
Marinda Engelbrecht (foto: Izak de Vries); Margit Meyer-Rödenbeck (foto: Naomi Bruwer)
Naomi Meyer praat met Margit Meyer-Rödenbeck en Marinda Engelbrecht oor Vlooi en die geheim, wat nou by die Kunstekaap op die planke is. (Hier is nog inligting oor die produksie.)
Hallo Margit, dis groot nuus, want Vlooi het toe weer verrys! Eers: waarmee was Vlooi die afgelope twee jaar besig? Seker tuisskool? (Weet jy of Vlooi dink sy ouers was goeie onderwysers? Of het hy skool gemis?)
Vlooi was soos die hele wêreld se kinders besig met tuisskool en ons weet mos Vlooi is ’n besige, nuuskierige klein rakkertjie, so ek is seker sy ma en pa het hulle hande vol gehad om klas te gee. Hulle het seker soos ons almal besef daar is ’n rede hoekom onderwysers opgelei word en dat hulle hopeloos te min betaal word.
Gelukkig het Vlooi sy towersleutel, so hy kon selfs in die grendeltyd op avonture gaan. Wonderlik wat ’n verbeelding vir ’n mens kan doen, om net te ontsnap.
Oukei, kom ek begin voor. Vir almal wat dalk al met skool begin het en hom nog nie ontmoet het nie: wie is Vlooi?
Vlooi se Engelse naam is Kipper en hy is geskep deur Oxford University Press en word internasionaal vir kinders voorgeskryf in die grondslagfase.
Vlooi is ’n rakker van so ongeveer 8 jaar oud en het nie ’n bang haar op sy kop nie. Altyd reg vir ’n volgende avontuur saam met sy tweelingbroer en suster, Biebie en Kalla, en ook hul bure, Wim en Wilma. Op sy avonture leer Vlooi sommer baie dinge van plekke en goeters wat hom fassineer.
Vlooi het al baie avonture in die Kunstekaap beleef. Wat is vanjaar s’n?
..........
Vanjaar is dit Vlooi en die geheim – so ons kan nie te veel van die geheim weggee nie, maar ons kan wel noem dat die tema oor herwinning gaan en dat die towersleutel hulle na die Plastiekeiland neem, waar die hofnar Gigi alles behalwe snaaks is en groot drama veroorsaak in die Koninkryk van Koning Herwin.
.............
Vanjaar is dit Vlooi en die geheim – so ons kan nie te veel van die geheim weggee nie, maar ons kan wel noem dat die tema oor herwinning gaan en dat die towersleutel hulle na die Plastiekeiland neem, waar die hofnar Gigi alles behalwe snaaks is en groot drama veroorsaak in die Koninkryk van Koning Herwin.
Wat kan kinders verwag wat na die produksie kom kyk? Enigiets wat jy of sommige van die ander betrokkenes agter die skerms wil uitlig?
Die kinders kan ’n warrelwind-ervaring verwag. Hulle raak deel van die probleemoplossing en kan lustig saam sing en dans. Vlooi en sy maats gaan weer op ’n avontuur en dié keer is dit om te keer dat die hofnar Gigi nie die hele eiland in ’n plastiekeiland verander nie. Ons raak hier aan die belangrikheid van herwinning. Die kostuums is pragtig en kleurryk. (Gigi se baadjie is al letterlik van sy liggaam afgeskeur deur maats wat so meegevoer raak deur die toneelstuk.) Ons sien die produksie op dieselfde vlak as enige ander professionele produksie. Ons maak gebruik van die room van die land se akteurs. Ook word liedjies en musiek spesiaal geskryf vir die produksie. Tegnies gebruik ons alles wat oop en toe kan maak in die teater. Hulle snak na hulle asempies vir die pragtige beligting en as die verhoog begin beweeg en draai, is dit amper vir hulle te veel om te glo. Vir 60 minute laat ons kinders vergeet van die moontlike swaarkry en seerkry van die lewe. Ons laat hulle die magic en mooi ervaar.
............
Vir 60 minute laat ons kinders vergeet van die moontlike swaarkry en seerkry van die lewe. Ons laat hulle die magic en mooi ervaar.
............
Wie kan na Vlooi kom kyk, dink jy? Is dit net vir kinders wat nou die Vlooi-boeke lees? Waar kan hulle kaartjies koop? Wat kos dit?
Ons kry volwassenes wat sonder kinders die vertoning kom kyk. Daar kom jong mense wat as skoolkinders na die produksie kom kyk het, wat nou weer ’n keer kom kyk. Dis vir hulle ’n nostalgiese ervaring. Dit is hoofsaaklik Vlooi-lesers wat kom kuier in die teater, maar skole wat nie die boekie lees nie, bring ook leerders om kennis te maak met die teater vir die teaterervaring. Dit is regtig ’n voelgoedervaring.
Kaartjies kan bespreek word by: marinda.vlooi@gmail.com.
Enkele kaartjies kan by die teater self gekoop word.
Lees ook:

