Vroue van Atlantis saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason: ’n resensie

  • 0

Vroue van Atlantis
Saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799368291

Van alkoholis tot sangeres, van skoolverlater tot ’n MBA, van plattelandnooi tot dapper versorger van bergies of haweloses ... Twaalf vroue wat voorsiening in hul eie behoeftes op so ’n wyse reël dat hulle steeds ’n verskil vir ander kan maak in die plek wat hulle almal na aan die hart lê: Atlantis. Gereserveer vir slegs bruin inwoners, met sy florerende fabrieke wat werk moes verskaf, kon Atlantis moontlik ’n paradys vir sy inwoners gewees het, ’n suksesverhaal van die apartheidregering se Groepsgebiedewet. Toe nou nie.

Sosiale verval het net so vinnig soos die ekonomiese ontwikkeling toegeneem, indien nie vinniger nie, en menige jeugdige beland óf op straat, betrokke by bendegeweld, óf in tronke. Fabrieke kon slegs beperkte werksgeleenthede skep, maar die inwonertal het steeds bly toeneem, so ook talle maatskaplike probleme.

Twaalf vroue met durf en dryfkrag het oor die jare geweier dat Atlantis se talent verlore gaan en dat mense hul menswaardigheid verloor. Die twaalf het oor die jare ingegryp. Met die lees van elk van hierdie vroue se verhale is daar ’n gevoel van bemagtiging, ’n soort aanmoediging dat die leser self beter behoort te doen, meer betrokke behoort te raak en ’n verskil behoort te maak. Die verhale is op so ’n wyse aangebied dat dit empatie by die leser wek, maar ook ’n matelose respek vir hierdie vroue, want hoewel hulle buitensporige bydraes tot die samelewing maak, is daar nêrens ’n sweempie van eiewaan te bespeur nie. Eerder diepe beskeidenheid.

Die fokus hier is vroue, almal uit omstandighede wat nie ideaal was vir sukses of ontwikkeling of vooruitgang nie. Maar soos Francis Brown aanhaal in haar vertelling: "Daar is niks wat ’n vrou nie kan doen nie. Sy is so flexible, sy is in staat om alles te doen" (132).

Die ongelooflike mate van selfontwikkeling wat deel uitmaak van elkeen van die vroue se lewenspad, is opvallend in elkeen se verhaal. Niemand het dienende Martas geword en hulself in die proses afgeskeep nie. Hulle is toonbeelde van selfverwesenliking, terwyl hulle die gemeenskap dien. Mooi tuine, mooi skoene, kwalifikasies, ’n paar marathonmedaljes en selfs ’n eie strandhuis is ’n bewys dat mens as vrou juis jou eie drome kan verwesenlik terwyl jy ander help om hulle lewe te verbeter of hul potensiaal te ontgin.

Hoewel die meeste van hierdie vroue hulle beywer om die wêreld ’n beter plek vir haweloses, kanker- of MIV-lyers en gestremdes te maak, is elkeen se storie uniek – hul agtergrond en die uitdagings wat hulle moes oorkom ten einde die posisie te bereik wat hulle vandag beklee, spreek van genade, maar ook van ysere wil om hulself en hul omgewing te verbeter.

Uitdagings soos die verlies van ledemate, verkragting, tienerswangerskappe, drankmisbruik, mislukte huwelike wat op egskeiding uitloop en mislukkings in saketransaksies het nie een van hierdie dames laat besluit om tou op te gooi nie. Inteendeel, dit was juis wat hulle aangespoor het om nie net te oorleef nie, maar om te triomfeer.

Die boek is beslis die lees werd, en hoewel veral vroue hierdeur geïnspireer sal word, kan ook mans by die lees hiervan baat. Met Eldridge Jason en Anastasia de Vries se sterk joernalistieke agtergrond het hulle daarin geslaag om ’n uitstekende boek met die belangrikste fasette van die twaalf vroue se lewens saam te stel.

Daar behoort meer sulke boeke te wees; daar behoort meer ondersoek ingestel te word na die helde in ander gemeenskappe soos Atlantis, waaroor daar berig word hoofsaaklik wanneer moorde of verkragtings daar plaasvind. Maar dan behoort daar ook meer sulke vroue te wees, en ook mans, want soos Geraldine Fortuin sê: "Baie ouers is vasgevang in dwelms en kyk nie ordentlik na hul kinders nie. Ek wil ’n verskil maak" (150).

Inderdaad ’n inspirasie vir elkeen wat die boek lees.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top