvoer, voorstelle en ervaring in ag te neem, stel ek ’n gebalanseerde en relevante program saam.

My rol is uiteindelik om al hierdie elemente bymekaar te bring en te verseker dat die literatuurfees vir skrywers, uitgewers en feesgangers ’n professionele, goed-georganiseerde en betekenisvolle ervaring is.

Hoe begin ’n mens om ’n literatuurfees saam te stel? Begin jy by die boeke, skrywers, temas wat in die lug hang, of by die soort gesprekke wat jy self graag wil hoor?

Die samestelling begin vir my lank voordat die feesprogram geskryf word. Die eerste stap is om uitgewers te vra vir hulle nuwe katalogusse. Ek vra gewoonlik reeds die jaar voor die tyd daarvoor, sodat ek kan sien watter boeke die volgende jaar verskyn en watter publikasies moontlik goed by ons fees sal pas.

Van daar af begin die navorsing. Ek lees op oor die boeke, volg resensies, hou sosiale media dop en kyk watter boeke mense oor praat. Daarna gesels ek met uitgewers oor hoe hulle dink ’n spesifieke boek by die Vrystaatse gehoor sal aanklank vind. Ek kry ook baie voorstelle van uitgewers, skrywers en onafhanklike publikasies wat graag deel van die program wil wees.

Dit help om seker te maak dat ons nie net na groot uitgewers kyk nie, maar ook na boeke wat dalk op ander maniere baie aandag trek.

Bargain Books is ook ’n groot hulp in hierdie proses. Omdat hulle daagliks met boeke en lesers werk, het hulle goeie insig oor wat gewild is en watter titels sterk aanklank vind. Hulle aanbevelings en idees dra baie by wanneer ons die program saamstel.

Wanneer dit by paneelgesprekke kom, werk dit weer anders. Daar kyk ons na temas wat op daardie stadium relevant is. Vanjaar het ons byvoorbeeld verskeie gesprekke oor politiek aangebied, in samewerking met Netwerk24. Skrywers stel ook gereeld onderwerpe of paneelgesprekke voor wat hulle graag wil aanbied, en daardie idees vorm dikwels deel van die program.

Die belangrikste vraag bly altyd wat die feesgangers sal geniet en waarna hulle sal opdaag. Fiksie doen jaar na jaar besonder goed by die Vrystaat Kunstefees en daarom kry dit altyd baie aandag. Waremisdaad is nog ’n genre wat baie gewild is en een waarin ek self ook ’n groot belangstelling het.

Ek kry ook baie waardevolle insette van my kollegas by die Vrystaat Kunstefees. Hulle lees baie, volg die boekwêreld noukeurig en stuur gereeld aanbevelings of idees aan. Die program is dus nie die resultaat van een persoon se mening nie, maar van deeglike navorsing, baie gesprekke, voorstelle en samewerking.

Sodra ek ’n goeie verskeidenheid boeke en gesprekke geïdentifiseer het, begin die volgende fase. Dan word die program saamgestel deur elke gesprek in ’n geskikte lokaal en tydgleuf te plaas, totdat alles uiteindelik in ’n gebalanseerde en logiese feesprogram saamkom.

’n Boekgesprek kan maklik voorspelbaar raak. Wat maak volgens jou ’n goeie literatuurfees-gesprek werklik lewendig?

Vir my begin ’n goeie boekgesprek lank voordat die gehoor in die lokaal instap. Dit begin by die regte kombinasie van skrywer, gespreksleier en onderwerp. As daardie drie elemente mekaar aanvul, gebeur die gesprek amper vanself.

Ek probeer ook om gespreksgenote te kies wat opreg nuuskierig is oor die boek en die skrywer. Die beste gesprekke is nie dié waar iemand bloot ’n lys voorbereide vrae aflees nie, maar waar daar ruimte is vir spontane gesprek, humor, eerlike menings en selfs verskillende perspektiewe.

Ek dink dit is ook belangrik dat die gesprek verder gaan as net die inhoud van die boek. Lesers wil hoor wat die storie agter die storie is. Hulle wil weet hoe ’n karakter ontstaan het, waarom ’n skrywer sekere keuses gemaak het of wat tydens die skryfproses gebeur het. Dit is daardie oomblikke wat ’n gesprek onvergeetlik maak.

Laastens glo ek ’n goeie boekgesprek sluit die gehoor in. Wanneer mense die geleentheid kry om vrae te vra of hul eie gedagtes te deel, voel hulle deel van die gesprek, eerder as om net toeskouers te wees. Dan raak ’n boekgesprek meer as net ’n onderhoud. Dit word ’n ervaring wat mense nog lank ná die fees onthou.

Hoe sorg ’n mens dat boeke en skrywers steeds hul plek in die fees se besige feesomgewing kry?

Ek dink die geheim is om nie die literatuurfees as iets afsonderliks van die Vrystaat Kunstefees te sien nie, maar as ’n integrale deel daarvan. Mense kom dalk aanvanklik vir ’n teaterproduksie, ’n musiekvertoning of die Kunstemark, maar dit skep juis die geleentheid om hulle ook aan boeke en skrywers bloot te stel.

Ons probeer daarom ’n program saamstel wat toeganklik is vir almal. Daar is gesprekke oor fiksie, waremisdaad, kookboeke, politiek, geskiedenis, kinderboeke en nog baie meer. Só is daar iets waarin feitlik elke feesganger kan belangstel, selfs al het hulle nie spesifiek vir die literatuurfees gekom nie.

Die ligging van die boekgesprekke speel ook ’n rol. Ons skep ruimtes waar mense maklik kan instap, na ’n gesprek luister en daarna met die skrywer gesels of ’n boek laat teken. Dit maak die ervaring persoonlik en toeganklik.

Ek dink die grootste voordeel van die Vrystaat Kunstefees is juis dat al die kunsvorme mekaar aanvul. ’n Boek kan aanleiding gee tot ’n teaterproduksie, ’n gesprek oor geskiedenis of politiek, of selfs ’n musiekuitvoering. Literatuur staan dus nie eenkant van die fees nie. Dit vorm deel van die groter gesprek oor stories, idees en die wêreld waarin ons leef.

Wanneer mense die fees verlaat met ’n boek onder die arm, nadat hulle die skrywer ontmoet en die storie agter die storie gehoor het, dan weet ek die literatuur het sy plek binne die groter fees gevind.

Watter gesprek het vanjaar jou verras en hoekom?

Dit is eintlik moeilik om net een gesprek uit te sonder, want elke boekgesprek het sy eie karakter gehad. As ek egter twee moet kies, is dit Bitterkomix en Rocco de Villiers se Klawer.

Bitterkomix het my verras, omdat dit veel meer as net ’n boekgesprek was. Anton Kannemeyer en Conrad Botes het nie net ’n gesprek aangebied nie, maar ook die volgende dag ’n meesterklas. Dit was ongelooflik om te sien hoeveel mense hulle ondersteun het. Oral op die feesgronde het mens mense met Bitterkomix-uitgawes onder die arm gesien; sommige selfs met eerste uitgawes wat hulle laat teken het. Dit was Kannemeyer en Botes se eerste besoek aan die Vrystaat Kunstefees en die belangstelling het gewys watter lojale aanhang hulle oor die jare opgebou het. Dit was besonders om te hoor hoe hulle vertel het van die ontstaan van Bitterkomix en hoe hulle ’n unieke ruimte binne Suid-Afrikaanse kuns en literatuur geskep het.

Die tweede gesprek wat my bygebly het, was Rocco de Villiers se Klawer. Rocco was ook deel van die musiekprogram, maar sy boekgesprek het ’n heel ander kant van hom gewys. Hy het op ’n baie eerlike en persoonlike manier oor sy lewe en die stories agter die boek gesels. Dit het glad nie gevoel soos ’n tipiese onderhoud met ’n bekende persoon nie, maar eerder soos ’n opregte gesprek. Ek dink baie mense het die gevoel gehad dat hy met elkeen in die gehoor persoonlik gesels het, en dit is juis wat die gesprek so besonders gemaak het.

As ek egter eerlik moet wees, het die hele program my vanjaar positief verras. Die belangstelling van feesgangers, die gehalte van die gesprekke en die betrokkenheid van die gehore het my verwagtinge oortref. Elke gesprek het sy eie unieke energie gehad, en dit was besonders om te sien hoe mense ná afloop van sessies steeds met skrywers gesels, boeke koop en boektekenings bywoon. Vir my is dit die teken van ’n suksesvolle literatuurfees.

Daar was vanjaar sterk huldigingsgesprekke, onder meer oor figure soos Stella Blakemore, Johann Lodewyk Marais en Johann de Lange. Hoe hou mens sulke gesprekke vars, sodat dit nie terugkyk nie, maar ook iets sê oor waarheen Afrikaans en die letterkunde op pad is?

Ek dink ’n huldigingsgesprek werk die beste wanneer dit nie net fokus op wat iemand al bereik het nie, maar ook op die nalatenskap wat daardie persoon laat en hoe dit steeds nuwe lesers, skrywers en gesprekke beïnvloed.

By die Vrystaat Kunstefees probeer ons daarom om huldigingsgesprekke nie net terugblikke te maak nie. Ons wil hê dit moet ook vrae laat ontstaan oor die toekoms van Afrikaans en die letterkunde. Hoe beïnvloed hierdie skrywers vandag se stemme? Watter temas leef steeds voort? En hoe inspireer hulle ’n nuwe geslag skrywers?

Ek dink dit is juis die waarde van sulke gesprekke. Dit bring verskillende generasies lesers en skrywers bymekaar. Iemand wat Stella Blakemore of Johann de Lange al jare lees, sit dikwels langs iemand wat hulle werk nou vir die eerste keer ontdek. Daardie uitruil van perspektiewe hou die gesprek lewendig.

Die huldigingsgesprekke word deur NALN saamgestel en gekoördineer, en hulle doen dit al jare lank met groot sukses. Hulle beskik oor diepgaande kennis van die Afrikaanse letterkunde en slaag daarin om gesprekke saam te stel wat nie net die skrywer se lewe en werk belig nie, maar ook nuwe perspektiewe oopmaak. Dit is ’n waardevolle vennootskap wat die literêre program elke jaar verryk.

Vir my gaan ’n goeie huldiging dus nie net oor die verlede nie. Dit gaan daaroor om te wys waarom daardie skrywer vandag nog saak maak en hoe sy of haar werk steeds deel is van die groter verhaal van die Afrikaanse letterkunde.

Die gesprek oor vertaling met Fanie Viljoen en Jaco Jacobs raak aan iets baie groter as net woorde van een taal in ’n ander oorplaas. Hoekom dink jy is vertaling so ’n belangrike gesprek binne ’n Afrikaanse literatuurfees?

Ek dink vertaling is een van die belangrikste gesprekke wat ’n mens by ’n literatuurfees kan voer, omdat dit wys dat stories nie by een taal ophou nie. ’n Goeie verhaal kan mense uit verskillende tale, kulture en agtergronde met mekaar verbind.

Ons leef in ’n meertalige land waar lesers voortdurend met ander tale en kulture in aanraking kom. Vertaling maak dit moontlik dat Afrikaanse skrywers nuwe gehore bereik, maar ook dat internasionale en plaaslike stories in Afrikaans gelees kan word.

Die gesprek met Fanie Viljoen en Jaco Jacobs het juis gewys dat vertaling veel meer behels as om woorde van een taal in ’n ander oor te dra. Dit gaan ook daaroor om die betekenis, emosie, humor en kultuur van ’n verhaal te behou. Dit is ’n kreatiewe proses wat dikwels net soveel vaardigheid verg as die oorspronklike skryfwerk.

Ek dink dit is belangrik dat ons by die Vrystaat Kunstefees ruimte maak vir sulke gesprekke. Dit laat lesers anders na boeke kyk en herinner ons daaraan dat goeie stories grense kan oorsteek. Uiteindelik dra vertaling by tot die groei van die Afrikaanse letterkunde, omdat dit nuwe idees, nuwe lesers en nuwe gesprekke na die taal bring.

Daar was ook ’n gesprek oor nuwe boeke en aanlyn publikasies. Hoe dink jy verander die internet die manier waarop mense skryf, lees en oor boeke praat?

Ek dink die internet het die boekwêreld onherroeplik verander. Mense ontdek vandag boeke op heeltemal ander maniere as 10 of 20 jaar gelede. Waar lesers vroeër hoofsaaklik op boekresensies of aanbevelings staatgemaak het, speel sosiale media, aanlyn boekgemeenskappe en inhoudskeppers nou ’n groot rol in wat mense lees.

Dit skep nuwe geleenthede vir skrywers en uitgewers. Boeke kan vinniger by lesers uitkom, gesprekke begin lank voor ’n boek bekend gestel word en lesers kan regstreeks met skrywers in gesprek tree. Dit maak die boekwêreld meer toeganklik en dinamies.

Daar is natuurlik ook uitdagings. Omdat daar soveel inhoud aanlyn beskikbaar is, moet boeke harder meeding om mense se aandag. Daarom dink ek is literêre feeste vandag selfs belangriker. By ’n fees kry mense die geleentheid om stadiger te leef, met skrywers in gesprek te tree en die stories agter die boeke te ontdek. Dit is iets wat die internet nie heeltemal kan vervang nie.

Ek sien die internet dus nie as ’n bedreiging vir boeke nie, maar as ’n hulpmiddel wat nuwe lesers na boeke kan lei. As ons dit reg gebruik, kan dit belangstelling in lees aanwakker en selfs meer mense na literêre feeste bring.

Hoe balanseer jy die program tussen bekende name wat mense lok, en jonger of nuwe stemme wat dalk nog ontdek moet word?

Dit is seker een van die grootste uitdagings wanneer ’n mens ’n literêre program saamstel. Bekende skrywers lok natuurlik gehore en baie feesgangers kom spesifiek om hulle gunstelingskrywers te ontmoet. Dit is belangrik om daardie verwagting te vervul.

Terselfdertyd sien ek die Vrystaat Kunstefees ook as ’n plek waar nuwe stemme ontdek kan word. Daarom probeer ek doelbewus ruimte skep vir debuutskrywers en opkomende skrywers. Vandag se nuwe stemme kan oor ’n paar jaar die bekende name wees waarvoor mense kaartjies koop.

Ek steun ook sterk op die aanbevelings van uitgewers, Bargain Books, NALN, ATKV en my kollegas by die Vrystaat Kunstefees. Hulle maak my dikwels bewus van nuwe skrywers of boeke wat baie potensiaal het en wat goed by ons gehoor kan aanklank vind. Saam met my eie navorsing, help dit om ’n program saam te stel wat gevestigde name én nuwe talent insluit.

Vir my gaan dit uiteindelik oor balans. Ek wil hê feesgangers moet die skrywers sien waarvoor hulle gekom het, maar ek wil ook hê hulle moet met ’n nuwe gunstelingskrywer huis toe gaan. As iemand ná ’n boekgesprek sê: “Ek het nog nooit van hierdie skrywer gehoor nie, maar ek móés die boek koop”, dan voel ek ons het iets reg gedoen.

Lees ook:

Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met die bestuurder van die feesmark

Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met Marijda Kamper die Vrystaat Kunstefees se programbestuurder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top