Vroue van Atlantis saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason: ’n lesersindruk

  • 0

Vroue van Atlantis
Saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799368291

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Atlantis is ’n plek ongeveer 45 km noord van Kaapstad wat “in die 1970’s deur die apartheidsregering gestig is as ’n nywerheidsgebied en ’n buurt vir bruin mense onder die Groepsgebiedewet” (bl 8).

In die verlede was daar positiewe sprake van uitbreiding en werksgeleenthede in Atlantis, wat veroorsaak het dat die gemeenskap drasties gegroei het. Ongelukkig het die gemeenskap oor die jare verwaarloos geraak. Armoede het ook toegeneem weens die sluiting van talle fabrieke, wat gelei het tot maatskaplike euwels soos drank- en dwelmmisbruik, bendebedrywighede en misdaad. Ten spyte hiervan en die slegte toestande is daar egter steeds mense in Atlantis wat ’n lig van hoop laat skyn: “Maar die donker prentjie is net een kant van die storie. Ondanks alles leef hier ’n optimisme, ’n geloof dat die lewe beter sal word. Vra gerus die twaalf vroue wat in hierdie boek hul verhale vertel” (bl 10).

Vroue van Atlantis (2017), saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason, bevat twaalf verhale van inspirasie oor twaalf vrouens wat op hul eie unieke manier terugploeg in die gemeenskap van Atlantis.

Die verhale van die twaalf vroue is in 2016 nagevors as ’n projek van die ATKV om hierdie vrouens as fakkeldraers en baanbrekers in hulle gemeenskap te vereer. ’n Artikel hieroor verskyn op 11 November 2016 op LitNet, met die titel “Pass’ie torch aan”. Die idee van die boek het by hierdie artikel ontstaan met die doel om die voorbeelde wat elkeen van hierdie vrouens stel, aan ’n breër gemeenskap oor te dra (7–13).

Die projek is uitgevoer deur ’n span van LAPA Uitgewers na die gemeenskap van Atlantis te stuur, waar die span afsprake met die besige vrouens gemaak het om hul stories persoonlik te hoor. Hulle verhale is met ’n bandopnemer opgeneem. Die span wou nie oor die vrouens skryf nie – hulle begeerte was eerder om ’n geleentheid te skep waarin die vrouens hulle eie stories in hul eie woorde met hul eie stemme kon vertel. Enkele vrae uit die LitNet-artikel is gebruik om die gesprekke aan die gang te sit.

Die verhale word sonder numerering in aparte hoofstukke verdeel – een hoofstuk vir elke persoon se storie. Daar word ook ’n foto van die persoon aan die begin van elke hoofstuk verskaf. Verder bestaan die verhale hoofsaaklik uit ’n oorsig oor waar die betrokke vrou grootgeword het, haar lewensomstandighede, belangrike mense of gebeurtenisse in haar lewe, hoe sy in Atlantis beland het en wat haar drome vir die gemeenskap is. Dit is vanuit hierdie lewensverhale dat hulle opofferings en dade vir die gemeenskap na voorskyn kom.

Dit is egter ook vanuit hulle lewensverhale duidelik dat nie een van hierdie vrouens dit maklik gehad het nie. Hulle almal het hulle los werkies gedoen om te oorleef en het misdaad, geweld en dood in die familie ervaar. Ten spyte daarvan het hulle dit reggekry om die mooi in die lewe raak te sien sowel as die nood. Dit is dikwels hoofsaaklik as gevolg van ’n belangrike figuur in hulle lewens, byvoorbeeld ’n ma, ouma, vriendin, wat vir hulle ’n voorbeeld van omgee, harde werk, geloof en liefde was.

Verder is dit opmerklik hoe elke vrou nie haarself as perfek uitbeeld nie. Hulle is bewus van hulle tekortkominge en erken hulle foute. Dit beklemtoon hulle menslikheid – hulle foute, mislukkings en swaarkry. Dit is ook terselfdertyd wat hulle sterk karakters uitbeeld, want ten spyte van hulle tekortkominge het hulle vorentoe beweeg en nie tou opgegooi nie.

Party van hulle het selfs verder gestudeer, hoofsaaklik in verpleegkunde, onderwys of as maatskaplike werkster om deur middel van hierdie beroepe die mense in Atlantis te help, versorg en daardie belangrike ondersteunende figuur in hulle lewens te wees. Party verhale dien as ’n voorbeeld dat mens die beste van jou omstandighede kan maak. Mens hoef nie in ’n groef van dwelms, misdaad en mismoedigheid te verval nie. ’n Mens kan sukses behaal. Die omstandighede waarin jy woon hoef jou nie te verhoed om iets waardevol met jou lewe te doen nie.

Alhoewel elke vrou haar eie soort voorbeeld vir die gemeenskap is, het al twaalf van hulle die brandende begeerte om hoop terug in die gemeenskap van Atlantis te ploeg. ’n Gemeenskap waaraan hulle geheg is. Die rede vir hierdie begeerte is hoofsaaklik dat hulle ander wat soos hulle swaarkry, wil help en wys dat hulle verstaan. Dit is ook dikwels omdat iemand húlle deur ’n moeilike tyd bygestaan het. Dus wil hulle ook ’n fakkel van hoop aan ander “aanpaas”.

Hierdie verhale laat mens na jou eie lewe en gemeenskap kyk en wonder wat jý terugploeg. Dit is inspirerend om te lees. Die boek skep ook hoop, omdat daar wel mense soos hierdie twaalf in Suid-Afrika en die wêreld is. Mense wat nie net op hulle eie gewin of welvaart gefokus is nie, maar wat vir ’n beter toekoms werk.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top