Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met Marijda Kamper die Vrystaat Kunstefees se programbestuurder

  • 0

Foto verskyn met toestemming: Agtergrond van die grafika: https://vrystaatkunstefees.co.za/

Jannes Erasmus het met Marijda Kamper ’n onderhoud gevoer. Marijda is die programbestuurder van die Vrystaat Kunstefees.

Wanneer jy ’n program saamstel, hoe keer jy dat die fees se drie name (Vrystaat Kunstefees, Arts Festival en Tsa-Botjhaba) net ’n vertaling van dieselfde fees in drie tale word en hoe sorg jy dat dit werklik drie kulturele wêrelde oopmaak?

Vir ons gaan dit in die eerste plek daaroor om almal welkom te laat voel. Deur die naam Vrystaat Kunstefees, Arts Festival en Tsa-Botjhaba te gebruik, vertaal ons nie bloot dieselfde fees in drie tale nie, maar erken ons die verskillende gemeenskappe, tale en kulture wat deel vorm van die Vrystaat en Suid-Afrika.

Ons doel is om ’n ruimte te skep waar mense hulself in die program kan herken, maar ook blootgestel word aan nuwe stories, perspektiewe en kunsvorme. Die fees is nie vir een spesifieke groep mense bedoel nie; dit is ’n viering van die kunste in al sy diverse vorme en ’n uitnodiging aan almal om deel te wees daarvan.

Ons glo dat die kunste nooit bedoel was om elitisties of uitsluitend te wees nie. Inteendeel, dit behoort toeganklik, inklusief en verbindend te wees. Daarom streef ons daarna om ’n program saam te stel wat verskillende kulturele wêrelde oopmaak en mense oor taal-, kultuur- en gemeenskapsgrense heen met mekaar in gesprek bring.

Wat beteken “iets vir almal” by die Vrystaat Kunstefees spesifiek? Waar trek jy die lyn tussen toeganklikheid en kunstige risiko?

By die Vrystaat Kunstefees beteken “iets vir almal” nie dat elke produksie vir elke persoon bedoel is nie. Dit beteken eerder dat daar genoeg verskeidenheid op die program is dat elke feesganger iets kan vind wat by hul belangstellings aanklank vind, én die geleentheid kry om iets nuuts te ontdek.

Daar is altyd ’n fyn balans tussen die sogenaamde crowd pleasers wat gehore graag wil sien, en werk wat mense uit hul gemaksones neem. Ons glo albei is belangrik. Die bekende trek mense fees toe, maar dit is dikwels die onverwagse produksies wat nuwe perspektiewe oopmaak, belangrike gesprekke begin en mense verras.

Dit kan uitdagend wees om gehore te oortuig om ’n kans te waag op iets wat nie noodwendig op hul wenslysie was nie, maar wanneer hulle dit wel doen, ontdek hulle dikwels stories, kunstenaars en temas waaraan hulle andersins nooit blootgestel sou word nie. Dit skep vertroue om die volgende jaar weer iets onbekends te probeer.

Daarom werk ons doelbewus daaraan om elke jaar ’n program saam te stel wat ’n wye verskeidenheid ervarings bied. Van produksies vir babas en jong gehore tot werk vir tieners en volwassenes; van ligter vermaak en heerlike lag-oomblikke tot dramas wat moeilike vrae vra; van uiteenlopende musiekgenres tot stories wat ons geskiedenis, kultuur en samelewing ondersoek.

Vir ons lê die balans daarin om kuns toeganklik te maak sonder om die waarde van artistieke risiko prys te gee. ’n Fees moet mense welkom laat voel, maar dit moet hulle ook uitnooi om verder te kyk, anders te dink en soms die onbekende te verken.

Watter stories voel jy is nog te min op Suid-Afrikaanse feesverhoë gehoor – en hoe probeer die Vrystaat Kunstefees vir daardie stories plek maak?

Stories is vir my fassinerend, omdat hulle selfs die bekendste onderwerp in ’n heel nuwe lig kan plaas. Soms raak ons afgestomp vir sekere kwessies of ervarings, omdat ons dit daagliks sien of hoor, maar deur die krag van storievertelling kan dieselfde onderwerp ons weer laat dink, voel en anders kyk na die wêreld rondom ons.

Wanneer ons praat oor stories wat nog te min gehoor word, dink ek nie noodwendig aan een spesifieke onderwerp wat belangriker is as ’n ander nie. Vir my gaan dit eerder daaroor om ruimte te skep vir die stories wat kunstenaars en kreatiewe mense voel nou vertel móét word. Elke storie dra die potensiaal om iemand te raak, uit te daag of te inspireer.

Daardie stories kan enigiets wees – van produksies wat kinders leer oor die waarde van vriendskap en empatie, tot werk wat moeilike gesprekke oor toksiese manlikheid, geslagsgebaseerde geweld, identiteit, kulturele geskiedenis of sosiale uitdagings aanspreek. Die temas verskil, maar die behoefte om gehoor en gesien te word bly dieselfde.

“Een fees, baie stories” beteken juis dat daar plek is vir hierdie verskeidenheid van stemme en perspektiewe. By die Vrystaat Kunstefees probeer ons nie bepaal watter stories die belangrikste is nie; ons probeer eerder ’n platform skep waar uiteenlopende stories hul plek kan vind en gehore die geleentheid kry om daarmee in gesprek te tree.

Dink jy die fees se grootste krag lê juis daarin dat dit nie uit Kaapstad of Johannesburg praat nie?

Ek dink die Vrystaat Kunstefees se grootste krag lê inderdaad daarin dat ons in die hart van Suid-Afrika geleë is. Juis daarom word die fees ’n ontmoetingsplek waar stories, kunstenaars en gehore van regoor die land bymekaarkom.

Dit is vir ons ’n voorreg om van die beste werk uit die Wes-Kaap, Gauteng en ander dele van die land na Bloemfontein te bring. Vir baie van ons gehore sou dit nie altyd moontlik wees om daardie produksies elders te gaan sien nie, en die fees skep dus toegang tot ’n ongelooflike verskeidenheid van gehalte kuns.

Maar die beweging is nie net in een rigting nie. Net so belangrik is die rol wat die fees speel om kunstenaars en stories uit die Vrystaat sigbaar te maak. Daar is soveel talent, kreatiwiteit en unieke perspektiewe in die provinsie, en die fees bied ’n platform waar daardie werk langs die beste in die land kan staan.

Ek sien die Vrystaat nie as ’n periferie nie, maar eerder as ’n plek waar verskillende kulturele gesprekke bymekaarkom. Die fees gee ons die geleentheid om gehore bloot te stel aan uiteenlopende stories van elders, terwyl dit terselfdertyd ’n ruimte skep waar plaaslike kunstenaars hul stemme kan laat hoor en hul vlerke kan sprei. Dit is juis daardie wisselwerking wat die Vrystaat Kunstefees so besonders maak.

Hoe beïnvloed jou agter-die-skerms-kennis vanuit jou teater- en feesfamilie die manier waarop jy na kunstenaars, tegniese spanne, venues en gehore kyk wanneer jy ’n program bou?

Baie mense besef nie altyd hoeveel werk agter die skerms ingaan voordat ’n produksie uiteindelik op die planke beland nie. Ek het grootgeword in die teaterwêreld en het van jongs af nie net die eindproduk gesien nie, maar ook die ongelooflike hoeveelheid beplanning, tegniese kundigheid, kreatiwiteit en harde werk wat dit moontlik maak.

Daar is dikwels maande se werk wat plaasvind voordat repetisies selfs begin, en nog meer wat volg voordat die gehoor die eerste keer in die teater instap. Die meeste mense ervaar uiteindelik die produksie op die verhoog – en dit is natuurlik hoe dit moet wees – maar agter elke suksesvolle vertoning staan daar ’n span mense wie se bydraes nie altyd sigbaar is nie.

Daardie agter-die-skerms-kennis herinner my dat goeie kuns nie in isolasie ontstaan nie. Wanneer ’n program saamgestel word, dink ons nie net aan die produksie self nie, maar ook aan die mense, ruimtes en ondersteuning wat nodig is om daardie werk tot sy reg te laat kom.

Ek het ’n groot waardering vir die tegniese spanne, produksiespanne en administratiewe mense wat die “onsigbare” werk doen om die magie moontlik te maak. Daarom probeer ons by die Vrystaat Kunstefees ’n omgewing skep waar almal – van die kunstenaar op die verhoog tot die tegnikus in die beheerkamer – die ondersteuning het wat hulle nodig het om hul beste werk te lewer. Wanneer al hierdie elemente saamwerk, kan ons iets skep waarop almal trots kan wees.

Wat maak die mengsel van wat by die Vrystaat Kunstefees aangebied word, anders as net ’n groot programlys? Is daar ’n onderliggende gesprek wat al hierdie afdelings aan mekaar bind?

Die antwoord is eintlik eenvoudig: kuns. Kuns is die goue draad wat al hierdie afdelings aan mekaar verbind. Wanneer mense aan kuns dink, dink hulle dikwels eerste aan teater, musiek of visuele kunste, maar kreatiwiteit en storievertelling bestaan in soveel meer vorme.

Daar is kuns daarin om ’n boek te skryf en ’n storie só te vertel dat dit mense raak. Daar is kuns in film, in ontwerp en in die manier waarop ons ons wêreld interpreteer. Selfs wetenskap en ontdekking vereis nuuskierigheid, verbeelding en kreatiewe denke. Die planetarium en Sci-Ed mag op die oog af anders lyk as ’n teaterproduksie of kunsuitstalling, maar hulle deel dieselfde menslike begeerte om te ontdek, te verstaan en sin te maak van die wêreld rondom ons.

Daarom is die Vrystaat Kunstefees vir my meer as net ’n groot programlys. Al hierdie afdelings vorm deel van ’n groter gesprek oor wie ons is, hoe ons die wêreld ervaar en hoe ons met mekaar en ons omgewing in gesprek tree.

Die kunste help ons om die wêreld met nuwe oë te sien. Dit laat ons die alledaagse waardeer, vrae vra oor die onbekende en soms selfs ons eie aannames uitdaag. Of dit nou deur ’n toneelstuk, ’n boek, ’n wetenskaplike demonstrasie of ’n besoek aan die planetarium gebeur, die doel bly dieselfde: om nuuskierigheid aan te wakker, verbeelding te stimuleer en mense op nuwe maniere met idees en met mekaar te verbind.

Hoe maak ’n mens kinder- en jeugteater wat nie neerbuigend is nie, maar steeds ernstig opgeneem kan word as kuns?

Kinder- en jeugteater is waarskynlik van die moeilikste teater om goed te doen, juis omdat jong gehore ongelooflik eerlik is. Hulle gaan jou nie laat wegkom met iets wat hulle verveel of nie verstaan nie. As hulle nie betrokke is nie, wys hulle dit onmiddellik.

Terselfdertyd is kinder- en jeugteater een van die kragtigste maniere om stories te vertel. Dit bied ’n geleentheid om komplekse idees en belangrike temas op ’n toeganklike manier aan te bied sonder dat dit voel asof kinders in ’n klaskamer sit. Deur storie, spel, humor en verbeelding kan jong gehore met groot vrae en nuwe perspektiewe in aanraking kom op ’n manier wat natuurlik en betekenisvol voel.

Vir my is kinder- en jeugteater nie bloot opvoedkundig of familievriendelik nie – dit is kuns in sy eie reg en verdien dieselfde vlak van kreatiwiteit, vakmanskap en respek as enige ander genre. Wanneer dit goed gedoen word, vermaak dit nie net nie; dit ontwikkel verbeelding, bevorder kritiese denke en skep ruimte vir gesprekke wat lank ná die vertoning voortleef.

Ek dink die sleutel is om jong gehore ernstig op te neem. Kinders hoef nie afgeskeep of onderskat te word nie. Hulle verdien stories wat hulle uitdaag, inspireer, laat lag, laat wonder en soms selfs moeilike vrae laat vra. Wanneer ons dit doen, skep ons nie net goeie kinderteater nie – ons skep goeie kuns.

Jy het ook akademiese en praktiese ervaring in kuns, bestuur, opvoeding en menseregte. Hoe behoort ’n kunstefees vandag te werk met moeilike temas soos uitsluiting, identiteit, geweld, taal en ongelykheid sonder om bloot didakties of swaar te raak?

Vir my gaan dit oor balans. Kuns het die vermoë om mense te vermaak, te ontroer en vir ’n rukkie na ’n ander wêreld te neem. Soms wil ons net lag, ontspan en vir ’n oomblik ontsnap aan die uitdagings van die alledaagse lewe. Daar is absoluut waarde daarin.

Maar kuns het ook die vermoë om vrae te vra, moeilike gesprekke aan die gang te sit en ons bloot te stel aan ervarings en perspektiewe wat ons dalk nie voorheen geken het nie. Temas soos uitsluiting, identiteit, geweld, taal en ongelykheid is deel van die wêreld waarin ons leef, en die kunste bied ’n unieke ruimte om daarmee in gesprek te tree.

Die uitdaging is om dit te doen sonder om didakties te raak of vir gehore te probeer voorskryf wat hulle moet dink. Die sterkste kunswerke is dikwels dié wat vrae vra eerder as om antwoorde voor te skryf. Hulle nooi mense uit om self te reflekteer, te interpreteer en gesprekke te voer.

Soos met kinder- en jeugteater, kan die kunste komplekse idees toeganklik maak sonder dat dit soos ’n lesing of ’n klaskamer voel. Die ervaring van die produksie is belangrik, maar dikwels is die gesprekke wat daarna volg, net so waardevol. Dit is in daardie gesprekke waar nuwe perspektiewe ontstaan, begrip groei en mense die geleentheid kry om met mekaar in gesprek te tree.

Ek dink dit is een van die belangrikste rolle van ’n kunstefees vandag: om ruimte te skep vir beide vreugde én refleksie, vir vermaak én betekenisvolle gesprekke.

Die Kunstemark word beskryf as die “kloppende hart” van die fees en ’n ekonomiese dryfkrag vir die Vrystaat, met meer as 300 stalletjies. Hoe belangrik is hierdie informele, sosiale en ekonomiese ruimte vir die fees se identiteit?

Die Kunstemark is vir my veel meer as net ’n versameling stalletjies – dit is een van die ruimtes waar die fees werklik tot lewe kom. Die Vrystaat Kunstefees sou eenvoudig nie dieselfde wees sonder die geur van vars koffie, ’n warm roosterkoek met kaas en konfyt, of die geleentheid om tussen handgemaakte produkte te stap wat met sorg en vakmanskap geskep is nie.

Maar die waarde van die Kunstemark lê nie net in wat verkoop word nie. Dit is ’n plek waar mense ontmoet, kuier en gesprekke voer. Daar is iets besonders daaraan om ná ’n produksie, boekgesprek of uitstalling saam om ’n tafel te sit en te gesels oor wat jy pas beleef het. Dit is dikwels waar die ervaring van die fees verder groei en waar nuwe verbindings ontstaan.

Die Kunstemark speel ook ’n belangrike ekonomiese rol. Dit bied ’n platform aan honderde entrepreneurs, kunstenaars, vervaardigers en klein besighede om hul werk aan nuwe gehore bekend te stel. In daardie opsig dra dit nie net by tot die fees nie, maar ook tot die breër ekonomie van die Vrystaat.

Vir my is die Kunstemark daarom nie bloot ’n byvoeging tot die program nie – dit is ’n integrale deel van die feeservaring. Dit skep atmosfeer, bou gemeenskap en dra by tot die unieke energie wat mense jaar na jaar terugbring na die Vrystaat Kunstefees.

As iemand net een dag by die Vrystaat Kunstefees het, watter soort ervaring wil jy hê moet hulle huis toe vat?

As iemand net een dag by die Vrystaat Kunstefees het, hoop ek hulle vat ’n bietjie van alles saam huis toe. Die fees bied soveel geleenthede om te ontdek, te leer, te lag, te dink en geïnspireer te word.

Ek sal mense altyd aanmoedig om hulself uit te daag en iets te beleef waarvoor hulle dalk nooit andersins ’n kaartjie sou koop nie. Gaan luister na ’n boekgesprek. Verken die heelal in die planetarium. Kyk ’n kortfilm. Stap deur ’n uitstalling. Woon ’n musiekvertoning of teaterproduksie by. Sit vir ’n rukkie met ’n koppie koffie in die hand en neem die atmosfeer in.

Die fees gaan nie net oor wat op die program is nie; dit gaan oor die ervaring van ontdekking. Dit gaan oor die stories wat jy hoor, die mense wat jy ontmoet, en die gesprekke wat jy voer.

As iemand aan die einde van die dag huis toe gaan met die gevoel dat hulle iets nuuts ontdek het, iets beleef het wat hulle geraak het, of bloot vir ’n oomblik anders na die wêreld kyk, dan het die fees sy werk gedoen.

Fees. Vier. Ontdek. Luister. Beleef. Want uiteindelik is die Vrystaat Kunstefees ’n plek waar baie stories bymekaarkom – en waar elke besoeker hul eie storie huis toe neem.

Lees ook:

Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met die bestuurder van die feesmark

Vrystaat Kunstefees 2026: ’n onderhoud met Mia Kahts die literatuurfeeskoördineerder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top