
Foto van Peter Taljaard verskyn met toestemming: ©Peter Taljaard. Agtergrond van die grafika: https://vrystaatkunstefees.co.za/
Jannes Erasmus het 'n onderhoud met Peter Taljaard gevoer. Peter is die bestuurder van die Vrystaat Kunstefees se mark, die sogenaamde Kunstemark.
Jannes: Die Kunstemark word dikwels die “hartklop” van die Vrystaat Kunstefees genoem. Wat beteken dit prakties vir jou? Dink jy dis omdat daar baie mense deurbeweeg, of omdat die mark iets wys van wie en wat die Vrystaat - en spesifiek die Vrystaat Kunstefees - is?
Peter: Vir my is die Kunstemark die kloppende hart van die Vrystaat Kunstefees, omdat dit as meer as net die food court en shopping-area van die fees funksioneer. ’n Fokus op die “iets anders” wat unieke, met sorg vervaardigde produkte wat jy nie sommer elders kry nie, verteenwoordig. Produkte wat met dieselfde sorg en kunssinnigheid aangebied word, dra op ’n unieke manier by tot die atmosfeer en vibe van die fees en vorm ’n belangrike deel van die fees se kenmerkende identiteit. Dis waar die fees asemhaal. Waar mense na ’n show daaroor gesels, besin en kuier, terwyl hulle iets kry om te eet en drink, omring is deur mooi en interessante goedere by kleurvolle stalletjies. ’n Omgewing wat in pas is met die inspirasie wat deelname in kuns en kunstigheid in al sy vorme verteenwoordig. Die mark vertel ’n eie unieke storie en sy mense dra by tot die kleur en gevoel wat aansluit by die groter artistieke visie van die fees. Die Kunstemark weerspieël die soort artistieke én kommersiële gehalte waarmee die Vrystaat Kunstefees hom wil vereenselwig. Dit skep waarde vir die fees, gee uitstallers ’n platform om hul werk aan ’n breë gehoor bekend te stel en bied feesgangers ’n unieke ervaring waar kwaliteit, oorspronklikheid en plaaslike talent saamkom. Uiteindelik staan die feesganger sentraal; elke verteller van elke storie moet ’n luisteraar daarna wil laat luister – ons doel is om ’n markervaring te skep wat inspirerend, onvergeetlik en van hoë gehalte is, tot voordeel van die fees, sy uitstallers en die publiek.
Baie feeste het markte, kosstalletjies en handgemaakte produkte. Wat moet by die Vrystaat Kunstefees se Kunstemark gebeur sodat dit nie net ’n bykomende handelsruimte is nie, maar ook ’n kultuurervaring?
Die Kunstemark moet veel meer wees as ’n plek waar goeters en kitskos verkoop word – dit moet ’n verlengstuk van die feeservaring wees. Dit vra vir sorgvuldig gekeurde uitstallers, oorspronklike kunstenaars- en ambagsprodukte, uitstekende kos, kwaliteit-produkaanbiedings en ’n atmosfeer wat kreatiwiteit en ontmoeting aanmoedig. Wanneer die mark die gehalte, diversiteit en unieke karakter van die Vrystaat Kunstefees weerspieël, word dit ’n kultuurervaring waar mense nie net koop nie, maar ontdek, beleef en inspirasie vind. Só versterk die Kunstemark die fees se identiteit, skep waarde vir uitstallers en bied dit aan besoekers ’n ervaring wat hulle met die Vrystaat Kunstefees sal vereenselwig en wil herhaal.
Jy het self ’n lang verbintenis met teater en die Vrystaat Kunstefees. Laat daardie kunstenaarsperspektief jou anders kyk na uitstallers, makers en klein besighede op die Kunstemark?
Absoluut. My agtergrond in die teater het my geleer dat elke kreatiewe mens se storie, hetsy geskryf, geskilder, uitgespeel, of op enige tasbare manier uitgebeeld, gewoonlik aansluit by ’n universele ervaring en dus aanklank vind, maar word op die storiemaker se unieke manier vertel. Op dié manier het die kunstenaar iets van hom- of haarself in die werk belê. Daarom sien ek elke uitstaller op die Kunstemark nie bloot as ’n handelaar nie, maar as ’n storiemaker wat sy entrepreneurskap kom deel en wat elk ’n unieke bydrae tot die feeservaring lewer. Ek verstaan ook dat die Kunstemark vir baie van hulle meer is as ’n verkoopsgeleentheid – dit is ’n platform om hul werk aan nuwe gehore bekend te stel, hul handelsmerk te bou en ’n volhoubare kreatiewe onderneming te ontwikkel. Dit sluit direk aan by die Vrystaat Kunstefees se strewe om kunstenaars te ondersteun, gehore te ontwikkel en kreatiewe verbindings te skep. Die Kunstemark is daarom nie ’n byvoeging tot die fees nie, maar ’n integrale deel van die kreatiewe ekosisteem wat die fees jaar ná jaar help groei.
Die Vrystaat word dikwels as stil, landelik, of “in die middel van nêrens” gesien. Dink jy die Kunstemark help om ’n ander beeld van die provinsie ten toon te stel?
Ek dink daardie persepsie doen die Vrystaat onreg aan. Mense sien die provinsie soms as stil, landelik, of selfs “tussenin”, maar dit weerspieël nie die werklikheid of die mense wat hier woon nie. As ’n mens kyk na geleenthede soos die Vrystaat Kunstefees, maar ook na groot Vrystaatse feeste soos Nampo, sien jy juis ’n gemeenskap wat hoë standaarde stel en dit ook verwag. Nampo is internasionaal bekend vir die nuutste tegnologie, innovasie en vooruitstrewende idees in die landbousektor. Dit bewys dat die Vrystaat allesbehalwe afgesonder of agter die tyd is. Trouens, hier is mense wat wêreldklasprodukte, vernuwende idees en professionele aanbiedings waardeer. Dan is daar in die teater-, film- en televisiebedryf vandag ’n hele paar bekende name wat hul dramaopleiding op hierdie einste kampus ontvang het. Hannes van Wyk, Gustav Gerdener, Crystal-Donna Roberts, Carel Nel en Wilhelm van der Walt om maar ’n paar te noem; kunstenaars wat op vanjaar se einste fees te sien is. Die Kunstemark weerspieël presies dieselfde ingesteldheid. Besoekers verwag kwaliteit, oorspronklikheid en iets wat hulle nêrens anders sal kry nie. Daarom kies ons uitstallers wat kreatief is, hul produkte professioneel aanbied en iets besonders tot die feeservaring bydra. Waar die Vrystaat dalk wel verskil van groter stede, is die tempo en die atmosfeer. Daar is ’n groter gevoel van gasvryheid, tyd vir gesprek en egte menslike kontak. Mense neem die tyd om met makers te gesels, die stories agter produkte te ontdek en werklik deel te word van die ervaring. Maar daardie rustiger ritme moet nooit verwar word met laer verwagtings of minder sofistikasie nie. Ek dink die Kunstemark help om hierdie ware beeld van die Vrystaat te wys: ’n provinsie wat trots is op sy wortels, maar terselfdertyd modern, innoverend en oop is vir nuwe idees. Dit is juis hierdie kombinasie van gehalte, kreatiwiteit, gasvryheid en egtheid wat die Vrystaat so besonders maak.
Hoe kies julle of vind julle ’n balans tussen uitstallers sodat die mark nie chaoties raak nie, maar steeds lewendig en aan die gang voel?
Die samestelling van die Kunstemark is ’n doelbewuste kuratoriale proses tussen markbestuur en die artistieke direksiespan. Ons streef na ’n gebalanseerde mengsel van vervaardigende en beeldende kunstenaars, ambagslui, ontwerpers, kosverkopers en kreatiewe entrepreneurs wat mekaar aanvul eerder as om met mekaar te kompeteer. Ons let op die gehalte, oorspronklikheid en diversiteit van aanbiedings, asook op die algehele markuitleg en besoekersvloei. Die doel is om ’n lewendige en dinamiese mark te skep wat terselfdertyd uitnodigend, samehangend en aangenaam is om te beleef. Elke uitstaller dra by tot die groter feeservaring en help om die Vrystaat Kunstefees se identiteit as ’n ruimte van kreatiwiteit, kwaliteit en betekenisvolle ontmoetings te versterk. Só word die Kunstemark nie ’n lukrake versameling stalletjies nie, maar ’n sorgvuldig saamgestelde kultuurervaring wat die fees se visie van “Een fees, baie stories” weerspieël. Die missie en doelwitte van die mark sluit direk aan by die fees se visie, doel, strategiese doelwitte en waardes, en posisioneer die Kunstemark as ’n kerninstrument waardeur die Vrystaat Kunstefees sy missie in die praktyk uitleef.
Wie en wat is ’n goeie uitstaller by die mark, dink jy? Is dit net produkgehalte en verkope, of kyk julle ook na oorspronklikheid, plaaslike identiteit, storie, aanbieding en die ervaring wat die uitstaller vir feesgangers skep?
’n Goeie Kunstemark-uitstaller is vir ons baie meer as iemand met ’n goeie produk om te verkoop. Produkgehalte is natuurlik ononderhandelbaar, maar dit is slegs die beginpunt. Ons soek uitstallers wat iets unieks bydra tot die karakter van die Kunstemark. Oorspronklikheid, vakmanskap, kreatiwiteit en egtheid speel ’n groot rol. Ons wil hê besoekers moet die gevoel kry dat hulle iets ontdek – iets met ’n storie, ’n persoon daaragter en ’n identiteit wat nie sommer oral gevind kan word nie. Die manier waarop ’n uitstaller sy of haar ruimte aanbied, is net so belangrik. ’n Kunstemark is nie bloot ’n versameling stalletjies nie; dit is ’n saamgestelde ervaring waar elke uitstaller bydra tot die atmosfeer, die estetika en die energie van die fees. ’n Netjiese, deurdagte en visueel aantreklike aanbieding nooi mense in en maak deel van die groter feesbelewenis. Ons heg ook groot waarde aan die interaksie tussen makers en besoekers. Mense wil vandag weet waar ’n produk vandaan kom, wie dit gemaak het en wat die inspirasie daaragter is. Daardie persoonlike verbintenis skep waarde wat veel verder strek as ’n enkele aankoop. Uiteindelik probeer ons ’n balans vind tussen gevestigde name en nuwe talent; tussen plaaslike makers en uitstallers van elders; en tussen verskillende kunsvorme en ambagte. Dit is hierdie verskeidenheid, saam met ’n gedeelde verbintenis tot kwaliteit en professionaliteit, wat die Kunstemark jaar ná jaar relevant, vars en besonders maak.
Die fees se groter identiteit is “Een fees, baie stories”. Hoe vertel die mark stories wat dalk nooit op ’n verhoog se planke, of in ’n boekgesprek sal beland nie?
Die Kunstemark gee gestalte aan die Vrystaat Kunstefees se visie van “Een fees, baie stories” deur stories sigbaar te maak wat nie noodwendig op ’n verhoog, in ’n boek, of tydens ’n gesprek vertel word nie. Elke stalletjie, produk en uitstaller dra iets van ’n persoonlike, kulturele of gemeenskapsverhaal in sig – stories van vakmanskap, kreatiwiteit, tradisie, innovasie, familie-erfenis en entrepreneurskap. Waar die uitvoerende kunste dikwels stories deur woorde, musiek of beweging vertel, doen die Kunstemark dit deur voorwerpe, ontwerp, smaak, tekstuur en menslike interaksie. Dit is ’n ruimte waar besoekers kunstenaars, makers en entrepreneurs direk ontmoet en die verhale agter hul werk eerstehands kan ervaar. Die mark skep ook geleentheid vir die ontmoeting van verskillende tale, kulture en kreatiewe invloede – iets wat aansluit by die fees se strewe om kreatiewe verbindings tussen Afrikaans, Engels en Sotho te bou. Op hierdie manier word die Kunstemark ’n plek waar talle kleiner, persoonlike stories saamvloei tot die groter verhaal van die fees en die gemeenskappe wat dit verteenwoordig. Die Kunstemark vertel dus nie net stories nie; dit skep die geleentheid vir nuwe stories, nuwe verhoudings en nuwe kreatiewe verbindings om te ontstaan – ’n praktiese uitdrukking van die fees se doel om mense bymekaar te bring, kunstenaars en gehore te ontwikkel en ’n verwelkomende en inklusiewe ruimte vir almal te skep
Die mark is ook ’n ekonomiese ruimte – dis die doel daarvan! Hoe belangrik is dit vir klein ondernemings, plaaslike skeppers en kunstenaars, en gesinne wat moontlik ’n groot deel van hul jaarlikse inkomste uit feesverkope kry?
Absoluut. Die Kunstemark is nie net ’n kulturele ruimte nie; dit is ook ’n belangrike e onomiese platform. Vir baie klein ondernemings, onafhanklike makers en familie-ondernemings vorm feesverkope ’n beduidende deel van hul jaarlikse inkomste. Vir sommige is dit die verskil tussen bloot oorleef en werklik groei.
Maar die waarde van die Kunstemark strek verder as verkope tydens die fees. Dit bied uitstallers blootstelling aan duisende besoekers, skep nuwe kliënteverhoudings en lei dikwels tot bestellings en sakegeleenthede wat nog lank ná die fees voortduur. Baie uitstallers bou oor jare ’n lojale kliëntebasis op wat elke jaar terugkeer.
Juis daarom neem ons die samestelling van die Kunstemark baie ernstig op. Ons wil ’n omgewing skep waar gehalte-uitstallers werklik die geleentheid kry om suksesvol sake te doen, terwyl feesgangers weet hulle kan iets besonders verwag. Dit gaan nie bloot daaroor om soveel moontlik stalletjies te vul nie; dit gaan daaroor om ’n volhoubare mark te skep waar uitstallers, besoekers én die fees almal baat vind.
Wanneer plaaslike makers en klein ondernemings sukses behaal, versterk dit nie net hul eie besighede nie, maar dra dit ook by tot werkskepping, plaaslike ekonomiese groei en die voortbestaan van kreatiewe ondernemings. In daardie opsig is die Kunstemark veel meer as ’n plek waar produkte verkoop word – dit is ’n belegging in mense, vakmanskap, entrepreneurskap en die kreatiewe ekonomie van die Vrystaat en Suid-Afrika.
As jy een van die baie markte by die Vrystaat Kunstefees wil bywoon, kan jy van 09:00 tot en met 20:00 ronddwaal en kuier. Die hoofmark is op kampus, in Registrasie- en Konvokasiestraat.

